Die geloof in ongeloof is ʼn bygeloof

christene-jerusalem-godsdiens-kerke

Christene besoek Jerusalem. Foto: Betticohen/Pixabay.com

Die groep wat Christelike skole vervolg, is deel van ʼn liberale stroming in die Weste wat ʼn grondliggende denkfout oor geloof maak, sê Flip Buys.

’n Invloedryke deel van die Westerse elite glo vas dat geloof geleidelik sal verdwyn in ’n onkeerbare proses van sekularisasie of verwêreldliking. Hierdie onwrikbare geloof in ongeloof spruit uit ’n oortuiging dat geloof ’n neweproduk van onderontwikkeldheid en selfs agterlikheid is. Daarom glo hulle dat geloof sal kwyn namate kennis, opvoeding, demokrasie en welvaart oor die aardbol versprei. Hierdie mening het die afgelope paar eeue wye steun geniet – vanaf die denkers van die Verligting tot die Marxiste.

Hulle glo dat namate mense deur wetenskaplike kennis gevorm sou word, geloof in ’n Almagtige Godheid gaandeweg vervang sou word deur ’n geloof in die magtige mens en sy vermoë om self ’n hemel op aarde te skep.

Die verwoestende “godsdiensoorloë” van die ou Europa was ’n mengsel van godsdienstige onverdraagsaamheid, politieke magstryd en gevegte om beheer van mense, grond en hulpbronne. Dit het die sekulêre wensdenkers laat glo dat, namate geloof verdwyn, die wêreld ook ’n veiliger plek sou word. Geloof het die skuld gekry vir die lyding weens oorloë, en nie die mens wat teen die gebod van naasteliefde geweld gepleeg het nie.

Bevryding

Die liberale en sosialistiese vryheidsoorloë teen outoritêre koningshuise was daarom meermale ook ’n stryd teen godsdiens se “onderdrukking” van die mens se vryheid en sy reg om vir homself ’n aardse paradys te skep. Godsdiens is gesien as die “opium van die volk” wat die massas onderdanig aan hul verdrukkers gehou het. Dit was deel van die knellende kettings wat verbreek moes word. Maar rewolusionêre bewegings het self toe ook geloof en kerke ingespan om hul waens deur die politieke driwwe te trek en geweld te regverdig. Daar het selfs ʼn teologie van rewolusie ontwikkel wat wapengeweld bevorder het.

Maar die stryd om menslike bevryding van die afgelope 200 jaar loop die gevaar om in totale bandeloosheid te ontaard. Die spore hiervan kan reeds in Suid-Afrika se kultuur van geweld, vandalisme en verval gesien word. ʼn Ordelike samelewing en demokrasie is onmoontlik as almal kan doen wat hulle wil – sonder ʼn waardegedrewe gedragskompas wat riglyne vir saamleef bied. As niemand meer aan samelewingswaardes gebonde wil wees of iemand se gesag wil aanvaar nie, leef ons soos Hobbes gesê het, in ʼn natuurstaat waar die lewe “eensaam, naar, brutaal en kort sal wees”.

“God is dood”

Dit is inderdaad so dat mo­dernisering ’n belangrike rol gespeel het in die Europese oorgang na ’n post-Christelike era. Ná die bloedige wêreldoorloë het mil­joe­ne mense begin glo dat God dood is en dat die almagtige Westerse welsyn­staat of Oosterse werkersparadys sy plek ingeneem het. Maar tot die sekulêre wensdenkers se ontnugtering het dit algaande duidelik geword dat politieke “geloofsbewegings” net tydelik die plek van die kerke ingeneem het.

