Die gepruttel van selfbehepte, misleidende swakkelinge

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma by die ANC se nasionale beleidskonferensie in Johannesburg (Julie 2017). Foto: ANA

Ses uitmergelende dae van pruttel, mor, manipulasie-manewales en magsvertoontoertjies.

Dis waarskynlik hoe Jan en San Alleman na die afgelope ses dae van die ANC se beleidskonferensie kyk wat deur sowat 4 000 afgevaardigdes by Nasrec buite Johannesburg bygewoon is. In gewone taal: Niks anders as ’n spul getjommel wat nie ’n duit aan die betreurenswaardige lot van sterflinge hier gaan verander nie. Inteendeel, almal kan dalk net nog slegter af wees as skokkende voorstelle soos die nasionalisering van die Reserwebank ooit ’n werklikheid word.

Die konferensie was ’n mors van tyd. Want sien, die fokus was weer 100% op politieke oogmerke, waarvan sommige aan die absurde grens, eerder as strategieë om doelwitte te bereik en te bestuur wat tot ’n verbetering van die land en sy mense se omstandighede en lewenskwaliteit kan bydra.

Nie ’n enkele aanbeveling is gemaak of oplossing voorgestel wat Suid-Afrika uit die huidige ekonomiese, maatskaplike en korrupsie-moeras gaan lig nie. Die ANC se krisis ten opsigte van sy geloofwaardigheid en integriteit is inteendeel weer skerp beklemtoom.

Hoewel daar wel besluit is om pres. Jacob Zuma se retoriek oor onteiening sonder vergoeding en radikale ekonomiese transformasie en witmonopoliekapitaal te verwerp, is die meeste kwessies na die ANC-takke terugverwys vir verdere bespreking. Onder meer ook die voorstel dat die party se grondwet gewysig moet word en dat die topstruktuur van die party vergroot moet word deur voorsiening vir nóg ’n adjunk-president en nóg ’n adjunk-sekretaris-generaal te maak.

Dis nou Zuma se briljante voorstel om ’n einde aan die onhoudbare verdeeldheid en faksies binne die party te bring. Maar almal weet dis net ’n taktiek om seker te maak dat daar na afloop van die party se presidentsverkiesing in Desember iewers ’n posisie vir iemand is wat steeds na sy (Zuma) se belange sal kan omsien.

In die stadium is Zuma se eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, en adjunk-president Cyril Ramaphosa die gunstelinge in die stryd om die presidentskap. Ramaphosa as verteenwoordiger van die “konstitusionaliste” is na afloop van die beleidskonferensie dalk ’n kortkop voor die Dlamini-Zuma-“radikaliste”, maar almal weet dat enigiets in die gewetenlose wêreld van die politiek kan gebeur. Nog baie water kan in die volgende ses maande in die see loop.

In aanloop tot die presidentsverkiesing moet veral gekyk word wat die uiteinde van die voorgestelde geheime stem vir ’n mosie van wantroue in Zuma sal wees wat tans vir 8 Augustus geskeduleer is. Die vraag is: Wie gaan dit waag om teen Zuma te stem aangesien dreigemente reeds gemaak word dat ANC-LP’s wat dit wel doen, gedissiplineer sal word.

Die ander verwikkeling wat dopgehou moet word, is hoe ANC-takke oor die beleidsvoorstelle en aanbevelings van die 11 kommissies gaan besin en wat uiteindelik in Desember aanvaar gaan word.

Van die belangrikste voorstelle waaroor die takke moet besin is dat:

  1. Witmonopoliekapitaal verwerp moet word en dat net van monopoliekapitaal gepraat moet word.
  2. Radikale ekonomiese transformasie bespreek moet word en ekonomiese transformasie bespoedig moet word.
  3. ’n Oudit van alle grond in privaat- en staatsbesit gedoen moet word sowel as navorsing om ingeligte besluite oor grondhervorming te neem.
  4. Gratis hoër onderwys en opleiding volgende jaar ’n werklikheid moet word.
  5. Suid-Afrika moet voortgaan om aan die Internasionale Strafhof te onttrek.
  6. Die doodstraf nie teruggebring word nie.
  7. ’n Staatsbank so gou moontlik gestig word.
  8. Die ANC sy verbintenis tot mediavryheid herbevestig.
  9. Die wetsontwerp om rassisme te kriminaliseer, bespoedig word.

Soos verskeie politieke ontleders die afgelope paar dae voorspel het, lê ’n interessante ses maande voor, maar nog interessanter gaan die 18 maande ná Desember wees in aanloop tot die algemene verkiesing in 2019. Net die tyd sal leer wie die ANC ná Desember gaan lei en of die party daarin gaan slaag om homself van ondergang te red én vertroue by sy kwynende ondersteunersbasis te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Michal Grobbelaar ·

Dit is kommerwekkend om te sien dat daar nie enige erns by die ANC is om belangrike sake wat alle landsburgers raak, te bespreek nie. Slegs sake vir eie gewin is bespreek. Daar is tog enkeles was geheime stemming ondersteun, maar dit is ‘n uitgemaakte saak dat die speaker dit nie gaan toelaat nie. Ernstige dreigemente is reeds teen ANC LP’s gemaak wat die geheime stemming ondersteun. Die groot vraag is egter wanneer gaan die Gupta-verhaal geopenbaar word of gaan dit ook weer onder die mat ingevee word? Hopelik sal die media die ware feite kan openbaar sodat die betrokke persone, skynbaar Jacob Zuma en van sy kabinetsministers aan die pen kan ry.

