Die gronddebat by die ANC-beleidskonferensie

Boere wat sukkel om van die uitslag van die gronddebat by verlede week se ANC-beleidskonferensie sin te maak, moet nie sleg voel nie. Na vier dae van intense bemoeienis ter plaatse, is ek daarvan oortuig dat niemand in die ANC volkome begryp hoe die nuwe rigting waarop besluit is, se skroewe op die boute pas nie.

Die gesprekke en terugvoer het sterk herinner aan die sprokieskarakter wat geargumenteer het dat hy sy woorde kan laat beteken net wat hy wil, omdat hy die skepper en eienaar daarvan is. Dit was juis die betekenis en inhoud van die terme wat in die gronddebat rondgeslinger is, wat meer as net die landbougemeenskap verwar.

President Zuma het reeds in sy openingsrede verklaar dat die vrywillige verkoper-beginsel hersien moet word. Senior leiers het daarna verkondig dat die ANC vir niks minder as onteiening sal skik om die grondhervormingsproses te bespoedig nie. Eise vir groter staatsingryping in die grondmark, asook nasionalisering het in elke debat opgeduik. Daarbenewens het die jeugliga en hul trawante skuim-om-die-mond en vuis-in-die-lug op ontneming sonder vergoeding, die wysiging van artikel 25 (die eiendomsklousule) van die grondwet, die heropening van grondeise en die terugdatering van die 1913-afsnypunt aangedring.

‘n Ferm besluit en herhaalde verbintenis deur die mees senior leierskap, om nie die grondwet vir doeleindes van grondhervorming te verander nie, was die belangrikste deurbraak in die gronddebat. Die rol en leierskap van Adjunk-president Motlanthe, landbouminister Joemat-Petersen en grondsakeminister Nkwinti, in hierdie werkgroep moet nie gering geskat word nie. Ook nie die politieke risiko’s wat hulle daardeur loop nie.

Oor al die ander agendapunte is daar soveel warm en koud geblaas, dat implementeerbaarheid ernstig gekniehalter word. In 2007 is daar in Polokwane reeds ‘n resolusie aanvaar dat die vrywillige verkoper-beginsel geskrap moet word, wat ‘n vraagteken oor die “hersiening” daarvan hang. Geen twee ANC-leiers het dieselfde verduideliking gegee oor presies wat daarmee bedoel word nie. Die meeste voorsien dat dit meer gereelde onteiening in die grondeise- en herverdelingsprosesse sal meebring.

Alle lande het onteieningsbevoegdhede – dit is niks nuut nie. In grondhervorming is die wetgewing egter nog net twee maal gebruik; eers toe die Lutherse kerk op ‘n hoër waarde vir hul Barkley-Wes plaas aangedring het, en om die veiling van ‘n plaas naby Hoedspruit te keer. Onteiening kan in vele opsigte ‘n beter meganisme vir grondeienaars wees wat dikwels jare lank die slagoffer van administratiewe rompslomp is. Dit is vinnig, skoon, deursigtig, laat minder ruimte vir bedrog en selfverryking deur amptenare, en die hof bepaal die prys. Dit is grondwetlik, en beskerm juis ook die grondeienaar se belange.

Maar tot op die laaste dag het die jeugliga op onteiening sonder vergoeding aangedring, en uiteindelik seëvierend uitgestorm gekom toe ‘n besluit geformuleer is dat dit wel voltrek kan word in gevalle waar grond onwettig bekom is. Aan hulle jillende, toi-toiende steunbasis verduidelik hulle dat alle grond deur witmense van swartes gesteel is, en dus sonder vergoeding onteien kan word. Hulle sal egter ‘n geval voor die hof moet bring van ‘n huidige grondeienaar wat in hulle terme sy grond onregmatig bekom het.

Daar is van hulle. Daar is ‘n groot aantal titelaktes wat oor die afgelope paar jaar onregmatig in die aktekantoor uit staatsbesit oorgedra of “gesteel” is, omdat die staat nog geen oudit van sy onroerende bates gemaak het, en dus nie weet wat hy alles besit nie. Niemand sal gou agterkom as daardie grond van eienaarskap verwissel nie, en daar is tans ‘n omvattende ondersoek na die soort korrupsie in die grondsakedepartement. Die meer redelike deel van die ANC se kongres het dit in gedagte gehad toe die onteiening-sonder-kompensasiebesluit geneem is.

