Die Ewige Apartheid: Wit skuld en erfsonde

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Die konsep van ’n sondebok verskyn in Levitikus, waar ’n bok ritueel belas word met die gemeenskap se sondes, waarna dit die woestyn in gejaag word om sodoende die sondes weg te dra.

Die idee van ’n sondebok is vandag steeds diep gewortel in ons taal en sosiale psige. Vir my as ’n jong Afrikaner in Suid-Afrika, steek dit dwars in die krop om ’n sondebok vir ander te wees en wat gewillig geoffer mag word op die altaar van sosiale geregtigheid, met historiese groepskuld as verskoning.

In 2020 blyk dit dat die meeste Suid-Afrikaanse politici en die hoofstroommedia dit hul missie gemaak het om te verseker dat wit Suid-Afrikaners – en veral Afrikaners – te midde van kragonderbrekings, ’n toename in plaasaanvalle, rekordhoë werkloosheid en somber ekonomiese groeivooruitsigte, opnuut deeglik herinner moet word aan hul geërfde groepskuld weens hul betrokkenheid by of bevoordeling weens apartheid, wat as misdaad teen die mensdom beskryf word.

Inderdaad het apartheid ’n tragiese en onmiskenbaar negatiewe invloed op Suid-Afrika se ekonomie, sosiale struktuur en rasseverhoudings gehad. Dit is hartseer en kan hoegenaamd nie ontken word nie.

Maar as ons wat ná 1994 gebore is enige nuanse aan die bespreking wil toevoeg rondom ons “skuld” aan apartheid en die ingewikkelde aard van die impak wat dit op ons hede en toekoms het, word daar met hartstogtelike woede daarop gereageer. Ons word daarvan beskuldig dat ons “ontkenners” van apartheid is in dieselfde sin as ontkenners van die Jodeslagting. Daar word van ons vereis om in die hoekie te gaan sit en maar eerder stil te bly, terwyl ons kollektief gevonnis word.

Op die voorblad van Beeld het ’n verklaring deur “Begunstigdes van Apartheid” verskyn, waarin onvoorwaardelik jammer gesê word vir hierdie misdaad. ’n Bisarre ritualistiese praktyk ontstaan nou, 26 jaar ná 1994 in Suid-Afrika, waar almal opnuut probeer om hul morele meerderwaardigheid te bewys. Dit lyk soos ’n kompetisie waarin hulle wil kyk wie die gereeldste en vurigste die gruwels van apartheid kan opdiep en kriminele aanspreeklikheid daarvoor aanvaar as selfaangewese ambassadeurs van hul stam. Dit orkestreer tot ’n eskalerende siklus van deugseine sonder enige onmiddellike gevolge, maar die verreikende implikasies daarvan weergalm die toekoms in.

Om onophoudelik die lyk van apartheid op te grawe en dit luidkeels deur die strate te laat paradeer, doen niks anders as om die lug met so ‘n ondraaglike stank te vul dat mense hulself aan daardie openbare ruimte onttrek nie.

Die eis dat alle wit Suid-Afrikaners in hul skuld moet val, hul klere moet skeur, as op hul koppe moet gooi en in die middel van die stad moet uitgaan om hard en bitterlik te ween soos Mordegai, is niks anders as om ’n vuurwarm wig in te dryf tussen partye wat eerder ’n konstruktiewe dialoog behoort te voer nie. Onthou, jy kan nooit twee dinge met ’n wig en ’n hamer byeenbring nie – ook nie met ’n hamer en sekel nie.

Apartheid word vandag voorgehou as die “oorspronklike erfsonde” van alle wit Suid-Afrikaners. ’n Juk waarmee ons gebore word, bloot omdat ons toevallig ’n wit vel het. Hierdie juk word ongevraagd om ons nek gehang en ons word verplig om voortdurend in die openbaar te bieg en te erken dat ons as misdadigers verdien om dit te dra.

Die commentariat van Suid-Afrika, wat hul meningstukke inlei met “Liewe wit mense”, wil blykbaar terugkeer na ’n tyd van erfsonde, waar seuns gestraf word vir die sondes van hul vaders, tot in die derde en vierde geslag. Toe ek ná apartheid gebore is, het niemand my gewaarsku dat “Born Free” met ’n fynskrif van ongelykheidsbepalings en bestraffende voorwaardes gekom het nie.

Het ons nou vergeet waarvoor die V in WVK gestaan ​​het?

Volgens die rasbehepte elite het alle jong wit Suid-Afrikaners, ongeag hul geboortedatum, “voorregte” wat hulle van apartheid geërf het (wat hulle voortdurend in die openbaar moet erken), in ’n era van swart ekonomiese bemagtiging en akademiese keurings- en sportkwotas.

