Die groot Amerikaanse muur

vsa-mexiko-grensmuur-02

‘n Gedeelte van die grensmuur in Brownsville, Texas. Foto: Nofx221984/Commons.wikimedia.org

Pres. Donald Trump se voorneme om ʼn muur op die Amerikaans-Mexikaanse grens te bou, word wyd veroordeel. Wat egter nie altyd besef word nie, is dat die muur geen nuwe gedagte is nie en dat ʼn aansienlike deel van die muur reeds gebou is. Teen 2009 was 930 km van die verskanste grens, bekend as die ‘Mexico–United States barrier’, oftewel ‘The Wall’, reeds gebou. Die bestaande segmente van die muur is veral in Kalifornië, Arizona en Nieu-Mexiko in plek, terwyl bouwerk in Texas voortduur.

Om die ganse grens doeltreffend te verskans, word die koste beraam op tussen $12 miljard en $15 miljard. Trump het tydens sy verkiesingsveldtog gesê Mexiko sal vir die muur betaal, iets waarmee Mexiko glad nie saamstem nie. Trump het aangedui dit gaan deur heffings op ingevoerde produkte uit Mexiko gefinansier word.
Die grensbeveiliging blyk ʼn mate van sukses te hê, aangesien meer as ʼn miljoen mense in 2005 aangekeer is wat die grens onwettig probeer oorsteek het. Teen 2010 het dit tot onder ʼn halfmiljoen afgeneem.

Die totale lengte van die Amerikaans-Mexikaanse grens beloop 3 145 km, hoewel topografiese verskynsels, soos riviere en berge plek-plek ʼn muur oorbodig behoort te maak. Die ondervinding leer egter uiters gevaarlike gebiede, soos woestyngebiede, stuit nie die grensskendings nie. Die dodetal is geweldig hoog, onder meer omdat gewetenlose smokkelaars hul “kliënte” sonder genoeg kos en water in die woestyn agterlaat.

Die bestaande muur, bestaande uit ʼn geboude muur, of hoë heinings en virtuele “mure” met sensors en kameras, is nie aaneenlopend nie, maar bestaan uit kort stukkies. Dit kom in stedelike gebiede voor, asook in afgeleë gebiede waarheen die onwettige immigrante en smokkelaars probeer uitwyk.

Selfs die hoogste segmente keer dikwels nie mense wat anderkant wil uitkom nie en klouteraars is algemeen. Benewens tonnels, wat gereeld onderdeur gegrawe word, is ʼn vindingryke “projek” ontdek, waarmee mense met ʼn struktuur soos ʼn kettie letterlik oor die muur geskiet word.

Een van die gevaarlikste plekke waarheen uitgewyk is na die muur en ondersteunende strukture gebou is, is die Sonora-woestyn en die Baboquivari-berg, waar grensskenders 80 kilometer se onherbergsame terrein moet trotseer na die naaste pad. Tussen 43 en 61 mense is tussen Oktober 2003 tot Mei 2004 dood toe hulle die Sonorawoestyn aangedurf het. Op die ganse grens is tussen 1994 en 2007 ongeveer 5 000 mense dood wat die grens probeer oorsteek het.

Terwyl daar in totaal ʼn afname in grensskendings en sterftes was sedert die muur effektief begin raak het, was daar egter ook ʼn toename by die onherbergsame en gevaarlike dele van die grens waar geen muur is nie.

Die Mexikaanse owerheid is formeel teen die muur gekant en het reeds tydens die bewind van pres. Ronald Reagan met hom die spot gedryf oor die muur (veral na aanleiding van ʼn toespraak van Reagan waarin hy die val van die Berlynse muur bepleit het). Planne om ʼn muur langs die Rio Grande op te rig, het aanvanklik teenstand by Amerikaanse boere gekry, totdat ooreengekom is dat die muur met rivierdyke gekombineer sal word wat oorstromings kan beheer.

