Die gevare van ekstremisme in Suid-Afrika

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: ANA.

Julius Malema se emosionele toespraak by die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela het die meerderheid van die 40 000 begrafnisgangers in die stadion beïndruk. Waarskynlik het dit dieselfde uitwerking op miljoene, veral jong, TV-kykers gehad.

Gerrie Nel se hofsaak teen Malema gaan sy beeld by sekere gehore bou. Malema het nie ʼn strugglegeskiedenis nie en hoop om so een te kry. Die beste uitkoms van Gerrie Nel se hofsaak teen Malema is dat die vervolginggesag hul werk doen en hom oor korrupsie en verryking vervolg – nie AfriForum nie. Dit sal sy beeld as kampvegter vir die armes benadeel en terselfdertyd alle rassisme uit die saak haal soos nou met Duduzane Zuma gebeur het.

Elke gemeenskap het ekstremiste. Politieke ekstremiste wat na links of regs ekstremistiese uitsprake maak. So skiet anti-aborsie-ekstremiste dokters in die VSA dood wat aborsies uitvoer.

Wanneer is ʼn samelewing in die moeilikheid?

ʼn Samelewing is in die moeilikheid as ekstremistiese standpunte nie meer randverskynsels is nie, maar na die politieke middel begin beweeg om uiteindelik die meerderheid se standpunt te word. ʼn Studie van byvoorbeeld Hitler se Duitsland, Hugo Chávez se Venezuela of Mugabe se Zimbabwe illustreer dit goed.

In die paar weke ná Winnie Madikizela-Mandela se dood, het ekstremistiese standpunt in Suid-Afrika nuwe status gekry en na die middel begin beweeg. Malema het nie van standpunt verander nie, wat beteken dat die politieke spektrum na links beweeg het. Dit moet alarmklokkies laat lui.

Hoe het dit gebeur en hoe kan ons voorkom dat hierdie standpunte later hoofstroomstandpunte word?

Die erns van die ANC se verdeeldheid was duidelik met hul Desemberkongres. Dit was die Zuma-faksie teen die Ramaphosa-faksie. Die faksies het nie net verskil oor wie die volgende ANC-leier moet wees nie, maar hulle verteenwoordig ook twee verskillende denkrigtings in die ANC. Twee denkrigtings oor hoe armoede opgelos moet word.

Aan die een kant is die “naïewe sosialiste”, wat Zuma ondersteun. Hulle glo nasionalisering en grondonteiening sonder kompensasie is die oplossing.

Aan die ander kant is die meer “pragmatiste” wat Ramaphosa ondersteun. Hulle glo die Nasionale Ontwikkelingsplan is die antwoord. Die Ontwikkelingsplan is die naaste wat die ANC nog aan vrye mark ekonomiese oplossings gekom het.

Met die oog op die komende verkiesing het die ANC-kongres Ramaphosa as leier verkies.

Dieselfde kongres het egter Zuma se naïewe sosialistiese beleidstandpunte, wat grondonteiening sonder kompensasie insluit, as beleid aanvaar.

Ramaphosa, as nuwe ANC-leier, weet ʼn verdeelde ANC sal beslis die 2019-verkiesing verloor. Daarom sien hy as sy hooftaak om die twee faksies tot ten minste die verkiesing bymekaar te hou. Terselfdertyd moet hy die kongres en Zuma-faksie se naïewe sosialistiese beleidstandpunte, waarmee hy waarskynlik nie saamstem nie, verduidelik.

Wat Ramaphosa se taak verder bemoeilik is dat die Zuma-faksie in die ANC se beleidstandpunte nie veel van Malema se ekstremisme verskil nie.

Malema se oplossing vir armoede is die nasionalisering van myne en banke asook die onteiening van grond sonder kompensasie sodat alle grond deur die regering beheer word.

Hoekom is mense arm?

Omdat “wittes al die grond gesteel het en apartheid mense verarm het,” volgens Malema.

Vir elkeen van hierdie standpunte is daar sterk teenargumente. Die oorweldigende toename van armoede in Zimbabwe of Venezuela, waar Malema-oplossings reeds probeer is, bewys hom heeltemal verkeerd. In hierdie lande was daar nie apartheid of Afrikaners nie.

As politici die geskiedenis gebruik, is dit meestal om hul huidige politieke standpunte te versterk. Die geskiedenis word dan deur ʼn 2018-bril bekyk. Die konteks waarbinne gebeure in die verlede gebeur het, word gerieflikheidshalwe geïgnoreer.

