Die ‘Haatspraak’-konsepwet: Onnodig, ongrondwetlik en heel moontlik baie skadelik

dr-anthea-jeffery

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing van die IRR. Jeffery is ook die skrywer van Race Relations in South Africa, Reasons for Hope 2017, wat middel-Februarie uitgegee word deur die IRR.

Deur dr. Anthea Jeffery

Die adjunkminister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, John Jeffery, sê die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak van 2016 is dringend nodig om “die oorvloed rasse-insidente” in 2016 te hanteer.

ʼn Omvattende studie van openbare mening oor rasse-aangeleenthede (in opdrag van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) en uitgevoer in September verlede jaar) dui aan net 3,2% van Suid-Afrikaners – en 2,4% van swart mense – identifiseer rassisme as ʼn ernstige onopgelosde probleem. Indien probleme van ongelykheid en xenofobie ingesluit word, noem 6,4% van alle respondente en 5,9% van swart mense rassisme, in die breë, as ʼn ernstige probleem. Openbare kommer is duidelik oor werkloosheid, gebrek aan dienslewering, korrupsie, swak onderwys en onvoldoende behuising.

Antwoorde op verskeie ander vrae in die IRR-veldopname bevestig verder rasseverhoudinge in die land is oor die algemeen goed. Daar is dus geen dreigende rassekrisis wat die wetsontwerp kan regverdig nie.

Die bepalings oor haatspraak in die wetsontwerp is ook wyd genoeg om spotprente en ander kritiek teen die president en sy kabinet te dek, wat hulle “beledig” en “hulle belaglik maak”. Strawwe vir sulke “oortredings” sal boetes en lang tronsktrawwe insluit: tot drie jaar vir die eerste skuldigbevinding en tot tien jaar vir ʼn tweede.

Joernaliste en ander meningsvormers wat sulke sportprente en kritiese kommentaar elektronies versprei, kan  presies dieselfde strawwe verwag, al is hul bedoeling om die publiek in te lig en nie die president en sy uitvoerende raad te beledig nie.

Hierdie bepalings is duidelik ʼn verbreking van die waarborg van vrye spraak in artikel 16 van die Grondwet. Dit identifiseer haatspraak as iets wat “geweld aanhits”. Hierby ingesluit is spraak wat “haat aanmoedig” op die basis van “ras, etnisiteit, gender of godsdiens”, indien dit ook “aanhitsing is om kwaad aan te doen”.

Die wetsontwerp se haatspraakbepalings oorskry hierdie grense. Dit kan ook nie regverdig word deur artikel 36 van die Grondwet nie, wat gewaarborgde regte toeken in die geval van verskeie voorwaardes. Een van hierdie voorwaardes is of “minder beperkende” maniere gevind kan word wat die betrokke gemeenskapsdoel bereik. Die wetsontwerp slaag nie hierdie toets nie. Dit kan maklik minder eng gestel word, terwyl Suid-Afrika klaar ʼn aantal wette het wat gebruik kan word om haatspraak hok te slaan.

Wat die haatmisdaadbepalings betref, is dit te vaag omskryf om die grondwetlike toets te slaag. Dit is ook onnodig. Soos die adjunkminister self benadruk het, die howe ʼn rasmotief reeds as ʼn verswarende faktor in ʼn besluit oor ʼn vonnis vir moord en ander misdade. Die wetsontwerp maak dit verkeerdelik moeiliker om hierdie benadering te volg.

Volgens die wetsontwerp sal die motief van ras ʼn onontbeerlike element van alle haatmisdade wees. Dit beteken dat die aanklaer hierdie motief bo alle redelike twyfel moet bewys voordat ʼn hof iemand skuldig kan bevind. In die praktyk sal dit dikwels moeilik wees om te doen. In teenstelling hiermee moet ʼn rasmotief net bewys word as ʼn verswarende faktor met betrekking tot die vonnis, volgens oorwig van waarskynlikheid, wat ʼn makliker toets is.

Dubbele standaarde in toepassing kan ook van tyd tot tyd voorkom. In die afgelope jaar is bestaande haatspraakbepalings streng toegepas teen Penny Sparrow, wat swart strandgangers beledigend gelykgestel het aan ape en ook teen verskeie wit mense wat die ‘k’-woord teen swart mense gebruik. In teenstelling hiermee  was daar geen optrede teen Velaphi Khumalo en ander swart Suid-Afrikaners vir die aanmoeding van geweld teenoor wit mense nie. (Khumalo, byvoorbeeld, het in Januarie 2016 gesê wit mense moet “opgekap en doodgemaak word soos Jode” en hul kinders moet “gebruik word as tuinkompos”.)

