Die Jesus-rebellie

jesus-nazi-2Ek weet nie wanneer dit gebeur het nie, maar iewers langs die pad het die kerk dié uithangplek geword van konformiste. Dis vreemd, want die kerk is in wese eintlik ʼn rebel (veronderstel om te wees).

Soos Jesus!

Sy idees oor ʼn Nuwe Koninkryk (“soos in die hemel ook op aarde”) het die potensiaal gehad om die totale sosiale sisteem van die dag op sy kop te keer. Dit sou alles skud: die manier van regeer, die Joodse kultuur/godsdiens en selfs die gesinstruktuur – die mees basiese bousteen van die antieke samelewing.

Jesus het die hele hiërargie van wie belangrik en wie onbelangrik was in die antieke tyd op sy kop gekeer. Dink maar aan sy verduideliking oor wie eintlik die geseëndes is in Lukas 6:20-26.

Hy sê vir grootmense hulle moet soos kinders word!

Volgens Jesus moet regeerders dienaars wees. In sy koninkryk is ʼn koning iemand wat mag opgee en homself weerloos maak ter wille van ander se groei.

By die geldwisselaars by die tempel keer Hy die godsdienstiges se ekonomie letterlik op sy kop!

Jesus het nie net vreemde idees gehad oor geld en oor hoe ʼn heerser moet lyk nie, maar ook oor die Joodse kultuur/godsdiens.

Hy doen dinge wat die godsdienstige Jode ontstel: was nie sy hande volgens die rituele voorskrif nie, vas nie op die gebruiklike vasdag nie, laat sy dissipels koring pluk op die Sabbat, eet saam met sondaars en spreek mense vry van hulle sondes buite die tempel.

Hy ontstel die konserwatiewes van sy tyd deur ʼn Samaritaan te gebruik as voorbeeld oor wie “ons naaste is”, en nog meer so toe Hy opmerk dat Hy by ʼn Romeinse offisier(!) groter geloof vind as by enigiemand in die hele Israel.

Dis asof die godsdienstige leiers heeltyd besig was met die vraag: “Wat is die implikasies hiervan vir die godsdienstige instelling?” (waaruit hulle natuurlik self voordeel getrek het). Vir Jesus het dit egter gegaan oor die mens wat nou hier voor hom staan. Hy het ménse “innig jammer gekry”.

Jesus was nie besig om ʼn godsdienstige instelling te probeer bou of red of regop hou nie. Toe sy dissipels opmerk hoe mooi die tempel is, sê Hy dit gaan val.

Van die mees skokkende goed wat Jesus gesê het, het betrekking gehad op die gesin. Die antieke mens se hele identiteit was gebaseer op die gesin waaraan hy/sy behoort.

Die meeste Nuwe-Testamentici meen dat Jesus se “Wie is my moeder, en wie is my broers?”-uitspraak in Matteus 12 uiters moeilik moes afgaan in die antieke tyd (ook sy opmerkings in Matt 19:28 en 8:21-22). Vir die Jode het die hele lewe gegaan oor hulle eie groepie, wie jou familie is, wie jy “broer” en “suster” noem.

Amy-Jill Levine vat dit mooi saam in The Misunderstood Jew:

“For Jesus, family values means treating other people in the community as if they were your biological siblings or your mother, and that’s extraordinary.” Daar sou vandag baie minder kinderhuise nodig wees as die gemiddelde gesin of gemeente hierdie beginsel kon snap.

Jesus het geen “klein klemverskuiwings” voorgestel nie.

Hy was ʼn ekstreme rebel in die godsdienstige beweging van sy tyd wat almal (wat volgens hulle aanvaarbaar genoeg was) in dieselfde boksie wou sit. Godsdienstige leiers het dit as hulle groot doel gesien om seker te maak dat almal in gelid loop.

Jesus was anders. Hy was nie die deur in die godsdienstige boks in nie, eerder ʼn deur uit die boks uit.

