Die jong Verwoerd as ’n ontluikende akademikus en openbare intellektueel

dr-hf-verwoerd

Dr. HF Verwoerd. Foto: Wikiwand.com

Deur prof. Pieter Duvenage

Elke generasie het die verantwoordelikheid om die verlede te interpreteer. As die verlede apartheid en die onderwerp Verwoerd is, raak dinge ingewikkeld – soos nou weer gesien in die polemiek oor AfriForum se film oor die grondkwessie.

Dit is egter belangrik dat wanneer die geskiedenis ter sprake kom, mens eerder krities-interpreterend as veroordelend te werk moet gaan. Dit is ook die geval as mens voor ʼn historiese figuur soos Verwoerd te staan kom. In hierdie kort bydrae, wat deel is van ’n veel groter projek, wil ek fokus op die vroeë jare van Hendrik Verwoerd as ’n ontluikende akademikus en openbare intellektueel.

In die bestaande literatuur oor Verwoerd (wat wissel van verheerliking tot demonisering) het hierdie aspek baie minder aandag gekry as sy latere jare as koerantredakteur, minister en eerste minister. Sonder om die belangrikheid van Verwoerd se latere loopbaan te ontken, word hier aangevoer dat die vroeë jare van ’n politieke figuur net so belangrik is om te oorweeg. Die vrae wat ek hier gaan stel en probeer beantwoord, is die volgende: Was Verwoerd uit die staanspoor ’n onversetlike nasionalis? Wat was die aard van sy studies op universiteit? Was sy studies sterk ideologies? Waar in Duitsland het hy studeer en is hy deur Nazisme beïnvloed? Hoe het hy van ’n akademikus na ’n meer aktivistiese rol as ’n openbare intellektueel beweeg?

Verwoerd is in 1901 in Amsterdam gebore met ouers wat simpatiek gesind was teenoor die saak van die Boere in die oorlog teen die Britse Ryk. Hul geestelike agtergrond was ’n soort Kuyperiaanse Calvinistiese Protestantisme waarin rasionalisme en liberalisme krities benader is. Die Verwoerd-gesin het in 1903 na Kaapstad (Wynberg) verhuis toe Hendrik Verwoerd twee jaar oud was, en hulle het tot 1913 in ’n heeltemal Engelse omgewing gebly. Hier was sy vader ’n bouer, maar ook ’n soort sendeling vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Dit is in laasgenoemde konteks dat hy ‘n betrekking in Bulawayo gekry het (1914-17). Eers in 1917 het die gesin na die Vrystaatse dorpie Brandfort getrek, waar Verwoerd hom vir die eerste keer in ’n Afrikaner-gemeenskap bevind het. Hier het hy matriek geskryf en toe na die Universiteit Stellenbosch gegaan, wat beduidend geword het vir sy akademiese vorming en ontwikkeling sowel as sy latere loopbaan as openbare intellektueel en aktivis.

Toe Verwoerd in 1919 op Stellenbosch as ’n teologiestudent aankom, het die universiteit ’n bepaalde Weltanschauung of raamwerk gehad wat beskryf kan word as ’n soort gemeenskap-gebaseerde (kommunitêre) nasionalisme wat uit die 1800’s dateer en deur die volgende instellings en gebeure gevorm is: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk met sy interne teologiese geskille, die tweede Afrikaanse taalstryd, die Boereoorlog en die komplekse nalatenskap daarvan, die totstandkoming van die Nasionale Party in 1914, die Rebellie, die ontstaan van Die Burger in 1916 en die armblankevraagstuk.

Verwoerd was ’n baie begaafde student en het die vermoë gehad om ’n boek of die argument van sy opponent baie vinnig op te som. As ’n denker het hy op teenstellings gedy. Sy kontak (as ’n teologiestudent) met armblankes in die krotbuurte van Kaapstad het ’n groot invloed op sy gemoed gemaak. (Hier kan met reg gevra word maar wat dan van die armes van die ander rasse? Maar destyds was dit beslis ’n wêreld waarin die Britse Ryk nog sterk was, met ’n bepaalde hiërargie van rasse.)

Die hoofpunte van Verwoerd se suksesvolle akademiese loopbaan is goed bekend. Hy het sy BA in 1921 behaal, in 1922 ’n meestersgraad in filosofie en sielkunde verwerf en afgesluit met ’n doktorsgraad in sielkunde aan die einde van 1924 onder leiding van RW (Bobby) Wilcocks (1892-1967) – wat later die rektor van die Universiteit Stellenbosch geword het. Terselfdertyd was Verwoerd ook voorsitter van die Studenteraad vir een termyn.

In 1925 het hy ’n dosent in sielkunde geword (hy het ook klas gegee in epistemologiese en logika-onderwerpe in filosofie) en ‘n jaar later het hy na Europa gegaan vir nadoktorale studie. Voordat ons na sy nadoktorale werk in Europa kyk, is dit belangrik om oor sy doktoraat in sielkunde van 1924 te besin.