Hierdie ideologiese bewegings het gestreef na ’n aardse hemel en het baie van die sielkundige en sosiale funksies van geloofsbewegings aangeneem. Vir ’n eeu het selfs kommunisme betekenis gegee aan die lewe van miljoene mense wat hul drome van hemel op aarde geglo het. Ná die val van die kommunisme was Westerlinge baie verlig dat hul Europese welsyns­­­­hemel of Amerikaanse kapitalistiese utopie nog steeds volstoom sake gedoen het. Hulle het God nie meer nodig gehad nie, want die staatsgod of geldgod sou steeds vir hulle kon sorg

Vervolging

Hierdie ideologiese verwaandheid het uiteindelik gelei tot ’n tipe sekulêre fundamentalisme, gekenmerk deur ’n onverdraagsaamheid teenoor geloof of gelowiges. Hul geloof in menslike saligheid deur ongeloof, lei meermale tot die intellektuele vervolging en verbranding van gelowiges op die brandstapels van die openbare mening. Dit het weer duidelik geblyk in die afgelope hofsaak teen gelowiges. Die militante geloof van talle sekulêre Westerlinge in hul ongeloof het bygedra tot onbedoelde gevolge soos die opkoms van militante Islam, wat teen die afdwing van sekulêre Westerse waardes, verbruikerskultuur en gewaande dekadensie in opstand gekom het.

Christene-en-Moslems

Die verspreiding van Christene teenoor Moslems in 2006. Grafika: Verskaf.

Jesus in China

Godsdiens is steeds ʼn sterk faktor in die VSA en speel ʼn groeiende rol in Afrika, Indië, Suid-Amerika, Rusland en China – hoewel dit soms verskillende godsdienste is. Die Christengeloof word toenemend gewild in China. Talle Chinese glo dat die Christendom onafskeidbaar deel is van die opkoms van die Westerse beskawing. David Aikman van Time het gesê dat die groei van die Christendom in China selfs die globale magsbalans kan beïnvloed. Hy haal ʼn invloedryke Chinese leier aan in sy boek,“Jesus in Beijing: “One of the things we were asked to look into was what accounted for the success, in fact the pre-eminence of the West all over the world. We studied everything we could from the historical, political, economic, and cultural perspective. At first, we thought it was because you had more powerful guns than we had. Then we thought it was because you had the best political system. Next we focused on your economic system. But in the past twenty years, we have realized that the heart of your culture is your religion: Christianity. That is why the West is so powerful. The Christian moral foundation of social and cultural life was what made possible the emergence of capitalism and then the successful transition to democratic politics.”

Eiland Europa

Die World Values Survey meen selfs dat Europa ʼn “eiland van ongeloof kan word in ʼn see van geloof”. Die botsende sienings oor geloof en die waardes wat daaruit spruit van die Weste teenoor ander magsblokke, gee reeds tot globale spanning aanleiding en kan die Weste isoleer as dit so aangaan.

Die val van polities utopiese gelowe, soos die kommunisme, het daartoe gelei dat miljoene mense begin terugkeer het na hul tradisionele godsdiens toe mensgemaakte gode nie meer reën kon maak nie. In die VSA en Europa is daar onder miljoene Westerse kiesers ʼn groeiende vervreemding in die demokratiese kapitalisme, wat nog tot groot onstabiliteit kan lei as die samebindende waardes verder vervaag.

In Suid-Afrika is die gebrek aan ʼn sterk gedragskompas ʼn groot rede vir die wydverspreide geweld en verbrokkeling van talle gemeenskappe. Dit is die gevolg van die verval van instellings wat waardes moet oordra soos die regering, gesinne, die media en talle openbare skole.

Godsdiens as moedertaal

Die Duitse denker Goethe het in die 1800’s gesê dat die Christendom die “moedertaal” van Europa is – ʼn “taal” wat almal verstaan en wat oor die baie verdelingslyne die kontinent kon saambind.

Daarom is dit belangrik dat ons in ʼn diep verdeelde land soos Suid-Afrika ons gemeenskaplike “moedertaal” beklemtoon, omdat 86% van die bevolking volgens statistieke hulself as Christene aandui. Boonop het die Wêreldwaardesopname getoon dat 97% Suid-Afrikaners godsdienstig is. Dit kan ook gesien word in die waardes wat daaruit voortspruit.

