Die golwe en teengolwe van demokratisering

Deel 1: Die historiese konteks

(Argieffoto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Wyle professor Samuel Huntington, politieke wetenskaplike, het in ʼn opstel in 1991 van die golwe van demokrasie en outoritêre teengolwe gepraat wat reeds in die 19de eeu vasgestel kon word. Die eerste golf het oor die uitbreiding van stemreg (destyds vir wit mans) en die besnoeiing van die magte van die adellikes gegaan.

In die VSA het dit onder president Jackson (1829-1837) en sy demokratiese hervormings begin, en in Suid-Amerika het dit sy vergestalting in die vryheidstryd teen die Spaanse koloniale bewind gevind. In Europa het verskeie revolusies vanaf die 1830’s, by name in Frankryk, die toneel vir navolgings in ander lande voorberei. Na die Eerste Wêreldoorlog het demokratisering nuwe stukrag met die val van talle monargieë gekry. Van die onafhanklike state was ʼn totaal van 29 demokrasieë. In die 1930’s was daar ʼn outokratiese teengolf (met slegs 12 demokrasieë in 1942), om dan na afloop van die Tweede Wêreldoorlog na die tweede demokrasiegolf oor te gaan, wat veral op die Derde Wêreld met hulle dekolonisering van toepassing was. In die 1960’s was daar 39 demokrasieë, maar ook ʼn klein teengolf met verskeie staatsgrepe van die pas bevryde lande.

Die derde golf het in die middel 1970’s begin toe die regse bewinde in Portugal, Griekeland en Spanje getuimel het. Dit het sy uitwerking op Latyns-Amerika gehad, waar daar in die 1980’s een na die ander regse militêre bewind geval het. In die tyd van 1989-1991 het die derde golf sy kruin bereik met die val van kommunisme in die Oosblok, maar ook van verskeie eenpartydiktatorskappe in Afrika asook enkele militêre bewinde in Asië.

Na 2000 was daar ook ʼn reeks revolusies in die opvolgstate van die Sowjet-Unie: 2003 se sogenaamde Roos Revolusie in Georgië, die sogenaamde Oranje Revolusie in die Oekraïne in 2004 en die sogenaamde Tulpe Revolusie in Kirgistan in 2010.

Die sogenaamde Arabellion van 2010/2011, ook bekend as die Arabiese Lente, is eers as die begin van ʼn vierde golf beskou, wat die laaste streek wat nog feitlik geheel en al outokraties was, naamlik die Midde-Ooste (insluitende Noord-Afrika), sou demokratiseer. Dit het egter onmiddellik tot ʼn terugslag gelei en net enkele lande het ten minste gedeeltelik gedemokratiseer. Armenië kan hier as uitsondering genoem word, waar in 2018 massabetogings die outokratiese en korrupte regering omvergewerp het. Soedan was voorlopig die laaste land waar in 2018/2019 ’n volksopstand tot die val van ʼn wrede diktatorskap gelei het.

Sedert 2019/2020 wil dit egter voorkom asof daar weer ʼn antidemokratiese teengolf aan die kom is: die massabetogings in Hongkong teen politieke inmenging vanuit China het die hoop laat opvlam dat dit dalk na die res van China kan oorspring en die bloedige onderdrukte revolusie van 1989 sou voltooi. Dit is egter na aanvanklike terughouding meedoënloos deur die kommunistiese bewind onderdruk. Hongkong se outonome status is weggevat, sonder veel protes uit die res van die wêreld. Dis asof die outokrate en diktators, in hulle meerderheid met sosialistiese neigings, daarna ʼn vrye hand gehad het. In Venezuela, Nicaragua, Wit-Rusland, Rusland, Iran, Thailand, Birma en heel onlangs in Kuba is volksopstande of massabetogings suksesvol onderdruk. Ook in Turkye word die opposisie teen die langdurige Erdogan-bewind kortgevat.

In die tweede deel kyk ons meer indringend na moontlike redes vir die huidige terugslag vir demokrasie en vryheid en die rol wat die internet en tegnologie daarin speel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
CA

Mens sou seker ook moet aandag gee aan “golwe van demokratisering” in die vorm van regime-change aangehits en/of uitgevoer deur die Weste, bv. Libië wat nou so suksesvol demokraties is dat die land glad nie meer funksioneer nie. Maar ten minste is die “wrede diktatorskap” – wat bv. vir die hoogste geletterdheid in Afrika gesorg het – nou weggespoel…