Die geskiedenis leer daar is altyd ʼn toekoms

Winston-Churchill

Winston Churchill. Foto: En.wikipedia.org

Suid-Afrika is nie tans op ʼn goeie plek nie. Die politiek is deurmekaar, die ekonomie pap, die droogte en waterprobleem ʼn krisis en die staat verval stuk-stuk. Die rassestorm op sosiale media wys hoe broos die samelewing plek-plek is. Internasionaal lyk sake ook nie veel beter nie. Die prentjie lyk vir baie mense donker en talle wonder of daar nog ʼn toekoms vir hulle is in Suid-Afrika.

Maar die verlede wys daar is altyd ʼn toekoms, dis nooit verby nie. Dís die belangrikste les van die geskiedenis. Die fout wat mense maak is om te glo dat die toekoms vir ewig nag is en dat die son nie weer sal skyn nie. Die rede hiervoor is dat mense geneig is om net ʼn afwaartse lyn van die hede af vorentoe te trek. Hulle maak nie voorsiening daarvoor dat die geskiedenis nooit reguit ondertoe loop nie, maar soms skerp draai en weer boontoe loop. Dit gaan staan nêrens stil nie, maar verskyn altyd weer.

Churchill se toekomsresep

Die staatsman Winston Churchill het gesê hoe verder jy in die toekoms wil insien, hoe verder moet jy in die verlede inkyk. Daarom is dit soms nodig om so twee eeue terug in die verlede te staar, om te kyk na Churchill se resep om die rigting waarin die toekoms beweeg, te probeer “voorspel”.

Kom ons begin by die jaar 1800 en kyk na die skerp draai wat die geskiedenis elke twintig jaar gegooi het. Dan word dit duidelik die hede is nooit permanent nie, dat wie nou bo is, eensklaps ondertoe val en wie onder is, weer kan opkom.

1800: Napoleon is na sy self-kroning die onbetwiste heerser van Europa en Frankryk en daardeur dié supermoondheid van die destydse wêreld. Die Verenigde Koninkryk kom tot stand met die samesmelting van Brittanje en die Ierse Republiek.

1820: Brittanje is nou baas en Napoleon sterf in ʼn eilandtronk in St. Helena nadat sy neerlaag teen die Russe in 1812 die voorspel was tot sy ondergang by Waterloo. Die grootste deel van Suid-Amerika bevry hulself van die Spanjaarde en Portugese wat die voorspel is vir die ondergaan van hierdie twee wêreldryke.

1840: Moderne Nieu-Seeland en België kom tot stand, asook verskeie nuwe lande in Suid-Amerika.

1860: Die opkoms van Pruise, met Kanselier Bismarck, gee saam met Oostenryk en Frankryk die pas in Europa aan. Japan begin stadig wakker word en die VSA begin homself verskeur in ʼn burgeroorlog. Brittanje wen ʼn oorlog teen China, wat die begin van die ondergang van die regerende Chinese Keiserryk is.

1880: Pruise het na hul oorwinning oor Oostenryk en Frankryk al die Duitse gebiede in ʼn Duitse supermoondheid verenig, oorheers Europa deur ʼn vennootskap met Brittanje, wat as seegebaseerde supermoondheid die oseane beheer. Die “Scramble for Africa” begin toe Europese lande Afrikagebiede onder hulself begin verdeel.

1900: Brittanje is op die kruin van sy mag as supermoondheid, maar is besig om hom so vas te draai in ʼn oorlog teen die Boere dat die Britte nooit weer daarna ʼn koloniale oorlog wou veg nie. Duitsland, Frankryk, Rusland en die Oostenryks-Hongaarse ryk regeer saam met Brittanje die wêreld. Japan verslaan die Russe vier jaar later in ʼn blitsoorlog.

1920: Brittanje heers weer alleen met Londen as die wêreldhoofstad. Die Duitse-, Oostenrykse- Russiese- en Turks-Ottomaanse ryke was die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog, met Amerika en Japan wat stadig opkom. In Rusland woed ʼn bloedige burgeroorlog met die kommuniste wat net-net die oorhand kry.

1940: Duitsland beheer Europa en is na die Blitzkrieg en die sluiting van ʼn alliansie met die USSR, ʼn supermoondheid wat die wêreld oorheers. Hitler se bondgenoot, Japan, beheer die Ooste.

1960: Amerika en Rusland (USSR) is nou die twee supermagte met die wêreld wat in twee magsblokke van Wes en Oos verdeel is en die wêreld met kernwapens oorheers. Die Europese koloniale ryke verbrokkel en Afrika word vry.

1980: Amerika het so pas ʼn oorlog verloor teen ʼn derderangse moondheid, Viëtnam. Boonop veg hulle onder Ronald Reagan se leiding gelyktydig ʼn wapenwedloop met die Russe en ʼn handelsoorlog teen die Japanners wat skynbaar die nuwe onstuitbare wêreldmoondheid is. Die VSA moes onder Nixon ʼn alliansie met kommunistiese China sluit om Russiese mag te balanseer.

