Die fyn lyn tussen godsdiensvryheid en menseregte

Argieffoto

Deur ds. Johan Schütte

Op 8 Maart 2019 is die sinodale besluite wat die NG Kerk in 2016 oor dieselfdegeslagverhoudings en -huwelike geneem het, deur die hooggeregshof ter syde gestel.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria is deur ʼn groep van vier lidmate genader om die besluit van 2016 onwettig en ongeldig te verklaar. In hul beantwoordende verklaring het die NG Kerk toegegee dat die besluite deur die appèlliggaam van die Algemene Taakspan: Regte rakende die aanvaarding van appèlle teen die vorige besluit van 2015, onwettig en ongeldig was. Hiermee het die NG Kerk erken dat hy sy eie huishoudelike reëls oortree het.

Tot voor hierdie uitspraak het die howe hulle egter deurgaans daarvan weerhou om by kerke se leerstellige verskille betrokke te raak. So het die konstitusionele hof byvoorbeeld beslis dat mense die reg en ook grondwetlike beskerming geniet om geloofsoortuigings te handhaaf wat selfs “bisar, onlogies en irrasioneel” is.

Wat met hierdie hofsaak ter sprake gekom het, was die vraag of die weiering om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en te aanvaar, een van hierdie geloofsoortuigings is wat grondwetlike beskerming geniet. Twee regte binne die Suid-Afrikaanse Grondwet blyk in konflik met mekaar te wees, naamlik die reg op godsdiensvryheid en die reg dat niemand op grond van jou seksuele oriëntasie teen jou mag diskrimineer nie.

Wat interessant is van die uitspraak, is dat die hof in sy uitspraak gesteun het op die omstrede verslag van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) rakende die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se geloof, waarin daar vir die regulering van alle godsdienste deur middel van wetgewing gepleit word. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie verslag se aanbevelings deur die parlementêre portefeuljekomitee verwerp is. Hierdie verwerpte aanbeveling van die KGT-kommissie word dus nou vir die regters deel van die fondament op grond waarvan hulle reken die hof wel oor die kerklike aangeleentheid mag beslis.

Tot op hede is kerke deur die hof as vrywillige organisasies beskou. Tot nou het dit beteken jy sluit vrywillig by ʼn kerk van jou keuse aan en daardeur aanvaar jy die oortuigings van die betrokke kerk en lê jy jouself by die interne prosedures en besluite neer. Die hof was nog altyd huiwerig om by enige leerstellige twiste betrokke te raak en het dit vermy om uitspraak te lewer oor die inhoud of die waarheid van geloofsoortuigings. Die hof het aanvaar dat individue wat by ʼn kerk aansluit, bereid moet wees om die regverdige beslissings binne die betrokke kerk se strukture te aanvaar. Wanneer die saak dan wel voor ʼn hof kom, is die vraag of daar enige onreg gepleeg is. Die hof is dan in daardie gevalle gevra om te bepaal of die betrokke kerk in stryd met sy eie Kerkorde en besluite opgetree het.

Teen hierdie agtergrond kom die uitspraak van 8 Maart 2019 waarin die hooggeregshof in Pretoria besluit om wel by die inhoud van ʼn kerklike twispunt betrokke te raak, omdat:

  1. die hof oordeel dat besluite oor seksuele oriëntasie buite die raamwerk van godsdiensvryheid val, maar deur die Grondwet gereël word;
  2. daar getoets moet word of die NG Kerk met sy 2016-besluite voldoen aan hul wetlike, etiese en gemeenskapsverantwoordelikheid; en
  3. geen argumente deur die NG Kerk daarvoor gepleit het dat die saak op ʼn ander forum hanteer kan word nie, veral aangesien twee sinodes ná vele bespreking en debat nie tot ʼn konsensusbesluit kon kom nie.

Die belangrikste rede waarom die hof egter besluit het om wel by die substantiewe kwessie van onregverdige diskriminasie betrokke te raak, is omdat die aansoekers en ook die NG Kerk die hof daartoe versoek het. Deur gehoor te gee aan die versoek, wyk die hof af van die gebruik hier te lande en ook internasionaal.

Hoewel die Wet vir iets soos geregverdigde diskriminasie voorsiening maak, het die hof in sy uitspraak telkens daarop gewys dat die NG Kerk nêrens in hul stukke probeer het om enige feite hieroor aan te bied nie. Hiervolgens moes die NG Kerk aantoon hoe geloofsgemeenskappe se besluite oor seksuele oriëntasie volgens artikel 36 van die Grondwet gesien kan word as ʼn beperking van die betrokke gelykheidsregte. Die NG Kerk het dit egter ook nie beredeneer nie.

Op grond van die feite (of die doelbewuste uitlating daarvan) aanvaar die hof dat die diskriminasie nie geregverdig kan word nie. Diskriminasie kan ook geregverdig word deur aan te toon dat die mikpunt en doel daarvan ʼn waardige en belangrike doel in die gemeenskap het. Ook hierdie punt is nie deur die NG Kerk beredeneer nie.

