Die Groenes op die afdraande pad

Tydens ‘n perkonferensie van die Groenparty op 7 November 2022 (Foto: Soeren Stache/dpa/dpa Picture-Alliance via AFP)

Dat politieke partye se steun en sukses wissel soos die waarde van aandele op die aandelebeurs is eintlik ʼn bekende feit. Daar is egter ook partye wat in lyn met die tydsgees is en daarom van sukses tot sukses voortstoom.

So ʼn party is die Groenparty in Duitsland, wat ʼn verskynsel van die Weste en spesifiek Duitsland se wegbeweeg van geloof, patriotisme en tradisionele waardes en heen na omgewingsbeheptheid en multikulturalisme is. Terwyl die sosialistiese partye ʼn duidelike knou gekry het met die val van die ystergordyn, het die Groenes as verskynsel van die postmodernisme gebaat by die einde van die groot realpolitieke vraagstukke en mense se bemoeienis met omgewing, gesonde leefstyl en eiegeregtigheid.

Daarby kan nog gevoeg word dat die meeste meningsvormers teenoor die Groenes gunstig gesind is en die hoofstroommedia hulle beleid propageer en hulle leiers in ʼn positiewe lig stel. Altans, dit was vir lank so. Tans loop dinge nie meer so goed vir die Groenes nie, en dit het daarmee te doen dat die party nou sy derde fase binnegaan, die van beginnende korrupsie en verlies aan glans.

Elke party of organisasie gaan gewoonlik deur die drie fases: die eerste fase is die ontstaanstyd met sy opgewondenheid en idealisme, maar ook gisting en binnegevegte. Die Groenes het dit veral in die 1980’s gehad: hulle was nuut en vir ʼn aansienlike groep kiesers aantreklik en anders as die vervelige hoofstroompartye. Hulle lede en ampsdraers was egter ook ongedissiplineerd en verskeurd tussen vleuels en het die meeste energie teen mekaar gebruik. Vir ander partye was die Groenes nie aanvaarbaar as koalisievennote nie. Dit het uitsluiting van die mag en die onvermoë om beleid uit te voer beteken.

Dan volg die tweede fase; die van vernuwing en professionalisering met ʼn gematigde leierskap en meer pragmatiese beleidsrigtings, wat tot algemene aanvaarding, wye steun en deelname aan regerings lei. In die tweede helfte van die 1990’s het dit vir die Groenes begin en hulle is intussen op alle vlakke in regeringsposisies en vir alle ander partye intussen as koalisievennoot aanvaarbaar. Die deelname aan die mag lei egter ook tot die opkoms van beroepspolitici vir wie mag ʼn doel op sigself is. So begin die derde fase van beginnende korrupsie, waar ideale en beleid net nog tweederangs is. Die ANC is byvoorbeeld reeds volledig in die fase. Die Groenes het moontlik so pas hierdie fase betree.

Die konkrete gebeurtenis was dat in die departement van ekonomiese sake en klimaatbeskerming, onder beheer van die groen-medialiefling Robert Habeck, korrupsie en familiebesigheid teenwoordig is. Dit was wel nie Habeck self nie, maar een van sy twee staatssekretäre (ʼn soort adjunkminister), Patrick Graichen. Hy het sy beste vriend in ʼn hoë posisie aangestel en regeringstenders vir ʼn nieregeringsorganisasie waarin sy suster ʼn leidende rol speel, gegee, onder andere. Graichen is intussen gedwing om te bedank nadat Habeck eers sy hand oor hom gehou het.

Die Groenes oor die algemeen word ook toenemend ongewild in die bevolking met hulle obsessie om Duitsland se fossiele energieverbruik ten alle koste te verminder en om almal te verplig om hulle verwarmers ten hoë koste te vervang. Ook op ander terreine, soos die onbeheerde instroming van migrante wat vir die Groenes ʼn beginselsaak is, is hulle toenemend uit tred met die wil van die meerderheid.

Die Groenes se steun daal nou geleidelik. Dit was op sy hoogtepunt sowat ʼn jaar gelede op 24 %, nou is dit net 16%. ʼn Onlangse streeksverkiesing in Bremen, een van die Groenes se vestings, het dit pynlik bevestig dat selfs jong middelklas stedelinge die Groenes nie meer onvoorwaardelik steun nie.

Intussen gaan die antipode van die Groenes, die Alternative für Deutschland (AfD), in peilings van krag tot krag en staan tans op 17%. En dit, anders as in die geval van die Groenes, as verfoeide buitestanders sonder enige steun uit die gevestigde orde of van die meningsvormers. Die AfD is, anders as die Groenes, egter nog in die bo beskrewe eerste fase en nog vêr van enige werklike mag en invloed af.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Snot ·

Hoe gouer die AfD in ʼn magsposisie kom, hoe beter vir Duitsland en die res v Europa.

Anna-marie ·

Hulle sal nooit toegelaat word om ‘n verkiesing te wen nie. Daarvoor sal die Geldmag sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.