Die groot stories op papier onthou

Vra enigeen wat die grootste koerantstories van die afgelope eeu was, en jy gaan ʼn duisend verskillende antwoorde kry. Dit gaan afhang van jou ouderdom, belangstellings, belewenisse en… sommer wat jy kan onthou.

Blaai jy egter deur voorbeelde van koerante spring sommige jou in die oog. Hulle vertel van gebeure wat ons geruk het, almal aan die praat gehad het, en tog vandag bykans vergete is.

Die groot historiese mylpale was sekerlik ook op die voorblaaie: die Rebellie van 1914, die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, die Nasionale Party se oorwinning in 1948, republiekwording in 1961, die vrylating van Nelson Mandela, die verkiesing van 1994…

Daardie opskrifte lees onder meer as volg:

“Duitse radio kondig dood van Hitler aan” (Die Burger, 2 Mei 1945)

“Smuts tree uit” (Die Vaderland, 28 Mei 1948)

“Die republikeinse dag breek aan” (Die Transvaler, 31 Mei 1961)

“Vote, the beloved country” (The Star, 27 April 1994)

Politiek-verwante gebeure soos die sogenaamde “Inligtingskandaal” het vir talle skokkende opskrifte gesorg. Dit sluit in:

“It’s all true!” (Rand Daily Mail, 3 November 1978) — nadat ʼn kommissie van ondersoek die koerant se onthullings oor aktiwiteite van die destydse departement van inligting bevestig het.

“MULDER: VORSTER LIEG” (Rapport, 25 Maart 1979) — nadat dr. Connie Mulder volgehou het dat die staatspresident as eerste minister geweet het van die geheime projek om The Citizen met staatsgeld te begin.

Later het die Gupta-staatkaping gesorg vir:

“Zuma told me to help Guptas” (Sunday Times, 20 Maart 2016)

“What did I do wrong?” (The New Age, 15 Februarie 2018) — Zuma se onskuldige vraag.

Bogenoemde gebeure het soms ʼn invloed op miljoene se lewens gehad.

Maar die nie-politieke opskrifte — of dan dié sonder ʼn regstreeks staatkundige inslag — trek ook my oog. Opskrifte soos:

“MENSE OP DIE MAAN” (Die Transvaler, 21 Julie 1969)

“Psst, want to buy my kidney?” (Sunday Times, 29 Oktober 2000)

En dan is daar die dood van bekendes — meestal skielik en daarom vir mense ʼn skok. Dink maar aan die volgende:

“STOMGESLAAN” (Beeld, 1 September 1997) — na die dood van Diana, prinses van Wallis.

Daar was ook die rampe soos die Westedene-busramp:

“Is daar nog trane?” (Beeld, 2 April 1985).

Of die 9/11-aanval in die VSA:

“THIS IS WAR” (The Star, 12 September 2001)

Maar die een gebeurtenis wat vir my uitstaan omdat dit skokkend en onverwags was én die bestaande orde geruk het, is in talle opskrifte verwoord, soos hierdie eenvoudige een dieselfde middag:

“DR. VERWOERD VERMOOR” (Die Volksblad, 6 September 1966).

Hierdie opskrifte is enkele bakens in die geskiedenis van ons koerante, ʼn medium wat aansukkel en toenemend vervang word deur digitale nuusmedia, soos Maroela Media en sosiale media.

Wat my met die vraag laat: Hoe gaan ons die groot gebeure onthou? Jy sal dalk groot gebeure in die toekoms op die internet kan opspoor (as jy weet waar om te soek), maar die tasbaarheid van ʼn koerant kan nie vervang word nie. Ook nie die eiesoortigheid van elke koerant se tipografie nie.

Reg, webblaaie het elk ʼn eie karakter, maar opskrifte is almal dieselfde grootte en die moontlikheid om ʼn groot storie uniek aan te bied is, so lyk dit my, verlore.

Waar koerante se era vinnig aan’t verbygaan is, is daar tog rede tot ʼn bietjie nostalgie.

  • Op Mediamense.com is honderde voorbeelde van treffende koerantvoorblaaie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

… en nou? Nou lees net rykes kamma-koerante om groot beursies te vul. Armes kyk
of luister gedokterde anc-nusies op sabceee en kykmaarnet. Skande! Afrikaans se dooddrukkerye floreer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.