Die fiktiewe breuk tussen die ANC en die regbank

Argieffoto

Argieffoto

Watter sin is daar te maak uit die huidige relletjie tussen regering en die howe?

Opgewondenheid

Ongedurigheid in die geledere van die land se senior regters oor skerp kritiek teen die howe deur woordvoerders (Mantashe, Nzimamde, Nhleko en andere) van die regerende alliansie onder leiding van die ANC en ʼn openbare verklaring deur die hoofregter, Mogoeng Mogoeng, waarin hy aankondig dat hy die president vir ʼn ontmoeting genader het om die kritiek te bespreek, veroorsaak tans aansienlike opgewondenheid.

Sommige meen dat die regering hom nou teen die howe vasloop en dat die ongemak van die regters wys die regering kan nie maak wat hy wil nie. Daar is selfs ʼn gevoel dat die (oënskynlike) botsing tussen die regering en die howe daarop dui dat die remme en teenwigte van die Grondwet in weerwil van groeiende skeptisisme daarin, toe tog werk en dat daar tog op die howe gesteun kan word om (ons) regte te beskerm.

Die jongste relletjie tussen die regering en die howe spruit voort uit ʼn uitspraak van die Gautengse hooggeregshof met betrekking tot die Soedanse president, Omar al-Basjir, wat tydelik in Suid-Afrika was om die beraad van die Afrika-unie by te woon. Die hof het gelas dat Al-Basjir nie die land mag verlaat nie aangesien die internasionale strafhof ʼn lasbrief vir misdade teen die mensdom teen hom uitgereik het, en hy ingevolge die Suid-Afrikaanse wetgewing wat die Rome-statuut van die internasionale strafhof in die Suid-Afrikaanse reg inlyf, in Suid-Afrika moes aanbly ten einde die hof in staat te stel om oor sy uitlewering aan die strafhof te beslis.

Die ANC was woedend oor die bevel. Afgesien daarvan om die bevel te verontagsaam, het die gemelde woordvoerders ook vurig teen die hof uitgevaar. Dit het gelei tot Mogoeng se verklaring waarin hy en die land se senior regters hulle ongemak met die regering se kritiek betuig het en versoek het om met Zuma samesprekings te voer.

Die optimistiese beskouing en die gepaardgaande opgewondenheid oor die mag van die hof is ongegrond. ʼn Realistiese greep moet gekry word op wat eintlik in die huidige dramatjie tussen die regering en die howe op die spel is en in watter mate daar wel realisties verwag kan word dat die howe ʼn rol in regsbeskerming kan speel, veral met betrekking tot polities gevoelige kwessies.

Rusie binne die heersende elite

Die huidige spanning tussen die howe en die ANC is ʼn rusie binne die heersende elite – binne die breë regerende elite. (Dis terloops ook nie die eerste een nie en ook nie die eerste keer dat die hoofregter ʼn verklaring oor standpunte van die ANC uitreik nie. Dit het ook in Januarie 2005 gebeur toe die destydse hoofregter, Arthur Chaskalson, na aanleiding van die ANC se 8 Januarie-verklaring ook ʼn verklaring uitgereik het nadat die ANC teen die howe uitgevaar het.) Die kern van die saak is dat die heersende elite nie net bestaan uit die ANC wat in die wetgewer, die uitvoerende gesag en die staatsadministrasie dominant is nie. Die howe, moet beklemtoon word, is ʼn integrale deel van die heersende elite aangesien die regbank ʼn gespesialiseerde funksie, naamlik dié van regspleging binne die heersende elite, uitoefen. Die howe staan nie buite die heersende elite nie.

Dit beteken nie dat alle regters kaartdraende lede van die ANC is of dat almal die ANC ondersteun nie. Inteendeel, daar is sonder twyfel ʼn handjievol regters wat geen erg aan die ANC het nie, al probeer die Regterlike Dienskommissie (RDK) natuurlik sy bes om te verseker dat lojaliste en jabroers en -susters as regters aangestel word. Wat dit wel beteken, is dat die regbank in die algemeen die uitgangspunte en doelwitte van die regerende elite onder die leiding van die ANC onderskryf en sy deel doen om dit te regverdig en te verwesenlik. Dit geld veral vir die konstitusionele hof wat as hoogste hof van tyd tot tyd polities gevoelige geskille moet beslis. Wanneer ʼn saak wat met die regering se sentrale politieke doelwitte te doen het voor die hof dien, kan die regering gerus wees dat die hof in sy guns sal beslis.