Die titel was Die Afstomping van die Gemoedsaandoeninge. Dit was ’n gevallestudie waar emosies soos geluk, opgewondenheid, woede en teleurstelling gemeet en afgelei is by proefpersone in ‘n eksperimentele omgewing. In ‘n latere artikel is die studie beskryf as een waar proefpersone reageer op ‘n aantal kleurkaarte wat aan hulle gewys is. Deur ’n stelsel waarin die proefpersoon se emosies gefasiliteer is deur ’n metingstegniek van belonings en strawwe, is die proefpersone se opmerkings woordeliks aangebied as ontleding. Die studie was in baie opsigte teoreties beperk, en dit het geen statistiese ontleding gebied nie.

Ná sy doktoraat en een jaar van klasgee as dosent het Verwoerd Duitsland toe gegaan om in die sielkunde te studeer as ’n postdoktorale student aan die Universiteit van Leipzig (somersemester 1926), Universiteit van Hamburg (wintersemester 1926/27) en die Universiteit van Berlyn (somersemester 1927).

By al drie hierdie universiteite het Verwoerd, in ooreenstemming met sy doktorale studies, sy navorsing oor empiriese en toegepaste sielkunde gedoen. Die akademici onder wie hy in dié verband gewerk het, was Otto Klemm (Leipzig), William Stern (Hamburg) en Otto Lipmann (Berlyn). Die interessante ding hier is dat Stern die vader was van Gunther Stern, die eerste eggenoot van Hannah Arendt en die neef van Walter Benjamin.

Volgens die Duitse historikus Christoph Marx het Klemm se navorsing in Leipzig op vier hoofareas gefokus: menslike werk, toerusting en beheerontwerp; menslike prestasie en verstandelike funksionering; forensiese sielkunde; en verstandelike vermoë-toetsing en beroepsvoorligting. Hier was die klem op samewerking met die bedryf en werkverskaffingsentrums om aansoekers vir bepaalde werke te toets, sodat hierdie navorsing bygedra het tot die optimering van werkplektoestande.

Afgesien van sy empiries gebaseerde studies het Verwoerd in sy eerste semester by Leipzig ook drie kursusse gedoen by die nasionalisties ingestelde Duitse sielkundige Hans Volkelt. Volkelt het ’n sogenaamde holistiese benadering in sielkunde gevolg, en die kursusse wat Verwoerd by hom gedoen het, was karakterologie, ontwikkelingsielkunde en volkesielkunde (Völkerpsychologie). Later het Volkelt roem verwerf as ’n innoverende akademikus in kinder- en ontwikkelingsielkunde. Kortom: Gedurende sy studies in Duitsland het Verwoerd meestal met liberaal gesinde sielkundiges soos Klemm, Stern en Lippmann gewerk op die gebied van empiriese sielkunde, maar daar was ook die invloed van Volkelt se holistiese sielkunde.

Ná sy drie semesters van studie het Verwoerd en sy vrou, Betsie, met wie hy vroeg in 1927 in Hamburg getroud is, ’n reis deur Europa (Italië, Oostenryk, Hongarye, Denemarke, Swede, Noorweë) en Brittanje (Londen, Skotland en Wallis) onderneem voordat hulle die laaste maande van 1927 in die VSA deurgebring het. Daar het hy ’n paar sielkundedepartemente (in die empiriese denkrigting) aan die ooskus besoek. Dit is ook daar waar hy die berig gekry het dat hy vanaf Februarie 1928 as professor in sielkunde aan die US aangestel is.

Dit is belangrik om na Verwoerd, as ’n jong professor in sielkunde, se werk te kyk, maar ook na die eerste spore van aktiwiteit in die openbare sfeer. In die vier jaar as akademikus in sielkunde (1928-1931) het hy die volgende kursusse aangebied: Inleiding tot sielkunde; sielkunde van die reg; die menslike persoonlikheid; ’n laboratorium; en gemeenskapwerk. In bedryfsielkunde het hy lesings gegee oor reklame; personeelbestuur; loopbaantoetsing; en bemarking.

Hy het sy lesings in groot mate gebaseer op bronne afkomstig uit die Amerikaanse sosiale wetenskap. Wat sê hierdie kursusse vir ons oor Verwoerd?

Eerstens, kursusse soos doeltreffende reklametegnieke en loopbaantoetsing dui op sy praktiese ingesteldheid. Hier vind ons nie ’n abstrakte of teoreties-spekulatiewe benadering soos wat ons sou gesien het by die opkomende psigoanalise van Freud of enige filosofiese vrae oor die mens en sy/haar aanpassings in ’n moderne kapitalisties ingestelde wêreld nie. Tweedens, die lesse wat hy in Duitsland en die VSA geleer het, was van ’n tegniese, analitiese, empiriese en positivistiese aard. Daar is geen direkte bewyse dat sy kursusse of publikasies deur kulturele nasionalisme of nasionaal-sosialisme beïnvloed is nie. Derdens, dit is duidelik dat Amerikaanse sielkunde en sosiale wetenskappe, waarmee hy in die eerste plek by sy dosent Wilcocks op Stellenbosch kennis gemaak het, baie invloedryker was as Duitse filosofie en sielkunde. (Die enigste uitsondering hier was ’n kursus oor menslike persoonlikheid, waar Heymans, Spranger, Jung en Kretschmer ’n rol gespeel het.) Vierdens, ondanks sterk empiriese klem van Verwoerd was daar geen klem op sosiale ingenieurswese nie. Met sy praktiese benadering in bedryfsielkunde het hy meer in reklame en personeelbestuur belang gestel.

