Die horings van die energiedilemma

sonkragpaneel-kernkrag-elektrisiteit

Foto: Skeeze/Pixabay.com

Deur dr. Christo Pretorius

Thembisile Majola, adjunkminister van energiesake, het haar in ’n onlangse onderhoud met Stephen Sacker van die BBC se Hardtalk tussen die horings van die Suid-Afrikaanse energiekrisis bevind.

In die onderhoud op 31 Oktober het Sacker ’n donker prentjie van die Suid-Afrikaanse energie-situasie geskilder en tereg gevra of die ANC bevoeg is om die probleme op te los.

Van die probleme wat die ANC in die gesig staar en grotendeels self geskep het, is die endemiese korrupsie in staatsliggame, die toename in werkloosheid, die tekort aan energie, hoë brandstofpryse en afhanklikheid van steenkoolaangedrewe voorsiening van elektrisiteit.

Eskom, die staat se enigste energieverskaffer, dring aan dat die prys van elektrisiteit in die volgende drie jaar met 15% verhoog word.

Die aandrang van hierdie ANC-beheerde instelling op ’n verhoging van die prys van elektrisiteit, weergalm teen die agtergrond van ’n toenemende skuldlas wat tot soveel as seshonderd biljoen rand kan beloop. Boonop is die elektrisiteitverskaffer se infrastruktuur besig om te verkrummel omdat dit so verouderd is en is daar ’n gebrek aan vaardighede by die instelling.

Volgens Sacker het energiepryse die afgelope tien jaar met 356% toegeneem en is dit duidelik dat Eskom binne ’n privaat korporatiewe omgewing lank reeds bankrot verklaar sou wees.

Dit is duidelik dat staatsbeheerde monopolieë, soos Eskom, misluk.

Alhoewel Majola toegee dat die model van staatsbeheer nie die gewenste resultate het nie, is die ANC steeds gekant teen die privatisering van energie.  Trouens, dit blyk dat die ANC – volgens Majola – ruimte vir privaat entiteite sal skep, maar net in soverre dit die staat ondersteun.

Behalwe die kritieke afmetings wat die bestuur en dienslewering van Eskom ervaar, blyk dit dat die afhanklikheid van steenkoolaangedrewe elektrisiteitsopwekking ’n druippunt vanaf Greenpeace ontvang het.

Onder beheer van die ANC-party is Suid-Afrika tans van die lande wat in verhouding die meeste bydra tot besoedeling.

Minder as 4% van Suid-Afrika se energie word uit hernubare bronne geput en die afhanklikheid van steenkool voorspel niks goeds vir dorpe en gemeenskappe wat rondom steenkoolvelde opgerig is nie.

Tereg kan die volgende gestel word: Die ANC kan nie bekostig om van steenkool af te sien nie en sit hande in die hare met staatsinstellings wat vanweë korrupsie en wanbestuur bydra tot verhoogde brandstofpryse, werkloosheid en ’n voortdurende resessie.

Die dilemma is dat die ANC-beheerde regering ideologies vasgevang is in uitgediende modelle waaronder die sogenaamde Nasionaal Demokratiese Rewolusie.

Wanbestuur, korrupsie en ideologiese verstoktheid dra al hoe meer vrug en toenemend sal die ANC en sy ondersteuners hulle tussen die horings van die energiedilemma bevind.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rupert Ashford ·

Sy moes slegs vir Sacker gevra het met hoeveel % is Britse energiepryse opgejaag om die onbetroubare/nie-konstante bronne ekonomies lewensvatbaar te kry. Die SA regering doen presies dieselfde as alle ander wereldwyd – maak energie onbekostigbaar duur sodat die alternatiewe bronne aantreklik word. Saam met hulle Brics maatjies verkoop hulle egter nie hulle siel aan die Groengod nie, maar pleeg net lippediens terwyl hulle meer steenkool gebruik. Dit is slegs onnosel eerstewereld lande wat hulle eie ekonomiee saboteer deur Greenpeace en kie se waatlemoen beleide tot die letter implementeer.

