Die herdood van die gemaskerde, weder-opgestane goue bulkalf

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Twee en ʼn half jaar gelede. ʼn Dankbare lofsang eggo oor die gefolterde land. Die nasie jubel, want daar is ʼn nuwe president. Hy is Cyril Ramaphosa, die verlosser uit die knelling van staatskaping en die verwoesting van Jacob Zuma.

Daar was geen gronde vir Ramaphosa se verlosserstatus nie. Maar wat maak dit saak? Daar was oplaas ook geen gronde vir die afgodstatus van die goue kalf van Eksodus 32 nie. Hoekom dus strenger vereistes vir die Suid-Afrikaanse goue bulkalf stel?

Ramaphosa het spoedig teleurgestel. Hy het slegs die breë pad geken. Hy het geluide gemaak om Eskom en ander verspillende staatsondernemings te herstruktureer, maar daar het niks van gekom nie. Hy het gebare gemaak om die staat se uitspattige salarisrekening te besnoei, maar daarvan het ook niks gekom nie. Hy het die herhaalde kanse wat kredietgraderingsagentskappe hom gegun het om die land se klaaglike staatsfinansies in orde te kry, geïgnoreer en sodoende die land dieper in rommelstatus ingelei.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Onder sy leiding besluit die Nasionale Vergadering op onteiening sonder vergoeding en onder sy leiding word verdere stappe gedoen om die reeds bankrot staat nog verder met die onbekostigbare nasionale gesondheidsversekering te belas. In pas met Zuma wat verkondig het al die moeilikhede van die land het begin met die koms van Jan van Riebeeck, beskuldig Ramaphosa wit mense van die oersonde van grondroof en verlede jaar vind Ramaphosa Versoeningsdag die gepaste geleentheid om die Voortrekkers as indringers af te maak.

Intussen is die staatsadministrasie met inbegrip van die munisipale owerhede, soos tevore, steeds in dieselfde klaaglike toestand. En in weerwil van dramatiese aankondigings oor die aanstelling van superaanklaers by die Vervolgingsgesag is nog niemand vir enigiets verbandhoudend met staatskaping vervolg nie.

En die goue kalf wat die nasie so laat jubel het? Lofsange is goue kalwers se enigste lewensbloed. Daarsonder vrek hulle. Vanweë sy mislukking het die lofsange wat aan hierdie goue kalf gebring is, spoedig weggekwyn… en die kalf stilweg heengegaan.

Met die kalf in sy kanon, het nou net Ramaphosa oorgebly – ʼn Ramaphosa wat (onthou u?) oor die verrysing van ʼn blink, nuwe stad en ʼn blitsvinnige sneltrein gefantaseer het en hom ʼn sprankelende nuwe wêreldorde verbeel het. Uiteraard kon die hersenskimme nie die goue kalf laat herrys nie. Die kalf was klaar dood.

Maar nie vir lank nie, want hier kom Covid-19 uit China aangesweef en dit lyk of die doodsengel, soos lanklaas tevore, ʼn nuwe huppel in sy stap gekry het. Die mensdom is bang. Die nasie hier te lande reageer verskriklik beangs en roep benoud uit om die intrede van ʼn verlosser wat die doodsengel kan verjaag. Siedaar, die roepstem word verhoor: die einste eens gestorwe goue bulkalf spring baldadig orent.

Die goedgelowige nasie juig. Vergete is die goue kalf se mislukte eerste lewenstog. Hierdie keer kan ons seker wees: die weder-opgestane afgod sal ons verlos.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die goue kalf, verbeeld in die verlossende president, verskyn gereeld voor ons. Hierdie keer lyk hy ietwat anders. Hy is gemasker – in pas met die eise van die tyd. Hy praat so mooi, bedaard en verstandig. Die nasie loof hom. Hy gaan die doodsengel op sy plek sit. Laat ons sy reddende hand gryp. Dankbare hulde styg op nes daai tyd in Eksodus 32.

Hoe kon die twyfelaars die goue kalf se sakrale stamboek en sy goedertierenheid so misgekyk het?! Die aanduidings was van jongs af daar. Kyk, hier is ʼn foto reeds uit die kalf se prille jeug, wat flink op sosiale media gesirkuleer het – iemand wat baie trek op die jeugdige Ramaphosa in sy hoedanigheid as voorsitter van die Students’ Christian Movement. Kort ná die aankondiging van die verlenging van die grendelstaat ʼn paar weke gelede, volg verdere getuienis van die kalf se sakrale stamboek: ʼn serieuse afbeelding van die president gepaard met ʼn uittreksel uit sy toespraak waarin hy op die vooraand van Goeie Vrydag die nasie seën toewens. Met dankbare harte word dit op sosiale media versprei.

