Die groot leuen duur voort

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA (Foto: Maroela Media)

Dit word betreur dat Suid-Afrika sy toekoms op leuens en verdraaiings bou indien daar na die geskiedenis gekyk word ­– soos deur die ANC, EFF en ander rolspelers voorgehou – van hoe grondbesit in ons land ontwikkel het.

Dr. Mathole Motshekga, ANC-voorsitter van die ad hoc-komitee in die parlement wat oor die wysigings van Artikel 25 van die Grondwet moes handel, het pas weer ’n ongegronde beskuldiging gemaak oor “wit mense wat die grond hier kom steel het” toe onteiening sonder vergoeding in die parlement afgestem is.

Die ANC en ander rolspelers het met die verloop van tyd die leuen al soveel verkondig dat mense dit nou al as die waarheid aanvaar. Die werklikheid is dat verskeie traktate en ooreenkomste op skrif wys hoe die Voortrekkers grond wettig bekom het toe hulle die binneland ingetrek het om weg te kom van die Engelse juk wat almal onderdruk het.

TLU SA het verskeie jare gelede ’n beloning van R100 000 aangebied vir enigiemand wat kan bewys dat een van ons lede die grond waarop hulle boer, gesteel het. Ons geld is steeds veilig. Die persone wat so gemaklik met beskuldigings oor gronddiefstal rondgaan moet dalk eers met hul bewyse tafel toe kom oor by wie hulle die grond wettig bekom het toe hulle uit die noorde van Afrika in Suidelike Afrika inbeweeg het. Die grond is daardie tyd eensydig deur hulle beset en die eerste inwoners, naamlik die Khoi en die San, is net eenvoudig vermoor of verdryf. Dalk moet hulle ook eers die “Difaqane” of “Mfecane” en hoe plundertogte op ander stamme uitgevoer is en ander swart volkere vernietig is, bespreek.

Dr. Motshekga, jou onderrok hang ver uit. Feit is dat die swart mense sowel as die wit mense beide tweedegenerasie-inwoners in Suid-Afrika is. Swart volke se aanspraak op grondbesit is inderdaad net ’n getallespel terwyl wit mense tafel toe kom met verskeie ooreenkomste en het regtens dalk meer reg as swart mense gegewe die ooreenkomste gesluit.

TLU SA het reeds in 2005 bepaalde voorstelle aan die ANC gemaak oor hoe om nuwe toetreders in landbou te vestig sonder om die ekonomie en voedselsekerheid te benadeel. Die ANC het anders gekies en daar is tans – volgens sy eie erkenning – meer as 90% mislukking in grondoordrag soos wat dit tans gedoen word met produktiewe landbougrond wat uit produksie gaan. Indien die ANC met sy benadering voortgaan, moet hy solank die antwoorde regkry om aan die mense van Suid-Afrika te verduidelik hoekom die kosmandjies al hoe duurder raak en al hoe minder kos in het.

TLU SA het gekies om vir die toekoms te bou. Die ANC kies om die geskiedenis te probeer oorleef. Sy benadering lewer geen duit bydrae om die dag van môre vir almal se kinders in Suid-Afrika ’n beter dag te maak nie. Sy benadering steel elkeen se toekoms en soos werkloosheid onder sy beleidsomgewing jaarliks net styg, raak die tydbom wat dit veroorsaak se lont net al hoe korter.

Die feit dat daar suksesvolle swart boere is wat in eie reg landbou betree het, is die bewys dat die ANC se kaderontplooiing dalk die probleem is en dat persone in posisies geplaas word wat nie die verantwoordelikheid wat vir die pos (of plaas) vereis word, kan of wil aanvaar nie. Die ANC moet eers voor sy eie deur vee en sy beleidsomgewing, wat wêreldwyd nog net armoede en hartseer veroorsaak het, ontleed. Suid-Afrika se inwoners moet kennis neem: Die ANC het inderdaad te duur vir ons land se toekoms geword.

Daar is groot dankbaarheid dat ’n instansie soos die IMF die ANC voor stok gekry het oor sy beleidsomgewing wat sover nog net agteruitgang veroorsaak. Suksesvolle instellings is op die ry af vernietig as gevolg van die transformasiebeleid wat aspekte soos kaderontplooiing, SEB, gelyke indiensneming en grondherverdeling insluit waar die dryfkrag juis op leuens, verdraaiings en halwe waarhede gebaseer is. Indien die ANC nie aan die IMF se insette gehoor gee nie, sal Suid-Afrika voortstu op die selfvernietigende pad om uiteindelik ook op die ashoop van mislukte lande te land.

Die ANC roem op die sogenaamde goeie grondwet waarin daar toevallig ook gestipuleer word dat almal in die land gelyk is. In die praktyk is dit ’n mite soos wat daar tans op rassistiese gronde openlik en op vele terreine teen wit mense gediskrimineer word.