Die haatspraakbepalings sal hoofsaaklik gebruik word teen wit Suid-Afrikaners om te help om openbare aandag te fokus op wit rassisme en die woede daaroor te versterk. Dit sal geloofwaardigheid gee aan die ANC se aansprake, dat wit rassisme die sleutelrede is vir blywende armoede en ongelykheid, eerder as die meer treffende faktore soos lae groei, swak onderwys en allesomvattende werkloosheid. Terselftertyd is dit onwaarskynlik dat swart Suid-Afrikaners se oproepe, dat wittes aangeval en doodgemaak moet word, vir aanklagte of straf volgens die wetsontwerp sal sorg. Dit kan bydra tot rassepolarisasie en verhoogde risiko van rassekonfrontasie.

Die meeste van die rasse-aanhitsing wat uit die regerende party, die EFF en die vormlose #FeesMustFall-beweging opklink, is gegrond op die ideologie van die nasionale demokratiese rewolusie waartoe die ANC en sy kommunistiese bondgenote verbind is.

Hierdie rasse-aanhitsing is daarop gerig om wit mense te stigmatiseer, hul bydrae tot die ontwikkeling van die land te misken en dit makliker te maak vir die regering om ʼn groot program van onteiening en nasionalisering te loods. Dit gaan egter die ekonomie benadeel, eerder as om ʼn effektiewe oplossing te bied vir die ongeregtigheid van die verlede. Dit lyk asof die ideoloë min omgee oor die lyding wat dit sal veroorsaak, want dit lyk asof hulle glo ʼn sosialistiese en kommunistiese stelsel sal soos ʼn feniks uit die as verrys slegs wanneer die vryemarkekonomie vernietig is.

Die wetsontwerp sal tot hierdie destruktiewe proses bydra deur nog meer openbare aandag op die rassistiese uitsprake of optrede van ʼn klein minderheid wit mense te vestig. Daardeur sal dit die ideoloë help om perspesies te skep dat sulke afskuwelike gedrag verteenwoordigend is van wit mense in die algemeen.

Die wetsontwerp kan dus moontlik baie skade aanrig. Dit is ook ongrondwetlik en onnodig en behoort teruggetrek te word en vervang te word deur ʼn ander benadering.

Die beste manier om rasbewustheid en rasvyandigheid te verminder, is vir die ANC om ondubbelsinnig die Grondwet se stigtingswaarde van nie-rassigheid te omarm. Die regerende party behoort sy eie rasseslegmakery te los, beleid uit te gooi wat staatmaak op rasseklassifikasie en rassebevoordeling – en begin om net die groei, belegging en werkskepping te bevorder wat die regte benadeeldes sal bevoordeel.

  • Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing van die IRR. Jeffery is ook die skrywer van Race Relations in South Africa, Reasons for Hope 2017, wat middel-Februarie uitgegee word deur die IRR.
  • Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in Biznews.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Is die outeur en die adjunk-minister verwant aan mekaar? Praat van konflik…

Melt Olckers ·

Die outeur van die artikel is die skrywer van die boek “The Peoples War”, waarop Afriforum se dokumentere film “Tainted Heroes” gebasseer is. Sy het die ANC se menseregteskendings in die vroee 1990’s op skrif gestel.

henk ·

Vyf of ses jaar terug het ek al gereken dat Zuma wetgewing soortgelyk aan die Mugabe wetgewing, instel wat mense gaan verhoed om hom te kritiseer. En hier doen hy dit onder die vaandel van wetgewing teen rassisme. Wel zuma, jy bly korrup, of jy nou een of een honderd wette uitreik, ‘n hooggeregshof het reeds tydens die berugte sheik saak bevind jy is korrup!

Jordaan ·

Hierdie wetgewing is sonder twyfel daarop gemik om wit mense by te kom, die kans dat dit gaan gebruik word om die “ander” rassiste (ook die in die regering) aan te vat is sekerlik skraal.

Anna ·

Maak eers die aanhitsers stil en vee dan die ‘haatspraak’ van die tafel. Dit gaan natuurlik opvlam net voor die volgende verkiesing maar as dit ge-ignoreer word, sal dit vanself verdwyn. Alles moet net genoeg tyd gegee word. ‘n Goeie voorbeeld: Mense is beboet as hul op hul selfone gesels terwyl hul bestuur. Wat het nou daarvan geword? Ongeveer 80% of meer bestuurders klets op hul selfone terwyl hul met die een hand die stuurwiel vashou….op die ou end word niemand beboet nie en daar is net te veel motoriste om dop te hou. Los die boetes vir haatspraak eerder of fokus daarop om beide kante regverdig te beoordeel. Sekere mense voel dis hul reg om ander aan te kla en ander voel hul word anders beoordeel en daarom eskaleer die probleem. Mense moet hul gedra en dit sluit almal in die RSA in.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.