Die Grondwet: Plegtige akkoord of springplank na groter mag?

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks van vyf artikels wat deur Malan oor die Grondwet geskryf is. Die artikels sal oor die volgende vyf weke elke Donderdag op Maroela Media gelees kan word.

Twintig jaar gelede, op 2 Februarie 1997, het die huidige oppermagtige Grondwet te midde van groot opwinding in werking getree. Dit was die finale voltrekking van die grondwetlike onderhandelings van die voorafgaande jare. Die Grondwet het die letter en gees van die plegtige ooreenkoms wat tussen die eertyds strydende partye bereik is, geboekstaaf. Dit het die epogmakende nuwe tydvak van vrede en stabiliteit ná die uitgerekte stryd in Suid-Afrika ingelui. Voortaan sou hierdie plegtige akkoord die bindende en oppermagtige raamwerk wees ingevolge waarvan alles in Suid-Afrika gedoen word.

Baie dinge het die oënskynlike omvattendheid en oppermag van die Grondwet as finale akkoord ondersteun. Die Grondwet bepaal immers self dat dit oppermagtig is en dat wat ook al gebeur, daarmee moet strook. En die Grondwet bepaal tog self dat dit baie moeilik is om dit te wysig. Ons het boonop deur die Waarheids-en-versoeningskommissie die aaklige boeke van die stryd van die verlede toegemaak deur te bely, te versoen en ʼn nuwe skoon begin te maak.

Waarborge en verskansing

Bowendien laat die Grondwet niks te wense oor nie. As handves van verskanste, gewaarborgde regte (sic die bykans evangeliese taal) beskerm dit al ons belange. Die Grondwet maak voorsiening vir ʼn kragtige, onafhanklike en onpartydige regbank en ál die nodige remme en teenwigte is daarin verskans. Daar is dus alle rede om dit as ʼn omvattende, oppermagtige en finale ooreenkoms te beskou en te respekteer. Niks hoef (en sal) daaraan toegevoeg of daarvan weggeneem word nie. Dit is ʼn omvattende regstaat.

Al wat na dese gedoen moes word, was om getrou aan die plegtige grondwetlike akkoord uitvoering te gee. Om dit te doen, moes die ware oorspronklike bedoeling van die bepalings van die akkoord net bepaal en toegepas word.

Hierdie sienswyse van die Grondwet as ʼn plegtige, volledige en onherroeplike akkoord is wyd gehuldig, verkondig en geëggo. Dit was die sienswyse van toonaangewende politici soos oudpres. FW de Klerk en voorste grondwetlike juriste soos prof. Marinus Wiechers, ondersteun deur die gevolg van ʼn menigte.

Regstaat, nie die ANC nie, swaai die septer

Net so oortuigend is daar geglo dat die Grondwet die oppergesag die ANC, hoe sterk dit ook al mag wees, aan bande kan lê. Trouens, daar is selfs geglo, ten minste tot kort gelede nog, dat die grondwetlike oorgang van die middel 1990’s nie die tydvak van ANC-mag ingelui het nie. So verwerp Dave Steward byvoorbeeld Hermann Giliomee se sienswyse dat die NP en De Klerk mag volskaals aan die ANC oorgedra het. Nee, sê Steward, De Klerk het nie die mag aan die ANC nie, maar aan ʼn nuwe, soewereine Grondwet oorgedra. Die regstaat regeer; nie die ANC nie.

Die NP se grondwetlike onderhandelaars het klaarblyklik ook nie verstaan dat hul partye in ʼn hewige magstryd was nie. Hulle het gedink dat hulle saam met die ANC werk om werklik gemene grond vir ʼn permanente grondwetlike akkoord te vind. Dienooreenkomstig het hulle, hul ANC-opponente as vennote en in toenemende mate as vriende beskou, terwyl die ANC daarenteen die onderhandelings as ʼn nuwe oorlogsfase gehanteer het.

Vandag weet ons almal ons wyd geprese wêreldklas Grondwet is in woeste vaarwaters. Die akkoord is besig om weg te spoel. Wat die oorspronklike bedoeling van die bepalings was, weet nugter meer en as iemand dit wel weet, is daar blykbaar geen erg om daaraan uitvoering te gee.

Grondwet is swak; nie oppermagtig

Die waarheid is dat die Grondwet inderdaad nié ʼn epogmakende akkoord was nie. Dit was allermins so finaal soos wat geglo en verkondig is. Dis allermins die “finale Grondwet”, soos daar dikwels na die grondwet verwys word.