Teen die tempo wat die vertroue om in ons land se ekonomie te belê vernietig word, sal die ANC vinnig moet leer hoe om sy ideologie wat kapitaal wegdryf op mense se brood (mits dit daar is) te smeer om daarmee sy volgelinge te probeer voed.

Gemeenskappe sal net eenvoudig selfskeppend vir hul ’n toekoms moet skep. Met ’n ANC-regering wat meer behep is met sy eie oorlewing en hoe hy uit die staatskas met tenderbedrog, korrupsie en selfverryking kan skep, moet elke rasioneel-denkende persoon besef ons toekoms lê gewis nie in ANC-hande nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wicus ·

Stem heeltemal saam met jou skrywe en redenering Bennie. Ons gewone ouens sal net graag toegang wou he na al die koop ooreenkomste. Dis die enigste bewyse wat sal help as mens oor die goed praat, anders is dit bloot ‘n getwis oor my opinie versus jou opinie. Wens iemand wil alles te boek stel. Hoeveel kere het ons voorouers ‘n stam gehelp en dan is grond geskenk as beloning, maar vandag is dit vergete. As die gesk nie bewaar word en toeganklik is nie kan ons maar verhuis. Gaan leer in Egipte, paar geslagte na Josef het geen siel in Egipte meer geweet hoekom Jakob se nageslag daar woon en hoe Josef die hele hele Egipte gered het nie, so gaan dit ook met ons wees as ons nie ware gebeure boekstaaf en versprei nie.

Bennie ·

Dr Stoffel Kruger sowel as mnr Werner Weber het van hierdie traktate en ooreenkomste te boek gestel. Werner het ook op YouTube videos gemaak waarin die ooreenkomste vermeld word.

Pretorianer ·

n Fantastiese voorstel om die inligting vir Jan en Alleman beskikbaar te maak! Asseblief doen dit, en teen n redelike prys, sodat elke Afrikaner dit kan besit en sonder om te skroom die boek kan uitdeel en uitleen!

Anel ·

Ek glo al die oirsproklike ooreenkomste is in die argief by die Voortrekkermonument. Sal dit ook graag in boekvorm wil hê.
Baie goeie artikel deur Bennie, so op sy rustige manier.

Pietertjie ·

Min mense verstaan waarvoor die “C” in SACP staan. Miskien moet ons dit verander na South African Covid Pandemic.

Pretorianer ·

Dankie vir n nugtere en duidelike skrywe. Dankie ook aan TLU SA en elke boer wat nie net boedel oorgee nie.

Elinette ·

Hulle – die oorgrote meerderheid swartmense wat die ANC/PAC/EFF/SACP steun en JARE na Apartheid gebore is (en dus nie ‘n ‘cooking clue’ het waaroor Apartheid REGTIG gegaan het nie) – vergeet een ding: omtrent ALLES wat in hierdie land tot stand gebring is, is deur die BLANKE mens ge doen (weliswaar met die bloed en sweet van swartmense). Dis tyd om op te hou “in die verlede” leef en te werk om ‘n land te skep waar daar plek vir almal is en waar dit BETER gaan – werklik BETER gaan – as wat dit nog ooit gegaan het.

Elinette ·

Bennie van Zyl – iemand moet jou ‘n Bells’ gee!!!!!!!! Nog nooit is ‘n waarder woord gespreek as hierdie nie. Swartmense is netsowel “setlaars” as wat blanke mense is. Die enigste verskil is hoe die verskeie rasgroepe hier aangekom het: swartmense het vanuit die Noorde te voet en oorland gekom (die meeste van hulle, behalwe swartmense wat deur blankes as slawe hierheen gebring is) en blanke mense wat per skip hierheen gekom het. Ons ALMAL is nasate van hierdie “setlaars”.

minnie muis ·

in die kol…. maar dan om met die goed te redeneer is om in skommelstoel te sit —– jy beweeg maar gaan nerens nie— onthou hul was huursoldate /terroriste wat toe pen in hand gestop is in 94… so mens kan verwag ons gaan agteruit boer

Blikkies ·

Dankie Bennie Van Zyl. Ek is dood seker nie die ANC of EFF of wie ook al saam met hulle stem sal hulle aan enige traktate of geskrewe bewyse van grond eienaarskap steur nie en daardie bewyse ook afmaak as onsin en die waarheid verdraai vir die wereld wat hulle so graag glo. Ons sit hier met die Duiwel en sy trawante.

Waarnemer ·

En my volgende redenasie is steeds dat die opposisie NOU al moet voorbrand maak vir 2023 se vcerkiesing.Tien dae voor die verkiesing beteken boggerol,maar ongelukkig is ons te gemaklik,neem n kit kat en vat n ruskans…tot kort voor die verkiesing want dan gaan al die plakkate wat op lampale en versligte aangebring word mos die ding doen…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.