Die Grondkwessie sal bly – met of sonder die ANC

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Deur Jeannette Gnade

Die ANC se grondberaad in Boksburg aan die Oos-Rand is ’n tasbare bewys dat die party onteiening sonder vergoeding nou in die hoogste rat wil hanteer.

Daar is besluit dat die Grondwet se gewraakte artikel 25 – die eiendomsklousule – streng getoets moet word teen die voorneme om grond by sekere landsburgers weg te neem en dit onder die sogenaamde grondhongermassa te verdeel. Dit is steeds onseker of dit deur middel van huurpag of volledige titelaktes gedoen sal word. Die ANC kan soms baie vaag wees oor die fyner besonderhede.

Wat wel op die beraad duidelik geword het, is dat die ANC besef het dat verskeie regeringsinstellings met herverdeling en hervorming gesloer het.  Soos president Cyril Ramaphosa dit gestel het: Die grondkwessie was te lank in watte toegedraai en baie foute en misstappe is begaan. Oudpresident Jacob Zuma was ook op die beraad, maar het nie laat blyk of hy verantwoordelikheid vir dié toedrag van sake neem nie. Ramaphosa was verheug omdat die ANC in sy geheel nou na onteiening kyk en dit nie langer net die onderwerp van faksieverskille in die party is nie.

Die organiseerders van die beraad het moeite gedoen om kundiges uit te nooi, en hulle kon op al die kwelvrae antwoord. Daar is byvoorbeeld voorgestel dat nuwe wetgewing oor onteiening sonder vergoeding goedgekeur word omdat die Grondwet nie werklik ’n hindernis is nie. Die beraad was hoofsaaklik net ’n voeler – waarskynlik om die stand van eenheid in die ANC te bepaal en alle besluite en aanbevelings is vir bekragtiging na die Nasionale Uitvoerende Komitee verwys.

Wat die grondberaad egter duidelik aan die lig gebring het, is die groot vraagstuk wat heers oor gemeenskaplike grondbesit.  Oudpresident Kgalema Motlanthe het die vlam aangesteek met sy opmerking dat die regering nie as ’n gyselaar aangehou moet word deur tradisionele leiers wat selfs op grond aanspraak maak wat nie aan hulle behoort nie.

Die sogenaamde “blikkiediktators” waarna hy verwys het, het luidkeels gekla en dit was weer die president wat gemoedere moes kalmeer. Motlanthe se hoëvlakpaneel na grondherverdeling en -herstel het taamlik onlangs aanbeveel dat die Wet op die Ingonyama Trust – wat deur die Zoeloekoning beheer word – herroep of gewysig moet word. Daar is bevind dat die Trust die mense wat hy moet beskerm, in werklikheid van hul grondregte ontneem.

Daar is voorgestel dat ’n spesiale beraad met tradisionele leiers oor gemeenskaplike grond gehou word. Dié ANC gaan sukkel om stemme in dié gevestigde heerskappy te werf. ’n Stamleier se grond is immers ’n bewys van sy gesag.

Die grondkwessie gaan lank nog ’n vraagstuk bly. Dit is uiters kompleks en waarskynlik nie iets wat die swakkerwordende ANC in sy tyd met sukses gaan oplos nie. Daarvoor is die party se bestuursrekord te wankelrig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

anton ·

Die bestaan van Tradisionele Leiers is is ‘n blok aan die been van die ANC. In 1994 het hulle vir die ANC gestem op voorwaarde van behoud van hul gesag. Feitelik maak hulle dus geen deel uit van die RSA nie. Hulle word selfs nou en dan beloon (‘nbul of ‘n BMW) vir hul ondersteuning van die bestaande bedeling deur die ANC-regering .
Ek wonder of iemand weet hoeveel % van die land se oppervlak deur hulle beheer word ? Ek dink dat Orania ook as ‘n onafhanklik ‘tradisioneel ‘ gebied kwalifiseer.

Eish ·

Hier kom n baie, baie lang en bloedige geveg met tradisionele leiers.

Johanna Botha ·

Ag van ek kan onthou is die en soortgelyke gesprekke dag na dag oor gepraat …sal nooit verander nie want nooit sal almal tevrede wees as buig mens ook hoe om almal te probeer gelukkig hou …

John ·

Nee. Dit is presies wat die ANC wil he ons moet glo: Dat die gewone mense nagte wakker le en wroeg oor grond in die besit van Afrikanerboere en dat die regeing bloot help om die probleem op te los. Van ons mense val vir die grap en glo elke woord van die ANC-dubbelspel. CR sit sy veldtog teen die witmense voort wat in 1994 gewettig is. Daar word op die reinkarnasie van Mandela as simbool gehoop wat so baie mense betower soos die inherente mandala soos van oudsher. Moenie die woorde verwar nie… dis dodelik gevaarlik.