Na raming sal die bou van ʼn betonmuur wat doeltreffend is, meer as drie keer meer beton nodig hê as wat nodig was om die Hooverdam te bou. Omdat Trump aangedui het ʼn muur is doeltreffender as ʼn heining, sal die dele wat uit ʼn heining bestaan waarskynlik ook vervang moet word. Om te keer dat tonnels onderdeur gegrawe kan word, sal die fondament tot sowat twee meter onder die grondoppervak moet strek. Bo die grond sal dit meer as drie meter hoog moet wees om klouteraars te ontmoedig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

estelle ·

Dis n goeie ding, meeste dwelms kom van Mexiko af Amerika toe. Ek stem vir die muur

Melt Olckers ·

Meeste dwelms word deur die grensposte ingebring of deur tonnels soos wat die dwelmbaas El Chapo laat grawe het. Die muur gaan nie dwelm smokkelary keer nie.

Loeis ·

‘n Taamlike projek. En as jy iets wil he, moet jy daarvoor betaal. Trump se strategie van tariewe kan seker wel werk – dit is immers Mexikane wie oortree.

Ek het so aantaal jare terug ‘n emosionele (propaganda) fliek gekyk wat handel oor Amerikaaners wie Mexikaane skiet wie die VSA onwettig binnekom. Die eintlike doel van die fliek was om oop / geen grense te bepleit. Die argument gaan ook na die ander kant toe: as ‘n muur onwettige immigrante effektief kan uithou, hoef niemand seer te kry nie.

Die stroom van kritiek (dit sal tot in vervelens aangaan) is maar net nog ‘n voorbeeld van linkse onverdraagsaamheid. Soms moet mens maar net dikvellig wees.

Marianne ·

AG verskoon my Mnr Trump van Hollywood se grootste name kom uit Mexico so Basta met jou muur.,…. Ons het mooi gestel vee mis en drama in Suid Afrika met ons bure…. !Kom nou daardie muur hier asseblief man.
Dan doen jy iets briljant wat wereld wyd tot voordeel sal wees.

Jan ·

Dit laat my dink aan die Groot Muur Van China, wat die mense toenterjare ook vir hul veiligheid gebou het teen ander nasies se aanvalle, anders as natuurlik die een tussen Oos- en Wes Duitland wat klomp jaar gelede afgebreek is.

Ook is daar vandag groot ringmure, om meeste gegoede woonhuise en veilgheidskomplekse in ons land. So dit is nie iets nuuts nie. Bo-op die mure word sommer nog lemmetjiesdraad gesit, geelektrifiseerde drade aangebring, staal penne, ens.

Riekie ·

Ek stem volhartig saam met Marianne. Die slagting op ons boere – ons wild en ons paaie Gaan drasties verminder as ons ‘n Suid Afrikaanse muur het.
S.A. burgers Gaan werk he en ‘n toekoms. Net jammer hulle is te lui om vir ‘n minimum loon te werk. Die Buurlanders smile vir ons minimum loon. Hulle werk, roof en moor, Gaan terug “huis” toe en kom met hul dade WEG.
Kom Donald span saam met ander welgesteldes wat keelvol vir kriminele en bloedvermorsers is en bou muur!!!!
Ek sal gratis Gaan help bou!!!!

Johann ·

Ja en almal wat so huff en puff, blou moord skree. So die muur is al reeds bykans ‘n kwart voltooi. Laat almal kennis neem, die wat so maak asof hy die boosaard is wat die begin het. Al gee Trump daarmee net ‘n boodskap aan die geveinsde wêreld, dat hy ‘n steep in die sand getrek het.

Jan ·

En ons sukkel om die heining aan die oostekant van die Kruger Park tussen ons en Mosambiek weer opgerig te kry. Trump sou sommer tjoef tjaf die hele park omhein het, en dit met ‘n beton muur.

John ·

Hoekom het niemand vreeslik gekla oor die bestaande heining nie maar nou eers wanneer Trump die probleme met ‘n goeie muur wil hokslaan? Miskien moet Trump daarop aandring dat net soveel Amerikaners hulle in Mexiko gaan vestig as Mexikaners in die VSA, of die lande kan saamsmelt en kan hulle die situasie deeglik vasvat?… Maar laasgenoemde sal nooit aanvaar word nie, want die probleem is soortgelyk aan die’ tussen SA en Zimbabwe en vir laasgenoemde president pas die situasie soos ‘n handskoen en skynbaar ook vir die res van die wereld. Die Mexikaanse president is nou selfs meer aanvaarbaar as Trump… doofmiddels ten spyt… Vreemd verby…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.