Die grootste Afrikaanse joernalis

So, wie is die grootste Afrikaanse joernalis wat ons nog opgelewer het?

Ek hoor iemand vra: Waarom die vraag?

Heel eenvoudig. Terwyl ek die afgelope tyd byna daagliks aan die webblad mediamense.co.za werk, kom ek noodwendig die groot name van die Afrikaanse joernalistiek gereeld teë. Daar spring ook ʼn paar ander name effe onverwags (vir my) na vore. Dit laat my besef hoe bevoorreg ons is.

Die voor die hand liggende kandidate is: Phil Weber, Piet Cillié en Schalk Pienaar. Willem van Heerden. Willem de Klerk. Niel Hammann. Ton Vosloo. Dalk Eugene Marais. Frits Gaum? En wat van Tim du Plessis en Chris Louw? Of Max du Preez?

Voordat ek hulle (en ʼn paar ander) wil opweeg, ʼn paar selfopgelegde spelreëls en voorbehoude.  Om iemand se lewe en werk in enkele kriptiese sinne vas te vat en te beoordeel is onregverdig en selfs voorbarig. Vanselfsprekend sal ander waarnemers anders kan oordeel. In alle geval, vir my is die volgende van belang: hoeveel impak die redakteur ten goede gehad het; hoe sy/haar tydgenote oor hulle geoordeel het; hoe veelsydig hy/sy was; hoe groot sy/haar intellektuele wêreld was.

Foto: mediamense.co.za

Piet Cillié was ʼn groot redakteur, soos sy voorganger Phil Weber. Invloedryk, ʼn intellektueel van die hoogte kaliber. Kaapse adel. Na sy redakteurskap van Die Burger het Cillié professor in die joernalistiek op Stellenbosch en voorsitter van Naspers geword. Eerbewyse het hy gekry. Maar hy het, vir my gevoel, nie buite sy enger kring gebreek nie. Het hy dan nie voor dr. Verwoerd geswig nie? Enduit establishment-man.

Sy vriend Schalk Pienaar was meer waagmoedig.  As dit die groot kriterium was, klop hy Cillié loshande. Die Burger en Beeld was baanbrekers onder sy redakteurskap. Waar Weber en Cillié bestaande volgelinge op spoor gehou het, het Pienaar die (politieke) vyande kaalvuis getakel. Maar ook hy het veilig binne die kraal gebly. Sy invloed ook.

Rykie van Reenen is vir sommige dalk die grootste, al was sy nooit redakteur nie. Wie kan haar invloed en vermoëns betwis? Ander vroue, soos Andriette Stofberg, Liza Albrecht en Esmaré Weideman, het die glasplafonne in die jongste jare uitgeskop. En Weideman het die eerste vrou geword om aan die hoof van Media24 te staan. Indrukwekkende joernaliste, maar (nog) nie in die Cillié-klas nie.

Van die sterk noordelike redakteurs staan Willem (Wollie) van Heerden uit. Hy was redakteur van Die Vaderland, ʼn man met politieke visie. As eerste voorsitter van Rapport, het hy ʼn deurslaggewende rol gespeel om die byeenbring van twee maatskappye (Naspers en Perskor) onder die Rapport-vaandel te laat slaag. Volgens tydgenote was hy ʼn man van groot integriteit.

Ton Vosloo

Dirk Richard, redakteur van Landstem en later Vaderland, het Pienaar aangevat en goed genoeg gedoen om ʼn onbeslisde uitslag in die stryd tussen Dagbreek en Die Beeld af te dwing. Sy politiek en joernalistiek was, ironies genoeg, glad nie ver van Pienaar s’n nie. Ook moedswillig as dit moes. ʼn Belangrike redakteur, ja, maar die beste?

Willem de Klerk was invloedryk en dalk ʼn belangrike rede waarom Beeld so lank geneem het om Die Transvaler onder te kry. Maar niemand beweer hy was ʼn groot joernalis nie. Politieke woordkunstenaar, ja. En hy het sy rug styf gemaak teen bepaalde politieke dwaashede. Dit het hom sy pos by Rapport gekos. Maar Ton Vosloo was sy meerdere as joernalis.

Wat ons dan by hierdie reus bring. Redakteur van Beeld, besturende direkteur van Naspers, voorsitter van ʼn groeiende mediaryk. Die volledige joernalis en sakeman? Bes moontlik. Die enkele voorbehoud, fluister ʼn oud-Beeld-redaksielid in my oor, is sy weiering om voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie te getuig. Of om in te stem dat van sy redaksielede dit wel doen.