Daarvoor word nougeset gesorg deur die RDK waarin die ANC die septer swaai aangesien dit seker maak dat diegene wat vir regterlike aanstellings benoem word oor die algemeen “transformasiekandidate” is wat die ANC se uitgangspunte deel. Uitsonderings word wel soms geduld en nou en dan is daar ʼn misrekening met ʼn onvoorspelbare baie selfstandig-denkende kandidaat wat dalk deurglip, maar in die normale verloop van sake is die regbank in pas met die (ander sektore van die) heersende elite.

Natuurlik lewer die hof dikwels uitsprake teen staatsinstellings. In Suid-Afrika met sy hopelose staatsadministrasie is daar trouens baie beslissings van die aard. In die Oos-Kaap is daar byvoorbeeld strome uitsprake teen staatsdepartemente oor maatskaplike toelae en dergelike maatskaplike dienste. Die uitsprake skep natuurlik vir die regering verleentheid. Dit beteken egter allermins dat die hof daarmee in opposisie met die regering tree. Die uitsprake gaan op stuk van sake oor wanfunksionering van die staatsadministrasie en nie oor die een of ander ideologiese uitgangspunt van die regering waarin die hof teenoor die ANC of teen die wetgewer of die uitvoerende gesag standpunt inneem nie. Buitendien is diegene ten gunste van wie die beslissings gemaak word, nie teenstanders van die regering nie, maar normaalweg na alle waarskynlikheid mense wat vir die ANC stem.

Dieselfde geld vir ʼn uitspraak oor iets soos Clive Derby-Lewis se parool. Dié uitspraak het geen betrekking op die ANC se ideologiese uitgangspunte nie en laat dit volkome ongeskonde. Uitsprake oor hoe die Speaker teenoor EFF-parlementslede moes optree, val in dieselfde kategorie. Dit gooi op kort termyn dalk ʼn klippie in die skoen van die ANC, maar het eweneens geen uitwerking op die breë gang van die ANC se ideologiese projek nie. Oor kwessies wat nie polities sensitief is nie, kan ook verwag word dat die nodige gedoen sal word om regsbeskerming te probeer verleen. (Soms gee die staat nie daaraan uitvoering nie bloot omdat die staatsadministrasie so gehawend is.)

Wanneer geskille wat te doen het met die basiese uitgangspunte van die ANC egter voor die hof dien, is die situasie heel anders. Dan tree die fundamentele eensgesindheid tussen die howe, meer bepaald die konstitusionele hof, en die res van die regerende elite onder die leiding van die ANC helder op die voorgrond. Twee onlangse uitsprake dien as voorbeelde hiervan: die saak van Renate Barnard oor regstellende aksie en die AgriSA-saak oor wat op die keper beskou op die nasionalisering van mineraalregte neerkom.

Die kwessies wat in die sake te berde was, is vir die regerende elite van kernbelang en het betrekking op sy basiese ideologiese doelwitte, naamlik om sy beheer oor alle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing te vestig. Die konstitusionele hof het in albei sake in die guns van die regering beslis. In die Barnard-saak was die hof eenstemmig en in die AgriSA-saak het slegs twee uit die nege regters voor wie die saak gedien het nie (heeltemal) saamgestem nie.

Verskeie ander voorbeelde van polities gevoelige sake waarin die hof ten gunste van die regering beslis het, kan bygevoeg word. Die howe kon in albei die sake die uitsprake ten gunste van die regering gee omdat die toepaslike reg wat vooraf aangeneem is – die Grondwet en die tersaaklike wetgewing (die Minerale- en Petroleum-hulpbronne-ontwikkelingswet in die geval van die AgriSA-saak en die Wet op Diensbillikheid in die geval van die Barnard-saak) noukeurig gedoen het wat wetgewing dikwels doen, naamlik om die ideologiese oortuigings van die ANC in bindende regsterme weer te gee.