Inteendeel, die gewaande oppermagtige Grondwet is hoogs tydelik en veranderlik. Dit is die produk van die kragte wat geheers het toe dit aanvaar is en die voortspruitende betekenis en funksionerende inhoud daarvan is eweneens die weerspieëling van die veranderde politieke kragte wat sedert die aanvaarding daarvan ontplooi het. Die Grondwet is dus nie outonoom, oppermagtig en finaal nie. Dit is deurlopend aan heersende en veranderende politieke kragte uitgelewer.

Die politieke kragte maak eenvoudig baie van die bepalings van die Grondwet ongedaan. Ander kere gee dit ʼn betekenis aan bepalings wat vroeër nooit voorsien is nie. Die bepalings mag dalk in die Grondwet te lese wees. Dog, die oorspronklike bedoeling van die Grondwet, vir sover dit hoegenaamd ooit vasstelbaar was, is ʼn nouliks hoorbare en irrelevante refrein in die verte.

Dit is trouens die geval met alle grondwette. In Suid-Afrika is die politieke kragte egter besonder kragtig en onstuimig. Die sterkste van die kragte kom uit die geledere van die ANC en sy twistende faksies: nasionaal-demokratiese rewolusie (NDR) transformasie, dekolonisasie, radical economic transformation (RET), die groot geveg teen die hardnekkige boosheid van white monopoly capital (WMC) en ʼn rits ander. In die aangesig van die ideologie van transformasie is die oppermagtige grondwetlike akkoord soos ʼn tenger skuitjie op ʼn oorweldigende stormsee. Sy wel en wee word deur die stormwaters bepaal.

Dwalende kenners

Talle invloedryke politici, kommentators en grondwetkenners het geen begrip hiervan nie. Hulle plaas ʼn buitensporige hoë, maar oplaas naïewe vertroue op die vermeende oorspronklike bedoeling van die gewaande oppermagtige Grondwet en glo in politieke maghebbers se onderdanigheid aan die Grondwet as ʼn vaste gegewe. Hulle vertroue op die Grondwet is so allesoorheersend dat hulle beswaarlik die ontwrigtende werking van politieke kragte kan begryp.

Dié geloof is naïef, vals en gevaarlik. Te midde van gevaarlike bedreigings wek dit die behaaglike indruk van stabiliteit en beskerming van gewaande regte: Wees vol vertroue die beskermende hoër hand van die oppermagtige Grondwet is in beheer.

Die ware toedrag van sake is radikaal anders. Grondwette is die produk van politieke stryd, dikwels in die vorm van ʼn mengsel van vulgêre geweld en brutale dwang by die onderhandelingstafel. Die grondwet wat hieruit voorspruit, is nie die resultaat van vrywillige eenstemmigheid nie. Dit is die notule van die magsverhoudings tussen die partye wat in die stryd gewikkel was. Dié magsverhoudings is onstabiel en veranderlik.

Hulle verander – soms vinnig en drasties – en in pas daarmee verander die konstitusie saam. Bestaande betekenisse van die grondwet word met ander vervang en sommige raak kragteloos. Sommige belange wat oënskynlik veronderstel was om deur die grondwet beskerm te word, verval. Daarenteen word nuwe doelwitte wat oënskynlik glad nie met die grondwet vereenselwig is nie, kragtig bevorder. Van ʼn stabiele en standhoudende regstaat is daar geen sprake nie.

Die “grondwetlike akkoord” wat in die huidige Grondwet tot uitdrukking gekom het, was eweneens die produk van onderhandeling en van ʼn hewige stryd, al het die NP se onderhandelaars kinderlik geglo dat hulle met hul ANC-opponente soos vriende aan die bereiking van ʼn gemeenskaplike oogmerk werk. In die laaste jare voor die akkoord het hierdie stryd, onder meer behels die stryd tussen die veiligheidsmagte en insurgente onder aanvoering van die ANC, die burgeroorlog hoofsaaklik in KwaZulu-Natal tussen die ANC en Inkatha, die gedwonge ontseteling van die tuislandsregerings, halsnoermoorde en dergelike uitspattige geweld in die swart woonbuurte in wat Anthea Jeffrey as People’s War beskryf.

