Die gevaar van skaamteloosheid in die politiek

Deur dr. Hercules Boshoff

Dr. Hercules Boshoff (Foto: Akademia)

Die Britse denker Thomas Hobbes het beweer die politiek is niks anders nie as ʼn sosiale kontrak gesmee tussen mense om hulle te verhinder om op te tree dienooreenkomstig met hulle aard, naamlik as “nasty, brutish beasts”. Hierteenoor stel die Duitse filosoof Immanuel Kant dat moraliteit, gekoppel aan vryheid, vir die politiek ten doel gestel moet word.

Dit beteken nie dat moraliteit noodwendig in die politiek veronderstel kan word nie ­– die vrye burgers moet die staat hoofsaaklik in terme van hulle morele gevoel verantwoordbaar hou (die politiek word dus nie bloot in ekonomiese terme uitgedruk soos die kenners ons wil wysmaak nie).

Indien ʼn leier nie die morele gevoel van sy volk vrees in die besluite wat hy neem nie, met ander woorde wanneer hy hom nie skaam teenoor die samelewing nie, bevind daardie bevolking sigself in ʼn kommerwekkende situasie. Hierdie skaamteloosheid noodsaak ʼn besinning oor die rol en betekenis van skaamte.

Skaamte is veral ʼn moeilike begrip aangesien ons dit, soos Aristoteles reeds uitgewys het, dikwels in ʼn positiewe en in ʼn negatiewe sin kan gebruik. Ons kan verwys na iemand wat hulle “skaam” oor iets wat hulle verkeerd gedoen het of na iemand wat “geen skaamte” toon nie. Skaamte is grootliks aangeleerde gedrag wat normatief geld (dit kom nie natuurlik nie, soos wanneer jou ma jou voorsê om nie in jou neus te krap nie).

In die norm lê daar ʼn bepaalde logika, hoewel die onderliggende logika van goeie en slegte maniere dikwels die meerderheid mense ontgaan. ʼn Persoon kan hom/haarself natuurlik verset teen hierdie norme en aanspraak maak op nuwe maksimes (algemene reëls) wat dan as nuwe sedes en gewoontes aangeleer word.

Omdat die beoordeling van skaamte afhang van die konteks waarin dit ter sprake kom, kan ons praat van die maat waarin dit toegedien word in ʼn bepaalde situasie. In aansluiting by die ou Griekse gesegde pan metron ariston, oftewel “alles in goeie maat”, het Aristoteles dan ook skaamte as karakterdeug (aangeleerde gewoonte) uiteengesit. Te veel skaamte kan volgens hom tot verleentheid aanleiding gee, terwyl te min skaamte op sy beurt skaamteloosheid meebring. “Skaamtegevoel” is vir hom die noodsaaklike middeweg tussen hierdie ekstreme.

Mens sou kon beweer dat skaamtelose optrede (totale gebrek aan skaamte) van een party dikwels verleentheid (ʼn oormaat skaamte) by ʼn ander party veroorsaak. Verleentheid in die vorm van selfkastyding kan omgekeerd tot deug verhef word, en skaamteloosheid by diegene teenoor wie daar onregmatig opgetree is, aanmoedig.

Die vertoon van verleentheid maak grootliks deel uit van die sogenaamde hedendaagse “deugpronk” verskynsel. Trouens, die hele Westerse beskawing word aangemoedig om alleen verleë te staan teenoor sy herkoms en geskiedenis, wat ongekende skade berokken aan Westerse beskawing en instellings.

Wanneer Aristoteles na die regte maat van skaamte verwys, is dit belangrik om ons af te vra hoe dit bepaal word. Waarskynlik sou die Engelse woord “propriety”, of die Afrikaans “paslike gedrag” belangrik wees. Ook Paulus wys in Rom. 5:1-5 op die verwantskap tussen karakter en skaamte, hoewel Paulus nog ʼn belangrike aspek toevoeg, naamlik hoop. Dit is die gedeelte waarin die bekende uitspraak dat hoop nie “beskaam” nie, voorkom, wat dikwels aangehaal, maar swak begryp word. Voor ons op die verwantskap tussen karakter en skaamte, en skaamte en hoop kan ingaan, net kort opmerkings oor hoop.

