Die Grondwet en ‘n modus vivendi oor haatspraak

Almal het skynbaar die groot ironie van die Lamont-uitspraak teen Julius Malema misgekyk.

Cilliers Brink

Terwyl Adriaan Basson AfriForum verwyt het vir sy aktivisme in die hof – omdat dit kwansuis bydra tot ʼn ghettomentaliteit onder Afrikaners – het dit eintlik die teenoorgestelde bereik.

In plaas daarvan om onnodige vrese by Afrikaners te ontlok, het dit bestaande vrese besweer. Diegene wat gewoonlik afsydig staan teenoor die Grondwet, die vernaamste simbool van ʼn verenigde Suid-Afrika, is deur AfriForum se sukses hoop gegee dat hierdie dokument tog ewewigtig toegepas kan word.

Prof. Koos Malan van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans het egter nie hierdie ironie misgekyk nie. By laasweek se FAK-simposium oor die Lamont-uitspraak was die prof, wat sy organisasie in die saak verteenwoordig het, maar bra skepties oor die hof se verbod op ‘skiet die Boer’.

Dis veral die Grondwet-optimisme wat AfriForum se hofsege onder meeste gewone Afrikaners losgelaat het, wat die prof kwel. En dis te verstane. Vir jare reeds werp hy sy indrukwekkende intellektuele kragte in die stryd teen die ‘evangelie van die Grondwet’, welke grondwet hy in elk geval glo sonder magtiging deur FW de Klerk en die Nasionale Party onderhandel is.

Die legitimiteit van die Grondwet hang ten dele af van die vermoë daarvan om verskillende lewensbeskouings en -ervaringe vreedsaam in een samelewing te akkommodeer, en dis waarop AfriForum hom oënskynlik beroep.

Maar Malan hou vol dat die Grondwet geen hoop bied nie. Inteendeel, hy glo dat dit bietjie van ʼn Trojaanse perd is; dat vertroue daarop ʼn truuk is om minderhede afhanklik te maak van staatlike gesag en hulle dan geleidelik te dwing om tot ʼn eendragtige staatlike identiteit te konformeer.

Hy maak ook die punt dat vertroue op grondwetlike gesag mense tot politieke passiwiteit sus. In plaas daarvan dat landsburgers brandpunte onder mekaar uitpraat, moedig die Grondwet hulle aan om hierdie kwessies uit die politieke arena hof toe te sleep, onder die waan dat dit soos eenvoudige regsgeskille beslis kan word.

Teen hierdie agtergrond is Malan se kritiek op AfriForum – in amuserende teenstelling met dié van Adriaan Basson – dat die organisasie sy saak te sterk baseer op die universele beginsels van die Grondwet en te min doen om die besonderse saak van Afrikaners op te neem.

Hy het AfriForum by die simposium laat weet dat die verbod op ‘skiet die Boer’ uiters moeilik sal wees om af te dwing juis omdat die onderliggende “intergemeenskaplike geskil” nie vatbaar is vir die tipe oplossing wat die Grondwet bied nie. Eerder as om mekaar as partye in ʼn hofgeding te ontmoet, moet Afrikaners en swart mense, soos Malan die kampe afbaken, ʼn modus vivendi bereik.

Maar die voorstel van ʼn skikking in die saak is niks nuuts nie. Trouens, AfriForum het homself gedurende die verhoor bereid verklaar om so ʼn skikking te bereik, maar die ANC-Jeugliga het hierdie hand weggeklap.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger wat ook by die simposium was, is reg dat litigasie en die soeke na ʼn modus vivendi tussen die strydende partye mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Indeendeel, dalk maak sy nederlaag in die Lamont-hof die ANC nou meer lus om te praat.

Opmerklik het Malema nog nie weer die gewraakte kreedlied openlik gesing nie, en sy retoriek selfs versag in die naloop van die uitspraak. Dit kom dus voor asof die hof wel daarin slaag om die aanhitsing van rassegeweld – wat tog die kruks van die saak is – ten minste tydelik in bedwang te hou. Van die martelaarstatus wat so ‘n uitspraak glo aan Malema sou verleen het ook nie veel gekom nie.

Malan se aanmaning teen oormatige geloof in enige staatregtelike gesag bly geldig. So ook sy kritiek op die neiging om debat oor politieke kwessies te verhoed deur dit hof toe te sleep.

Maar as die toepassing van die Grondwet wel ʼn geleentheid bied tot vreedsame voortbestaan tussen verskillende belangegroepe in ons diverse samelewing, en as die howe genoeg morele gesag in sekere sake het om moeilike beslissings af te dwing, moet selfs die Grondwet se felste kritici hierdie prestasie erken.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Cilliers Brink

Meer oor die skrywer: Cilliers Brink

Cilliers Brink is 'n raadslid in die Tshwane-Metroraad en werksaam as kandidaatprokureur.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

theoprinse ·

Ek stryd al baie jare vir die (her) stelling dat elkeen gelyk is voor die
wet alleen. Maar mede deur die kommunistiese ontwikkeling in Suid-Afrika is
in Nederland artikel 1 Grondwet, gelyke regte en verbod op diskriminasie …
uitgebrei tot die hele kommunistiese samelewing ingevoer. Pim Fortuyn is
mede vermoor deur sy uitspraak op die radio dat hy dit gedrocht artikel wou
ophef. As Republikein stel ek die Wet hoër as die Grondwet. Die Grondwet
hoër as internasionale verdrae soos van Europa of die Verenigde Nasies (van
China en die Organization of the Islamic conference) Ek steun direkteur van
Schie van die Nederlandse Telder stigting.
Aanvullend my opvattings oor diskriminasie, gelyke regte in verhouding tot negatief en positief rassisme, Apartheid, reg op selfbeskikking
http://nl.netlog.com/theoprinse/blog

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.