Veritas ·

Waarvan die ANC nie hou nie, is die feit dat tradisionele leiers se woorde meer gewig dra as dié van politici. Afrika tradisie is sterk ingewortel by die meerderheid inwoners van die sogenaamde landelike gebiede. Hierdie mense worstel met die term ‘demokrasie. Vir meeste van hulle is dit ‘n westerse begrip wat nie in Afrika tuishoort nie. Sonder die steun van tradisionele leiers, sal die ANC regering nie die komende verkiesing wen nie en hulle besef dit alte goed. Om hierdie rede sal daar met grondhervorming gesloer word totdat die 2019 verkiesing verby is.

Sarie ·

Ek lees nou Verwoerd se laaste toesprake soos opgeteken deur sy seun en dis presies wat hy sê moenie inmeng met hoe hulle regeer nie. Hy was ook ‘n sterk voorstander dat hulle tale onderrigtale moet word.

Jerry ·

Stem saam dat die grondvraagstuk n kwessie sal bly, veral in Kwazulu. Titelaktes word egter alreeds uitgedeel in ander dele van die land en aanduidings uit die gesprekke is dat eiendomsreg hier is om te bly. Die forum kan dus ophou om bangmaakstories te versprei oor onteiening sonder vergoeding, hier en in die buiteland.

Paul ·

Jy mis die punt, die ANC sal by die wit mense en boere begin om eerste grond weg te vat om hulle te sus, maar dit sal baie grond wees.

Hulle stel nie in landelike gebiede belang nie, maar dit sal teenaan dorpe en in stede, daar waar die infrastruktuur reeds bastaan, wees. Die dorpe sal ‘n toetentaal ander karakter kry, meeste, by verre het al gekry. Die DA wil dan juis nie meer HOP huise laat bou nie, maar daardie gebiede in Townships omskep. 100 vir die DA! Ek het ‘n idee dat die ANC regering dit nie sal waag om in die trustgebiede in te gryp nie. Weet jy hoeveel grond dit is! Nee jy weet nie. Hulle toets net en mobiliseer.

Vesrtaan eers die begrip ‘grond’ en wat dit vir die ‘Landlords’ of feodale opset in die land beteken.

Weet jy ooit in watter gebiede, waar en hoeveel grond die heersers besit? Hulle beheer effektief die stemme in die land.

Paul ·

As ek jou lees kom die woord houtskool by my op, tot as verbrand, Grafiet? Nee, verseker nie, want diamand is dit nie. Jy het al ‘n keer of so baie positief geskryf, dan voel mens jy kan die voortou neem, maar meestal slaan die haat deur, so 99%. En dan kom die woord kapittel by ny op. Ek vir jou, of jy vir die wat jou lees.

Jerry ·

Paul jou kommentaar oor die grondkwessie is tans volgens jou en die forum se opinie 99% in die kol en my kommentaar dalk die ander 1%. Net die tyd sal leer of dit so gaan uitdraai of nie. Dit lyk nie nou so nie, maar wie weet, net dalk word my opinie die 99% en jou en die forum se opinie 1%. Julle opinie baseer julle op die slegste saak scenario en wantroue in die ANC se beleid en op hulle verlede wat die Zuptas insluit. My opinie baseer ek op die toekoms en op die leierskap van CR en sy goeie intensies om politieke stabiliteit te herstel deur die onreg van die verlede reg te stel sonder om die grondwet te verander en sonder om eiendomsreg met huurpag te vervang (dit is EFF beleid) en sonder om die bevoorregtes wat versoening nastreef te benadeel en ook om terselftertyd die ekonomie op dreef te kry met buitelandse investering en werkskepping vir alle Suid Afrikaners wat werkloos is, wit en swart. CR besef dat grond en titelaktes niks gaan beteken sonder werk nie. My opinie is dat waar daar gemeenskaplike belange is moet ons die direkte benadering volg en mekaar vind, versoen en saamwerk. Waar ons mekaar nie vind nie moet ons die indirekte benadering volg en hard agter die skerms werk totdat ons mekaar kan vind. Deur slegs n direkte benadering van ondermyning te volg speel die forum in die hande van almal wie die forum beskou as opponente.

Paul ·

Jerry, los nou ‘n slag die woord ‘versoen’ uit, dit sal in der ewigheid nooit gebeur nie. Ek kies jou as president van die land dat jy jou beleid kan deurvoer. Ek sal jou eerste toespraak ,waar jy in die stadion vir die menigte verduidelik hoe dit werk, met belangstelling volg.

Die gevolge sal vir hulself spreek, maar soos Zuma sal jy uit die water klim.

Word ‘n realis en gaan lees op die internet wat se twak en woede het nou agv die Ashwin aangeleentheid losgebreek. Dit split die drade wat die land nog aanmekaar hou, mense breek nou vinniger af aan versoening as wat jy besef. Dit help nie jy plak pleisters op nie, begin by die ANC-beleid, by mens vir wie hoop gegee is, vir mense van wie weg gevat is. Begin by die jong mense wat jokke ingeprent is en die waarheid nou so moet ervaar, dat hulle hulself vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.