Die helde van ons toekoms

leierskap

Argieffoto.

Deur Sarel Roets

Aan die begin van die negentiende eeu besluit ’n groepie gegriefde grensboere aan die oosgrens van die Kaapkolonie dat hulle nou, ná vele grensoorloë, genoeg gehad het van ’n owerheid wat nie hul beste belange op die hart dra nie. Tot die ontsteltenis van die Engelse owerheid in die Kaap en in Londen, pak hulle hul ossewaens om elders ’n nuwe werklikheid te skep.

Die trek het ʼn hewige briefwisseling tussen die goewerneur aan die Kaap en die parlement in Londen tot gevolg gehad. Die arme goewerneur het die onmoontlike opdrag gekry om die trekkers met alle mag te stop, want in daardie tyd was Engeland die magtigste moondheid in die wêreld. Hulle het daarin gespesialiseer om oproerige burgers in hul kolonies met geweld te onderdruk.

Die trekkers wou egter nie baklei nie en trek toe in vrede noord. Moedeloos moes die goewerneur aan Londen skryf dat hy geen strategie het nie. Moet hy dan die trekkers met geweld op die walle van die Oranjerivier binne die grense van die kolonie hou? Magteloos moes hulle toekyk hoe meer as 10 000 burgers die Kaap tussen 1834 en 1854 verlaat.

Sestig jaar later, kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, verwys die Engelse steeds na die Boere van die twee Republieke in die Noorde as onversorgde barbare wat hul kinders soos wilde diere in die veld grootmaak. As ʼn mens egter vandag deur die ou dele van Pretoria en Bloemfontein ry is, dit duidelik dat ons voorouers beslis nie soos diere in die veld geleef het nie. Ons helde van die Groot Trek het juis die wildernis getem en dááruit ’n moderne beskawing gebou.

ʼn Eie demokratiese regering. ʼn Eie moderne regstelsel. ’n Gesonde en groeiende ekonomie.

Vandag is 10 Oktober. Dit is oudpresident en kind van die Groot Trek, Paul Kruger, se verjaardag. Hierdie dag is algemeen bekend as Heldedag. Mag ons tog nooit op die punt kom waar ons, ons helde wat ons volk opgebou het, tot ’n trotse lid van die wêreld se volkery, vergeet nie.

In 1991 het daar in die hartjie van Suid-Afrika ’n vreemde ding gebeur. Weer eens het ’n klein groepie Boeretrekkers, ná afloop van ’n grensoorlog, hul tasse gepak en getrek. Weer eens was dit aanvanklik net ’n Gideonsbende wat die groot riviere oorgesteek het. Weer eens is die trek deur die regeerders van die tyd met smaad en wraak aanskou. Hierdie Afrikaner-pioniers is nie vir onderhorigheid gebore nie.

Orania het klein en nederig ontstaan. Net soos met die Groot Trek was die waarskynlikheid vir sukses uiters gering. Die risiko’s was baie en die uitdagings selfs nog meer, maar om ’n hoopvolle mens te stuit, sit nie in enige man se broek nie!

My eerste indrukke van Orania was in die laat 90’s. Dit was die tipiese negatiewe sentiment wat vandag nog in so baie Afrikaners se harte lewe. “Klein. Agterlik. Arm. Dom.”

Dit klink baie soos die Engelse sentiment voor die Tweede Vryheidsoorlog. Ek was egter op daardie stadium nog ’n inwoner van Paul Kruger se stad, Pretoria. Dit was jare voordat ek die eerste keer my voete in Orania sou sit. Dit was voordat ek die hoopvolle bouers van die Orania-stad ontmoet het.

Jy sien, as jy nie self ten diepste met die Oraniërs en hul hoopvolle toekomsverwagting te doen gekry het nie, is die konsep so vreemd, dat dit maklik soos waansin lyk.

Wat op aarde besiel mense om alles agter te laat, hul waens te pak en van vooraf ’n toekoms uit die stof te bou?