Hoe op dees aarde meet jy “wit voorreg”? Hoeveel “wit voorreg” het die kind van ’n egpaar van gemengde ras? Oorweeg ons eerlikwaar ’n potloodtoets vir wit voorregte? Jou voorregte is geheel en al afhanklik van jou konteks. Die veroordeling van alle wit Suid-Afrikaners tot ’n lewe waar hul prestasies verkleineer word deur dit alles toe te skryf aan een of ander soort oorgeërfde voorreg, is niks minder nie as ’n blatante rassestereotipering. Hoe kan die wit seuntjie wat by die stopstraat bedel, ooit meer voorregte hê as enige kind van Jacob Zuma of Cyril Ramaphosa?

Daar word gereeld geargumenteer dat wit mense geen idee het hoe die lewe vir ’n swart Suid-Afrikaner in 2020 is nie. Tog, as swart mense van alle wit Suid-Afrikaners verwag om ’n kollektiewe rasseskuld te dra of vereis dat hulle hul “wit voorregte” erken, impliseer hulle dat hulle presies weet hoe dit is om ’n wit Suid-Afrikaner in 2020 te wees.

Ek vind dit fassinerend hoe die bespreking in 2020 verskuif het vanaf “daar word nie teen die wit minderheid gediskrimineer nie” tot “dit is regverdig en goed om teen die wit minderheid te diskrimineer”. Soos C.J. Langenhoven destyds gevra het: “Hoekom is my politiek altyd rassisme, en jou rassisme altyd politiek?”

Thomas Sowell het gesê: “Rassisme is nie dood nie, maar dit is op lewensondersteuning – lewendig gehou deur politici, rasbeheptes en mense wat ’n gevoel van meerderwaardigheid kry deur ander as ‘rassiste’ te bestempel.”

Dit is beslis nie toevallig dat apartheid in 2020 weer die retoriese hoofgereg op die spyskaart van die ANC en die EFF is nie. Hulle is besig om die narratiewe tafel te dek met die wit tafeldoek van apartheid as grondslag vir onteiening sonder vergoeding en die verhoging van staatsentralisasie in hul nastrewe van die Nasionale Demokratiese Revolusie.

Die strategie is duidelik: Hoe groter en vreesaanjaender die ANC en die EFF die monster van apartheid in ons truspieël kan verf, oor hoe meer rooi ligte mag hulle jaag om daarvan weg te kom.

Die hoofredakteur van News24, Adriaan Basson, het in ’n meningstuk die volgende gesê: “Te lank het die bespreking oor ons onlangse verlede en die diepgesetelde impak van apartheid op elke terrein van die samelewing buite die ore van wit mense plaasgevind – die belangrikste begunstigdes van kolonialisme en apartheid.”

Adriaan, as ’n jong wit mens kan ek jou verseker dat ek en my geslag, sedert ek ’n baie klein seuntjie was, gebombardeer is met die gruwelfeite van apartheid. Ons kon nog nooit daaraan ontsnap nie. Dit is heeltyd in ons gesigte gedruk op televisie, in verpligte leesboeke, in elke geskiedenisklas, op die voorblaaie van koerante en op sosiale media. Glo my dus as ek sê ons het nou genoeg daarvan gehad om onophoudelik as die uitsluitlike muishonde en skurke van die geskiedenis uitgebeeld te word.

Ons het genoeg daarvan gehad –

om ewig verneder te word,

om oorlaai te word met misdadige skuldgevoelens en skaamte,

om verplig te word om vir altyd op ons knieë te kruip,

om vir die soveelste keer om verskoning te vra,

om die permanente kollektiewe slaansak van die regering en sy beeldpoetsers te wees.

Ons het genoeg daarvan gehad dat Zindzi Mandela ons “ongenooide besoekers” noem wat “weier om te loop” – in ons eie land. My familie is al hier van 1688 af. Ek is die negende geslag sedertdien. Niemand het die reg om my ’n toeris in my en my voorvaders se geboorteland te noem nie. My bestaan ​​in Suid-Afrika is nie net ’n ongelukkige flater van die geskiedenis nie.

My geslag jong wit Suid-Afrikaners hoef nie om verskoning te vra –

vir verkeerde dinge waarmee ons niks te doen gehad het nie,

vir onregte waaroor ons geen invloed gehad het nie,

vir beleide wat ons nooit ondersteun het nie,

vir ’n komplekse verlede voordat ons gebore is nie,

vir besluite wat ons nooit geneem het nie,

vir misdade wat ons nie gepleeg het nie.