2000: Na die val van die Oosblok is die VSA die enigste oorblywende supermoondheid en probeer die Ooste en Suide verwesters deur hul goue tweeling van demokrasie en kapitalisme uit te voer en op almal af te druk. China begin stadig wakker word, al het Napoleon twee eeue terug gesê laat China slaap, want as sy wakker word, gaan sy die wêreld skud. In 2001 bars die militante Moslembeweging op die wêreldverhoog, met die aanvalle op die VSA se wêreldhandelsentrum.

Nou beweeg dinge vinniger.

2015: Die VSA regeer nie meer alleen nie, maar word gebalanseer deur Brics, met China, Rusland en Brasilië aan die voorpunt van die nie-Westerse opkoms.

2016: China, Brasilië, Rusland én Europa het ernstige probleme en die VSA bly vir eers weer alleen bo.
Maar dis nie net die wêreldgeskiedenis wat wipplank ry nie en in Suid-Afrika verander alles wat in die hede ewig lyk. Kom ons kyk baie oorsigtelik na die afgelope 100 jaar.

Suid-Afrika

1900: In die Boererepublieke bied sowat 60 000 gewapende burgerlikes verwoed weerstand teen ʼn halfmiljoen van die beste Britse soldate. Brittanje wen en dwing al hulle kolonies onder een sambreel in “Suid-Afrika” in.

1910: Suid-Afrika word ʼn selfregerende unie onder die Britse kroon.

1960: Die land word in 1961 ʼn Afrikaner Republiek en begin met ʼn beleid om die Britsgebore “Suid-Afrika” te ontbondel in state vir al die bevolkingsgroepe.

2000: Die ontbondelingsprojek werk nie uit nie, Suid-Afrika word ʼn eenheidstaat wat vanaf 1994 deur die ANC regeer word. Die ANC kry met 62% se steun 100% van die mag. In net een eeu verander Suid-Afrika 6 keer: vanaf Boererepublieke na Britse oorheersing, ʼn kolonie, ʼn unie, ʼn Afrikaner republiek en toe na die nuwe Suid-Afrika.

2015: Sowat twee dekades na die Nuwe Suid-Afrika tot stand kom, is die land besig om so ʼn omwenteling te ondergaan dat al meer kenners glo die Nuwe Suid-Afrika is besig om tot ʼn einde te kom. Almal wonder hoe die toekoms lyk en glo vas dis verby – die hede is nou ewig. Dit klink byna asof almal mnr. Zuma glo dat die ANC sal regeer tot “Jesus kom”! Mense leer nie uit die geskiedenis dat die toekoms altyd onverwagte draaie vat en nooit lyk soos dit wat jy verwag nie.

Geskiedenisles

Die belangrikste les van 200 jaar se geskiedenis is dat die toekoms nooit “verby” is nie. Dinge bly nooit dieselfde nie, niks is so vas en onveranderlik as wat dit op die oog af lyk nie. Eras, ryke, nasies en volke kom en gaan. Daar kom altyd weer ʼn toekoms tevoorskyn, soos wat die son opkom na ʼn lang koue nag. Die hede is nooit permanent nie. Maar dit help nie om net op die toekoms te wag nie, want dan kry jy een wat ander vir jou beplan. Die grootste uitdaging vir Afrikaners is om hul oorspronklike politieke verbeelding in te span en verby Nkandla en die huidige werklikheid ʼn nuwe toekoms raak te sien. Bepaal self hoe jy die toekoms wil hê, skep sterk organisasies en neem aktief deel aan die vorming van ʼn toekoms waarin jy ook vry, veilig en voorspoedig sal kan leef. Want die enigste toekoms wat jy kan voorspel, is die een wat jy self bou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

StopTheMadness ·

Baie dankie vir die insiggewende stuk. Die doel daarvan om n mens aan die dink te sit slag sekerlik. Die punt wat ek graag wil maak is dat al die gegewe voorbeelde geneem is van oor die wereld behalwe vanuit Afrika. Ons woon in Afrika, ons is van Afrika en Afrika se geskiedenis is relevant tot ons voortbestaan. Ek sal voorbeelde van n ommeswaai na n blinker toekoms in n Afrika land hoog op prys stel. Die realiteit is dat ons kontinent van smart besaai le met gevallestudies van plundering, verdrukking en agteruitgang en geen investering, internasionale hulp of regime verandering kon n beter toekoms bewerkstellig nie. Hierdie is Afrika….en hy werk bietjie anders.

Adoons ·

Mosambiek en Angola lyk tans weliswaar heelwat swakker as onder die destydse Portugese beheer wat in die middel 70’s van die vorige eeu tot ‘n einde gekom het, maar veel beter as gedurende die 20 jaar van burgeroorlog wat daarop gevolg het.
In verskeie lande gaan dit tans nie te vrot nie – neem lande soos Botswana en Ghana as voorbeeld.

Louis ·

Ons moet maak soos die Jode en ons eie netwerke stig, ‘n volkseie ekonomie binne die land se ekonomie, basies ‘n tipe virtuele selfbeskikking.

Leendert van Oostrum ·

Baie goeie perspektief.

Mens kan nie wag vir die toekoms nie – dit kan dalk net beter wees :-)

Ebert Terblanche ·

Die titel en alles wat die laaste paragraaf voorafgaan kan die indruk skep dat die toekoms vir homself sal sorg.

Ongelukkig is daar talle voorbeelde waar die toekoms vir baie mense slegter uitgedraai het as wat hul verwag het. Voorbeelde in die laaste eeu sluit in die Armeniërs in Turkye, Jode in sentraal-Europa, Duitsers in Oos-Pruise, Grieke in Wes-Anatolië, Portugese in Angola en Mosambiek, Rhodesiërs, 3000 Afrikaner boere. Hierdie mense, wesenlike bevolkings wat hul gebiede tussen duisende jare en dekades bewoon het (en vir lank daar floreer het) het alles verloor.

Terwyl daar altyd ‘n toekoms is, hang die aard van daardie toekoms af van die voorwaarde wat Flip in die laaste paragraaf stel: rol op jou moue en skep saam ‘n positiewe toekoms, een wat die werklikhede van demografie en meerderheidsregering in Afrikaners se guns draai.

Louis ·

Ditsem, ons moet onsself reg posisioneer vir die volgende bestel, want teen daardie tyd het ons onsself hopenlik genees van die Apartheid skuld. Ek dink regtig nie die ANC gaan 2020 sien nie, veral nie as ons land oppad is na ‘n resessie nie.

TTh ·

verwyder net Churchill se foto, hy was maar ‘n groot bedrieer en alkoholis…

Louis ·

Nou praat jy! Dit is wat ek lankal se, en lyk my min mense verstaan die begrip, ons Afrikaners moet net seker maak dat in die volgende bestel ons geposisioneer is om meer besluite uit te oefen. Dus die rede hoekom ons aktief moet werk aan ‘n toekoms en sterk organisaies, sodat ons, ons kan posisioneer as die draai kom, en nie soos ‘n volstruis kop in die sand staan nie.

Dr. Amari ·

Ek behoort seker nie saam met julle te gesels nie want ek was van gister – vandag bejaard, maar ek wil graag ook ‘n ietsie noem. Ek bewonder en haal my hoed af vir Flip se deursettingsvermoee ens. Die organisasies ens. wat hy die Afrikaner mee wil help om te oorleef is deel van die geskiedenis van ons mense. Die Kultuur van die Afrikaners in die Vaaldrie hoek en dan ook in die meeste Afrikaner gedeeltes van ons land het veral vanaf 1942 gepoog om hul kultuur en lewensomstandighede te organiseer en te ontwikkel. Die Afrikaners het organisasies, verenigings, feeste en geleenthde soos die rapportryerskorpse, die Suid_Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die Vroue-landbou-unie (VLU), die Voortrekkers, musiek, kuns- en woordkunsverenigings en geleenthede soos gelofte- en republiekfeeste as instrumente vir hul kultuurorganisering gebruik. U ken die geskiedenis dalk beter as ek – ek vra my die vraag was dit weereens die Afrikaner se probleem dat ons so dikwels nie saamstaan nie maar meestal verskil? Die gevolg was dat die doelwitte van die kultuurorganisering op die kultuurterrein nie meer gedurende 1979-1992, gerealiseer het nie. Dit is ook deur die politieke omstandighede en die swak ekonomie veroorsaak. Kultuurorganisering is verder deur die skeuring in die Nasional Party (NP) benadeel. Hierdeur het daar nuwe politieke groeperinge met verskilende kultuurdoelwitte in die land ontstaan. Agv. van omstandighede moes die Afrikaner baie van sy kultuurprodukte prysgee. Ek hoop die Afrikaners gaan nou eensgesind saamstaan en besef dat Flip se idee en leiding ons enigste kans is om nog iets van die Afrikaners oor te hou.

GES ·

Dankie Dr. Amari. Die bydraes van mense van gister is baie waardevol omdat hulle skryf met gesag uit ervaring. Ek heg baie waarde aan die gedagte van hoe verder teruggekyk kan word, hoe verder in die toekoms gekyk kan word. Wat my soms moedeloos maak is dat mense oor die algemeen nie oor die vermoē beskik om te leer uit die foute van die verlede nie. Wat my hoop gee is die feit dat al wat seker is, is verandering.

Boervrou ·

Flip Buys nog nooit vantevore was daar so korrupte regime

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.