Daar het hy en Tim du Plessis gebots, maar na ʼn draai by The Citizen kom Du Plessis terug na sy heimat en word redakteur van Rapport en Beeld. Dit vertel terselfdertyd iets belangriks van Vosloo en Du Plessis. Dat Vosloo by die dood van Helen Suzman ʼn prominente huldeblyk in Beeld skryf, vertel vir my selfs meer van Vosloo. Van ʼn man wat sy eie foute kan insien. Want Vosloo was deel van die span politieke joernaliste wat haar vir so lank probeer vernietig het.

Tim du Plessis

Maar Du Plessis. Sy loopbaan is nog nie verby nie en hy kan nog veel meer bereik. Tog is hy reeds een van die beste wat ons ooit gehad het. Sy storie is vir my besonder interessant: van lofsanger van die nuwe bedeling tot een van die huidige regering se skerpste kritici. Sommige noem hom selfs regs, wat wel bog is, maar iets vertel van hoe kaalvuis hy skryf. In my boekie tel dit vir baie punte. Maar hy sal die eerste wees om te buig voor die onbetwisbare gewig van Vosloo se rekord.

Is dit nodig om nog name te noem? Ek dink tog so. Niel Hammann, die man wat van ʼn sukkelende Huisgenoot ʼn skitterende sirkulasiesukses gemaak het, verdien om in enige geselskap as ʼn grote genoem te word. Al hou jy nie van wat hy met Huisgenoot aangevang het nie. En Max du Preez. Dryfkrag agter Vrye Weekblad. Rebel. Hardegat. Aanhouer.

Hy was ʼn Beeld-verslaggewer, politieke korrespondent vir Business Day en toe redakteur van Vrye Weekblad. Gee die duiwel wat hom toekom: dit was ʼn stuk versetjoernalistiek soos min. Daarna volg ʼn tyd by die SAUK. Veelsydig is hy dus ook.  As vryskutskrywer bly hy hoogs leesbaar, al maak hy jou (steeds) kwaad. En belangrik: hoeveel joernaliste het soveel persoonlik op die spel geplaas as Du Preez?

Hy is ʼn vegter in Eugene Marais se tradisie.  ʼn Voorloper soos Harald Pakendorf.  Hardekwas soos Willem Wepener.  En immer-skrywend soos Frits Gaum, Kerkbode se voormalige redakteur wat ʼn uitsonderlike bydrae tot kerklike joernalistiek gemaak het en ook onder die grotes genoem moet word.

Maar Max is nie heeltemal Ton nie. En Ton is nie Max nie. Ook maar goed so.

Daarom sal elkeen maar na gelang van persoonlike voorkeure moet kies. Of ander se name op die tafel plaas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Johannes Froneman

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Prof. Johannes Froneman is hoogleraar in kommunikasiestudies aan die Noordwes-universiteit (Potchefstroom), en verteenwoordig die Demokratiese Alliansie in die Tlokwe-stadsraad, Potchefstroom.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Adriana Stuijt ·

AG nee wat. Julle MANS joernaliste kon nooit ‘n kers vashou teen Rykie van Reenen nie. Maar sy was ‘n vrou en dus as minderwaardig beskou: selfs by Rapport was sy nooit toegelaat om hoofredakteur te word nie.. Beste joernalis wat ek ooit ontmoet het. Moedig, vasberade.

Susan Lombaard ·

Interessante vraag. Adriana Stuijt se terugvoer hier bo het my wel laat wonder: Hoe is dit dat vroulike joernaliste so skitter in hul afwesigheid op hierdie lysie? Ons is tans op soek na ‘n senior joernalis by Maroela Media, en die lys CV’s wat ek ontvang het, is so lank soos my arm. Dié wat van Afrikaanssprekende mans af gekom het, kan ek op my een hand tel. Dit laat my wonder watter name oor twintig jaar van nou af op ‘n lys soos hierdie sal pryk…?

H J Grosskopf ·

Oor wie die grootste joernalis was, kan ‘n mens wel redeneer, maar dan moet jy jou feite ken, en dit kan jy waarlik nie van Froneman sê nie.
*Hy skryf: “Die Burger en Beeld was baanbekers onder sy (Schalk Pienaar) se redakteurskap.” — Net jammer Schalk Pienaar was nooit redakteur van Die Burger nie .
*Hy skryf: “Dirk Richard, redakteur van Landstem…” Maar Richard was nooit redakteur van Landstem nie, wel van Dagbreek. Landstem se man was Piet Beukes.
*Hy skryf: Willem de Klerk “het sy rug styfgemaak teen bepaalde politieke dwaashede. Dit het hom sy pos by Rapport gekos”. Maar De Klerk het nooit ‘n pos by Rapport gehad wat hy kon verloor nie.