Nou bring omtrent die hele nasie hulde aan die presidensiële goue kalf. Maar ʼn goue kalf is nie rêrig ʼn goue kalf as daar nog nie ʼn beeltenis ter ere van sy grootsheid is nie. Toe kom die beeld. Op sosiale netwerke berig ʼn dame dat haar 72-jarige beeldhouervader aan die werk is aan ʼn beeld vir die gemaskerde kalf. Só word die goue kalf geloof.

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Foto: National Cogta/Twitter)

Dog, net toe eerbetoon op sy skrilste weergalm, begin sy glorieryke aanskyn skielik en erg verdof. Want die erbarmlike kalf is die primus inter pares van die A Team South Africa – ons onontkenbaar idiotiese regering. In hierdie geledere is daar die prewelende de facto- eerste minister, Nkosazana Dlamini Zuma; die hoofkommissar vir die verwoesting van handel en nywerheid, Ebrahim Patel; skop-skiet-en-donner en reg-en-wanorde-kommissar, Bheki Cele; en beuelbek, Fikile Mbalula, die goue bulkalf se kommissar van vervoering. Daar is nog ʼn rits ander. Comrade Lindiwe Zulu, verpak in haar rooisterpet, passend met Mao-pakkie en rewolusionêr afgerond met iets van ʼn Gucci-bril. Dan natuurlik is daar die eens groot hoop van die nasie, Pravin Gordan wat, terwyl die wêreld se kragtigste lugdienste in die hek duik, fantaseer oor hoe die bankrotste van almal, SAA sierlik opstyg. (Laat ons nie die instelling met sy eertydse Afrikaanse naam komplimenteer nie.)

Daar is natuurlik nog ʼn hele tafereel van eienaardige, onbekwame figuurtjies in Ramaphosa se potsierlike A Team.

Te midde van Covid-19 het die reddende goue kalf die grendelstaat gedekreteer. Daarbinne floreer A Team South Africa. Hulle hiet en gebied en saai verwoesting soos nog nooit tevore. Hulle stuur daarop af om ʼn reeks rekords aan te teken: om in hierdie tydsgewrig die publiek meer as op enige ander plek in die wêreld af te knou; werk en besighede te vernietig; persoonlike ontbering te veroorsaak; die ekonomie te laat kwyn; om met dwase maatreëls honger mense se kos uit hul mond te neem. Die dwaasheid ken geen perke.

Niks hiervan is egter nuut nie. Die dwaasheid is ʼn ou ding. Dis deel van die ANC se toksiese DNS. Die vernietigingswerk het meer as twee dekades gelede begin: eers langsaam, toe vinniger, en nou – te midde van die virus – is dit op volle vaart.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Woensdagaand, 13 Mei het Ramaphosa weer sy verskyning voor ons gemaak. Hy het verskoning aangeteken omdat sy regering nie aan die verwagtinge voldoen het nie; dat hul optrede soms vaag, teenstrydig en swak verduidelik was en dat die afdwing van hul maatreëls soms hardvogtig en inkonsekwent was.

Die weder-opgestane goue kalf, wie se tweede lewe enkele weke gelede nog met luide pryssang gevier is, het, soos tevore, weer heengegaan. Maar die herdood van die weder-opgestane kalf was hierdie keer nie stil nie. Hierdie keer word die kalf gehoon en bespot vanweë sy klaarblyklike onbekwaamheid, sy planloosheid en vanweë die feit dat hy oplaas eintlik bloot net hol is.

Die waarheid, natuurlik, is dat daar nooit ʼn reddende goue kalf was nie. Nie twee en ʼn half jaar gelede nie en ook nie nou nie.

Al wat daar was, was maar net Cyril Ramaphosa en sy hopelose span – ʼn span met geen regeervermoë nie. ’n Span wat nie die vaagste benul het van die funksionering van ʼn moderne ekonomie nie, en geen begrip vir die voorwaardes vir sinvolle en gelukkige menslike bestaan nie.

 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

myvyfsent ·

Teleurstellend om te sien hoe ons agteruit gaan. Die oumense het altyd gesê as dit te goedgaan ” onthou n tolletjie garing het ook n einde”

Snowball ·

Prof Koos Malan, soos vermeld ” dat hy oplaas eintlik bloot net hol is.” hoop ek, mag mens asb letterlik en figuurlik interpreteer, met die klem baie swaar op ‘bloot net hol’.

So beskrywend, die klaaglike, lot van SA in die hande van sy verinneweerders, vermom as verlossers!!!