Janneman ·

Dit is skrikwekkend as die gepeupel hulle in regering bevind!

Leendert ·

Alet, dit wat jy sê is reg. Dit is jammer dat mens dit van iemand anders moet sê, so kras uitdruk. Het ek dit nou hier gedoen ipv jy, was my kommentaar nie geplaas nie. Daar is perke aan hoe om dinge te verwoord, al is dit kras gestel en al is daar mense wat nie daarvan hou nie. Wees eerlik in jouself en jou vermoë om te evalueer.

Ek het om en by 2010 dikwels briewe aan Beeld en Rapport geskryf wat geplaas was, ook onderaan skrywes kommentaar gelewer, en wat daardie tyd eintlik absoluut taboe was, is om enigsins negatief na die huidige bedeling en regering te verwys, wat nog te sê van die “kind by sy naam noem”, nie doekies omdraai nie.

Ek het my nie daardeur laat afskik nie en deurgedruk, want dit was die waarheid, ook was Zuma van meet af uit sy diepte en onbevoeg. Ek was nie bang om dit prontuit se sê nie. Met die tyd egter het rubriekskrywers en kommentators ook losser begin skryf, en ons is nou waar ons vandag is, direk en op die man af, sonder ompaaie en bang jy word uitgetrap omdat jy reg is, eerlik en opreg met die waarheid omgaan in belang van die saak.

Cas ·

Die ANC ly aan dieselfde siekte as die regering voor 94. selfverryking, hebsug en kortsigtig-heid. Dit is elemente van magsmisbruik. As hulle nog leef sit hulle steeds in hulle ivoortorings saam met hulle geliefdes wat die voordeel geniet van oupas en oumas wat in hoe politiekekringe betrokke was.

Die artikel het die regte naam, want dit verteenwoordig die eienskappe van die monsters wat

Die geraamtes wat hulle agtergelaat het is besig om op te staan, Monsters wat gekweek is deur ‘n politiekebestel in die fabrieke van ‘n Ou Suid-Afrika.

Jan ·

Nie as mens beide kante van die muntstuk, toe en nou (voor 1994 en daarna), ervaar het nie, nie naby nie. Moenie die disinformasie en fopnuus glo wat die ANC daagliks op die mense loslaat nie.

Johann ·

Wat die ergste is, is :

1) Die 4,000, party webwerwe sê 3,000, ander 4,500 afgevaardigdes wat daar was, is nie een eksperte op enige gebied nie, daardie verteenwoordigers is uit die gemeenskappe gekies om die ANC se voetvolk (lede) te verteenwoordig. maar hulle moet die beleid uit kap.
2) Wat nog meer skrikwekkend is, is dat daardie 9 punte wat jy hier bo noem, word na die, om en by, 4,000 ANC takke geneem, waar die voetvolk (lede) die voorstelle moet debatteer en daaruit word die besluite geformulier en na die hoofraad terug verwys wat dit moet implementeer, dit nou waaroor die meerderheid gestem het, as ek dit reg verstaan.

Dus, terwyl die ANC nie onderskeid tussen die Staat en die party maak nie, is dit ‘n gegewe dat daardie besluite in die parlement gaan beland, waar dit in die kommitees debatteer gaan word en is die kanse 100% dat dit in wetgewing op ons afgedwing gaan word. En as dit teen die Grondwet is, sal daarteen geappeleer kan word.

Dus, uiteindelik, swaai die ANC voetvolk die hond by die stert.

Leendert ·

Ander interessante leestof op Die Burger, en so, se webwerwe is die grootskaalse korrupsie wat deur die ANC in die provinsies ondersoek word, vervalsde lidmaatskapkaarte ens, ens, om die takke te “laai” met die regte stemme, voor die ANC verkiesing. Wat ook interessant is, is dat daar gewys word hoe mens ‘n nuwe ANC tak kan stig, jy het 101 lede nodig, dus werf jy net die lede, betaal die R20 jaarfooi per lid oor, en siedaar jy het ‘n tak. Daar word beweer daar is tans 4,200 takke.

edward ·

Die ANC deur verskeie monde van hulle leiers, së “Whie capital must come back to us.” Ons weet nou nog nie wie is die wit kapitaal nie en nog minder die “us”. Is dit die Zoeloes, of die Bapedi, (want Julius het dit ook al gesê) is dit swart mense van Suid-Afrika (al die swart buitelanders ingesluit), is dit al die swart mense van Afrika en is indiërs en kleurlinge en Koi ingesluit by die “us?” Ek dink dit is vir Jacob en die Guptas.

Johann ·

En Ramaphosa het vanoggend gesê die afgevaardigdes het met hernude geesdrif die konferensie verlaat om hul taak in die takke voort te sit. Daar het jy dit, opgepomp!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.