B-man ·

ANC is teen die privaat eienaarskap van Eskom/elektrisiteit in SA… maar hulle laat toe dat China op die ou end beheer gaan hê hieroor en dus die ekonomie. Hoe regverdig ANC dit?

P.S. Greenpeace – pffft!

Jerry ·

Die ANC het twee kampe. Die Zupta kamp wat ideologies vasgevang is en wat met opset die energiekorporasie in die grond in bestuur het. Met Zupta het die ANC die rand laat val. Die CR kamp moet nou die rand weer doelbewus optel, wat beteken dat hulle die energiekorporasie nou kan hervorm na gelang van wat die NDR tans die beste pas. Die ANC het booswig gespeel met Zupta en nou speel hulle held met CR, maar met slim hervorming van staatbeheerde entiteite. Na CR se termyn is dit publieke entiteite en privaatmaatskappye wat in die grond in bestuur moet word sodat dit ook uiteindelik hervorm kan word. So beplan die ANC om uiteindelik die ekonomiese mag te bekom deur dit in kaders se hande geplaas te kry.

B ·

Jy gee die ANC heetemal te veel krediet Jerry.
Ja hulle het ‘n ‘bloudruk’ (NDR / FHM) maar in werklikheid strompel hulle van een fiasko na die ander. (Dalk ‘n bedekte seen dat persoonlike magbeheptheid (sp?) en geldgierigheid baie ‘strategiese doelwitte’ in die wiele ry ? )
NS : Jy se CR moet dit weer optel ens, onthou die ANC is nie CR, daar is baie veranderlikes wat druk oor ‘n wye front uitoefen.

John ·

Ons moet asb tog nie val vir nog atoomkrag nie. Dit sal ons nie net biljoene kos nie maar die onbekwaanhede van sg kundiges in Afrika sal ons slapelose nagte gee. As Eskom nie eens bestuur kan word nie en ons treine gereeld papwiele kry, hoe vlot gaan sulke atoomkragstasies loop? Met kort-kort ‘n krisis of ‘n lekkasie? Die sg aardverwarming is nie genoeg rede om sulke dwase tegnologie in die hande van mega-geniee los te laat nie.

Frans C ·

Die aanslag van die ANC is in die eerste plek ‘n kommunistiese aanslag.Die staat moet met ‘n paranoïese struktuur alles beheer en word voorrade en instandhouding gesentraliseer.

Waar steenkoolkragsentrales in die verlede oor genoeg werkswinkels ,voorraad en opgeleide mannekrag,ketelmakers ens beskik het is die weggeneem.Die gevolg is dat instandhouding agterweë bly omdat onderdele en mannekrag eers by die werksterrein moet uitkom.

Dieselfde by Munisipaliteite,waar munisipaliteite eers oor goed ingerigte werkswinkels
beskik het,word vandag alles ‘ ge-outsource’ en loop kiloliters water die strate af want
daar is geen voorraad nie.Dieselfde met elektriese werkswinkels.

Dit is maar een van die nagevolge waaarmee die Kodesa onderhandellaars nie rekening
gehou het nie want hul was teoretiese en nie praktiese mense nie en sou nooit kon raai
dat die ANC poste soos smarties aan ‘n klomp onbevoegde kaders sou uitdeel nie.

Sondag berig Rapport dat bykan 40 Mk-veterane generaals word en ‘n sersant ‘n brigadier! en dit terwyl steen en been gekla word oor ‘n tekort aan finansies!.

Hoe ons in hierdie gekkeparadys beland het is ‘n takie wat mens liefs aan geskiedenisskrywers van die toekoms moet oorlaat.

Chris Ws ·

Ek is nie ‘n “geskiedenisskrywer van die toekoms” nie maar ek KAN jou PRESIES vertel hoe ons in die gekkeparadys beland het : Hoog Verraad teen ons Boerevolk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.