Chris ·

Gelukkig beskerm maskers en is meer van pas vir sekere draers, Ongelukkig, blokkeer die maskers nie mense van al die twak wat kwyt geraak word nie.

Fedup ·

They are like a massive pot of soup that is full of emptiness. And headscarf is the spoon that stirs up chaos.

Betzie ·

Daar was onlangs ‘n blanke dame van Bloemfontein , werksaam by die UFS as administratiewe beampte, wat dan vir Ramaphosa ‘n drukkie wou gee

Pieter J ·

Ja Betzie jy is doodreg. Daar is nog vele van daardie soort wat nog steeds sy lof besing. Ek dink baie van hulle is skaam om te erken hulle het hom verkeerd opgesom en ander dink ek is doodeenvoudig te dom of te liberaal om bekeer te word.

Chris ·

Ek is van nature nie pessimisties/negatief of swartgallig nie. Ek is net effens ongemaklik wat die reaksie gaan wees wanneer die harde werklikheid uiteindelik by iemand gaan vasslaan. Die regime en meelopers leef in ‘n ander wêreld wat volgens my elke dag ‘n dag nader aan die einde kom.. Dit is absolute waansinnigheid en verwaandheidswaansin wat hoogty vier.

Adam Adriaan ·

Uitstekend opgesom van wat aangaan in hierdie mooi land van ons. Gelukkig sal die wat verwoes, ook verwoes word. Almal in die leeukuil sal omkom en tot niet gaan, behlwe die wat Glo. Hoe bly om te kan Glo!! Dit gaan nie maklik wees nie!!

Hannes ·

Puik artikel.
Hoop hierdie patetiese besluitnemings en regulasies lei tot SA se verlossing.

Therese ·

Briljante artikel!
Dit kos die Gemaskerde Goue Bulkalf egter net ‘n paar vriendelike woorde in Afrikaans om goedgelowige gedienstiges opnuut in bewondering te laat swymel.
Sommige leer nooit.

Stephanie ·

Briljante, nugtere artikel. Word wakker my volk – die “godjie” het voete van klei en gaan kort-voor-lank onderstebo lê.

Hennie ·

Uitstaande stukkie werk in onbesproke, uitmuntende Afr. Tog ookjammer dis so, sou graag wou sien dat hierdie tesis vertaal moet word en aan die sg leiers voorgelê word. Ongelukkig is daar geén ander taal so wonderskoon en kragtig soos Afr nie en daar sal net ‘n stukkie verwaterde deeltjie van hierdie oorspronklike werk by die amptenare uitkom. Tog só jammer!

Thereza ·

Puik gestel. Sou dalk net meer byvoeglike naam woorde gebruik het

MakersMark ·

Uitstekend geskryf en opgesom. Hol, veral in die top story.

Heinrich ·

Uitstekende skrywe, dankie prof Koos! Soos Midas enigiets waaraan hy geraak het in goud verander, kan ons sien waarin verander dit alles wat die ANC aanraak…ek tel dit elke Saterdag van my gras af op.

Alleen Wolf ·

Absoluut akkurate opsomming van die ANC president en sy trawante, Bravo Prof Malan

Jaco ·

die kommunistiese ANC se huidige liefde vir China is vreemd:
Nadat China in die 1960’s met die Sowjet-Unie gebreek het, was Chinese kommunisme anders as Sowjet-kommunisme. Die ANC en die SA Kommunistiese Party is deur die Sowjet-Unie gehelp. Die PAC, wat vanaf die ANC weggebreek het, is deur China gehelp.

Frans ·

Daar is ongelukig nie ‘n opposisie part wat die ANc uit die kussing kan lig nie,want die ANC is in die oë van miljoene kiesers die party wat hul uit die slawehuis van apartheid na die beloofde land gelei het.

Hulle gaan nie soos Israeliete van ouds rebelleer en terugverlang na die ou bedeling nie.Die meerderheid van Suid Afrika se blanke kiesers het in 1992 die pad gekies en is die minderheid al protesterend ingetrek in ‘n mi gekkeparadys. Die vraag is nou hoe die minderheidsgroepe nou in die bedeling uitgelewer aan die ANC se grille en giere gaan oorleef?

Vrijburger ·

Baie goeie stuk. ek verskil egter net op een punt. Die goue bulkalf het die eerste keer tydens CODESA al verrys. Drie keer al, maar nie almal hoor die haan kraai nie.

Elizabeth ·

Malan, wat ‘n pragstuk Afrikaans. Kleurvol soos min ander tale kan beskryf. Ek het dit al 3 keer deurgelees, haha!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.