Verwoerd se meer praktiese belangstelling in sielkunde het gou breër toepassing gekry as sy werk as ’n akademikus. In ’n toespraak by die opening van die akademiese jaar aan die Universiteit Stellenbosch in Februarie 1929 met die titel “Die Universiteit en die Lewe” het hy die stelling gemaak dat die universiteit nie in ’n vervreemde verhouding tot die lewe (praktyk) kan staan nie. Hierdie verdediging van die praktyk het Verwoerd ook uitgebring by die werk van die Carnegie-kommissie vanaf 1929. Dié kommissie, wat deur die Carnegie Corporation in die VSA befonds is en deur die Hertzog-regering en die NGK geadministreer is, het ten doel gehad om die armblankevraagstuk vanuit ’n multidissiplinêre perspektief te bestudeer. Teen hierdie agtergrond is die vraagstuk ondersoek uit die perspektief van die ekonomie, sielkunde, onderwys, gesondheid en sosiologie. Dit was die behoefte aan ’n sosiologiese perspektief op die armblankevraagstuk wat gelei het tot die instelling van sosiologie as ’n departement aan die Universiteit Stellenbosch in 1932 – met Verwoerd as die eerste professor op hierdie vakgebied.

In die vyf jaar as ’n sosioloog (1932-1936) het Verwoerd drie dinge gedoen: Eerstens: as ’n akademikus moes hy ’n nuwe studie- en navorsingsterrein vir homself en sy studente oopstel. Hy het sosiologie beskou nie as ’n vakgebied om jou ’n algemene begrip van sosiale verskynsels te gee nie, maar eerder as een om spesifieke probleme in Suid-Afrika op te los. Sy departement was dus georganiseer volgens praktiese probleme soos armoede, misdaad en jeugmisdaad. Volgens hierdie benadering kon armoede ten beste die hoof gebied word op ’n individuele gevallebasis deur wetenskaplik opgeleide welsynswerkers in die gemeenskap. Tweedens, hy het ’n groter rol begin speel met sy werk vir die eerste konferensie oor die armblankevraagstuk en sy rol in die komitee wat die werk voortgesit het. Verder het hy, saam met verskeie NRO’s in die omgewing van Kaapstad, ’n rol gespeel om steun te werf vir ’n Departement van Welsyn op sentrale regeringsvlak. Laastens het Verwoerd in sy werk as ’n sosioloog begin dink, meer breedweg, oor Suid-Afrika se politieke ekonomie en politieke stelsel. In dié verband het hy die armblankevraagstuk in die veranderde nasionale ekonomie van Suid-Afrika bespreek. Hier het hy verskil met die liberale geskiedkundige W.M. Macmillan.

Macmillan het geredeneer dat aangesien armoede die gevolg van strukturele probleme van rasgeoriënteerde ekonomiese beleide was, dit die hoof gebied kan word slegs deur strukturele beleidsaanpassings in ’n geïntegreerde Suid-Afrikaanse ekonomiese stelsel. Verwoerd het egter die oplossing van die armblankevraagstuk in ’n meer eiesoortige sin gesien – van gemeenskappe en individue in ’n opwaartse sin. Dit is hierdie kwessie wat later bygedra het tot sy besluit teen die einde van 1936 om ’n koerantredakteur en politikus in Johannesburg te word.

  • Duvenage is die dekaan van geesteswetenskappe aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephan de S

Dankie vir hd artikel. Ek vind dit baie insiggewend en leersaam. Gaan asb voort daarmee. Baie werk is hier ingesteek.

marco polo

Baie indrukwekkend. Hy het op jong ouderdom reeds diep spore getrap in die akademie. Vergelyk dit met vandag se universiteitsboewe.

Frans C

Verwoerd is op 6 September 1966 deur Dimitri Tsafendas, vermoor,Hierdie man was geensins geestelik versteurd soos deur die NP regering beweer is nie.Inligting Die Portugese intelligensie diens het ‘n oor groot leêr oor hom beskik,maar opdrag aan hul Mosambiekse eweknie gegee om die inligting van die Suid Afrikaanse regering te weerhou, ‘n uitreksel uit ‘n boek gepubliseer in die verband lees: “Six years before the murder, at a meeting with members of the British anti-apartheid movement in London, he had publicly declared that he was willing to do “anything that would get the South African regime out of power’. Hierdie… Lees meer »

John

Dalk kan ‘n historikus ‘n uiteensetting gee van die armblankevraagstuk wat deesdae geen aandag kry nie weens die feit dat swart Afrika hom as die enigste groep aandui wat glo al swaar getrek het en gehelp moet word. Die Afrikaners het hulself letterlik uit die put gewerk.

Gert

Vergelyk nou hierdie voortreflike CV met die van ons post-apartheid leiers.