Ons verwerp geheel en al die idee van ’n onderdrukkende, tydlose kollektiewe rasgebaseerde juk van skuld. Tog eis my geslag nie veel nie, slegs dat ons ’n gelyke kans gegee word om te help bou aan ons almal se land.

Ek sluit af met ’n treffende stelling deur Thomas Sowell: ”Het ons die uiteindelike stadium van absurditeit bereik waar sommige mense verantwoordelik gehou word vir dinge wat gebeur het voordat hulle gebore is, terwyl ander mense nie verantwoordelik gehou word vir wat hulle vandag aanvang nie?”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Salome ·

Ek stem saam met bogenoemde want hoekom word apartheid nog steeds gebruik as iets wat die ANC nie kan doen nie en voor ons wit mense se koppe gegooi. Rassisme is ook van hulle kant af en moet ook gestraf word vir dit. Kyk hoe lyk ons land. Was nou vir ‘n week in Mosselbaai en dit is daar so mooi en skoon. Kby is so vuil en paaie is vol potholes. Pype wat gebars is word gerapporteer maar 6mnde later is dit nog steeds nie reg gemaak nie. Waar le die fout. beslis nie by apartheid nie

henndrik ·

Volgens my het die ANC, en ook EFF en BLF, die wig tussen wit en anderskleurig goed ingeslaan met ‘n groot hammer. Elke keer as hulle onbevoeg is om take te verig, as die krag afgaan, swak dienslewering en selfs korrupsie en diefatal, is die rede daarvoor voor die deur van apartheid gele want dit skuif die aandag weg van hulle af. Hierdie wig is al sover ingeforseer dat daar selfs enrnstige rassehaat orals kop uitsteek. Versoening kan nie op hierdie manier plaasvind nie.

Marius ·

Ernst, in baie opsigte praat jy hier namens baie gefrustreerde jong lojale Suid-Afrikaners, wat nie die land wil of kan verlaat nie maar nou as tweederangse burgers hanteer word en as gevolg daarvan, nie meer tuis voel in hul vaderland nie. As jong witmense nie vir ewig die skophondjie van die ANC/SAKP en hul lakeie wil bly nie, sal hul moet opstaan en terugdruk teen hierdie onregverdige, rasgebasseerde diskriminasie.
Ons Grondwet sê hierdie land behoort aan al sy inwoners. Hoe gouer ons ‘n gelyke, nie-rassige samelewing kan word, waarin meriete en gelyke kanse die doelwit moet wees, en waar ons vorentoe kyk, hoe vinniger gaan ons in vrede kan begin bou aan ons gemeenskaplike toekoms.
Die politici en die hoofstroommedia moet verantwoordelikheid neem vir hul verdelende optrede, wat rasseverhoudinge skaad, deur onophoudelik die ou koeie uit die sloot te grawe en dit as sushi vir ons voorsit.

Rina ·

Ek stem heeltemal Saam.
As Mamma van 2 kinders, 10 en 8 jaar oud,
WONDER en bid ek nou al waar hulle gaan werk kry en of hulle gaan.
Ek was self ‘n baba en jong kind tydens apartheid, maar ek het nie neer gekyk op ander nie. Ons maatjie op die plaas was die plaaswerkers se kinders.
Maar hierdie gejammer se moet nou stop.
Ons Sal nooit Vrede kry as ons aanhou om in die verlede te bly leef nie!
Maak my net so vies as Daar soveel patetieae blankes agter die regering aandraf, want hulle is bang hulle sit sonder inkomste, kry ruggraat en ondersteun Jul mede blankes!

Rose ·

Daar moes mos n rede wees waarom apartheid ingestel was gedurende daardie tyd. Hulle het mos nie net een oggend opgestaan en besluit nou gaan ons mense skei volgens kleur en kultuur nie. As die gemors wat vandag plaasvind daardie jare begin kop uitsteek het, sou ek verstaan waarom Verwoerd gedink het dat dit beter sou wees dat elke hoender op sy eie mishoop moet wees. Die wit Afrikaners wou seker aan n toekoms begin bou met Christelike waardes as n hoof uitgangspunt en het gedink dit sal vinniger gebeur het as daar nie hindernisse in die pad is nie. Ten spyte van al die sanksies het hulle baie suksesvolle maatskappye tot stand gebring, en was geensins agter die klip nie.

De Villiers ·

Die Afrikaner het ongelukkig staat gemaak op goedkoop ongeskoolde swart arbeid.
Miskien as ons hande uit die sakke gehaal het en SELF gewerk het sou ons nie vandag hier gesit het nie.
Ek glo vandag nog dit is een van die groot redes waarom Apartehid(oorspronklike idee) misluk het. Die Afrikaner het nie volkseie arbeid gebruik nie….was ons miskien te lui, of te fancy om in die myne en as plaasarbeiders te werk.
Waarom het swart vrouens Afrikaner kinders groot gemaak?

