Die geboorte van die Europese Unie

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Sestig jaar gelede het ses Europese lande in Italië die Verdrag van Rome geteken. Hiermee het die Europese Ekonomiese Gemeenskap tot stand gekom, wat later tot die stigting van die Europese Unie gelei het. Dit het nou 28 lede.

Sestig jaar later is daar steeds nie eenstemmigheid oor of dit goed of sleg was nie. Brittanje het verlede jaar gestem teen voortgesette lidmaatskap en die proses wat as Brexit bekend staan, is ingelui.

Die Europese Unie besef hervorming is dringend noodsaaklik. Lande moes vir deelname ʼn deel van hul soewereiniteit afstaan, maar hoewel daar ʼn Europese Parlement is wat demokraties saamgestel is, het daar so ʼn burokrasie in die unie se hoofsetel, Brussel, tot stand gekom dat die alledaagse ervaring is dat demokrasie beperk is ter wille van hierdie reuse burokrasie.

In verskeie Europese lande is daar ook partye en bewegings wat hulle vir afskeiding beywer en Geert Wilders en sy party in Nederland was juis nou met die pas-afgelope verkiesing in die kollig. Hierdie partye beskou die Europese Unie as ʼn manifestasie van ʼn wêreldorde, wat afgestem is op die vorming van ʼn wêreldregering.

Die vorming van die Europese Unie het ingrypende gevolge op verskeie vakgebiede uitgeoefen. Een voorbeeld is Turkye, wat al jare lank probeer om lid van die Unie te word. Die Unie se grondwet vereis egter dat minderhede in lidlande ʼn groot mate van soewereiniteit moet geniet. Dit druis teen die Turkse tradisie in, wat eerder gemik is op verturksing en minderheidsregte, soos die taal van die Koerde, is onderdruk. In ʼn poging om lid van die Unie te word, is die doodstraf afgeskaf en het die Koerde veel meer erkenning gekry, soos Koerdiese stede wat hul oorspronklike name teruggekry het.

Na die mislukte staatsgreep van verlede jaar, lyk dit egter asof die kloof tussen Turkye en die Europese Unie aan die vergroot is.

In Spanje het die Baske en Kataloniërs, wat erg deur Franco onderdruk is, selfregering gekry. In die proses is ander kragte weer oopgemaak, soos dat die Kataloniërs stem dik begin maak vir onafhanklikheid.

ʼn Verskynsel wat nie ewe goed deur alle politieke ontleders ontvang is nie, is dat die sambreel wat die Europese Unie skep, vir sommige groepe eintlik die behoefte aan ʼn nasionale regering laat verval. Dit was veral merkbaar in België self, wat in ʼn federasie omskep is en steeds verder verdeel, sodat die grootste party in Vlaandere die moontlikheid van ʼn konfederasie vir algemene bespreking oopgestel het. Die basiese vraag is, as daar ʼn Europese Unie is, waarom moet Vlaandere dan nog deur ʼn Belgiese regering ook gedien word?

Skotland loop min of meer dieselfde paadjie, met Skotse onafhanklikheid wat weer na vore gedwing word, deur wat daarop neerkom dat Engeland namens hulle besluit het om van die Europese Unie weg te breek.

Deur die Europese Unie het minderheidsregte, wat daar as deel van menseregte beskou word, ʼn veel groter prominensie in die internasionale reg gekry. Uiteindelik behoort dit ook minderhede in Suid-Afrika tot voordeel te strek.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

En wie moet ons bedank… Duitsland. Alweer aan’t mag opbou deur Europa te verlam…maar die spul glo hulle is veilig in moeder se arms… moeder en haar groot beursie en die swart kis van Pandora. Wag tot hy oopgaan.

Leopold Scholtz ·

Beste John, het jy nie gehoor nie? Adolf Hitler is dood. Al in 1945!

Koos1 ·

Leopold, na bewering! Hunting Hitler op History Kanaal het my tot ander insigte gebring.
Onthou, die geskiedenis word geskryf deur die regering van die dag.

Etienne ·

Gaan kyk na die EU se stigtingsplakaat – hul herbou die toring van babel ? Dit is al te duidelik wat hul eindoel is of hoe ….

Herman G ·

Ek kry baie keer die indruk dat die Europese “elites” nie die gewone mense vertrou nie. Ja, die lid lande het hulle eie nasionale (en soms) streeks parlemente en regerings, and ja daar is ‘n Europeese parlement, maar hulle mag is redelik beperk. Die Europeese Unie burokrasie is masief, en het baie mag. Hoe goed die reuse burokrasie is, is ‘n goeie vraag, want ek dink dis nou al dekades lank dat hulle nie geouditeerde finansiele state vrystel nie. Die burokrasie kan ook nie eers probleme soos die massa immigrasie uitsorteer nie.
Ek wonder of die Europeese “elites” nie die gewone mense nie vertrou nie. Dalk voel hulle omdat Hitler wetiglik aanbewind gekom het, moet hulle demokrasie “beheer” en “bestuur”. ‘n Goeie voorbeeld is in 2005 het beide Nederland & Frankryk ‘n nuwe Europeese grondwet in referendums verwerp. ‘n Paar maande later, en siedaar, die lande se parlemente keur ‘n soortgelyke grondwet toe!

Leopold Scholtz ·

Beste Koos1, Ja, ek het ook daardie program gesien. Dis nou fopnuus as daar ooit ‘n voorbeeld van fopnuus was. Daar is onweerlegbare ooggetuieverslae van die SS-manne wat Hitler en Eva Braun se lyke na die agterplaas van die bunker gedra en aan die brand gesteek het. Ek kon maar net my kop skud oor daardie program.

gatiep ·

Gaan kyk wie stel die base van die EU aan,hulle word nie verkies nie.
Dit in my oe is al klaar n helse groot brobleem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.