Geen bindende akkoord of oppermagtige Grondwet

Ná die bereiking van die akkoord wat ons as die huidige, en finale, Grondwet ken, het die stryd politieke stryd nie verdwyn nie. Die ANC het die politieke mag wat hy danksy die Grondwet verskry het, gebruik om sy posisie te konsolideer en in oorlog van opeenvolgende fases na die volgende doelwit begin marsjeer.

Die ANC het derhalwe nooit die Grondwet as ʼn finale bindende ooreenkoms gesien nie. Trouens, hy het dit oor dekades self in sy eie strategiese dokumente uitgespel. Ernstige kommentators, dit wil sê, nie diegene wat die Grondwet as oppermagtig en ʼn soort finale einde van grondwetlike ontwikkeling geglo het nie, het dit ook uitgewys. Onlangs het prof. Pierre du Toit en sy medewerkers in South Africa and the Case for Renegotiating the Peace dit weer uitgeklaar. Vir die ANC was die Grondwet ʼn tussentydse oorwinning op pad na die uiteindelike oorwinning – ʼn springplank na groter mag.

Die ANC se doelwitte was egter veel meer ingrypend. Dit is om aan die hand sy transformasie (NDR)-ideologie:

  • beheer oor alle determinante en hefbome van mag te verkry;
  • ekonomiese bates vir homself toe te eien (en soos hy wil uit te deel) en
  • kulturele eenvormigheid af te dwing en taal- en kulturele diversiteit uit die pad te kry.

Na mate die ANC sy posisie versterk kan hy soos die onlangse geskiedenis getoon het, hierdie doelwitte stapsgewys verwesenlik, en die Grondwet ter bereiking hiervan aanwend.

Die Grondwet is nie die plegtige akkoord en oppermagtige regstaat wat hom in die bereiking hiervan aan bande lê nie. Inteendeel, die Grondwet het die pad hiervoor vir die ANC voorberei.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

JC ·

Kom ons wees nie naief nie, op die keper beskou is die bloedbad wat glo verhoed is in 1994 net uitgestel na ‘n latere datum.
Ons moet onsself dus weerbaar maak daarvoor, want dit blyk onafwendbaar te wees, en kom gaan dit kom, en niks gaan dit stop nie, dit is reeds in momentum gestel.
Dit laat my dink aan Karel Schoeman se boek oor Olive Schreiner en die Ango-Boere Oorlog, dat hierdie land van ons ‘n geknelde land is en dat dit ” [is] only an anguish to live here”; maar daarmee het ons Afrikaners/Boere lank reeds mee vrede gemaak. ‘n Nuwe staatkundige en politieke bedeling is nie meer ver nie maar dit gaan voorafgegaan word deur oorlog en onrus, behalwe indien IETS drasties gebeur.
Ons is wenners in hierdie land van ons en dit is deel van ons murg en been. Ons het al geleer hoe om te lewe en te handel in ONS geknelde land.

MCH ·

Sterk woorde JC, sterk woorde. Daar is elke dag minder, en minder van ons oor ” om te lewe en te handel in ons geknelde land. ”
Die van ons wat reeds gestroop is van menswaardigheid deur BEE, misdaad, uitbuiting, diskriminasie en wat ookal jy die daaglikse stank waarmee die Afrikaner moet leef wil noem, is nie meer lus vir baklei terwyl die Indunas tuis sit nie. Nooit, nooit weer nie. Hier is kopstukrubrieke op Maroela media, uiters beredeneerde, raakvat artikels. Tog, ek kry al meer die persepsie daar daar n stille Afrikanerstem is wat nie meer gehoor word nie. Mense wat die moeras gereduseer het tot menswees van bloot asemhaal en net-net n blip op die hartmonitor. Leierloses wat gelei is tot n bestaan van inploffing. Die hart van die gewone Afrikaner wat net nie meer die prys kan betaal nie. Dit, is die tragiek van die ware gewonendes van die geslepe gierigheid.

MCH ·

Sjoe, dit is n uitstekende artikel! Ek kan geen kommentaar lewer nie, want dit gaan my onkunde ontbloot. Ek wil net die agbare professor versoek om dan ook die uitkomste van hierdie scenario wat Afrikaner oorlewing sal verseker op soortgelyke wyse vir ons uit te stippel asb. Die hele situasie laat my dink aan Jeremia 17:5-9, vers 9: ” Bedreiglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”

wragtig wikus ·

Baie interressante artikel. Dit is insiggewend hoe die grondwet en die destydse onderhandelings gekritiseer word van altwee kante van die spektrum. Ek hoor en lees al jare van kritiek van wit mense en Afrikaners – dat FW en sy span ons uitverkoop het.