Nogtans was dit moontlik om selfs op grond van die reg vervat in hierdie wetgewing teen die regering (en by implikasie die ANC) te beslis. Die minderheidsuitspraak in die AgriSA-saak en die hewige akademiese kritiek teen die Barnard-uitspraak en teen die meerderheidsuitspraak in die AgriSA-saak onderstreep dié waarheid. Dis in hierdie konteks wat die rol van die howe pertinent ter sprake kom, want die howe beslis oor die finale gesag om die reg te vertolk en dus te sê wat die reg eintlik behels.

In albei gevalle het die konstitusionele hof die reg inderdaad ooreenkomstig uitgangspunte wat dit met die res van die heersende elite deel, ten gunste van die regering beslis – in die Barnard-saak eenstemmig en in AgriSA met twee regters wat nie heeltemal saamgestem het nie. So funksioneer hoogste howe in die normale loop van sake as deel van dieselfde regerende elite in pas met die regering en nie teen die regering nie. So werk dit in die huidige Suid-Afrika; so het dit in die Suid-Afrika van voor 1994 gewerk en so funksioneer hoogste howe as deel van die regerende elite elders in die wêreld. As die hof nie so funksioneer nie, word sy bevele nie uitgevoer nie, of hy word geïgnoreer of sy samestelling word mettertyd verander.

Al-Basjir

Tog kan gevra word of die Al-Basjir-uitspraak nie op die teendeel dui nie, naamlik dat die howe tog teen die regering kan uitspraak lewer oor ʼn kwessie wat sentraal staan in die regering se eie uitgangspunte. Op stuk van sake is die Afrika-samehorigheid en hegte samewerking tussen Suid-Afrika en ander Afrikastate en gepaardgaande solidariteit tussen Afrika-regerings ʼn saak waarop die regering ʼn baie hoë premie plaas.

Die antwoord is dat die Al-Basjir-voorval nie ʼn uitsondering is nie. Wat hier gebeur het, is dat die bestaande reg waaraan die hof gebind was ʼn vroeëre standpunt van die ANC weerspieël. Die ANC het egter sy standpunt verander, maar het nagelaat om die reg in ooreenstemming met sy nuwe standpunt te verander. Hy het die hof dus geen keuse gelaat as om teen hom uitspraak te lewer nie. As hy die reg wel verander het om sy nuwe standpunt te weerspieël, sou die hof uiteraard net soos in AgriSA en in Barnard in sy guns beslis het. Ek verduidelik.

Die Rome-statuut van die internasionale strafhof is in 1998 beklink en Suid-Afrika het kort daarna wetgewing (die Implementation of the Rome Statute of the International Criminal Court Act) aanvaar waarin die statuut in die Suid-Afrikaanse reg ingelyf is. Daarvolgens moet Suid-Afrika met die strafhof saamwerk. Dit sluit in dat Suid-Afrika (soos ander partye tot die Rome-statuut) mense, met inbegrip van regerings- en staatshoofde wat van misdade onder die hof se jurisdiksie verdink word (volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade) en teen wie die hof inhegtenisnemingslasbriewe uitgereik het, aan die hof moet uitlewer indien sodanige persone hulle binne die land se grense bevind.

Suid-Afrika het energiek meegewerk aan die onderhandeling en die uiteindelike sluiting van die Rome-statuut. Suid-Afrika het ook dadelik werk gemaak om die statuut in sy huishoudelike reg op te neem. Dit was in ʼn stadium kort ná die inwerkingtreding van die Suid-Afrikaanse Grondwet toe die demonstrasie van die simboliek van menseregte en ʼn verbintenis tot die oppergesag van die reg (rule of law) nog een van die hoogste prioriteite van die land se buitelandse beleid was. Die ANC wou sy wêreldnaame bevorder as ʼn leidende filantropiese lig in die bevordering van menseregte en die rule of law, ook op die internasionale terrein. Die ANC het dit gedoen in die vaste geloof in sy eie onberispelike morele integriteit. (Onthou, dit was nog gedurende die enkele glorieryke jare van die reënboognasie en die groot pronk oor die Suid-Afrikaanse wonderwerk.) Een van die belangrikste maniere waarop die ANC sy naam as voorstander van die rule of law, vrede en menseregte kon ten toon stel, was juis om hartlik aan die voorbereiding van die verdrag saam te werk en daarna ʼn party daartoe te word.

