Die ideologie van struggle en studente-opstande

uniegebou-studente1

Studentebetogings voor die Uniegebou in 2015. Foto: Twitter

Deur Victor Correia

A luta continua is die strugglekreet wat op die voorblad van die Rhodes Must Fall-beweging se webblad verskyn. Die lied is oorspronklik deur Samora Machel in Mosambiek se vryheidstryd gebruik.[1] Die woorde kan vertaal word as “die stryd sal voortgaan”.

Diie huidige studente-opstande toon verskeie kenmerke van ʼn struggle-ideologie. ʼn Ideologie kan beskryf word as ʼn verstarde lewensvisie waar die doel enige middele om dit te bereik, heilig. Wanneer mens die oogmerke van die Rhodes Must Fall-beweging bestudeer, lyk dit asof hulle ʼn tipiese antibeweging is. Hul hoofdoel is om te struggle en enige denkbare vyand te bestry.[2]

Universiteitsbesture moenie dink kompromieë sal hulle die guns van die studente laat wen nie. Die verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes het nie die struggle-beweging gestuit nie, maar hulle eerder aangespoor om ʼn volgende vyand te kry om teen te struggle. So het dit ook gebeur. Eers was dit RhodesMustfall, toe FeesMustFall, later NoFeesatall[3], toe Totiusmustfall en nou Afrikaansmustfall. Hoe groter die sukses wat hulle behaal, hoe groter die volgende waagstuk.

Dit lyk asof die jong geslag daarna streef om te struggle soos hul voorgangers, wat nou aan die stuur van die ANC sit, eenmaal gestruggle het. Struggle word dan ʼn doel opsig self. Struggle word dan ʼn ideologie wat mens blind maak daarteen om die werklikheid te sien soos dit werklik is. Die struggle-ideologie maak jong studente blind daarvoor dat mens hard moet werk om ʼn graad te kry en ʼn werk te kry en daarna lewenslank daarmee moet aanhou.

Lees ʼn mens oor die ontstaansgeskiedenis van ʼn universiteit soos die PU vir CHO, kom ʼn mens tot die besef dat die universiteit deur harde werk tot stand gekom het. Dieselfde kan vir baie ander universiteite gesê word.

Opbou-mentaliteit

Die Afrikaanse gemeenskap het goeie rede gehad om na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog in ʼn strugglementaliteit te verval. Tog het die gemeenskap begin werk om iets aan hul toestand te doen.

Skole en universiteite is met groot opoffering gebou, kerkgeboue is met geld van koeksisters opgerig en ondernemings wat die belange van die Afrikaanse gemeenskap gedien het, het ontstaan. Dit is alles moontlik omdat hulle verantwoordelikheid vir hul eie omstandighede aanvaar het.

Die swaarkry wat hulle getref het, is nie net op die rekening van die Engelse geplaas nie, maar hul geloof in God het dit vir die Afrikaners moontlik gemaak om in te sien selfs die onderdrukking van die Engelse is deur God beskik met ʼn bepaalde doel.

Die Engelse word vandag nog onthou vir wat aan die boere gedoen is, maar vergifnis het plaasgevind. Die Afrikaanse gemeenskap het vorentoe beweeg en verantwoordelikheid vir sy eie lot aanvaar. Dalk kan die struggle-studente iets leer van die wyse waarop die Afrikaanse gemeenskap te werk gegaan het om na hul struggle teen die Britse moondheid hul gewere neer te lê en hul grawe op te tel?

Ora et labora was hul leuse. Dit beteken: Bid en werk. Na hul struggle het hulle begin werk, om te bou wat afgebreek is en om te bou aan ʼn beter toekoms. Dit is baie moeiliker om te bou as om te breek. Die tragiek van die gebeure wat vandag plaasvind, is dat eeu oue instellings wat deur harde werk gebou is, dreig om in ʼn baie korter tyd afgebreek te word.

Weg vorentoe?

Hieruit is dit duidelik dat ʼn kompromie nie die gewenste resultate gaan oplewer nie. Die stryd teen Cecil John Rhodes, Totius en Afrikaans is net simptome van dieperliggende rassespanning wat toeneem in Suid-Afrika. Die Afrikaanse gemeenskap sal sy stem oor die saak moet dik maak, sonder dat jong studente slagoffers van kampusgeweld word.

