Die Groot Debat: Onregverdige taalbedelings lei tot onstabiele samelewings

Wat van ons nuwe Talewet wat in November deur die Staatspresident onderteken is? Die Minister van Kuns en Kultuur en sy Taaldirektoraat, onder leiding van dr. M. Jokweni, het nou die taak om binne die raamwerk van die Wet taalriglyne vir staatsentiteite op te stel. Daar is ‘n vensterperiode (nou van minder as 16 maande) om met insette van die publiek een en ander vas te lê. Die Talewet dien naamlik nou slegs as‘n raamwerk met sekere beginsels wat nog met praktiese bepalings “beklee” moet word. Die vraag is of dit aan die bogenoemde Taaldirektoraat oorgelaat moet word of dat die publiek nou daadwerklik tot die Talewetdebat moet toetree. Wie moet die insette lewer? Waarop byvoorbeeld kan Afrikaans, ingevolge die Talewet, aanspraak maak as hy regte vir die taal wil beding?

Die Afrikaanse Taalraad met dr. Michael le Cordeur as voorsitter en onder leiding van dr. Karel Prinsloo wat die voortou neem met navorsingsake van die ATR, het die inisiatief geneem om ‘n internasionale taalregtekenner te raadpleeg en hom gevra om vas te stel of die nuwe Talewet wel genoeg waarborge verskaf vir ‘n billike talebedeling in Suid-Afrika. Hy is prof. Fernand de Varennes van Perth, Australië wat ‘n omvattende en vergelykende verslag van byna 160 bladsye vir die ATR opgestel het en vergelykend taalbedelings in lande soos Singapore, Kanada en Ierland betrek het. Prof. De Varennes het wye ervaring van taalpraktyke onder andere in België en ook Afrikastate soos Mali en Ethiopië.

In sy omvangryke kommentaar op die SA Talewet sê prof. De Varennes dat taal nie net ‘n kulturele of simboliese bate is nie. Taal is ook verbind aan mag. ‘n Nasionale regering kan deur taalbesluite bepaal of sy burgers se belange ingesluit of uitgesluit word en of ‘n taalgroep in sy geheel taalgewys ontmagtig word. Wanneer ‘n regering bepaal dat burgers slegs een taal hoef te ken en as daardie burgers slegs een taalvoorkeur het, kan dit tot nasionale spanning en konflik lei, ‘n situasie waarvan die erns nie onderskat moet word nie.

‘n Onbillike en disproporsionele benutting van een of meer amptelike tale in ‘n land lei tot wrok, haat en woede wat ‘n land se stabiliteit volledig kan ondermyn, sê De Varennes in sy verslag. Dis nie uitgesluit dat dit in Suid-Afrika die geval is nie. Trouens is dit nie al aan ‘t gebeure dat tale ‘n twisappel in ons land geword het nie wat orals op die voorgrond tree en emosies opjaag. Veral die

Afrikaanse taalbewustes het hulle al verskeie kere tot die hof gewend om taalsake ten opsigte van skole (bv. oor moedertaalonderrig) en ander instellings te laat besleg. De Varennes verwys na die onder meer na die hofsaak wat mnr. Cerneels Lourens teen die Staat aanhangig gemaak het. Ook Afriforum en Solidariteit het hulle al verskeie kere, onder meer oor taalsake tot die hof gewend.

Taalonmin en –onstabiliteit is tog maar ‘n gegewe in Suid-Afrika as ‘n mens die taalsituasie vergelyk dié van ‘n land soos Switserland, waar vier tale vir amptelike en nasionale regeringsdoeleindes gebruik word. Tog is dit een van die taalstabielste lande in Europa en die wêreld. Indië, Kanada, en België is lande met veeltalige bedelings in belang van vrede en stabiliteit. Klaarblyklik is daar ook in Indië met 30 amptelike tale ‘n bevredigende oplossings vir die land se taalproblematiek gevind: As daar meer as 30 persent sprekers van ‘n taal in ‘n bepaalde provinsie is, word dit as beduidend beskou en word so ‘n taal as ‘n amptelike taal bestempel. De Varennes voeg wel hieraan toe dat Indië ‘n enorme bevolking het en dat Tamil wat beskou word as ‘n minderheidstaal tog miljoene sprekers het, maar proporsioneel gesproke ‘n minderheid vorm.