Ek is dit met prof. Natie van Wyk eens wanneer hy in sy onlangse skrywe daarop wys dat hoop vandag so algemeen en oppervlakkig gebruik word sonder deeglike begrip. Tereg het die ou Grieke die oppervlakkige opvatting van hoop, naamlik valse verwagtings wat jy oor jouself koester, as ʼn  swakheid beskou. Binne hierdie konteks moet Paulus dan eintlik ʼn nuwe definisie van hoop verskaf.

Hoop is volgens hom nie iets wat ons uit ons verbeelding tot stand bring deur die werklikheid tot ons verwagtinge te probeer plooi nie. Dit word “bewerkstellig” (my vertaling van katergazomai) deur die belewenis van swaarkry, volharding en die karakter wat daaruit tot stand kom. Die hoop wat hieruit na vore tree, beskaam nie, dit lei nie tot verleentheid nie, aangesien verleentheid alreeds in die proses oorkom is. Die karakter wat tot stand kom sal ook nie skaamteloos optree nie, maar hoop kombineer met geloof en liefde.

In dié verhouding, kortliks uiteengesit, het geloof ʼn inhoud, soos vervat in die artikels van die belydenis, terwyl hoop gerig op die wete van die Heiligheid van God, die verwagting dat sy wil sal geskied op aarde, soos in die Onse Vader gestel word. Beide word ondersteun deur liefde, wat tegelyk beleef word, maar ook dit is waartoe ons ons dade rig. Aldus die kerkvader Augustinus.

Skaamtelose leiers verhef hulleself bo skaamte, en bring naakte mag in spel – bedoelende mag wat nie die goedkeuring van gemeenskappe opsoek of uitdrukking gee aan geloof deur liefdevolle optrede nie, maar slegs eiegewin nastreef. Insgelyks baat verleentheidtentoonstellers dikwels direk by hulle optrede terwyl grootskaalse onstabiliteit deur beide veroorsaak word.

Daar bestaan dus ʼn direkte verband tussen die skaamtelose leiers en die verleentheidspronkers (groot maatskappye wat hulle verleentheid ten toon stel deur onbekwame persone aan te stel – dikwels mense met politieke of familiale bande met die skaamteloses is ʼn tipiese post-1994 voorbeeld daarvan).

Skaamteloosheid word dan tot norm verhef en in alledaagse optrede gespieël, wat ʼn verduideliking bied vir die uitermatig gewelddadige misdaad wat in ons land veral posvat, en nie armoede, soos dikwels gesê word nie. Daar bestaan geen bewyse dat arm mense as groep meer geneig is tot misdaad as rykes nie.

Die herstel van skaamte, dit wil sê van waardestelsels, en nie alleen opknapping van infrastruktuur nie, is daarom ʼn belangrike tema van ons tyd. Ware hoop, nie valse hoop wat deur ideologie en die mark verkoop word nie; hoop wat nie beskaam nie, hoop wat deur karakter bewerkstellig word met ʼn duidelike gerigtheid, is daarvoor nodig.

  • Dr. Hercules Boshoff is ʼn dosent in filosofie aan Akademia

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Eintlik is daar ‘n veel makliker en korter oplossing: Bybelse waardes. Die maklike een word in die NT saamgevat en die langer omskrywing is die tien gebooie. As jy verkeerd/sonde doen en aanhang sal jy nie skaam word nie, veral nie as almal rondom jou dieselfde doen nie.Die meeste ou wysgeërs het nie ‘n Bybel gehad nie en geworstel met baie vrae. Party nuweres is ateïste, hulle soek altyd antwoorde op ander plekke.

Truman Burbank ·

Ai. Goeie voorbeelde om te volg. Pleeg egbreuk en maak seker die ander party se wederhelf word vermoor. Dan is jy mos n onskuldige oogappel. Moet nie vergeet om jou dogter te offer as jy n fight gewen het uit dankbaarheid nie. Sal ek verder gaan?

Truman Burbank ·

In antwoord op jou laaste sin. Elke liewe politic sal jy gereeld in die kerk sien. Wat mens laat wonder. Selfs ou rampies

Groen Ghoen ·

‘n Baie belangrike boodskap, dankie. In S.A. word blatant leuens verkondig (Byvoorbeeld “Daar gaan oor X maande, jare geen meer beurtkrag wees nie. Net blankes is rassiste”). Dan word politieke korrektheid gebruik om kritiek as rassisme dood te praat. Bekende koppeswaaiers (die “politieke kommentators”) doen hieraan mee. Skaamtelose gedrag en opbouende kritiek wat weens politieke korrektheid doodgepraat word, het S.A. vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.