Die impak van veldbrande

Deur dr. WA Lombard

Dr. WA Lombard.

Sowat 200 000 hektaar landbougrond het in die lag gebly in veldbrande wat die afgelope twee weke in die Wes-Vrystaat gewoed het en as die ergste brand die afgelope paar jaar beskryf word. Die brande het tot die verlies van honderde stuks vee en wild gelei sowel as die beskadiging van infrastruktuur.

Geaffekteerde produsente in die area is heel moontlik nog aan die herstel van die gevolge van die 2015/’16-droogte en kan hulself moontlik nou in ’n nog moeiliker situasie bevind. Dit is ’n moeilike tyd van die jaar wanneer groen weiding nog nie beskikbaar is nie, beskikbare reste reeds benut is en baie beesboere se koeie nou kalf.

Die droë weiding alleen voorsien nie voldoende in die ekstra behoeftes van die koeie om vir hul kalwers te sorg nie; daarom maak produsente van produksielek of byvoeding gebruik totdat die weiding – gewoonlik eers ná goeie reën – aan die vereistes kan voldoen. Geaffekteerde produsente sal nou nie net die tekorte moet aanvul nie, maar ook voer moet aanry om die afgebrande weiding se plek vol te staan. Indien koeie met kalwers nou baie kondisie verloor, sal die diere se herbevrugtingsyfers ook daal, wat minder kalwers in die volgende seisoen sal beteken.

Werklike koste van verliese

Om die direkte koste van verliese (diere wat doodgebrand het) te bereken, kan die markwaarde (slagwaarde) gebruik word. Dié metode kan tot oorwaardasie lei omdat diere nie altyd markgereed is nie, maar kan ook tot onderwaardasie lei omdat die toekomspotensiaal van die diere nie in ag geneem word nie.

Om die werklike waarde van verliese te bepaal, moet daar na die indirekte koste gekyk word om die totale waarde van die verlore vee en wild te bepaal. Moontlike indirekte koste wat oorweeg kan word, sluit in die toekomspotensiaal van die diere wat tot kuddes kon bydra. Die produsente het nou nie net ’n deel van hul bestaande “fabriek” op die plaas verloor nie, maar ook ’n deel van hul volgende oes (kalwers en lammers), sowel as ’n deel van hulle vervangingsverse en -ooie. Die diere wat verloor is, het ook reeds by die omgewing aangepas en sou beter produseer as in gevalle waar daar nuwe vee na die omgewing gebring word.

Ander indirekte koste wat moontlik oorweeg kan word om die totale koste van verliese te bepaal, kan die arbeidskoste en ander insette insluit wat reeds aan die vee bestee is, maar wat nou nie ’n opbrengs kan lewer nie. Daarbenewens moet die moontlike laer produksie uit die oorblywende kudde ook in ag geneem word, waar laer kalf-/lampersentasies of swakker speengewig kan volg weens ’n tekort aan voldoende voeding. Die volle uitwerking van die brande sal dus nie nou al sigbaar wees nie en produsente sal eers later die volle impak ervaar.

Huidige probleme

Een verskil tussen brande en droogtes is dat brande die bestaande weiding dadelik uitwis, in teenstelling met ’n droogte waar daar meer tyd is om planne te maak namate die situasie vererger. Die verkryging van voer vir oorblywende vee sal waarskynlik die grootste probleem vir produsente in die betrokke gebiede wees. ’n Produsent wie se hele plaas afgebrand het, sal al sy voer moet koop, wat tot verdere onkoste sal lei. Indien ’n produsent sy hele kudde nou sou verkoop, sal dit moeilik wees om die plaas weer op volle kapasiteit te kry sodra die weiding herstel het.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat daar nie dadelik gras in die veld sal wees sodra dit reën nie. Die ander opsie is om vee na alternatiewe gehuurde weiding te verskuif, wat weer onkoste verhoog. Produsente wat verbandlenings op hul plase het, sal steeds hul paaiemente moet betaal, maar sal onder geweldige druk wees om steeds winsgewend te wees met die verhoogde insetkoste.

Landbou speel ’n baie belangrike rol in die ekonomiese bedrywighede van die meeste plattelandse dorpies in Suid-Afrika. Indien landbouprodusente geraak word, kan daar moontlik werkverliese vir plaaswerkers en hul afhanklikes wees. Dit alles lei daartoe dat minder rande in die plaaslike ekonomie gepomp word. Die impak van die brande stop dus nie by die plaashek nie en kan die vlak van werkloosheid en armoede in die betrokke gebiede vererger.

Daar is reeds verskeie instansies en organisasies wat begin het om donasies en bydraes vir geaffekteerde produsente in te samel. Indien jy voel dat jy ook graag ’n bydrae wil maak, maak asseblief seker dat jy jou bydrae aan ’n betroubare organisasie gee.

Die veebedryf het vroeër vanjaar tekens begin toon dat dit in ’n kuddeboufase beweeg het, juis omdat die nasionale kudde gedurende die droogte uitgeslag is. Die verhoogde vraag beteken dat vee (skape, beeste en bokke), veral teelmateriaal, nou meer werd is, wat dan ook die impak van die brande soveel erger maak.

  • Dr. WA Lombard is verbonde aan die departement landbouekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nie net gemeenskappe wat onder veldbrande ly nie. Ons wild, troeteldiere en plaasdiere ook. Hoeveel van hulle word vermink of brand dood elke keer as daar ‘n brand is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.