Vergelyk dit met die gevoel onder swart mense, veral jong swart mense – en dit is dat die grondwet en die onderhandelinge nie vergenoeg gegaan het nie. Dit lyk vir my asof altwee kante voel hulle onderhandelaars was te swak, onvolwasse vir sulke groot kwessies om sommer net sleg. Daar is mense wat voel dat daar nooit onderhandelinge moes gewees het nie – aan altwee kante van die spektrum.

Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dat die onderhandelaars, val altwee kante, eintlik iets wonderliks reggekry het. Hulle het vir ons tyd gekoop. Tyd om dinge te doen soos opvoeding, werkskepping en om die ekonomie te groei – sodat almal regtig ‘n goeie lewe kan he. Baie daarvan het gebeur, maar groot gedeeltes het nie – en dis vandag die probleem.

Ek dink die krag van die grondwet is erg oorskat. Wette, selfs die grondwet het net krag solank as wat meeste daarin glo en dit eerbiedig As mense eendag besluit om dit nie te eerbiedig nie, is daar nie veel wat die staat daaraan sal kan doen nie. Mense wat honger lei sal enigiets probeer eet, selfs die grondwet en dan later hulleself.

JC ·

Die afwys van Afriforum se taalregte aansoek teen UV se diskriminerende taalbeleid deur die Regters v/d KH, wanneer en indien dit ooit in die KH draai, sal natuurlik meer as voldoende bevestiging van Professor Malan se woorde wees. So ek wag naarstigtelik daarvoor.

Jordaan ·

So het ook die sake oor regstellende aksie (Renate Barnard bv) wat verloor is gewys die sogenaamde regte wat die grondwet kamstig waarborg is maar wankelrig as dit ‘n minderheid se regte is wat ter sprake is.

Oupagrootjie Abraham Johannes Gerhardus Vlakvark ·

Geagte Koos, ‘n Uitstekende artikel.
* Ons moet besef dat GEEN Grondwet of wet perfek is nie. * Enige geskrewe dokument leen homself tot verskeie interpretasies. * Ons leef in ‘n wêreld van reg en onreg. * Die lewe is ‘n stryd om oorlewing en assosiasie is ‘n voertuig om die kanse daartoe te verbeter. * Daar is beperkte bronne en die wêreldbevolking neem ongebreideld toe. * Elke grondwet het ‘n ingeboude liefdesdriehoek-virus-stress wat die grondwet se lewensduur beperk: a) Die regte van die indiviu, b) die regte van die groep en c) die beskikbaarheid van middele om die regte te laat geld. * Hongerte van die hooplose massas is die dood in die pot van ENIGE Grondwet. * Grondwette is onderhewig aan “evolusie”. * Die mens leer min uit sy verlede. * Oor en uit.

Ou Regsgeleerde Ystervark ·

Beste Koos, graag maak ek die volgende voorstel, naamlik dat al die Suid-Afrikaanse hooggeleerdes in konstitusionele reg onverwyld ‘n indaba hou en proaktief ‘n konsep grondwet opstel wat kan dien as vertrekpunt of basislyn vir verdere gesprekvoerig oor ‘n “#Konsep Post 2019 Grondwet” Betrek ook ander regskundiges uit die buiteland. Betrek alle regstudente om ook kreatiewe voorstelle in te dien vir ‘n wen-grondwet. Wat ‘n pragtige uitdaging aan ons konstitusionele regsgeleerdes om ‘n gesamentlike opbouende bydrae tot ‘n beter Suid-Afrika te lewer! Nou is die tyd om die saad te plant!

Marius ·

Dis moeilik om voorskriftelik te wees as jy die een was wat die baas was vir so lank en al die voorskrifte uitgedeel het. Ek sou ook dalk as ‘n swart man gesê het wag net so bietjie. Jy het nou baie meer vryheid as wat ek gehad het onder die vorige bedeling. Jy kan nie nou vir my voorskryf hoe moet ‘n nuwe grondwet lyk nie. Hierdie is nie sommer net ‘n geval van sê hoe jy dit wil hê nie. ‘n Mens se psige is ‘n komplekse ding. Hy vergeet nie maklik nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.