Johannes Froneman ·

Prof. Grosskopf is deels reg en ek deels baie verkeerd. Jammer, dit was onverskoonbare glipsies wat inderhaas begaan is: Schalk Pienaar was natuurlik redakteur by Die Beeld en Beeld, nie by Die Burger nie. Hoe sou hy tog ‘n kans gekry het terwyl Piet Cillié daar was?

En Dirk Richard was redakteur by Dagbreek en Landstem, nie by Landstem nie. Dit was inderdaad Piet Beukes se blad, voordat dit by Dagbreek ingelyf is.

Maar hoe prof. Grosskopf kan sê Willem de Klerk het nooit ‘n pos by Rapport gehad wat hy kon verloor nie, verstaan ek glad nie. De Klerk het in Julie 1983 (aldus J.J.J. Scholtz se hoofstuk oor Rapport in die boek Oor grense heen) redakteur van Rapport geword en in Maart 1987 bedank.

H J Grosskopf ·

Dan moet ek skuld beken — ek weet De Klerk was ‘n mislukking by Die Transvaler, ek het dus blykbaar totaal vergeet dat hy ook by Rapport ‘n draai gemaak het voor ‘n pos vir hom geskep is as dosent in die joernalistiek. Maar hoekom skryf prof. Froneman in sy tweede paragraaf: “En Dirk Richard was redakteur by Dagbreek en Landstem, nie by Landstem nie”?

Johannes Froneman ·

Omdat Landstem ingelyf is by Dagbreek om sy sirkulasiesyfers te verbeter in sy stryd met Die Beeld (die Sondagkoerant) het “Dagbreek en Sondagnuus” se naam verander na “Dagbreek en Landstem”. Vandaar my opmerking dat Dirk Richard van daardie koerant met die dubbelloopnaam redakteur was . Maar van Landstem, die midweekse blad wat in die Kaap onder Piet Beukes uitgegee is, was hy inderdaad nooit die redakteur nie. Ek skryf op mediamense.co.za onder die afdeling media-instellings die een en ander oor Landstem, onder meer dat iets van sy DNA in vandag se Rapport te bespeur is.

Arrie de Beer ·

Dit is ‘n interessante en, binne die konteks van ‘n enkele storie, ‘n omvattende oorsig oor voorste Afrikaanse redakteurs. Dit verg nogal moed om so ‘n storie te skryf. Nie die minste nie, omdat die geskiedenis, en veral evaluering van die Afrikaanse joernalistiek en sy mense, te dikwels ‘n revisionistiese oorbeklemtoning van die rol van die suidelike pers behels.

Vergun my enkele opmerkings:

Froneman se vinnige oordeel oor Cillié verg ‘n herlees van Steyn se biografie. En Rabe se boek oor Van Reenen toon dat sy ook maar (weliswaar minder as ander) op die lange duur Afrikaanse joernalis van haar tyd was. Iets wat Froneman Cillié ten kwade dui.

Froneman is self nie ‘n man wat hom maklik in ‘n politiek-korrekte dwangbuis sal laat indwing nie, maar ek merk tog iets daarvan wanneer hy oor die vroue in die Afrikaanse joernalistiek skryf. Op die punt egter: Waarom tydskrifredakteurs soos Hammann en Gaum insluit, maar nie ander tydskrifte se (vroue-) redakteurs nie? Froneman weet self dat dag-/Sondagblaaie en tydskrifte nie maklik op dieselfde weegskaal geplaas kan word nie.

Prof. Grosskopf is te beskeie om hom by hierdie lysie van groot redakteurs te voeg. Kan dit wees omdat die stukkie wat Froneman oor die berugte sirkulasiestryd tussen DT en B skryf, sommer ook ‘n stukkie bog is? Dit het mos nie oor De Klerk se vermeende invloed gegaan nie. Inteendeel, die rol van De Klerk in hierdie debakel moet nog opgeteken word.

En dan vermoed ek minstens een Afrikaanse redakteur aan wie ek dink, sou hom (nie te onwaarskynlik nie) self by hierdie lysie van top-redakteurs wou voeg aangesien Froneman dit nie gedoen het nie.

Maar, en dit is ‘n belangrike maar, Froneman het sy nek uitgesteek om so ‘n artikel te skryf. En dit is belangrik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.