Die fondamente van gemeenskapsuniversiteite

Deur Alwyn Swanepoel

Argieffoto: Pixabay

Ons het in die vorige artikels gekyk na die hoekstene en bouplanne vir gemeenskapsuniversiteite. Daar is by die hoekstene gefokus op desentralisering, akademiese leierskap, sosiale stabiliteit, en egte diversiteit. Daarna is gefokus op bepaalde bouplanne. In hierdie aflewering word daar gefokus op die derde punt wat in die eerste artikel genoem is, naamlik ná hoekstene en bouplanne. Dit gaan oor die fondamente van gemeenskapsuniversiteite. Soos vroeër reeds vermeld, word dit hier gedoen aan die hand van bepaalde gedagtes van die filosoof, D.C. Schindler.[1]

Fondamente

Wanneer daar oor fondamente besin word, is dit sekerlik nodig om eers te vra waaroor die universiteitslewe veronderstel is om te gaan. Wat is die gees en eie aard van ’n universiteit?

Vra ons terug na die antieke visie op die universiteitslewe, vind ons dat dit beskou was as ’n instelling wat op besondere wyse gerig is op die soeke na wysheid. In die proses was daar ook belangrike woorde wat na vore gekom het, soos die Griekse paideia en die Duitse Bildung wat aangedui het dat dit hierin gaan om ’n omvattende opvoeding van die hele mens. Schindler wys in sy belangrike debat oor die wese van die universiteit wat hy gevoer het met die gerekende denker, Jean-Luc Marion, op die klassieke woorde van Plato in sy Republic waar hy opvoeding definieer as “die kuns om die hele siel om te keer.”

Hy wys ook op die etimologiese wortels van die woord opvoeding (in Latyns: educare, in Engels: educate) wat letterlik beteken “om uit te lei”, wat natuurlik ook impliseer om na iets toe of binne-in iets anders ingelei te word. Hy wys daarom ook op die woorde van Robert Spaemann wat opvoeding beskrywe as ’n “inleiding in die werklikheid.” Hierdie werklikheid is gewoon groter as enige vakgebied self, en roep vrae oor die groter geheel op waarop enige vak as sodanig per definisie nooit ’n volledige antwoord kan gee nie.

Anders gestel, ’n betrokke vakgebied kan wel dien as unieke toegangspoort tot die groter geheel. Om met die grondliggende geheelvrae besig te raak, beteken egter dat daar ’n herontdekking sal wees van die wese (die ontologiese dimensie) van die waarheid, en van waarheid as die primêre sorg en sug van enige vakgebied. Dit beteken dat elke vakgebied in sy kern ’n tipe vertakking van die wysheidsoeke verteenwoordig. Die wonderlike hiervan, sê Schindler, is dat dit juis hierdie benadering is wat egte verwondering en vernuwing in ’n vakgebied moontlik maak. En as ’n voorbeeld gevra word, verwys hy na hoe Einstein dit op die gebied van fisika gedoen het.

Om hierdie benadering van verwondering te waardeer, moet iets besef word van die visie op die werklikheid waarmee Schindler op voetspoor van Thomas Aquinas werk. Die literêre filosoof, Joseph Pearce, verwoord dit in ’n ander konteks besonder treffend:

“In wese wys Thomas ons dat nederigheid die begin van wysheid is, omdat dit die noodsaaklike vereiste is vir ons oë om geopen te word vir die werklikheid. Die een wat nederig is, sal ‘n gevoel van dankbaarheid hê vir sy eie bestaan en vir die bestaan van almal wat hy sien. Hierdie dankbaarheid stel hom in staat om met die oë van verwondering te sien. Die oë wat met verwondering sien, sal beweeg word om die goedheid, waarheid en skoonheid van die werklikheid wat hulle sien, te oordink. Sodanige nadenke lei tot die beste vrug van persepsie en dit is wat Thomas dilatatio noem – die verruiming van die verstand. Dit is hierdie verruiming, hierdie opening van die verstand vir die diepte van die werklikheid, wat ‘n persoon in staat stel om in dieper gemeenskap met die volheid van goedheid, waarheid en skoonheid te lewe.”[2]

Vir Schindler beteken dit dat dit onmoontlik is om slegs by die besonderhede van empiriese data van ’n vakdissipline vas te haak. Dit is ’n begin, ja, maar daar moet juis deurgevra word na die geheel waarvan dit deel uitmaak en meer nog: na die geheel wat selfs in die interpretasie van empiriese data veronderstel word. Vir Schindler beteken dit dat die verwondering oor die groter werklikheid jou vrymaak vir die soeke na en deelname aan ware wysheid, ook in en deur jou betrokke vakgebied.

So ’n benadering kan die siel omkeer en Schindler wys daarop dat die sin vir die geheel – universio – daarom dikwels saamgehang het met conversio. Hy wys daarop dat studente dit in Engels heel gepas beskryf as “things finally come together.” Daar word dus ’n insig, weliswaar steeds ten dele, in die geheel beleef wat so wonderlik is dat dit dikwels saamhang met ’n omkering van die siel. In Afrikaans sou ons dit seker kon verwoord as dat dinge begin sin maak of dat die legkaart in mekaar val of dat daar ’n lig vir hom of haar opgegaan het.

Juis Thomas Aquinas se beeld van die waarheid as ondeurgrondelike en onuitputlike lig staan vir Schindler sentraal in hierdie benadering. Die implikasie, sê Schindler, is dat ons aan die een kant sal onthou dat die ervaring van lig wat opgaan, altyd ’n vergunning, ’n geskenk, ’n vrye donasie, ’n genadegawe van Bo is wat ons nie kan vasvang met ’n formule nie. Aan die ander kant moet ons ook nie toegee aan die tendens om die ligervaring vir die private ruimte te reserveer nie. Die universiteit is juis ’n publieke instelling wat daarna streef om op elke denkbare wyse lig op te vang. Universiteite behoort by uitstek sonvangers, of dan sonontvangers, ja ligontvangers en ligdraers te wees, en dit kan onmoontlik bloot ’n private aangeleentheid wees.

Schindler is ook van mening dat die universiteit as ’n mikrokosmos van die omringende kultuur dien. Daar moet daarom daadwerklik gevra word na watter omstandighede die beste geskik is om die publieke soeke na en genieting van wysheid te dien. Volgens Schindler behels dit soveel meer as die dosent wat in die klas vir elke student bloot vra wat sy/haar opinie is en dit bring die relevansie van gemeenskapsuniversiteite weer na vore. Die vraag is: Hoe ontwikkel ons ruimtes wat diensbaar daaraan is dat universiteitsgemeenskappe werklik lewe omdat daar werklike lig in hierdie gemeenskappe opgaan vir wysheidsoekers?

In die laaste aflewering word daar op vier rigtinggewende samehange gewys wat nie net belangrik is vir verdere gesprek nie, maar waarvoor daar ook konkreet in begrotings (en bonusse en merietetoekennings en aansporingsbedrae) voorsiening gemaak behoort te word. Dit is nou as geslagte van die toekoms ernstig is hieroor.

  • Alwyn Swanepoel is as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA). Hy dien tans ook as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde instelling. 

* Hierdie artikel is die derde in ʼn reeks van vier artikels wat ʼn verwerking is van ʼn voordrag gelewer by ʼn gespreksgeleentheid wat die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) op 30 November 2017 aangebied het. Lede van die APA, Akademia, Aros en die Bo-Karoo-kampus van Orania was betrokke, tesame met enkele dosente van die UP en die UOVS.

[1] Kyk D.C. Schindler, “On the Universality of the University: A Response to Jean-Luc Marion”, by http://www.communio-icr.com/files/dcschindler40-1.pdf

[2] Vgl. Joseph Pearce se treffende artikel “Distracting Ourselves to Death” by http://www.theimaginativeconservative.org/2016/03/distracting-ourselves-to-death.html

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae