Die fyn lyn tussen godsdiensvryheid en menseregte

Argieffoto

Deur ds. Johan Schütte

Op 8 Maart 2019 is die sinodale besluite wat die NG Kerk in 2016 oor dieselfdegeslagverhoudings en -huwelike geneem het, deur die hooggeregshof ter syde gestel.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria is deur ʼn groep van vier lidmate genader om die besluit van 2016 onwettig en ongeldig te verklaar. In hul beantwoordende verklaring het die NG Kerk toegegee dat die besluite deur die appèlliggaam van die Algemene Taakspan: Regte rakende die aanvaarding van appèlle teen die vorige besluit van 2015, onwettig en ongeldig was. Hiermee het die NG Kerk erken dat hy sy eie huishoudelike reëls oortree het.

Tot voor hierdie uitspraak het die howe hulle egter deurgaans daarvan weerhou om by kerke se leerstellige verskille betrokke te raak. So het die konstitusionele hof byvoorbeeld beslis dat mense die reg en ook grondwetlike beskerming geniet om geloofsoortuigings te handhaaf wat selfs “bisar, onlogies en irrasioneel” is.

Wat met hierdie hofsaak ter sprake gekom het, was die vraag of die weiering om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en te aanvaar, een van hierdie geloofsoortuigings is wat grondwetlike beskerming geniet. Twee regte binne die Suid-Afrikaanse Grondwet blyk in konflik met mekaar te wees, naamlik die reg op godsdiensvryheid en die reg dat niemand op grond van jou seksuele oriëntasie teen jou mag diskrimineer nie.

Wat interessant is van die uitspraak, is dat die hof in sy uitspraak gesteun het op die omstrede verslag van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe (KGT-kommissie) rakende die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se geloof, waarin daar vir die regulering van alle godsdienste deur middel van wetgewing gepleit word. Dit, ten spyte daarvan dat hierdie verslag se aanbevelings deur die parlementêre portefeuljekomitee verwerp is. Hierdie verwerpte aanbeveling van die KGT-kommissie word dus nou vir die regters deel van die fondament op grond waarvan hulle reken die hof wel oor die kerklike aangeleentheid mag beslis.

Tot op hede is kerke deur die hof as vrywillige organisasies beskou. Tot nou het dit beteken jy sluit vrywillig by ʼn kerk van jou keuse aan en daardeur aanvaar jy die oortuigings van die betrokke kerk en lê jy jouself by die interne prosedures en besluite neer. Die hof was nog altyd huiwerig om by enige leerstellige twiste betrokke te raak en het dit vermy om uitspraak te lewer oor die inhoud of die waarheid van geloofsoortuigings. Die hof het aanvaar dat individue wat by ʼn kerk aansluit, bereid moet wees om die regverdige beslissings binne die betrokke kerk se strukture te aanvaar. Wanneer die saak dan wel voor ʼn hof kom, is die vraag of daar enige onreg gepleeg is. Die hof is dan in daardie gevalle gevra om te bepaal of die betrokke kerk in stryd met sy eie Kerkorde en besluite opgetree het.

Teen hierdie agtergrond kom die uitspraak van 8 Maart 2019 waarin die hooggeregshof in Pretoria besluit om wel by die inhoud van ʼn kerklike twispunt betrokke te raak, omdat:

  1. die hof oordeel dat besluite oor seksuele oriëntasie buite die raamwerk van godsdiensvryheid val, maar deur die Grondwet gereël word;
  2. daar getoets moet word of die NG Kerk met sy 2016-besluite voldoen aan hul wetlike, etiese en gemeenskapsverantwoordelikheid; en
  3. geen argumente deur die NG Kerk daarvoor gepleit het dat die saak op ʼn ander forum hanteer kan word nie, veral aangesien twee sinodes ná vele bespreking en debat nie tot ʼn konsensusbesluit kon kom nie.

Die belangrikste rede waarom die hof egter besluit het om wel by die substantiewe kwessie van onregverdige diskriminasie betrokke te raak, is omdat die aansoekers en ook die NG Kerk die hof daartoe versoek het. Deur gehoor te gee aan die versoek, wyk die hof af van die gebruik hier te lande en ook internasionaal.

Hoewel die Wet vir iets soos geregverdigde diskriminasie voorsiening maak, het die hof in sy uitspraak telkens daarop gewys dat die NG Kerk nêrens in hul stukke probeer het om enige feite hieroor aan te bied nie. Hiervolgens moes die NG Kerk aantoon hoe geloofsgemeenskappe se besluite oor seksuele oriëntasie volgens artikel 36 van die Grondwet gesien kan word as ʼn beperking van die betrokke gelykheidsregte. Die NG Kerk het dit egter ook nie beredeneer nie.

Op grond van die feite (of die doelbewuste uitlating daarvan) aanvaar die hof dat die diskriminasie nie geregverdig kan word nie. Diskriminasie kan ook geregverdig word deur aan te toon dat die mikpunt en doel daarvan ʼn waardige en belangrike doel in die gemeenskap het. Ook hierdie punt is nie deur die NG Kerk beredeneer nie.

Vanweë die gebrek aan argumente en feite bevind die hof toe dat die 2016-besluit nie net onregverdige diskriminasie is nie, maar ook sekere lidmate se menswaardigheid aangetas het, aangesien persone in verhoudings met iemand van dieselfde geslag nie leraars in die kerk mag wees nie en ook nie toegang het tot kerklike seremonies nie.

Die hof het verder ʼn leemte in die NG Kerk se sinodebesluit gesien in die feit dat dit uiteindelik gegaan het oor die uitsluiting van persone wat nie heteroseksueel is nie uit leierskapposisies en kerklike huweliksbevestiging, terwyl hulle nie uit die kerkgemeenskap uitgesluit word nie. Die hof is van oordeel dat jy nie iemand uit die LGBTIQA+ -gemeenskap mag toelaat om lidmaat van die kerk te wees, maar daarna uit sekere posisies en seremonies uitsluit nie.

Waar plaas dit gelowiges en ander kerke in Suid-Afrika?

Hoewel hierdie uitspraak spesifiek op die NG Kerk gemik is, het dit ook implikasies vir ander kerke. ʼn Presedent is nou geskep waarop daar in toekomstige hofsake geleun sal word. Dit is egter tans nog nie duidelik of die hof se uitsprake oor die grondwetlike aangeleentheid deel van amptelike uitspraak is en of dit bloot ʼn opinie binne die uitspraak is nie. Hieroor het die Alliansie wat die Outonomie van Kerke in SuidAfrika Verdedig (Adacsa) uitsluitsel by die hof gevra.

Juis danksy dié beginsel dat ʼn soortgelyke saak binne ʼn ander konteks nie noodwendig dieselfde beoordeel kan word nie, sal alle toekomstige sake moet fokus op al die gebreke wat in die NG Kerk se verdediging aangetoon is.

Dit is egter kommerwekkend dat die hof sy uitspraak nie net tot die prosedurele foute beperk het nie, maar ook oor die grondwetlike aspekte sekere bevindings gemaak het. Sodoende het die bedreiging van godsdiensvryheid ʼn groter werklikheid geword.

Die uitspraak behoort ook ʼn wekroep vir kerke te wees, wat getrou aan die Bybel wil bly, om erns met kerklike tug te maak en konsekwent te wees. Kerklike tug kan nie beperk word tot sekere persone en sekere oortredings nie. Jy kan nie eers tug wil toepas wanneer iemand as ampsdraer verkies word nie. Daar moet met dieselfde erns teen alle oortredings opgetree word.

Vir kerke wat die oortuiging handhaaf dat die Bybel nie vrouens as ampsdraers toelaat nie, het hierdie uitspraak natuurlik ook die gevaar dat daardie standpunt op presies dieselfde gronde betwis kan word.

Hoewel daar baie vrae gevra kan word oor die redes waarom die NG Kerk nie hierdie saak beter verdedig het nie, is die water onderdeur die brug. Die datum 8 Maart 2019 gaan in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis heel moontlik, naas Ordonnansie 7 van 1843, die Loedolff-saak van 1862 en ander, onthou word as die dag waarop en die saak waarin die NG Kerk nie eens probeer het om redes aan te voer hoekom Bybelse gehoorsaamheid geregverdigde diskriminasie kan wees nie.

Die saak in die hof het dalk oor homoseksualisme gegaan, maar die stryd binne die NG Kerk bly ʼn stryd om Skrifgesag.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

OWO ·

Kerklike tug is al jare gelede afgeskaf,soos wat alle standaarde,waardes,bestuur,leierskap,noem maar op, by die agterdeur uit is.Die “Holy days” het jare gelede al “holidays” geword.Dan wonder ons,hoekom lyk dit soos dit lyk.

Stebastiaan ·

Wanneer gaan die mense besef dat iets wat in die skrif as sonde gesien word, nie aanvaarbaar is nie. Ek het simpatie met die mense wat “gay”, maar as die suiwer woord van GOD sê dit is verkeerd dan is dit verkeerd. Geen mens gemaakte wet en hof kan daarteen stry nie.

Willie ·

Nou wat maak ons as “die suiwer Woord van God sê : ons mag nie klere van gemengde stowwe dra nie ; ons mag nie bacon eet nie ; ons mag nie skei nie ; as ons skei, mag ons nie weer trou nie ; vroue moet met hoofbedekkings op bid; slawerny en harems is aanvaarbaar?

Boerseun ·

Willie,

Dis jou oortuiging. Van ons sien dit nie soos jy nie en dit help nie om met jou te redineer nie. Jy glo wat jy glo. En waar kry jy die idee dat slawerny aanvaarbaar is? Wie se dit?

Hans Richardt ·

Is kosher / Halaal heffings geregverdige diskriminasie teen bv christen verbruikers???

Stephan de S ·

Die laaste paragraaf/sin vd artikel vat eintlik die probleem vas: as n kerk so verdeel en onseker is oor skrifgesag hoe kan hy n saak in die hof beveg?

Andreas ·

Die onstaan van die huwelik is vervat in Genesis 2:23 – 24, “Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem. “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word”. God het man geskape en toe die vrou geskape om hom aan te vul. Deur die huwelik het God die probleem opgelos sodat die man nie alleen is nie “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Genesis 2:18).

Dit is mos nou so eenvoudig soos dit, biologies man en biologies vrou.

B ·

Staat (wetgewing) het baie Bybelse beginsels al grootliks ‘onwettig’ gemaak – kyk maar wat is die volgende stappe om Chistene verder te verdruk en ondermyn. Ek glo nie tronkstaf is al te ver gesog?
(Paar vbe, roede, volk- en kultuurbehoudendheid, trou (eg verbintenis), ens ens.)

Dries du Toit ·

In n gemeente is moordenaars, diewe, korruptes en baie baie sondiges teenwoordig. Hulle is welkom daar om die eenvoudige rede dat hulle hulle sonde kan kom belei en afstand daarvan moet doen. God sal hulle dan vergewe. Die mens behoort hul ook te vergewe. MAAR as hulle dit nie afskryf nadat hulle vergewe is nie kan hulle mos nie aanspraak maak om belangrike poste in die gemeente te beklee nie. Is dit regtig nie net so eenvoudig nie of hoe???

Piet ·

Hans, daar is niks fout met kosher nie. Dit is n ou Israeliese gebruik. Jesus was n Israeliet, van die stam van Juda, en Hy het niks daarteen gese gehad nie. Wat is in elk geval fout om skoon te wees met kos voorbereiding? In ons huis spoel ons alle kos noukeurig af voor gaarmaak, vleis ingesluit.

N joodse gesegte. Om skoon te wees is om na aan God te wees.

Schalla ·

Ek glo nie hier is ‘n presedent geskep nie. Almal het asems opgehou na Vicky Momberg en Penny Sparrow se sake vir die eerste oortreder van “die ander kant” om oor dieselfde kam geskeer te word. Daar was sedertdien al talle voorbeelde van mense van “die ander kant” wat hulself aan dieselfde skuldig gemaak het (asook ‘n goeie dosis REGTE haatspraak daarby) en hulle kom skotvry weg. Konsekwentheid in die Suid-Afrikaanse reg van 2019 bestaan glad nie. Hoe dan nou anders as ons nie almal gelyk voor die reg gesien word nie (aldus een van die MRK se woordvoerders)?

Ek sou weer hierdie uitspraak beproef en uitdaag as ek hulle was. Stem saam met Dries hierbo. Die kerk sluit nie sy deure vir sondaars nie, ons is tog almal sondaars wat kerk toe gaan (wys my iemand wat nie vloek, jaloers raak of begeer nie). Maar die kerk kan nie sondige aksies goedpraat deur dit te ondersteun nie. Maar sondaars moet hulself bekeer en daadwerklik probeer om nie sonde te pleeg nie.

Ek kan miskien so kwaad raak dat ek iemand wil vermoor, maar ek weerhou my daarvan want ek weet dit is sonde…. Verskil is as ek myself of iemand onskuldig moet beskerm. Vir homoseksuele dade is daar egter nie enige scenario waarin dit ooit nie sonde is nie – jammer om te sê.

Hans Richardt ·

Hoeveel “getuienis” was op spekulasie oor bedoelings gelewer in hierdie hofbeslissing?

Willie ·

Die berig bevat minstens een problematiese stellings :
KERKE WAT GETROU AAN DIE BYBEL WIL BLY. Daar is meer as 3000 erkende denominasies in die Christendom. Almal het dieselfde Bybel, maar almal verskil van mekaar en almal beweer dat HULLE getrou aan die Bybel bly. Party spuit hul lidmate, in die naam van godsdiensvryheid, met Doom.
Geen wonder dat die howe moet ingryp nie.

boerseun ·

Hulle kan hulle ander vreiheid gebruik, die kuise om nie met doom gespuit te word nie. Daar moet eerder n wet teen onnoselheid wees

Jerry ·

Die lyn is fyn, dis gewis, Jesus het gesterf vir godsdiensvryheid vir alle sondaars, dit sluit nie net moordenaars in nie, maar tog seker ook homosekuele sondaars. Die kerk is vir sondaars, sonder uitsondering, wat gered wil word, nie vir sondelose siele nie. Daar kan nie iets bestaan soos geregverdige diskriminasie nie, diskriminasie is diskriminasie en kan nie geregverdig word nie, omrede dit sekere sondaars te nakom en sekere sondaars bevoordeel. Die kerk kan preek en waarsku, maar nie straf of oordeel nie. God sal straf en oordeel! Mense is uit nature bevooroordeeld en die bediening moet hulle daarvan weerhou om bevooroordeeld te wees. Wees daar om alle sondaars te bedien, nie net volgens eie voorkeure nie! Wees die minste, wees laaste! Die evangelie moet aan alle sondaars verkondig word, om alle sonde oor te wen, nie net sekeres nie. Godsdiensvryheid moet menseregte oorwin, nie andersom nie. Wysheid en insig skiet tekort wanneer diegene wat in die bediening staan, die Skrif wat hulle verkondig, ken maar nie verstaan nie!

Hans Richardt ·

Ek sit en wonder vanoggend, wat van vryheid van keuse en assosiasie in vryheid van godsdiens word in SA, as geregshowe nou voorskryf hoe jy jouself moet gedra in jou privaat lewe, met persoonlike keuse oor assosiasie.
Die bybel skryf net morele standaarde voor, wat deur die tirannie van huidige demokrasie verander word.

Drikus Kotze ·

Die liggaam van Christus het van die begin van die mensdom sy eie grootste vyand binne homself gehad. Dink maar aan Judas om net een voorbeeld te noem. Die mens se grootse probleem is dat hy homself TE veel liefhet en as ‘n god verhef. Lees gerus die hele Romeine 1 maar veral Rom 1:25 “hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” Menseregte bo God se reg.

Drikus Kotze ·

Jammer, aan die einde van my laaste sin moet nie ‘n punt wees, dit moet ‘n vraagteken wees(?). Dankie.

Louw ·

Volgens my is menseregte ingestel om sondes te wettig. Nou kan die wat in sonde, en veral seksueele sondes lewe, hulself verdedig deur die handves van menseregte, aangesien hulle weet die Bybel en, daaroor die HERE, sonde aan die liggaam in ‘n baie sterk lig sien. Die lewe bestaan uit keuses wat ons moet maak, en indien jy verkeerde keuses maak gaan dit jou kos. Dit is verbasend hoeveel mense nog vashou aan uitverkiesing wanneer Hebreers 3 en 4 dit duidelik as ‘n dogma uitwys wat geen voet het om op te staan nie. Daar staan duidelik dat die Israeliete van 20 jaar en ouer nie een die beloofde land gesien het nie oor hul keuse om nie in Kanaan in te gaan nie. Verder kan u gerus kyk na Esegiel 18. Alles spreek teen Calvyn se uitverkiesing. Al wat hy wou seker maak is dat hy die pous van die reformasie word en dat sy lering nie aan gepeuter mag word nie. Die roomse kerk vereer elke keer net die nuwe pous, maar hou darem nie aan om net een pous t6e vereer nie. So die besluit van die NG Kerk verbaas my glad nie aangesien dit al soveel mense oop oë hel toe gestuur het deur hulle te paai deur te verkondig dat hulle uitverkies is.

Genieve ·

Ek het sondag in die kerk gese as die gay’s en egbreeksters moet in die kerk toegelaat word God sal self n boodskap deur iemand bring om vir hulle n woord te gee dis nie vir ons om hulle te oordeel nie maar wat reg is is reg en verkeerd verkeerd ons moenie sonde goed praat nie.Laat die mense toe in die Kerk God sal self oordeel.Die evangelie moet aan almal verkondig word as ons John 8 lees die voru wat owerspel gepleeg het en hulle haar na Jesus toe gebring het om gestenig te word en die Here haar vra waar is hulle wat jou hiergebring het en toe is daar niemand so God reken self met die mens af. Maar God gebruik ons om die waarheid te verkondig..die waarheid is bekeer julle van julle verkeerde wee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.