Intussen het sake drasties verander, want die ANC het sedertdien hartlike verhoudings met geharde diktators en state wat hulle allermins onderskei in hulle blink menseregte-rekord aangeknoop en gekoester. Daar is die hartlike verhoudings met Kuba, Libië onder Gadafi, Zimbabwe onder Mugabe en natuurlik met Sjina. Daar is ook nog ander voorbeelde.

Buitendien het die ANC destyds klaarblyklik ook nie voorsien dat hy in die posisie sou kom waar hy een van die Afrika-staatshoofde aan die strafhof sou moes uitlewer nie. Inteendeel, die ANC was klaarblyklik onder die indruk dat hy as party tot die verdrag kan pronk sonder die onaangename nadele wat met die nakoming daarvan gepaardgaan, soos om ʼn Al-Basjir of ʼn dergelike Afrika-staatshoof aan die strafhof te moet uitlewer.

Die ANC se standpunt het derhalwe verskuif vanaf sy hoë premie op sy status as beskermer van die rule of law tot by ʼn aktiewe vennoot van state en staats- en regeringshoofde wat geen erg aan menseregte en die oppergesag van die reg het nie. Nogtans het die ANC nagelaat om die reg ooreenkomstig sy nuwe standpunt te verander. Hy is steeds ʼn party tot die internasionale strafhof en die Implementation of the Rome Statute of the International Criminal Court Act pryk steeds op die wetboek. Wanneer ʼn saak voor ʼn Suid-Afrikaanse hof dien, moet hulle steeds daaraan uitvoering gee en nie aan die ANC se nuwe sentimente teen die strafhof en vir samewerking met bedenklike staatshoofde nie.

Dis toe presies wat gebeur. Al-Basjir is in Suid-Afrika en daar dien ʼn aansoek voor die hof om hom aan die internasionale strafhof uit te lewer. Skielik kon die ANC nie meer sy brood aan albei kante gebotter kry nie. Vanweë die verpligting om Al-Basjir uit te lewer, moes hy toe inderdaad kies tussen sy aansien as beskermer van die oppergesag van die reg en menseregte teenoor Afrika-solidariteit. Die keuse was maklik ten gunste van laasgenoemde: Al-Basjir is op ʼn onderduimse manier gehelp om suutjies-suutjies uit die land pad te gee en sodoende is ʼn bevel van die Gautengse hooggeregshof sowel as die lasbrief van die internasionale strafhof met een slag gefnuik.

Die hof was klaarblyklik in die knyp. Daar was geen ander uitweg nie. Die reg (anders as in Barnard en in AgriSA) was nou teen die regering, want die ANC het versuim om dit in ooreenstemming met sy nuwe standpunt te wysig. Selfs al wou die hof, was daar geen ander uitweg as om teen die regering uitspraak te lewer nie en hom sodoende die luidrugtige gramskap van die ANC se raserigste woordvoerders op die hals te haal.

As die ANC eerlik was en wel sy regeringsgesag gebruik het om die reg te verander om met sy nuwe voorkeur van Afrika-solidariteit te strook, en gevolglik sy verbintenis tot die strafhof terselfdertyd laat vaar het, sou die hof (die Suid-Afrikaanse hof) uiteraard ʼn teenoorgestelde uitspraak gelewer het, naamlik een wat die ANC kragtens die nuwe uitspraak tevrede gestel het. Hierdie nuwe reg is egter nog nie deurgevoer nie. Al lawaai die ANC se woordvoerders so teen die hof, is dit duidelik dat hy terdeë besef dat hy die outeur van sy eie verleentheid is. Hy weet ook wat hy moet doen om te voorkom dat hy weer met die hof haaks raak. Hy moet die reg verander. Daarom is reeds aangekondig dat ʼn nuwe verhouding met die strafhof onderhandel gaan word. Trouens, dis nie uitgesluit dat Suid-Afrika hom uit die statuut sal onttrek nie. (Dit sal glad nie vreemd wees nie aangesien talle state vanuit die staanspoor besef het dat hulle verkieslik nie partye tot die statuut moes wees nie, aangesien dit vir hulle verleentheid kon meebring. Verskeie groot moondhede, onder meer die VSA, Sjina en Rusland is nie partye tot die statuut nie.)

