Die Kaap van Storms

Patricia de Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, tydens die Staatsrede in 2012. Foto: Departement van kommunikasie

Deur Jeannette Gnade

Die Portugese seevaarder, Bartolomeus Dias het nie verniet in 1488 van die “Kaap van Storms” gepraat nie. Hy het egter na die rowwe seetoestande en die onrusbarende seestrome van die Atlantiese Oseaan verwys. Dit is asof die samekoms van dié oseaan en die Indiese Oseaan by Kaap Agulhas nog al die jare in ʼn stryd gewikkel is om die botoon te voer.

Vandag is dit die mense van die Kaap wat bruis en woel en hoë deinings veroorsaak. Sedert die provinsie deur die DA beheer word, is die ANC die amptelike opposisie wat geen steen onaangeroer laat om die Wes-Kaapse heerser uit te skuif nie, af te kraak of in onguns te bring nie. Dit is teen dié agtergrond dat die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, haar pos én haar integriteit moet verdedig. Haar redes waarom sy die provinsie se spesiale ondersoekeenheid ontbind het, word nie aanvaar nie en die veiligheidsopgraderings aan haar woning word hanteer asof sy ʼn Nkandla gepleeg het.

Ná ʼn onafhanklike ondersoek deur ʼn prokureursfirma het die metroraad aanbeveel dat haar optrede amptelik ondersoek word en dat twee senior raadslede aan tugverhore onderwerp moet word. Hulle is die stadsbestuurder, Achmat Ebrahim en die kommissaris van vervoer en stedelike ontwikkeling, Melissa Whitehead. De Lille het Ebrahim glo verhoed om bewerings van nepotisme en tenderkorrupsie teen Whitehead aan te meld. De Lille hou vol dat die verslag feitefoute bevat en dat haar naam onnodig deur die modder gesleep word. Sy is selfs deur haar eie party, die DA, gevra om redes te verskaf waarom sy nie as die burgemeester moet bedank nie. Dit word tans oorweeg.

Patricia de Lille het jare gelede bekendheid verwerf toe sy nog ʼn uitgesproke parlementslid van die Pan African Congress was. Dié party was ʼn kort rukkie die stalmaat van die verbode ANC en het net so hard terreurdade in die naam van bevryding gepleeg.

Die PAC het ook lank voor die ANC onteiening sonder vergoeding voorgestaan. Later het sy haar eie party, die Onafhanklike Demokrate, gestig waarna sy by die DA aangesluit het. De Lille se groot merk op die geskiedenis was egter toe sy die regering se wapenskandaal oopgevlek het. Dit laat ʼn mens onwillekeurig wonder hoekom sy nou korrupsie oor die hoof sal sien as haar lewe destyds op die spel was net omdat sy op ʼn paar regeringskarakters se tone getrap het.

Daar is blykbaar senior leiers in die DA wat meen sy is nie langer bevoeg om die stad te lei nie – of hulle bedryf ʼn persoonlike agenda. En dan is daar die wreedaards in die ANC se provinsiale en stadskorps wat niemand oor die hoof sien as dit by karakterskending kom nie. Dit sou jammer wees as De Lille skuldig is aan onbehoorlike gedrag. Dit sal egter net so jammer wees as sy uitgedryf word deur politici wie se onbehoorlike gedrag in dié stadium nog versluier is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Die DA is besig om ‘n “rassesuiwering” te ondergaan. Word ware ANC lite.

Veritas ·

Rupert die hele ding is so beplan. Hou dop hoe verkose LP’s oorloop na die volgende verkiesing. Talle ANC lede is tans ‘weggesteek’ in die DA garde om die party te ondermyn en hul ware kleure sal tevoorskyn kom na die verkiesing. Praat van ‘n ‘conspiracy theory’, hier is ‘n lekker een wat baie moontlik waar is .

Nico ·

In politiek vreet hond hond. Dit was nog altyd so, dink aan Julius Caesar en vele ander in die geskiedenis. Hier by ons het PW Botha en Pik Botha John Vorster in die rug gesteek en toe steek Pik Botha en FW De Klerk PW Botha in die rug !! En so sal dit altyd wees want die konsert was nog altyd dieselfde, net die rolsplers het verwissel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.