Die geleenthede wat hedendaagse krisisse ons bied

ekonomiese krisis

Argieffoto.

Deur Victor Correia

Gedurende die afgelope jaar is vanuit verskeie hoeke gepoog om krisisse wat ons tans in die land beleef, in geleenthede te omskep.

Einde 2015 skryf Max du Preez die politieke krisis in Suid-Afrika moet gebruik word om ʼn beter toekoms vir die hele Suid-Afrika te skep. Die Solidariteit Beweging het vroeg in 2015 ʼn Krisisberaad gehou, wat opgevolg is deur die Toekomsberaad later in dieselfde jaar. Meer onlangs het Akademia hul nuwe kampus geopen, te midde van die studente-opstande wat elders in die land voortduur. Laasgenoemde is ʼn uitstekende voorbeeld van hoe nuwe geleenthede geskep word, te midde van die krisis in die hoër onderwyssektor, vir Afrikaanse universiteite om tot stand te kom.

Hoekom werk dit so dat krisisse geleenthede bied? ʼn Krisis stel jou voor ʼn spesifieke probleem waarop jy ʼn antwoord moet bied. Verder neem ʼn krisis jou dikwels uit jou gemaksone en dwing jou om langs nuwe paaie oplossings te soek. Verder dwing ʼn krisis jou om ʼn bepaalde besluit te maak, wat jy onder gewone omstandighede dalk nie sou wou maak nie. Dit dwing jou om anders te dink oor sake, omdat die omstandighede rondom jou dalk aansienlik verander het.

Dit is egter nie te sê dat almal die geleenthede in krisisse raaksien nie. ʼn Krisis kan ook vir baie mense as ʼn onoorkombare brug gesien word. Die aantal Afrikaners wat in die afgelope jare na ander lande geëmigreer het, is ʼn voorbeeld hiervan. Daar is ook baie mense wat nie kan bekostig om te emigreer nie, of selfs geen behoefte daaraan het nie, maar nie noodwendig die geleenthede in die land se krisisse raaksien nie. Die gevaar is hier dat jong Afrikaners hul optimisme oor die toekoms verloor, vaskyk in die onreg van die huidige bedeling en dan net opportunisties na hul eie behoeftes omsien.

Twee mense kan dus na dieselfde krisis kyk. Die een sien ʼn onoorkombare versperring, terwyl die ander reeds dink hoe om die brug daaroor te bou. Die wyse waarop krisisse hanteer word, is ten diepste ʼn geloofsaak. Indien ons glo dat krisisse deur God beskik word, kan ons die krisisse as geleenthede beskou waarop ons moet reageer.

ʼn Krisis bevat dus ʼn dwingende element. Ons moet reageer op die krisisse in ons midde, want die Here beskik dit oor ons en wil hê ons moet iets daaraan doen. Die krisis word aan ons gestel en die uitkoms word aan ons oorgelaat. Ons het dus ʼn verantwoordelikheid om die krisisse om ons raak te sien en iets daaraan te doen. Ons mag nie passief teenoor krisisse staan nie.

Daarom is dit dalk nodig om van die krisisse wat ons vandag beleef, te noem en te wys op die moontlike geleenthede wat hulle ons bied. Dink hieraan:

  • Die demografiese krisis bied geleenthede om te besin of dit wenslik is vir Afrikaners om verspreid oor die hele Suid-Afrika te woon of om eerder ʼn meerderheid in ʼn kleiner geografiese gebied te wees.
  • Die krisis in die staatsuniversiteite bied geleenthede vir private onderwysinstellings om tot stand te kom.
  • Die hoë wisselkoers bied moontlik in die toekoms geleenthede om produkte wat teen hoë koste ingevoer word, plaaslik te vervaardig.
  • Die ekonomiese krisis bied moontlik weer die geleentheid om ons rykdom op ander plekke te soek. Dalk kan ons meer tyd in ons huwelike en gesinne belê?
  • Die veiligheidskrisis, naamlik geweldsmisdaad en plaasmoorde, bied geleenthede om saam te werk met gemeenskapsveiligheidstrukture.
  • Die minimumlone bied ʼn geleentheid om die moontlikheid te ondersoek om armes beter op te lei.

Daar kan nog baie ander krisisse wees wat hier nie genoem is nie. In elke geval is dit vir ons nodig om nie net die krisisse voor ons raak te sien nie, maar juis te vra watter geleentheid in die krisisse aan ons gebied word? Dalk is sommige van die oplossings wat hier voorgestel word nog vroegtydig? Soos die krisis vererger, sal ons denke oor verskeie sake ook verander.

Vroeër was private hospitale ondenkbaar en selfs nie as wenslik beskou nie. Nou kan ons amper nie meer sonder hulle klaarkom nie. Vandag is die vraag na private universiteite uiters relevant en meer mense begin hieraan meewerk met woord en daad. Vandag is daar ʼn heelwat kleiner groep denkers wat meen dit is nodig vir die Afrikanergemeenskap om oor ʼn geografiese grondgebied te beskik. Die huidige onsekerheid oor eiendomsreg mag die debat vinniger laat vorder.

