Die ‘Farao van Egipte’ oorlede

Foto: (AP Photo/Maya Alleruzzo)

Hosni Mubarak, die langdurige president van Egipte, is onlangs in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Vir 30 jaar was hy die outokratiese heerser van die land met sy 83 miljoen mense, een van die sleutellande van die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Mubarak is in 1928 gebore en was uit ʼn arm gesin afkomstig. Die weermag was amper die enigste manier om opgang te maak vir gewone mense en Mubarak het die lugmag gekies en sy spore verdien in die Suez-oorlog in 1956, waarin die linkse nasionalis Gamal Abdel Nasser Europa en Israel uitgedaag het.

Intussen het Mubarak deur die range beweeg en in die vroeë 1970’s hoof van die lugmag geword. Egipte se aartsvyand was Israel, omdat dit vir Nasser in die pad van Pan-Arabisme gestaan het. Mubarak het toe in sy hoedanigheid as hoof van die lugmag help beplan aan die verrassingsaanval op Israel in die Jom Kippoer-oorlog in 1973. Die (aanvanklik) suksesvolle aanval het Mubarak landwyd bekendgemaak en alhoewel ook hierdie oorlog ná aanvanklike verliese deur Israel gewen is, het die Egiptiese propaganda dit tot ’n oorwinning verklaar en Mubarak tot een van die oorlogshelde. Op grond daarvan het hy twee jaar later visepresident onder Nasser se meer gematigde opvolger Anwar Sadat geword.

Sadat het vriend en vyand verras toe hy in 1979 vrede met Israel gesluit het en daardeur die besette Sinai-skiereiland vir sy land terug ontvang het. Mubarak het homself uit die onderhandelinge gehou om nie verhoudinge met ander Arabiese leiers te benadeel nie. In die Arabiese wêreld is Sadat as verraaier uitgekryt en moes met sy lewe betaal tydens ’n sluipmoordaanval in 1981.

Foto: (AP Photo/Hamada Elrasam)

So het Mubarak onverwags president geword. Alhoewel hy by die vredesooreenkoms met Israel gehou het, was die verhoudinge tussen die twee lande afgekoel. Aan die ander kant het Mubarak die verhoudinge met die Arabiese state herstel en is Egipte weer tot die Arabiese Liga toegelaat.

Mubarak het voortgebou op die bande met die Weste, wat sy voorganger Sadat, in ’n omkeer van Nasser se sosialistiese beleid, aangeknoop het. Mubarak het hartlike verhoudinge met die Amerikaanse presidente gehandhaaf en was tydens die Irak-Koeweit-oorlog in 1991 ’n getroue bondgenoot van die VSA en deel van die anti-Irak koalisie. Die bondgenootskap met die Weste was vir Egipte finansieel en wat internasionale invloed betref die moeite werd.

Binnelands het Mubarak met ’n harde hand regeer en die opposisie, veral die fundamentalistiese Moslem-Broederskap aan bande gelê. Daar was ook ’n gedurige stryd teen Islam-terrorisme. In die konteks van die Midde-Ooste en in vergelyking met wrede en onvoorspelbare diktators soos Moeammar Ghaddafi van Libië, Saddam Hussein van Irak of Hafiz al-Assad van Sirië was Mubarak gematigd en rasioneel. Hy is dikwels ook die Farao van Egipte genoem omdat hy later soos ’n verwyderde koning was wat vir altyd regeer, eerder soos ’n president wat vervang kan word.

Foto: (AP Photo/Nariman El-Mofty)

Toe Mubarak begin oud word het, het hy beplan om op die gebruiklike manier van diktators ’n dinastie op te rig en om sy seun Gamal as opvolger voor te berei. Die Arabiese opstande van 2011 het egter ’n streep daardeur getrek. Ná weke lange proteste in Kaïro teen Mubarak se lang bewind, moes hy bedank. Die gety het radikaal teen hom gedraai en hy is van moord aangekla weens die skietdood van betogers. Die eens onderdrukte Moslem-Broederskap het die eerste vrye verkiesing gewen. Hy is later vrygespreek van die aanklag van moord, maar weer van korrupsie aangekla en het tronkstraf gekry.

Mubarak sal ten spyte van sy tekortkominge onthou word as iemand wat ’n moeilike land in ’n plofbare omgewing onder die omstandighede goed bestuur en bymekaar gehou het, ’n betroubare internasionale bondgenoot was, en van buitelandse avonture afgesien het. Die kort en chaotiese tydperk van die bewind van die Moslem-Broederskap, wat in 2013 deur ’n staatsgreep beëindig is, kan vir Mubarak as bewys dien dat hy outokraties moes regeer om sy land van chaos te red. Die huidige president Abdul Fatah al-Sisi volg Mubarak se voorbeeld.

Mubarak is met militêre eerbetoon begrawe en drie dae van rou is verklaar, maar die bevolking is erg verdeel oor hom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.