Louis ·

Om jou identiteit in Christus te vind is, n genade gawe. en nie n menslike besluit nie. Die waarheid is dat dit ook nie vir almal bedoel is nie. Daar is voorwaardes.

De Villiers ·

Genade!! Dit was nou een van die beste stukke wat ek in ‘n bitter lang tyd gelees!

Baie goeie skrywe Ernst!

Hoe meer die Afrikaner muishond gemaak word, hoe meer die Afrikaner onderdruk word, hoe meer gaan ons opstaan en terug veg!

Alet ·

Dit is briljant geskryf. Dieselfde vrae wat my seun (nou 15) my vra. Gebore in 2004 en geen benul gehad van apartheid nie maar tog word hy oor dieselfde kam geskeer en word hy benadeel agv sy wit vel.

Erik ·

Ernst, dis baie goed geskryf.

Ek wil dit verder vat as 1994. Ek was skaars 10 jaar oud toe apartheid geëndig het en ek voel presies soos jy. Ek het verseker niks daarmee te doen gehad nie, maar ek moet met ‘n “askuus tog ek lewe” houding my werk doen en in hierdie land leef.

Ek voel dikwels in die publiek soos ‘n krimineel, net omdat ek blank is. Ek moet orals versigtig en sensitief optree teenoor alle ander rasse.

Ek voel jammer vir my kinders wat in hierdie land moet grootword. Ek is lankal moeg baklei. Die demografie is teen ons en dinge gaan nooit verander nie.

So wat is die antwoord? Dra die onregverdige kruis hier en baklei (noem my ‘n laffaard, maar ek sien nie meer kans daarvoor nie), of vat die pad, wat ook sy “kruise” het (soos om van jou familie afskeid te neem en finansieël van voor te begin)? Ek dink meeste van ons sit met ons hande in ons hare!

Yolandie ·

So waar wat jy hier sê Ernst. Ek as ouer weier dat my kind die prys betaal vir ‘n verlede wat sy NIKS mee te doen gehad het nie. Hulle kan solank soos hulle wil die APARTHEID kaart gebruik. Ons blanke Suid Afrikaners hoef nie mee jammer te wees nie. Feit is daar is NOG baie min blanke mense wat lewe wat gestem het vir die betrokke stelsel wat nog vandag vir die huidige regering se “INCOMPETENCE” as verskoning gebruik word. Die probleem is nie Blanke Suid Afrikaners hier nie, dit is ons mede burgers wat minderwaardig voel. Daaraan kan niemand niks doen nie!!!!. Ons mag TROTS wees op wie ons is, en ons hoef nie meer “‘n jammer dat ek hier is bordjie om ons nek te he nie”. Ek het vir die 1ste keer in my lewe in 1994 se verkiesing “gestem”. So is ek ook nou verantwoordelik vir die gemors in die land. Ek betaal elke dag daarvoor. ONAANVAARBAAR!!!!

pestilensie ·

SKITTEREND , goed gese , maar n bietjie raad jongman . Jy kan trots wees op jou voorouers ,apartheid was n noodsaklikheid vir die oorlewing van die afrikaners as gevolg van Engelse oorheersing . Enige persoon wat apartheid blameer vir die onder ontwikkeling van ander rasgroepe ken glad nie die geskiedenis,of is bloot domastrant. Effektiewe toepassing van apartheid is in alle waarskynlikheid korter as die toepassing van bee , en ek sien nog nie die morele verval van die Afrikaner nie

Andre ·

Ek dink al soos daai moedertjie: Ek is nie jammer oor enigiets wat ek gedoen het nie, en as ek moet, sal ek weer.

JM ·

Uitmuntende dialoog! Net jammer dat die beskuldigers hierdie stuk nie gaan lees nie. Dit behoort in die tale van dié wat die wittes so fel veroordeel, vertaal te word en wyd gepubliseer te word!

J ·

Alles propaganda (retoriek) waarvoor die Guptas betaal het (met ons belasting geld) by spindokters Bell Pottinger in London.

Eis die bewys wanneer die ANC staatstropers e.a. die bewerings maak.

M.a.w. konfronteer die LEUENS met feite!

Prik die propaganda borrel!

Louis ·

Jou laaste paragraaf: Christus se reaksie op die vraag van Sy dissipels om vir hulle die gelykenis van die saailand te verklaar. Matt. 13: 36-43, gee ‘n mens nogal iets om oor na te dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.