Ons moet streef daarna om ʼn omgewing te skep waarin Afrikaanse studente in vrede kan leer om hulself voor te berei vir hul lewensroeping. Al sou Afrikaans op kampus afgeskaf word, gaan Afrikaanse studente waarskynlik nog teikens bly van politieke geweld. Die stryd is nie net teen Afrikaanse studente nie, anders sou daar mos geen rede vir opstand by universiteite wees wat reeds Engels is nie.

Dit laat die Afrikaanse gemeenskap met die plig om alternatiewe sentrums vir die toekoms te skep, waar Afrikaanse studente in vrede kan studeer. Daar moet ruimte gemaak word vir studente wat graag wil studeer en eendag graag wil werk, om dit te kan doen.

Die studente wat wil struggle, sal aanhou struggle, maar dit is nie te sê dat studente wat wil studeer altyd die geleentheid sal hê nie. Die Afrikaanse gemeenskap het die verantwoordelikheid om seker te maak daar sal, vir die huidige studente en die volgende geslag, wel die geleentheid wees om in Afrikaans te studeer.

Kom ons bewaar wat gebou is en bou op wat afgebreek word

My raad aan die Afrikaanse studente sou wees om aan te hou met hul studies te midde van die moeilike omstandighede. Gaan sê jou sê oor Afrikaans op kampus, maar bly steeds hard werk aan jou studies. Bly by “Ora et labora”.  Dit is jou slagspreuk en was ook die slagspreuk waarmee die universiteite waar jy tans studeer, gebou is. Wie weet, dalk is dit ook die slagspreuk waarop nog Afrikaanse universiteite in die toekoms gebou gaan word?

Die man wat ʼn huis afbreek, weet nie hoe om die huis weer te bou nie, maar die man wat die huis gebou het, kan ʼn puinhoop weer opbou. Kom ons bewaar dit wat deur die voorgeslagte gebou is. Waar dit wat gebou is, afgebreek word, kom ons bou dan weer iets wat die volgende geslag kan bewaar. A luta continua, ja die struggle sal aangaan, maar hierteen stel ons “Ora et labora”. Ons sal bid en werk en bou.

Bronne:

[1] https://en.wikipedia.org/wiki/A_luta_continua

[2] http://rhodesmustfall.co.za

[3] http://mg.co.za/article/2015-10-28-free-university-education-is-not-the-route-to-social-justice

http://www.news24.com/MyNews24/can-south-africa-afford-free-education-20160122

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tamboti ·

Dankie nog iemand stem saam met my. Vir baie van ons medeburgers het “struggle” ‘n lewenswyse geraak en geskiedenis, hede en toekoms. Hul besef nie hul moet WERK vir toekoms nie.
Struggle bind hul saam, dit is hul identiteit en hul hero’s, dit verskoon alle misstappe en misdade, dit is hul nasionale sport.

John ·

Dit is tyd dat ons Afrikaner-geskiedkundiges hul stilte verbreek en die ‘struggelare’ inlig dat hul stryd om alles te wil he, nie gegrond is op feite nie; dit na aanleiding van president Zuma se nuutste uitspraak dat grondeise verder terug moet dateer tot die 1800’s. Dit is geskiedkundig bewysbaar dat daar geen swartmense in die Vrystaat en die Kaapprovinsie was op daardie stadium nie. Die Britse verkenners het dit ook so aangedui in hul verslae. Die eerste nuus wat die Kaap bereik het, was berigte van die San (Boesmans) wat soms teegekom is maar hulle het net rondgetrek agter wild aan. Veel later het skrikwekkende berigte die Kaapkolonie bereik van groepe mensvreters vanuit die weste, die destydse Betsjoeanaland, wat op ander rondtrekkende stamme in die noorde aanvalle geloods het en van hul liggaamsdele geet het. Dit was nie net gerugte nie. Mosjesh van Lesoetho, wat eintlik ‘n voortvlutende Zoeloe was wat in die berge in die weste van Natal gaan skuil het in die 1840+ jare en uitgewekenes vergader het, het die hart van die moordenaar van sy Pa en die’ van dapper Boere-krygers geeet om glo sodoende die gees en krag van die gestorwenes in te neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.