Die beriggewing ná Winnie Madikizela-Mandela se dood is ʼn perfekte voorbeeld hiervan. Sommige joernaliste se oordrewe polities korrekte hantering van Madikizela-Mandela se rol in die verlede, het in die hand van ekstremiste soos Malema gespeel.

Malema se weergawe van die ANC-geskiedenis is dat Winnie Madikizela-Mandela die ware vegter vir swart mense se regte was. As ʼn bedreiging vir die destydse ANC-leiers is sy uitgeskuif en verdag gemaak. Die gevolg was dat Nelson Mandela ʼn swak skikking onderhandel het deur te veel aan die apartheidsregering toe te gee. Dit was ook ʼn groot fout van Mandela om die wittes te vergewe, volgens Malema.

Die onderliggende EFF-verkiesingboodskap vir volgende jaar is dat Ramaphosa deel van daardie Mandela-skikking en -versoening was. As ʼn pion van die wittes kan hy en die ANC daarom nie met die toekoms vertrou word om na swart mense se belange om te sien nie.

Winnie Madikizela-Mandela se standvastigheid teenoor permanente polisieteistering en -brutaliteit, moet respek afdwing. Pascale Lamche se rolprent Winnie handel hieroor. Dit behandel egter ook die uitskuif en baie ernstige kritiek wat teen Winnie uit ANC geledere gekom het.

Hierdie rolprent is herhaaldelik ná haar dood op TV gewys. Die rolprent gee haar standpunte weer, bring enkele nuwe feite oor haar lewe na vore, maar is beslis nie die finale gebalanseerde beoordeling van haar lewe nie. Guy Lodge, ʼn Britse rolprentresensent het reeds in Januarie 2017 die rolprent beskryf as “ ʼn eensydige kwytskelding van Winnie”.

Die eensydigheid van die rolprent blyk daaruit dat persone soos Sydney Mufamadi en Desmond Tutu, soos ook baie van die ander deelnemers, buite konteks aangehaal word sonder dat hulle ooit die geleentheid gekry het om hul kant te stel. Volgens die rolprent het Mufamadi en Tutu berekend Madikizela-Mandela benadeel om só die wit apartheidsregering te bevoordeel.

So speel die rolprent in die hande van die EFF. Die gevolg is dat veral jongmense, wat nie daardie geskiedenis ken nie, ná die rolprent entoesiasties skryf dat “Winnie en haar standpunte die ware heldin van die verlede is en Mandela en Tutu die skurke”. Een het getwiet: “Ons het al die tyd die verkeerde Mandela bewonder.”

In ʼn onlangse meningsopname oor ʼn nuwe naam vir Kaapstad se lughawe stel 66% mense nou voor “Winnie Mandela” met slegs 20% “Nelson Mandela”.

Al bogenoemde is die gevolge van die gebruik om net “mooi te praat” ná die dood van ʼn persoon. Malema het dit misbruik soos sy begrafnistoespraak bewys. Volgens hom het Madikizela-Mandela sy EFF-standpunte oor armoede gesteun. So eis hy haar vir hom op en laat haar polities buikspreek ten gunste van die EFF ná haar dood.

Ramaphosa, wat die ander denkstroom in die ANC verteenwoordig, probeer dit neutraliseer deur by die begrafnis ook Madikizela-Mandela aan te haal. Sy sou teenoor hom haar wens uitgespreek het ten gunste van ANC-eenheid en versoening in die nasie – Ramaphosa se politieke agenda. Volgens die Instituut vir Rasse-Verhoudinge se meningspeiling kom meeste Suid-Afrikaners op voetsoolvlak goed oor die weg en deel hulle sekere konserwatiewe waardes.

Die vraag is watter standpunt op die lang termyn gaan wen.

Al wat nodig is vir die kwade om te wen, is dat mense wat die goeie voorstaan, niks doen nie, volgens Edmund Burke.

Sokrates kan hierby gevoeg word waar hy gesê het dat kennis die goeie in mense na vore bring terwyl onkunde die kwade voed.

Malema se onwaarhede oor die politiek en geskiedenis moet met feite verkeerd bewys word. Sy ekonomiese denkfoute moet uitgewys en gedebatteer word. Om as gevolg van politieke korrektheid debat te vermy, het die laaste paar weke die ekstremistiese standpunte in Suid-Afrika status gegee en versterk.

