Die handboekkrisis is nog niks – dis eintlik baie erger

Veel is al gesê en geskryf oor die skoolhandboeksage in Limpopo en ons kan verwag dat veel meer nog gesê en geskryf gaan word namate vier (!) verskillende ondersoeke se uitslae afgewag word.  Die blote feit dat vier ondersoekspanne aangewys moet word om ondersoek in te stel na iets wat in enige effektiewe stelsel deel van die gewone daaglikse loop van sake sou wees, slaan ‘n mens nogal dronk.  Maar, helaas, werkloosheid in Suid-Afrika is ‘n groot probleem en die belastingkas waaruit hierdie ondersoeke befonds moet word, is ‘n klaarblyklike onuitputlike bron.  Die probleem is net: die mense wat die ondersoeke gaan doen, is na alle waarskynlikheid nie een werkloos nie en die gevolg is dat betaalde mense betaal gaan word om ondersoek in te stel waarom mense wat betaal word nie gedoen het waarvoor hulle betaal word nie.

Baie vrae ontstaan uit hierdie sage: Is dit werklik so ernstig?  Moet ekstra tyd en werk ingesit word om op te vang?  Moet onderwysers (weer uit die onuitputlike belastingkas) ekstra betaal word om ekstra werk en tyd in te sit? Is dit simptomaties van gebrekkige dienslewering in onderwys maar ook in die ganse openbare dienstesektor? Is hierdie probleem beperk tot een provinsie? Kan beheerliggame nie iets hieraan doen nie en kon hulle nie vroeër iets gedoen het nie?  Is beheerliggame, veral in die Afrikaanse gemeenskap, gerat om probleme soos hierdie die hoof te bied?  Is daar iets anders grondliggend tot die boekesage?

Die antwoord op die meeste van hierdie vrae is eintlik dat hierdie sage tot ‘n groot mate ‘n storm in ‘n teekoppie is in vergelyking met wat in ‘n provinsie soos die Oos-Kaap aan die gang is.  Skoolhoofde, onderwysers en beheerliggame in effektiewe skole gaan mos nie hande gevou sit en wag dat boeke afgelewer word nie. Die tragiese feit is dat gebrekkige dienslewering in Limpopo, maar ook in ander provinsies, so erg is dat hierdie mense al gewoond is daaraan en geleer het om sonder die dienste klaar te kom.  Hulle het planne gemaak en sal dit steeds in die toekoms doen.  ‘n Toegewyde skoolhoof, onderwyser en beheerliggaam gaan nie toelaat dat kinders onder swak dienslewering deur die provinsiale onderwysdepartement ly nie.  Hulle sal net aangaan.

Die ding met die boeke in Limpopo is die feit dat boeke tasbaar is.  Dis maklik om ‘n groot storie daarvan te maak: dis iets wat jy kan sien, voel en tel.  Dis ook iets wat ‘n mens op ‘n manier emosioneel aanspreek.

Daar is egter ander dinge wat nog ernstiger is.  In sommige provinsies, by name Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga, is daar  nie eens onderwysers in baie klaskamers nie.  In Oos-Kaap is die posisie so erg dat daar byna 7 000 vakante onderwysposte by skole is.  Daar is nie ‘n lyf in die klas nie.  Sonder ‘n boek kan ‘n kreatiewe en toegewyde onderwyser nog klaarkom, maar as daar geen onderwyser is nie, gaan ‘n duisend boeke ‘n kind nie deur die skool kry nie.  Selfs al kon dit, waar is die morele kompas, die raadgewer, die inspireerder, die ware opvoeder wat vir die kind veel meer beteken as bloot ‘n boek?

Dalk die ergste nog: honderde onderwysers is maande lank nie betaal nie.

Die staat moet kragtens die Grondwet onderwys verskaf.  Dit doen hy deur skole te bou,  onderwysers en hulpbronne, soos geld, tot skole se beskikking te stel.  In Limpopo is daar skole wat reeds twee jaar lank nie daardie geld gekry het nie.  Die rede: daar is oënskynlik nie geld nie!  Dieselfde onuitputlike bron waaruit vier ondersoeke befonds gaan word, is uitgeput wanneer dit by die befondsing van ons kinders se opvoeding kom.

Ek wil nie te kenne gee dat die probleem nie ernstig is nie.  Dit is egter inderdaad maar bloot simptomaties van wat aangaan en van waarmee beheerliggame van skole daagliks te kampte sit.  Groot gewag word gemaak van lofwaardige inisiatiewe soos miljoene kinders wat daagliks by skole van ‘n ete voorsien word of miljoene werkboeke (nie handboeke nie) wat vanjaar by alle skole afgelewer is – ook uit daardie selfde onuitputlike bron.  Wanneer dit egter kom by dit waaroor skool regtig gaan, die akademiese en vaardigheidsopleiding van ons kinders, skiet ons erg tekort.  Te midde van roerende verhale van onderwysers wat die ekstra myl loop vir die kinders wat aan hulle toevertrou is, is daar egter ook die skokkende verhaal van 20% van onderwysers in die land wat op enige gegewe dag nie eers by die skool is nie; van amptenare wat betaal word om ‘n werk te doen maar dit nie doen nie.

Die probleem is nie die boeke nie.  Die probleem is ‘n ingesteldheid.  By effektiewe skole en staatsdepartemente is daar ‘n ingesteldheid van ‘n roeping om kinders en die algemene burgery se lewe en vooruitsigte te verbeter ongeag die omgewing of omstandighede waaronder jy dit doen.  In wese gaan dit oor ‘n waardestelsel: ‘n waardestelsel wat van mense verg om nie aanspraak te maak op ‘n salaris as hulle nie gedoen het wat van hulle verwag is om te doen nie.

Daar is geluide gemaak dat die Minister van Basiese Onderwys moet bedank of minstens afgedank moet word as gevolg van die Limpopo-krisis.  Hoekom?  Sy is nie die een wat die boeke moes bestel het of afgelewer het nie.  Dit was nie eers haar verantwoordelikheid om toe te sien dat dit gedoen word nie. Haar taak is om nasionale onderwysbeleid en –strategie te bepaal.

In daardie provinsie is daar ‘n LUR, ‘n provinsiale onderwyshoof en letterlik duisende amptenare wie se verantwoordelikheid en werk dit was.  Hulle word daarvoor betaal.  Hoe durf hulle nog aanspraak maak op ‘n salaris?  Al wat tot dusver nog gebeur het is dat ‘n klerk aangekla is.  En die probleem word sommer heel gerieflik as “sabotasie” afgemaak.

Sabotasie se voet.  Julle doen nie die werk waarvoor julle betaal word nie.  Dis die probleem.  En selfs al doen julle dit, is dit halfhartig.  Julle ingesteldheid is die probleem.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Paul Colditz

Meer oor die skrywer: Paul Colditz

Paul Colditz is die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas)

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Nicolene ·

Hoewel dit sekerlik nie die enigste rede vir die probleem is nie, glo ek dat wat ons vandag sien, in ‘n groot mate die gevolg is van die “no education before liberation”-beleid van die verlede. Die kinders van daardie tyd – ons tydgenote – het geleer dat onderwys SO min werd is dat dit as ‘n politieke speelbal gebruik kan word. ‘n Generasie van onopgeleides is geskep, wat nie ‘n idee het hoe om hul eie kinders te lei en te inspireer nie. Daardie generasie moe3s die onderwysers lewer wat moet help en lei waar ouers nie kan nie … maar weens die beleid is daar bitter min goed-opgeleide onderwysers. Dis ‘n bose kringloop. Nugter weet hoe dit gebreek kan word. Waarom hoor ons so min hiervan – of is dit polities nie korrek om dit te sê nie?

Richard Edkins ·

What is happening is nothing short of a tragedy. The majority of these officials who are paid to see that LTSM is delivered to schools, have, you can be sure, their children in functional schools where parents are able and willing to make the financial sacrifices to personally buy LTSM for their children. Although the level of funding on a national level is R906,00 per learner per year, in the Eastern Cape it is R880,00, of which 45% is used for LTSM ie R407,00. And we are talking about Quintile 1,2and 3 schools ie non fee paying schools. In Q5 the allocation for LTSM is about R75,00 per child per annum. These figures were disclosed by a senior officialof the Easter Cape Department of Education. This is ludicrous! There are too many people in top positions who are either incapable of doing the work for which they are paid, or, just simply don’t care about the plight of the majority of the children of our country.

Ebert Terblanche ·

Organisasies verrot van die kop af ondertoe.

Die minister moet wel onderwysbeleid en -strategie bepaal, maar moet ook toesien dat die nodige wil en bevoegdheid bestaan vir daardie beleid en strategie om uitgevoer te word. Daarom beskik ministers ook oor die vermoë om Direkteurs-Generaal aan te stel of af te dank.

Die kern van die kwaad wat u akkuraat as “ingesteldheid” uitwys, word ook algemeen na verwys as organisatoriese kultuur. Naas die stel van doelwitte en die aanstel van die regte span, is diegene belas met beheer verwantwoordelik vir die daarstel van organisatoriese kultuur. In die regering is dit ten eerste die verantwoordelikheid van die kabinet om die gepaste kultuur vir regeringsdepartemente te kultiveer.

Die kultuur wat in Suid-Afrika posgevat het, is een wat gebasseer is op die vertering van oorlogsbuit (“spoils of war”), aandrang (“entitlement”) en die opeis van regte (teenoor die opneem van verantwoordelikhede). Die kabinet het geen klein aandeel in die endemiese aard van hierdie verterende kultuur op alle vlakke van regering en dienslewering nie. Inteendeel, die kabinet is verantwoordelik daarvoor.

Dat die probleem groter is as ‘n geïsoleerde geval van boeke wat gestort is vir vernietiging is dus heeltemal reg. Die vraag is nou slegs of die kanker reeds in ‘n terminale fase is en of daar nog omdraaikans is?

Die gesegde lui dat ‘n nasie altyd die regering kry wat hy verdien.

Afrikaners kan nie die regering of kabinet aanwys nie. Die enigste uitkomkans is om alternatiewe organisasies op die been te bring of te ondersteun wat oor ‘n kultuur van prestasie beskik. Hierdie uitkomkans word beskerm in die internasionale handveste van minderheidsregte, ongeag hoe die regering daaroor mag voel.

Gaan ons ons eie alternatiewe vir ons mense skep, of gaan ons bly poog om vir ‘n stelsel te werk wat besig is om ons mense teen hul wil te dryf na die alternatiewe wat ander lande bied?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.