Daarom maak dit nie sin as ʼn statisties onbeduidende groepie aan Christene, Moslems en Joodse gelowiges wil voorskryf dat hulle nie hul geloof in die skole mag uitleef nie. Geen polisieman gaan ʼn onderwyser in hegtenis neem wat vir haar Christenleerders voor die eksamen bid nie. Ons land het vrede en versoening nodiger as ooit. Maar die strydlustige uitsprake ná die godsdienshofsaak van die groep wat die Christenskole vervolg, voorspel net verdere polarisasie en konflik. Hul stellings dat Christenskole “een vir een” hof toe gevat sal word, klink so hatig soos die Franse filosoof Diderot se geloof dat “die mens eers werklik vry sal wees as die laaste koning verwurg word met die derms van die laaste priester”.

Maar net soos Diderot swem hulle ook hulself teen die gety van die geskiedenis te pletter, en wel teen dieselfde denkfout wat hom nou al vir eeue vasloop teen die blywende geloof van die grootste deel van die mensdom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

61 Kommentare

jongste oudste gewildste
Veritas

Flip, ek kry die gevoel dat ons, as Christene, hierdie aanval van Satan met alles tot ons beskikking moet teëstaan. Dit is nie nou die tyd om die ander wang te draai nie. Alle Christene moet gemobiliseer word om die Ogod-groep met hand en tand te beveg. Die geestelike toekoms van ons en ons nasate, hang af van ons reaksie teen die spul Antichriste wat openlik oorlog verklaar het teen die Almagtige. Gebed is al wat ons kan red want ons, as mense, is te swak.

MCH

Daar boor u nou n gevoelige senuwee raak. Buiten die onlangse gesamentlike interkerklike inisiatief wat veroordelend staan teenoor staatskaping, is die kerk se stem besonder stil in hierdie tye van hewige turbulensie. Gemeet aan die geskiedenis is dit nie in die aard van die kerk om hom grootliks te weerhou van kritiek op die verkeerde nie. Tog, is daar deesdae n dawerende stilte, veral uit die Afrikaanssprekende kerkgemeeenskap. Dit mag wees dat hul stem nie publisiteit geniet nie vanweë die aanslag soos deur u gemeld veral uit die oord van die wetenskap en politiek. Daar is eenvoudig weinig verdediging aan… Lees meer »

Disselboom

Dat daar hard geveg moet word vir Christelike geloof, is ‘n feit; maar solank organisasies soos Fedsas bly ontken dat ons veld verloor en dat die onlangse hofuitspraak oor godsdiens in skole ‘n terugslag en nie ‘n soort oorwinning is nie, gaan mense gesus bly en nie tot aksie opgeroep word nie. Disselboom hou nie van wat hy hoor nie, maar tegnies gesproke was die SAOU dalk nader aan die regte interpretasie van die wetgewing in die omswaaiery voor die hofsaak as wat Fedsas se insigte is.

Willem

Sjoe Flip, ek dink jy mis die punt van die hofsaak heeltemal – dalk aspris? Niemand vervolg Christen skole nie en die pogings (van veral Solidariteit en Afriform) om die hofsaak in ‘n vervolgingsraamwerk te plaas is fundamenteel oneerlike. Al wat gevra word is dat Christene andersdenkendes met dieselfde agting en respek sal hanteer as dit waarop hulle self aanspraak maak. Ek vermoed egter dat dit haas onmoontlik is om ander standpunte te kan insien as jou grondliggende uitgangspunt is dat jou (Christelike) geloof die enigste ware geloof en waarheid is – al die ander gelowe is dan mos gewoon… Lees meer »

BadPrit

“Do what thou wilt shall be the whole of the law.” Alistair Crowley

Die satan is los, moet nie n vout maak nie.