Daar is ook heelwat oor die groenskrif oor grondhervorming gedebatteer. Die dokument onder bespreking was weliswaar nie die nuutste weergawe nie, maar ‘n knip-en-plak sameflansing van die oorspronklike weergawe wat in 2010 uitgelek het. Daar word nog magte soos prysvasstelling aan ‘n waardeerder-generaal toegeken wat waarskynlik nie die toets vir grondwetlikheid sal deurstaan nie, en wat reeds in die inklusiewe nasionale verwysingsgroep wat aan die groenskrif skaaf, afgekam is. Die ANC is ook nog verknog aan die konsep van grondplafonne, wat die grootte van plase in privaatbesit moet beperk.

Dit wil allerweë voorkom of die klok vir onbevange buitelandse aankoop van plase gelui het, alhoewel dit minder as 1% meer grond vir herverdeling beskikbaar sal maak. Die meer as 30% staatsgrond moet ook produktief aangewend word, is gesê. Die konsensus by die 2005 Grondberaad dat ‘n behoorlike oudit van grondeienaarskap gedoen moet word, wat ook as resolusie by die ANC se 2007-kongres aanvaar is, is bevestig, en daar is belowe om dit teen Desember afgehandel te hê.

Die vertrekpunt dat die grootste rede vir die slakkepas in grondhervorming opgeblaaste grondpryse, eerder as korrupsie en onbevoegde amptenare is, was die fondasie van die debat. Boere moet hulle regmaak vir meer van hierdie aalwynsap oor die volgende ses maande tot die Mangaung-kongres. Grondpryse gaan voortaan aan die kern van die konflik oor grondhervorming staan, wat ook niks goed vir landboubeleggings en –finansiering inhou nie.

Oor presies hoe hierdie voorstelle werkbaar en volhoubaar beslag moet kry, was daar geen bespreking gevoer nie. Selfs die konsensusbesluite op die kongres is niks meer as konsepbeleid nie – dit moet nog eers in Desember in Mangaung deur die ANC se kongres as resolusies aanvaar word. Daarna moet dit in wetgewing beskryf, en deur die parlement gevoer word. Dit is ‘n omvattende proses waartydens daar ook weer ruim geleentheid vir openbare insette is.

Dit is juis waarin die grootste bedreiging vir eiendomsregte gesetel is – die afwesigheid van belanghebbendes in die besprekingsproses. As die gronddebat in die ANC die enigste stem oor die onderwerp is, sal daar swaar tye vir landbou, en trouens vir die hele ekonomie voorlê. Maar dit is nie, en noudat die ANC sy hand gewys het, lê daar ‘n verantwoordelikheid by die burgerlike samelewing om daarop te reageer, en mede-argitekte van ‘n toekomstige grondbedeling te word.

Daar was wilde aansprake en eise wat enige boer te bloed laat kook. Daar was veral voorstelle oor grondgryp wat enige redelike mens kon sien sal lei tot die vernietiging van kommersiële landbou, nasionale voedselsekerheid en beleggersvertroue. Maar die stem van redelikheid het telkens bo die geskreeu uitgeklink, en was deurentyd herkenbaar in die taal waarin besluite geformuleer is. In die spanningsveld wat tussen verwagtinge en die haalbare geskep is, het ons elke dag asem opgehou oor watter drukgroep in die bespreking die oorhand sou kry, en maar gehoop dat die redelikes in die meerderheid is.

Want as die meerderheid Suid-Afrikaners oor die grondkwessie nie redelik is nie, het ons nog nooit ‘n toekoms hier gehad nie.

Boere wat nou nog oor die Kodesa-onderhandelinge mor, en vra of die 1996-grondwet die beste ooreenkoms was wat vir die beskerming vir eiendoms- en ander regte beding kon word, moet hulself afvra wie nou die swaarste daarop leun, en wie dit die graagste wil verander. Die gronddebat is ver van oor, en aan alle kante van die saak sal saamstaan en aktiewe betrokkenheid deurslaggewend wees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Die een saak wat by die ANC-beleidskonferensie sekerlik as redelik eendragtig na vore gekom het, ten spyte van die warboel in vertolking wat geheers het en die uitspattigheid waarin onderwerpe in meeste gevalle gedebatter is, is dat die blankes ten alle koste geteiken was.

Solank die blankes deurlopend die teiken van die ANC en Afrikane bly, sal enige poging tot versoening en begrip vir mekaar, nooit kan gedy nie.

Tans het die ANC grootliks die hef in die hand om ‘n klimaat te skep waarbinne versoen kan word en waarbinne groot begrip vir mekaar gekweek kan word. Die blankes is deurgaans steeds bereid tot versoening maar blyk dit die tyd besig is om uit te loop en verdof enige poging tot versoening. Wie gaan die grootste prys betaal wanneer die lot bepaal moet word ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.