Op die keper beskou, is al die krisisse rondom ons geleenthede wat God aan ons bied en waarop ons geroepe moet wees om in gehoorsaamheid te reageer. Dit is goed om te weet dat God nie net die verskeie krisisse oor ons pad bring nie, maar ook vir elke krisis ʼn besondere uitkoms gee.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Wynand ·

Ek stem 100% saam. Dit gaan ook lei dat SA ners gaan leer om saam te staan. Ons het dit baie nodig. Die Here is in beheer en ons moet net in Hom glo en eerbiedig en aanbid. Die Here sal uitkoms bied.

jaco ·

dis mooi woorde dat die krisisse wat oor ons pad kom, geleenthede is wat God aan ons bied ens ens, MAAR dit pas nie by ‘n instelling wat die naam van NP Van Wyk Louw dra nie. Hy self het hom nie veel aan godsdiens gesteur nie.

Disselboom ·

Op fak.org.za gekry: “Die nalatenskap van N.P. van Wyk Louw hou vir die FAK veral verband met die feit dat hy ’n uitsonderlike vermoë gehad het om in die geheel te dink.”

Stem met “jaco” se opmerking saam en dat ons maar mooi moet besef wie was wie. Dis op die geloofsaspek. Op die filosofiese aspek is daar goedbedoelde artikeltjies orals, maar of NP van Wyk Louw se vermoë om “in die geheel te dink” in ds Correia se artikeltjie weerspiëel word, is nie so seker nie.

Trolle ·

Hopenlik bring die onderdrukking van ons ons nader aan mekaar en nader aan die Here.
Somtyds kom daar iets goeds uit iets wat sleg lyk vir ons.

Henk ·

Ek verstaan nie die stelling dat God krisisse ‘oor ons beskik’ nie. Bedoel u dat God met opset onaangename en negatiewe goed met ons laat gebeur, of bedoel u dat Hy dit toelaat omdat ons as mense ‘n keuse gemaak het en as gevolg daarvan in ‘n gebroke en onvolmaakte wêreld leef? Ek verstaan dat God enige omstandigheid – goed of sleg – kan gebruik, en dit inderdaad doen, om ons te leer, te vorm en te verander. Maar ek is nie so oortuig van ‘beskik’ nie.

Victor Correia ·

Dag Henk. Goeie vraag. Ek bedoel wel dat God wel toelaat dat negatiewe goed oor ons pad kom. Die einddoel is egter dat ons in die geloof daarop moet antwoord. Hiermee bedoel ek nie dat God Hom daarin verlustig dat swaarkry oor sy kinders kom nie, maar meer in die sin van Rom. 8:28.

Leonard van der Dussen ·

Daar is niks by God onmoontlik, niks te klein of te groot nie. Hy, die almagtige enige ware God regeer, aktief. Dat ons dit nie volkome kan verstaan of deursien nie, omdat ons ook bely dat God nie die outeur van die sonde is nie, verander nie aan die waarheid dat Hy alles geskep het, alles aan Hom behoort en Hy dit alles regeer nie.

So sê die Bybel in Exodus as Hy “die farao se hart verhard”, sodat Hy rampe en plae oor Egipte logies kon beskik en Egipteland en so die hele destydse wêreld se almagswerke en regering oor die ganse skepping kon aanskou en Sy eie volk tot geloof oproep.

Die mens durf God nie inperk deur ‘n redenasie dat daar maar dinge is wat Hy maar “toelaat” nie, asof enigiets buite sy almag kan gebeur. Die mens durf God nie inperk as die verskriklike dinge kom nie, en aan God dan as’t ware wil voorskryf aan wie Hy mag guns bewys en wie Hy straf, aan wie Hy genade betoon en selfs wie van Sy kinders Hy beproef (vergelyk Job), alles tot Sy eer.

Marius ·

Henk, ek weet dit sit nie so maklik om te glo dat God beskik oor selfs die slegte dinge wat met ons gebeur nie. Maar Paulus en die ander nuwe testament skrywers beskryf verseker God as die een wat alles beskik, selfs die slegte dinge. Maar dink aan die teendeel. As Hy geen beheer oor dit het nie maak dit Hom swak onbetrokke by alles wat gebeur. Paulus sê Hy sal alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Alles beteken tog seker die pyn en seer ook. Ek glo dat Hy enigiets kan verander, maar Sy kinders is dié wat hulle blik op die ewigheid het en daarom uitsien na iets groters en beters as wat ons kan droom. Die seer en hartseer, korrupsie, bedrog skree hard vir ons uit dat hierdie lewe ‘n tydelike stop is. Hy sal alles regstel want Hy het dit belowe. Jes 46:10 sê: “Ek is God, en daar is niemand soos ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal ek doen.”

HEVW ·

In enkele woorde gese. God is nie die outeur, skepper van krisisse nie. Dit is die noodwendige voortvloei of gevolge van die waarheid dat die mens hom dienstig aan die heerskapy van satan gestel het en dat satan sodoende n bepaalde besitreg op die mens verkry het. God staan nie agter ons krisisse maar beweeg saam met ons deur ons krisisse. Daarom die insig op nuwe moontlikhede.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.