Slotsom

Waarmee ons hier te doen het, is derhalwe nie ʼn breuk tussen die howe en die ANC (in die uitvoerende gesag en die wetgewer) nie. Waarmee ons wel te doen het, is dat die ANC gedink het hy kan (valslik) poseer as ʼn groot voorstander van die internasionale rule of law deur ʼn party tot die statuut van die internasionale strafhof te wees en terselfdertyd sy beleid van Afrika-solidariteit gestand doen. Wat ons nou kan verwag, is dat die ANC stappe sal doen om Suid-Afrika se regsposisie met betrekking tot die strafhof te hersien en dit in nuwe reg te vervat wat sy sentimente korrek weerspieël. Sodoende sal hy toekomstige situasies waarin die hof oor hierdie kwessies verplig is om teen hom uitspraak te lewer, vermy. Die hof sal dan nie weer in die ongemaklike dilemma wees om teen die regering uitspraak te lewer oor ʼn kwessie wat die ANC so hoog ag nie.

Die Al-Basjir-fiasko weerlê derhalwe nie die basiese waarheid dat die howe deel van die heersende elite uitmaak nie. Dit toon bloot dat die hof sy verbintenis tot die heersende elite op grond van die bestaande reg betuig. In die Al-Basjir-geval het die reg nie bygehou by die regering se nuwe standpunt nie, met die gevolg dat die hof kragtens die bestaande reg wat ʼn vorige standpunt van die ANC weergegee het, moes uitspraak lewer en daar  as gevolg daarvan  ʼn oënskynlike breuk tussen die ANC en die howe ontstaan het.

Laat ons dus maar nugter wees. Hier is geen fundamentele breuk op hande nie. Glad nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Attie Schutte ·

Soewerein is hy wat die reëls maak – Nietzsche, en soos een Amerikaanse regter in ʼn hofgeding gesê het aan ʼn jong man wat vir geregtigheid gevra het: This is a court of law young man, not a court of justice!
Maar Prof, is daar nie tog ʼn breuk bespeurbaar nie? Dat die positiviste dalk verkeerd was en dat die moderne staat se geregtigheid oor tyd algaande wegbeweeg van ʼn konsep van geregtigheid wat naby aan natuurlike geregtigheid is of dalk eerder was, na ʼn tipe perverse poëtiese geregtigheid waar die staat nie noodwendig slaafs nagevolg word nie maar daar eerder van uitsprake verwag word om mense te laat emosioneel “goed voel” en die konkrete beskerming van eiendomsreg oor tyd ʼn baie laer rangorde begin inneem, behalwe waar dit in die staat se belang is, natuurlik.

Henri ·

U skryf: ” Wat dit wel beteken, is dat die regsbank in die algemeen die uitgangspunte en doelwitte van die regerende elite onder die leiding van die ANC onderskryf en sy deel doen om dit te regverdig en te verwesenlik.”
Van belang is om te besef dat daardie “uitgangspunte en doelwitte” waarna u verwys tans sosialisme en marxisme is. [Die meeste ministers is SAKP lede.] So was die eerste hoof van die Grondwethof stilletjies en suutjies n kommunis. Minstens n kommunistiese meeloper. En hulle het hul bes probeer om dit stil te hou. Maar toe het die SAKP in n persverklaring die waarheid uitgelap [om te spog met die hooggeplaasde lid wat hulle gehad het] na Chaskalson se afsterwe.
En nou in die Barnard-uitspraak [2014[6]] verwys die grondwethof openlik na die Grondwetlike vereiste van ‘substantive equality’. Dis diep sosialisties – eintlik marxisties.

So die grondwethof beslis uitdruklik in der waarheid dat ons n marxisties-sosialistiese Grondwet het.
Dis onlangs opgevolg deur regter Davis [n selferkende marxis] in Solidarity 2015[4] SA 277 LAC [op byv 278B] – wat dui dat die leidende presedent betreffende “substantive equality’ nou oral in uitsprake nagevolg gaan word en moet word.
So die grondwethof gee sagweg onderlangs die marxisties/sosialistiese pas aan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.