Behoed ons almal as hierdie ekstremistiese standpunte by ʼn verkiesing in die toekoms die hoofstroomstandpunte word omdat die mense wat die goeie voorstaan, niks gedoen het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JoeV ·

Die ANC is ‘n ekstremistiese beweging en ons het dit as ons regering aanvaar. Hoe dan nou?

V ·

Ek stem saam – Malema moet gedebateer word. Ek vra net op watter platform? Want Malema se gehoor moet sien hoe wesenlik verwronge en boos sy uitsprake is. Die sekulêre media speel ook ‘n rol om sy propogande te dryf deur dit nie aan die kaak te stel met die korrekte feite nie. Dit wil my voorkom dat die stem van rede in SA uitgedoof word soos ‘n geskreeu in ‘n storm.

Deon ·

Dr Mulder, goeie inset. Soos die afgelope 30 jaar. Ten spyte daarvan, en Vryheid van dorpe ensomeer, is ons Volk steeds ver van vry. Kom ons wees eerlik die grootste mate van vryheid is in Oranie, Kleinfontein of Immigrasie. My inset was ‘n klein en proporsionele Volkstaat soos bedoel deur Dr Verwoerd, regverdig voor God en mens, maar die skieters en bulle het verklaar van messina tot kaapstad! Ek het gewaarsku – julle eis alles, pasop vir niks. Nou ja, nou praat ons anc strategie. Ek smeek, trek my Volk of sterf!

Jacobus ·

Ons moet onthou dat die leun altyd meer geloofwaardig is as die waarheid.

Die waarheid klink altyd onrealisties omdat die mens van geboorte af geprogrameer word om die leun te glo.

Dink net hoeveel keer vertel ouers vir hulle kinders daar is nie iets bv. lekkers nie; al weet self die kinders dat dit onwaar is.

Die leun maak ook nie seer nie daarom het die mens ontwikkel om ekonomies met die waarheid te wees en dan moet ons nie eers die politieke korrektheid vergeet nie.

Onthou, Julius Malema het volgens berigte nagevors op Google ‘n BA graad in BA in Politieke Leierskap en Burgerskap en ‘n BA Honneursgraad in Filosofie.

Dit gee aan hom ‘n voorsprong bo die gemiddelde persoon en hy soos Hitler kan ook baie goed die gemoed van die mense lees en uitbuit.

Eish ·

In die politieke milieu van vandag is logika en feite, aspekte waarmee skraps omgegaan word synde dié, beleidsmoordenaars is vir populiste.
Die Vader behoed ons.

Casper Labuschagne ·

Hoop, werk en bid. Hoop vir die beste, werk vir die toekoms, bid vir redding en beplan vir die ergste. Wat anders kan ons doen as net dit?

Henry ·

Dankie Dr Mulder!
“Mooi praat” soos u dit stel, sal vir seker nie van veel nut wees om propagandistiese denkfoute en verdraaïngs uit te wys nie.
Terselfdertyd en vir wat dit ookal werd mag wees – om siele soos Malema op wyses wat neerbuigend, sarkasties, vernederend, veglustig ens ens van aard is, aan te val, sal ook nooit van enige nut vir mens of dier in hierdie droewe land wees nie. Weerwraak en wraaksugtige verharding, is gewoonlik die vinnige antwoord wat van demagoë en hul blindelingse ondersteuners by sulke geleenthede verwag kan word.
Hoe ookal. Hopelik sal u insig en leiding vryelik aangewend word gedurende die moeilike en gevaarlike tye wat vir elke redelike mens in hierdie droewe land lê en wag.

Spike ·

malema en die soos hy het volgelinge, maar is geen leiers nie. Hulle volgelinge is die miljoene wat niks het en dan niks het om te verloor nie en sodoende nie vir hulle self kan dink nie. Geen rasionele denk vermoëe nie. Ongelukkig ly baie mense skade en pyn deur die dwase optredes van hierdie massas met hul verwagtings wat aan hulle belowe word.

Ou Ystervark ·

Geagte dr. Mulder, baie dankie vir hierdie insiggewende artikel. Tref my altyd hoe mense ander mense in onkunde of in nood kan gebruik en misbruik.
Verder: “Al wat nodig is vir die kwade om te wen, is dat mense wat die goeie voorstaan, niks doen nie volgens Edmind Burke” Só waar! Nazi-Duitsland is ‘n sprekende voorbeeld. En wat leer ons daaruit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.