Die glorie van ou Afrika

mapungubwe-se-goue-renoster

Mapungubwe se goue renoster. Foto: Limpopo Toerisme en Parke/Southafrica.net

Met 21 van die wêreld se 25 armste lande is daar nie veel waaroor Afrika deesdae kan spog nie. Maar dit was nie altyd so nie.

Wes-Afrika het eeue gelede duisende ommuurde stede soos dié van antieke Griekeland gehad. In 1116 was daar glasvensters in Ghana en daar word aangevoer dat seevaarders van Mali Amerika 181 jaar voor Columbus bereik het.

Ruïnes van ʼn sterrewag en ʼn kalender met 354 dae is in Namoratunga in Kenia gevind en in die Soedan het huise in 900 n.C. lopende water gehad. Daar is bewyse dat Oos-Afrikane langer as 1 500 jaar gelede staal gemaak het.

Nader aan die hede is daar getuienis dat keisersneë voor die 19de eeu in Rwanda uitgevoer is. Piesangwyn is as verdowing gebruik, die bloeding is met warm ysters gestop en die vrou is met ysterspykers toegewerk en ʼn wortelekstrak en bas is as verbande gebruik. Skynbaar het heelparty babas en moeders oorleef.

Maar baie verder die verlede in is die biblioteek van Alexandria in 295 v.C. gestig. (Oxford het van 1167 beroemd begin raak). Dit was die voorste universiteit in die klassieke wêreld en is skynbaar in 48 v.C. afgebrand deur ʼn vuur wat per abuis deur Caesar se hulptroepe begin is.

Maar kom ons bepaal ons meer by die Afrika nader aan en suid van die ewenaar, ook omdat mense in Egipte en sy omliggende lande hulle nie as behorende aan Afrika sien nie, maar as Middelandse See-state.

Timboektoe

Timboektoe, volgens sommige brone die wêreld se oudste universiteit en ‘n Wêreld Bewaringsgebied. Foto: AFP/Verskaf.

Timboektoe se ryk verlede

Timboektoe is in die 11de eeu deur die Toearegs as seisoenale kamp gestig en was een van die groot kommersiële sentrums van die Westerse Sahara en beroemd vir sy handel in goud. In die 15de en 16de eeu was dit ʼn groot Islamitiese sentrum vir kennis. Daar was meer as honderd skole (sommige bronne sê 180) en ʼn beroemde universiteit.

Timboektoe is in 1593 deur Marokkaanse en ander invallers verwoes voordat dit in 1894 deur Frankryk in besit geneem is.

Die neiging van Islamitiese groepe om oudhede te vernietig het onlangs gelei tot die oplegging van nege jaar tronkstraf deur die internasionale geregshof aan die lid van ʼn jihadistiese groep wat noue betrekkinge met Al-Kaïda het.

Vroeg 14de eeu het die Universiteit van Sankore duisende studente van oral gelok. Timboektoe was die tuiste van meer as 700 000 manuskripte oor Afrika-geskiedenis. Hiervan bestaan nog ongeveer 20 000. Die gebied was ʼn belangrike religieuse, kulturele en kommersiële sentrum. Aan die rand van die Sahara was Timboektoe beroemd onder die handelaars van die Mediterreense gebied en ʼn mark om goedere uit Afrika suide van die Sahara te bekom.

zimbabwe-en-inkas

‘n Vergelyking tussen die klipwerk van Zimabwe en die Suid-Amerikaanse inkas uit dieselfde periode. Foto: Verskaf.

Zimbabwe was die grootste

In ongeveer dieselfde tyd – 12de tot 15de eeu – was Groot Zimbabwe die grootste nedersetting in Suidelike Afrika. Omdat skrif en geskiedskrywing hierdie deel van die wêreld eers omstreeks 1850 bereik het, is daar baie twyfel oor wie Zimbabwe gebou het. Die huidige konsensus onder argeoloë is dat die bouers een of meer van die plaaslike swart Afrika-groepe was.

Dit word vandag aanvaar dat Groot Zimbabwe onweerlegbaar deur mense van Afrika gebou is. Artefakte soos Chinese keramiekpotte, Arabiese glas en Persiese porselein getuig van ʼn gemeenskap met handelsbande lank voor die koloniale oorheersing deur Europeërs.

Meer as 4 000 goud- en 500 kopermyne is hier gevind en daar word gesuggereer dat 40% van die wêreld se gemynde goud (sowat 600 ton) drie eeue lank hier gemyn is. Duisende goue halssnoere is tussen die ruïnes gevind en daar word bereken dat 20 000 mense hul tuiste daar gehad het.

Die algemene hipotese is dat hongersnood en ʼn gebrek aan weiveld en natuurlike hulpbronne die inwoners laat uitwyk het.

Mapungubwe was sy tyd vooruit

Suid van Zimbabwe en ouer as dié samelewing het die koninkryk van Mapungubwe (1075 – 1220) aanleiding gegee tot die eerste stadium wat in die 13de eeu tot Zimbabwe sou lei. Mapungubwe word deur Unesco beskryf as die sentrum van die grootste koninkryk in die subkontinent wat bewoon is deur hoogs gesofistikeerde mense wat in goud met China, Indië en Egipte handel gedryf het.

Mapungubwe was die tuiste van sowat 5 000 mense – die voorsate van Zimbabwe se Shonas – en was kultuurgewys sy tyd vooruit voordat die ryk in die 14de eeu tot ʼn einde gekom het.

Groot geheimenisse omring steeds hierdie sentrum, behalwe dat die koninkryk 80 jaar geduur en in die 14de eeu verval het. Minstens 24 geraamtes is by Mapungubwe op ʼn koppie uitgegrawe, maar slegs 11 kon ontleed word omdat die beendere gedisintegreer het in die blootstelling aan lug. Hulle is sonder veel bybehore begrawe.

Meer onlangse genetiese ontledings toon dat die eerste twee geraamtes van Khoi/San herkoms is en moontlik die koning en koningin kon gewees het. Die twee persone is in ʼn sittende posisie, met die bene opgetrek en die gesigte in die rigting van die weste, begrawe.

Afrika hét dus ʼn roemryke verlede – die soort feite wat saam met die geskiedenis van byvoorbeeld die struggle en die Anglo-Boereoorlog in vandag se geskiedenisboeke hoort om aan alle leerlinge ʼn meer volledige agtergrond van hul vasteland te bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico K ·

Soos gesê is, is daar onsekerheid oor wie die bouers van Zimbabwe was. Wat ek glo is dat wie dit gebou het, dit iewers moes geleer het. Daardie werk was deur perfekte vakmanne gebou. Hulle het geweet wat hulle doen. Latere bouwerke in Zimbabwe, soos Khame reunes, is van baie swakker gehalte. En ek mag verkeerd wees maar die groot “tempel” by Zimbabwe wat perfek gebou is, is ouer as die ander geboue daar wat baie swakker gebou is. So die bouwerke het nie verbeter nie. En mens bou nie so perfekte gebou die eerste keer nie. Die bou proses moes mos verbeter het.

Paul dB ·

Die punt is dat mense van ander wêreld dele, waarskeinlik die Ooste of Indië, of hierdie geboue gebou het of toesig oor die bouery gehad het. Hierdie eilande van “beskawings” dui daarop dat dit meer waarskeinlik agv handel ontstaan het as iets anders. Die goud of ander metale is bewys daarvan. Met die uitloop van die bronne het die handellaars onttrek en die “beskawings” het verval. Die swakker bouwerk dui of op pogings van onderhoud of pogings tot uitbereiding sonder die toesig van die handellaars of bron van kennes van elders. Dit is ook die rede hoekom hierdie “beskawings” nooit verder gevorder of verbeter het nie.

Nico K ·

Ampie my punt is die mense wat Groot Zimbabwe gebou het, (of dalk beplan het, of toesig oor gehou het, as hulle hom nie self gebou het nie) kom van ‘n plek af waar hulle baie ervaring in die boukuns gehad het. En soos die artikel gesê het, daar is Persiese en Arabiese goedere daar gevind en kon handelaars van daardie lande die gebied besoek het.

Johann ·

Die mense het verseker nie van die suide af daar beland nie. Mens weet nooit, die wieg van die mensdom is dan suid daarvandaan.

Frans C ·

Die geskiedenis van Sjina is veel ouer.Die kuns van pottebakkery was bv al bekend 20000 vC.
Dit is dus glad nie onmoontlik dat deur handel die Sjininese ‘n groot invloed in Afrika uitgeoefen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.