Die antwoord is eenvoudig: ’n Hoopvolle toekomsverwagting waar Afrikaners met eie bloed en sweet vryheid, veiligheid en voorspoed kan bou. Om ’n hoopvolle mens te stuit, sit nie in enige man se broek nie.

Vandag is Orania nog maar net 28 jaar oud. Hierdie klein reus van ʼn dorp wat met ’n skrale 200 mense begin het, het in 28 jaar reeds drie keer in inwonertal verdubbel en groei tans konstant teen 10% per jaar. Dit sou waarskynlik nader aan 20% gewees het as ons vinniger infrastruktuur kon bou, maar ons vra nie aalmoese van die staat nie en ontvang dus niks. Hier woon tans 1 600 mense.

Dit is egter presies hier waar statistiek tot verwarring lei.

Dit is nie die aantal siele wat die waarde van hierdie groeiende reus se gewig bepaal nie, maar die dieper sielkunde wat in elkeen van hierdie 1 600 koppe maal. Hoe is dit moontlik dat ’n klein Noord-Kaapse dorpie die ganse wêreld op hol jaag met ’n Facebook-blad met meer as 108 000 volgelinge van oor die wêreld heen? En ’n Twitter-reikwydte van meer as ’n miljoen op besige dae? ’n Nuusbrief wat elke twee weke in bykans 20 000 mense se e-posse land? ʼn Nuusbrief wat vrywilligers trek van, onder meer, Koeweit, Kanada, Amerika, Korsika en Pole. Dan praat ons nie eens van die honderde nasionale en internasionale nuusspanne, joernaliste en navorsers wat jaarliks op Orania toesak nie.

Om Orania reg te weeg, moet jy Hennie Nicholson ontmoet. Dit is die jong man wat as ʼn bitter arm kind in Orania geland het, verantwoordelikheid vir sy toekoms geneem het en vandag een van die grootste en mees suksesvolle bouondernemers in Orania is. Jy sal moet gaan kuier in Orania se Oewerpark en gesels met die jong Jana Coetzee wat eienaarskap van haar pionierouers se familiesaak geneem het en dit vandag van krag tot krag laat groei. Jy sal saam met Cobus Nel deur sy hektare en hektare mielies moet ry dat hy jou kan vertel hoe hy begin het om, saam met sy broer Willie, ander se mielies met ’n stokou vragmotor na die plaaslike silo’s aan te ry. Jy sal by Conrad Basson se kantoor moet gaan draai sodat jy kan sien hoe hy met die laaste paar rand van sy studentesakgeld ’n wêreldgehalte aanlynsakeonderneming begin het.

Verbeel jou ’n plek waar Afrikaner arbeid-adel gedryf word deur ’n hoopvolle oorlewingsdrang. Waar daar vir niemand toestemming gevra word om suksesvol te wees nie. Waar geen verskoning aangebied word vir mislukking nie. Waar niemand vir gunsies gevra word nie en waar van niemand anders verwag word om die harde en vuil werk te doen nie. Verbeel jou dit en jy sien Orania!

Die Orania-embleem is ’n klein seuntjie wat sy moue oprol. Hy is nog jonk, maar hy is klipsterk, doelgerig, vasbeslote en hoopvol. Ons noem hom die Klein Reus. Hy is die toonbeeld van ons mense. Hierdie mense, hoor my lied, is die toekomstige helde van ons Afrikanervolk.

Vanuit ’n vry, veilige en voorspoedige jong Orania wens ons alle Afrikaners ’n hoopvolle Heldedag toe.

  • Sarel Roets is die uitvoerende hoof van die Orania Beweging

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Baie geluk aan almal wat gehelp het met die totstandkoming asook ontwikkeling van die pragtige dorp met sy skoonheid. Verlang om daar te gaan woon, dalk eendag.
Sarel, dankie vir die mooi uiteensetting van omstandighede wat daartoe gelei het vir die bou van daardie toekomsreus wat nog eendag in geskiedenis ingebind sal word.

Gert ·

Mens se hart swel van trots oor hierdie mense wat bereid is om soveel te trotseer ter wille van hulle identiteit.
Voorspoed vir julle!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.