Vanweë die gebrek aan argumente en feite bevind die hof toe dat die 2016-besluit nie net onregverdige diskriminasie is nie, maar ook sekere lidmate se menswaardigheid aangetas het, aangesien persone in verhoudings met iemand van dieselfde geslag nie leraars in die kerk mag wees nie en ook nie toegang het tot kerklike seremonies nie.

Die hof het verder ʼn leemte in die NG Kerk se sinodebesluit gesien in die feit dat dit uiteindelik gegaan het oor die uitsluiting van persone wat nie heteroseksueel is nie uit leierskapposisies en kerklike huweliksbevestiging, terwyl hulle nie uit die kerkgemeenskap uitgesluit word nie. Die hof is van oordeel dat jy nie iemand uit die LGBTIQA+ -gemeenskap mag toelaat om lidmaat van die kerk te wees, maar daarna uit sekere posisies en seremonies uitsluit nie.

Waar plaas dit gelowiges en ander kerke in Suid-Afrika?

Hoewel hierdie uitspraak spesifiek op die NG Kerk gemik is, het dit ook implikasies vir ander kerke. ʼn Presedent is nou geskep waarop daar in toekomstige hofsake geleun sal word. Dit is egter tans nog nie duidelik of die hof se uitsprake oor die grondwetlike aangeleentheid deel van amptelike uitspraak is en of dit bloot ʼn opinie binne die uitspraak is nie. Hieroor het die Alliansie wat die Outonomie van Kerke in SuidAfrika Verdedig (Adacsa) uitsluitsel by die hof gevra.

Juis danksy dié beginsel dat ʼn soortgelyke saak binne ʼn ander konteks nie noodwendig dieselfde beoordeel kan word nie, sal alle toekomstige sake moet fokus op al die gebreke wat in die NG Kerk se verdediging aangetoon is.

Dit is egter kommerwekkend dat die hof sy uitspraak nie net tot die prosedurele foute beperk het nie, maar ook oor die grondwetlike aspekte sekere bevindings gemaak het. Sodoende het die bedreiging van godsdiensvryheid ʼn groter werklikheid geword.

Die uitspraak behoort ook ʼn wekroep vir kerke te wees, wat getrou aan die Bybel wil bly, om erns met kerklike tug te maak en konsekwent te wees. Kerklike tug kan nie beperk word tot sekere persone en sekere oortredings nie. Jy kan nie eers tug wil toepas wanneer iemand as ampsdraer verkies word nie. Daar moet met dieselfde erns teen alle oortredings opgetree word.

Vir kerke wat die oortuiging handhaaf dat die Bybel nie vrouens as ampsdraers toelaat nie, het hierdie uitspraak natuurlik ook die gevaar dat daardie standpunt op presies dieselfde gronde betwis kan word.

Hoewel daar baie vrae gevra kan word oor die redes waarom die NG Kerk nie hierdie saak beter verdedig het nie, is die water onderdeur die brug. Die datum 8 Maart 2019 gaan in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis heel moontlik, naas Ordonnansie 7 van 1843, die Loedolff-saak van 1862 en ander, onthou word as die dag waarop en die saak waarin die NG Kerk nie eens probeer het om redes aan te voer hoekom Bybelse gehoorsaamheid geregverdigde diskriminasie kan wees nie.

Die saak in die hof het dalk oor homoseksualisme gegaan, maar die stryd binne die NG Kerk bly ʼn stryd om Skrifgesag.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
OWO

Kerklike tug is al jare gelede afgeskaf,soos wat alle standaarde,waardes,bestuur,leierskap,noem maar op, by die agterdeur uit is.Die “Holy days” het jare gelede al “holidays” geword.Dan wonder ons,hoekom lyk dit soos dit lyk.

Stebastiaan

Wanneer gaan die mense besef dat iets wat in die skrif as sonde gesien word, nie aanvaarbaar is nie. Ek het simpatie met die mense wat “gay”, maar as die suiwer woord van GOD sê dit is verkeerd dan is dit verkeerd. Geen mens gemaakte wet en hof kan daarteen stry nie.

Hans Richardt

Is kosher / Halaal heffings geregverdige diskriminasie teen bv christen verbruikers???

Andreas

Die onstaan van die huwelik is vervat in Genesis 2:23 – 24, “Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem. “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word”. God het man geskape en toe die vrou geskape om hom aan te vul. Deur die huwelik het God die probleem opgelos sodat die man nie alleen is nie “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Genesis 2:18). Dit… Lees meer »

B

Staat (wetgewing) het baie Bybelse beginsels al grootliks ‘onwettig’ gemaak – kyk maar wat is die volgende stappe om Chistene verder te verdruk en ondermyn. Ek glo nie tronkstaf is al te ver gesog?
(Paar vbe, roede, volk- en kultuurbehoudendheid, trou (eg verbintenis), ens ens.)