In Oktober verlede jaar het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) ’n veldtog van stapel gestuur met die tema #SaveOurOpposition. Die veldtog het ’n baie spesifieke fokus op die DA gehad en in hul eie woorde wou hulle graag sien dat dié party “rassistiese leiers uitskop, korrupsie in die party uitroei, rasgebaseerde beleide uitskakel, alliansies met die EFF verbreek en bekwame leiers aanstel”.
Die veldtog het gevolg enkele maande nadat die DA ’n harde les deur Afrikanerkiesers by die stembus geleer is en op die oog af lyk dit of die IRR geglo het dat hulle oor die kennis beskik om die party weer op die regte koers te kry. Die nuwe DA-leier, John Steenhuisen het destyds hard gereageer en die IRR aangesê om óf by die DA aan te sluit en daar betrokke te raak by interne prosesse óf hul eie opposisieparty te stig.
Die afgelope week was dit egter die IRR wat Afrikaners, en ander gelowiges, warm onder die kraag gehad het. ’n Artikel op die IRR se webblad, Daily Friend, uit die pen van die vryskutjoernalis, Ivo Vegter getiteld “Let’s decolonise religion” het bepaalde ongelukkigheid tot gevolg gehad. Vegter, wat ook in sy hoedanigheid as ’n onafhanklike navorser en outeur van ’n verslag vir die IRR opgetree het, voer, onder meer, in die artikel aan dat lande wat geloof verwerp, meer vooruitstrewend, gelukkig en vreedsaam is en dat Christenskap na Afrika gebring is om “die barbare beskaafd te maak”. Vegter voer ook verder aan dat die Bybel en kolonialisme hand aan hand gaan en dat die dekolonialisering van geloof “ ’n goeie begin” sou wees.
In sy verdediging van die plasing van die artikel skryf die hoof van strategiese inisiatiewe by die IRR, Hermann Pretorius, dat hy self ’n Christen is en klassiek liberaal. Pretorius se artikel voer aan dat die vryheid om omstrede artikels te publiseer beskerm moet word so lank as wat nierassigheid en vryheid (liberty) onderskryf word.
“Daar sal geen verskoning, onttrekking van die artikel of ’n wysiging in redaksionele beleid wees nie”.
Dit is natuurlik die IRR se goeie reg en ook in pas met die Suid-Afrikaanse Grondwet. Die organisasie tree dikwels in die bresse vir vryheid van spraak en daar kan dus, vanuit hul perspektief, aangevoer word dat die beskerming van dié vryheid dit regverdig (of selfs nodig?) maak dat artikels wat geloofsoortuigings uitdaag, gepubliseer moet word. Die vraag is egter of diegene wie se geloof in die proses aangeval word, bereid sal wees om die platforms waarop dit gebeur, te finansier. (Op ’n ander noot kan seker ook gevra word of Vegter ’n artikel sal skryf waarin hy Islam met dieselfde oortuiging sal aanval en of die IRR ook bereid sal wees om dit te publiseer?)
Dit is nie moeilik om die indruk te kry dat liberale individualisme, by verskillende groepe wat die denke aanhang, tot ’n god verhef word waar vryhede, soos die vryheid om Christenskap te verkleineer, nie net beskerm moet word nie, maar ’n platform moet kry om daardie vryhede te verseker.
Onder die leiding van die uitvoerende hoof van die IRR, Frans Cronjé het die organisasie die laaste paar jaar daarin geslaag om hul ondersteuning onder Afrikaners uit te brei. Deur sy rubrieke, boeke en ander platforms het hy die gevaarligte van die rigting wat die regering inslaan, uitgewys. Dikwels polities inkorrek, meer dikwels met hewige kritiek van diegene wat nie wil glo dat die regering tot sulke dinge in staat is nie, maar altyd feitelik en op die man af.
Wat die IRR egter gaan moet leer, soos die DA ook geleer het in 2019, is dat die Afrikaners oor die algemeen konserwatief en gelowig is, en te oordeel aan die kommentare op sosiale mediaplatforms in reaksie op Vegter se meningstuk, nie gekant is teen vryheid van spraak nie, maar verseker nie bereid gaan wees om hulle te vereenselwig met of finansiering te bied aan diegene wat ’n platform bied waar dit wat vir hulle belangrik is, verguis word nie.
Indien die IRR nie ’n les hieruit gaan leer nie, sal ek nie verbaas wees as dit dié keer John Steenhuisen is wat ’n veldtog begin met die leuse “Save our IRR” nie.
Dit is juis daarom belangrik om n duidelike lyn te trek tussen gelowiges en godsdienstiges. My ervaring van godsdienstiges laat veel te wense na. Daarom het Matheus 16 my oe genees ten opsigte van godsdiens, indien mens die Bybel leer en kennis bou, staan jy geskok as jy na die leuens van predikers luister. Die Bybel het niks te doen met kolonialisme, dit is godsdiens, dieselfde filosofie wat deur die ANC en sommige politieke leiers gehandhaaf word. Dit is hoekom SA in n gemors is.
Liberalisme en Christenskap loop nie saam nie.
Die een is die breëweg en die ander die smalweg.
Christene verlaat die DA in hul duisende juis omdat hulle besef dat die beginsels van liberalisme nie met die beginsel van ‘n Christen strook nie.
James skryf dat “Afrikaners oor die algemeen konserwatief en gelowig is…” Ek sou baie gerus gevoel het as dit maar so was. Miskien was dit voorheen so, maar vir my lyk die opkomende geslag niks konserwatief of gelowig nie. Mag die Here gee dat ek heel verkeerd is. Geloof, Hoop en Liefde….
“Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry” Lev 24:16
James, jy het vir my die probleem opgelos tussen vryheid van spraak, en die ondersteuning van instansies wat dit bevorder maar dit oordryf:
Jy mag sê wat jy wil, maar ek het die reg om met jou te baklei as jy te ver gaan.