Prof. De Varennes se vernaamste beswaar teen die nuwe taalwet lê vir hom by die monitering van die taalbedeling in ‘n land. Om ‘n land se howe te gebruik om ‘n billike taalbedeling af te dwing, vind hy nie ongewoon nie. Hy pleit tog eerder vir ‘n deeglik funksionerende onafhanklike amptelike taaltribunaal met afdwingbare wetlike gesag wat alle domeine van taalgebruik of -misbruik kan hanteer. De Varennes meen dat die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad die rol van so ‘n taaltribunaal kan vervul. Sy afleiding is egter dat PanSAT ‘n tandelose liggaam is wat in wese daar is om die gebruik van tale (en veeltaligheid) te bevorder, maar wat nie gesag het om ‘n billike taalbedeling af te dwing nie. Taalbevordering is aldus De Varennes, ‘n te passiewe soort gesag en opdrag vir so ‘n belangrike liggaam.

‘n Liggaam soos PanSAT behoort wetlik met onafhanklike en afdwingbare magte beklee te word en volhoubaar befonds te word sodat hy met gesag oor taalsake kan leiding gee. PanSAT behoort ook die rol van ‘n appèlliggaam te kan vervul waar Jan Publiek kan gaan kla as hy meen dat sy taalregte benadeel word. Dit lyk origens asof die Staat PanSAT eenkant geskuif het.

Om terug te kom op die aanvangsvraag oor die nuwe Talewet. Wat moet gedoen word rondom die nuwe Talewet? Die Talewet is deur die President onderteken – dit verskaf ‘n riglyn vir die bepaling van die taalbeleid van staatsentiteite: staatsdepartemente, provinsies en munisipaliteite – dalk ook vir staatsinstellings soos Eskom, Transnet, Telkom en SAL?

Daar is twee rasionele riglyne wat vir De Varennes dominant behoort te wees by die bepaling van ‘n taalbeleid: Territorialiteit en Proporsionaliteit?

Territorialiteit hou verband met die werklike taalbedeling in ‘n bepaalde gebied. Dit sou byvoorbeeld dwaas wees om Zulu tot amptelike taal in die Noord-Kaap, waar die meerderheid inwoners (byna 54 persent) Afrikaanssprekend is, te verklaar. Die geografiese omstandighede regverdig gewoon nie so ‘n bepaling nie. Proporsionaliteit hou weer verband met die verhoudings van getalle sprekers in ‘n bepaalde opset. Wie word deur ‘n bepaalde statutêre diensverskaffer soos ‘n provinsie of ‘n munisipaliteit bedien? Wat is die getalleverhoudings van verskillende taalgroepe? De Varennes beskou die territoriale benadering as die effektiefste en die objektiefste manier waarop ‘n taalbeleid gebaseer kan word.

Met inagneming van moontlike variasies en afwykings sou proporsionaliteit en territorialiteit ‘n belangrike basis kon verskaf vir die bepaling van ‘n gesonde en billike taalbeleid.

Sal die Minister van Kuns en Kultuur en sy Taaldirektoraat die politieke wil hê om bogenoemde riglyne toe te pas? Of gaan die tentakels van politieke onwilligheid en die blind staar op die monokultuur van Engels, maar weer gesonde verstand en insig beduiwel? Hoe gaan die publiek se insette verwerk word? De Varennes se verslag is amptelik deur ‘n afvaardiging van die Afrikaanse Taalraad aan die Minister en die Departement se Taaldirektoraat oorhandig en dit sal vir die Minister die moeite werd wees om daarvan kennis te neem.

Sprekers van die verskillende tale in ons land moet maar hulle sê sê en die forums gebruik wat vir hulle geskep is. Wat Afrikaans betref, dui die jongste sensussyfers – teen verwagtings in – dat die getal Afrikaanssprekers in die land toegeneem het en dat Afrikaans opnuut geïdentifiseer is as die derde grootste huistaal in die land. Dit verskaf genoeg rede om die norm van proporsionaliteit toe te pas by die bepaling van ‘n nasionale en ‘n plaaslike taalbeleid. Boonop is Afrikaans, dus ook territoriaal gesien, die taal wat oor die lengte en breedte van die land gepraat word.

Volgens aanduidings kan die publiek nog tot April 2014 kommentaar lewer. Daar is dus nog so 14 maande oor: die uitdagings aan die sprekers van verskillende tale om ‘n vaste plek vir die toekoms beding, is daar. Die Regering verdien ‘n hupstootjie en het die kans om tot heil van die land ‘n regverdige talebedeling te skep. Dit sal bydra tot ‘n stabieler en vreedsamer Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jacques van der Elst

Meer oor die skrywer: Jacques van der Elst

Prof. Jacques van der Elst was die voormalige hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, PU vir CHO (tans NWU) en is tans direksielid van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae