Die harde werklikheid oor persvryheid in Suid-Afrika

Argieffoto

Argieffoto

Die afgelope naweek is bekend gemaak dat 150 van die SABC se personeel aangekla word van bedrog. Dit is gewis ʼn angswekkende getal, maar vir ons hier in Suid-Afrika is dit maar net nog ʼn dag in ʼn plek wat deur die Verenigde Nasies as ʼn “wonderwerk” voorgehou word.

Hierdie nuus hou verband met ʼn groeiende tendens wat op die lange duur ernstige gevolge vir vryheid in Suid-Afrika kan inhou: persvryheid.

Die Suid-Afrikaanse grondwet waarborg natuurlik persvryheid uitdruklik wanneer in artikel 16(1) verklaar word dat elkeen die reg het op vryheid van uitdrukking, wat insluit die vryheid van die pers en ander media. ʼn Harde werklikheid het oor die afgelope twintig jaar die land egter getref, naamlik dat grondwetlike “waarborge” in teorie nie noodwendig beteken dat iets in die praktyk gebeur nie. In Suid-Afrika hang die realisering van grondwetlike waarborge in ‘n groot mate van die politieke wil van die meerderheidsregering af. En die politieke wil word bepaal deur wat ook al in die regerende party se belang is op die korte duur.

Ongelukkig het die ANC ʼn lang, ongemaklike geskiedenis met die media. In 1991 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge ‘n seminaar oor persvryheid gefasiliteer. Verskeie joernaliste wat gedurende die 1980’s politieke verslaggewing in Suid-Afrika se townships gedoen het, het daar verklaar dat hulle oneerlik was in hul beriggewing.

Hierdie harde werklikheid behels onder meer dat die Suid-Afrika van vandag nie oor persvryheid beskik nie. Die onafhanklike waghondorganisasie wat vryheid oor die wêreld heen monitor, Freedom House, bestempel Suid-Afrika se media as slegs “gedeeltelik vry”.

Enkele van die redes wat aangevoer word waarom Suid-Afrika se pers nie as “vry” bestempel kan word nie, sluit in:

• Wetgewing wat die media verbied om op sekere plekke te funksioneer, soos die National Key Points Act.
• Die aanvaarding van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting, wat aan die regering oordrewe mag gee om inligting as “geheime inligting” te verklaar en wat die publisering van daardie inligting kriminaliseer.
• Politieke druk wat deur regeringsamptenare geplaas word op joernaliste wat negatief verslag doen oor die regering. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die arrestasie van die Sunday Times joernalis, Mzilikasi wa Afrika, nadat hy verslag gedoen het oor korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens onder die voormalige nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi.
• Politieke druk op die media om meer “patrioties” te wees en by implikasie oordrewe fokus op die regering se suksesse te plaas, terwyl die regering se mislukkings nie in die pers aandag mag geniet nie.
• Die dreigement dat ʼn staatsbeheerde mediatribunaal ingestel moet word met die doel om die media te monitor vir beriggewing wat na hul mening goed of sleg is.
• Toenemende kritiek teen die staatsbeheerde SABC, wat in hul beriggewing al hoe meer pro-ANC raak en al hoe minder lugtyd gee aan opposisiepartye en drukgroepe wat die ANC kritiseer.

Thomas Jefferson het gesê dat mense se vryheid uiteindelik afhang van die vryheid van die pers en dat dit nie moontlik is om persvryheid te beperk sonder om dit geheel en al te verloor nie.

Persvryheid beteken nie dat die media verhewe moet wees bo kritiek nie. In ʼn werklik vrye demokrasie behoort media-instellings vry te wees om te besluit waaroor en hoe hulle verslaggewing doen. Net so behoort die publiek vry te wees om self te besluit watter media-instellings hulle gaan ondersteun.

Persvryheid in Suid-Afrika is beslis nie verlore nie. Daar is steeds uitstekende joernaliste en media-instellings wat elke dag sorg dat ek en jy ingelig bly oor wat rondom ons gebeur. Hierdie mense kry nie genoeg erkenning vir hulle aandeel in die vryheid wat ons wel geniet nie.

Maar om te beweer dat Suid-Afrika oor ʼn werklik vrye pers beskik, is eenvoudig nie waar nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ampie ·

Goeie artikel deur Ernst. Net jammer dis nie geredigeer voor geplaas is nie. Verwysings na “bevestig datum” en “voeg aanhalings by” is net so deurgelaat. Nietemin, ‘n verdere probleem met persvryheid is dat die pers/media hulself muilband deur polities-korrek te wil wees en in die proses ongewilde menings self verban of uitsluit.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ampie

Die persoon wat die berig gepubliseer het, het per ongeluk nie die teksversorger se kommentaar gesien om dit te verwyder nie.
Die berig is nou gewysig.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.