Wanneer ons in die eerste plek lojaal is aan God se koninkryk, word individue belangriker as die godsdienstige instelling (en God belangriker as die godsdiens!).

Die gevaar is dat die manier waarop ons onsself organiseer ’n eie identiteit ontwikkel, en dat ons verlief raak op die instelling self, eerder as op Jesus en die mense vir wie Hy sy lewe gegee het. Dietrich Bonhoeffer het gesê: “He who loves community destroys community, but he who loves brothers and sisters builds community.”

Daar was ʼn tyd toe Christene soos ʼn seer vinger uitgestaan het as gevolg van hulle radikale vreemde manier van lewe.

Die historiese sosioloog Rodney Stark wys daarop dat die vroeë kerk, in ʼn wêreld waar daar geen maatskaplike of mediese dienste was nie, dikwels die enigste groep was wat die armes en siekes op straat versorg het, hulle was goed teenoor hulle vyande (selfs in vervolging) en het in ʼn radikaal vreemde nuwe gemeenskap geleef “waar almal alles gedeel het” (Hand 4). Hulle was die enigste groep in die antieke samelewing waar Jode, Grieke, Samaritane en Romeine mekaar broer en suster genoem het (Kol 3:11).

Stark wys daarop dat Christenvroue meer regte gehad het as enige ander sosiale groep in die antieke samelewing.

Dit was hierdie radikale alternatiewe lewenstyl wat integriteit aan hulle boodskap van liefde verleen het – wat verklaar waarom die kerk in die eerste drie eeue so vinnig gegroei het.

Selfs die reformasie was ʼn vorm van rebellie – ʼn poging terug na die kern van kerkwees.

Iewers het ons dit verloor.

Ons leef in ʼn tyd waarin Jesus se volgelinge kies om eerder aan te pas. Te konformeer. Waar kerke verbasend baie lyk en klink na kultuurverenigings. Iemand het eenkeer opgemerk, “The time of the week of the greatest separation in South Africa, is on a Sunday, between 09:00 and 10:00” (wanneer die kerk op sy aktiefste is).

God se mense is vandag van die voorste materialiste in die wêreld – winkeleienaars kan nie wag vir Kersfees nie! Gemeentes funksioneer toenemend soos sekulêre besighede (wat darem ook ʼn deeltjie van hulle inkomste weggee).

In die wêreld waarin ons vandag leef, is dit niks vreemds dat Christene voorstanders is van geweld, materialisme, seksisme en rassisme nie. Donald Trump (soos George W Bush) se grootste ondersteunersgroep in Amerika is die Evangeliese Christene.

ʼn Wyse man het eenkeer gesê: “It is no measure of health to be well adjusted to a profoundly sick society.” Die gedagte dat die kerk vandag die uithangplek van konformiste is, is geen teken van geestelike gesondheid nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Strydom

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
chris

Die Christene in Amerika wat geweld,materialisme ,seksisme en rassisme voorstaan is baie duidelik die Clintons en Demokrate ondersteuners en die onderhouers van die “Establishment”en dus die konformiste.Die rebelle en nie-konformiste is die Evangeliese Christene wat hierdie korrupte spul teenstaan wat via die hoofstoommedia die massas beinvloed.

John

Wat ‘n nagmerrie! Die man skiet alles af en ruk vir die plesier die mat onder verwarde mense wat wankel onder die laste van die lewe, se voete uit. Alle kerke en alle predikers, behalwe joune, is verkeerd? Jy en jou groep is die ware kerk en julle hou ook kollekte… eh? Maar dis altyd met ‘n edele doel en sondig nooit en… en… hoe verwaand tog!

Lizette Snyman

Fantastiese artikel!

DVL

Baie goeie artikel wens net meer mense wil dit begin besef dat kerke instellings geword het en dat Yeshuah se leerstellings en Sy boodskap tot niet gegaan het

humor

Dit is hoogtyd dat die mat onder die voete van n materialistiese , selfgerigde, humanistiese, wereldmassa geruk word sodat die wereld weer n siekvrye leefruimte kan wees.