Die Kaapse taalstryders en die Slag van Majuba

Die slag van Majuba

Elke jaar klim duisende feesgangers Majubaberg uit om die Slag van Majuba te herdenk.

Dié veldslag het gedurende die Eerste Vryheidsoorlog op 27 Februarie 1881 plaasgevind. Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley was die opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, asook die goewerneur van Natal en Hoë Kommissaris oor die Britse Kolonies in Suidelike Afrika, ʼn briljante man met uitstekende militêre rekord en voormalige professor aan die Sandhurst Militêre Akademie in Engeland.

Hy het, vanaf sy basis Mount Prospect, suid van Laingsnek, met 405 man die kruin van Majuba stilletjies die vorige nag beset met die doel om die Boere uiteindelik te verslaan en die pad na Pretoria oop te maak vir die Engelse magte in aantog vanaf Durban.

Toe genl. Piet Joubert, een van die driemanskap en van die Boeremagte, besef dat die Engelse die berg deur die nag beset het, gee hy vir sy twee generaals Frans Joubert en Nicolaas Smit die bevel: “Die Engelse is daar bo en julle gaan hulle daar afhaal… dadelik!”

Die res is geskiedenis…

Die Engelse soldate was só geklee.

Vanjaar bied die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) die Majubafees aan. En in die lig van die hele aanloop tot die veldslag en die rol en invloed van taalstryders soos ds. SJ du Toit, is dit vir die GHA ʼn besondere eer en voorreg om vanjaar se fees aan te bied.

Min mense besef watter invloed die taalstryd in die Kaapkolonie en die opborrelende Afrikanernasionalisme wat dit ontketen het, gehad het op die uitkoms van die Eerste Vryheidsoorlog.

Verengelsingsbeleid van die 19de eeu

Met die Engelse bewind aan die Kaap (aanvanklike besetting: 1795 – 1803); (tweede besetting: 1806 – 1961) het die owerhede probeer om die Kaap te verengels. Die verengelsing is aanvanklik vergemaklik omdat die koloniste verdraagsaam en toegewend was, maar namate die onderdrukking van Nederlands toegeneem het, het verset ingetree.

Lord Charles Somerset, die goewerneur van die Kaap, se Taalproklamasie van 1822 het Engels nie alleen tot die eerste nie, maar weldra ook tot die enigste amptelike taal verhef. Dié amptelike anglisering bereik sy hoogtepunt in ʼn “koninklike” besluit van 11 Maart 1853, wat aan die Kaapkolonie sy eie grondwet gee en terselfdertyd Nederlands alle regte in die bestuur van die land ontsê. Met behulp van Engelse en Skotse predikante is die skool en kerk oral geïnfiltreer.

Met die vervanging van Hollands-Afrikaanse instellings en gebruike deur die Engels, het die Nederlandse taal dus al hoe ernstiger in gedrang gekom: in die administrasie, die gereg en howe, die skoolwese, die Hollandse kerke, die sosiale verkeer en tot in die huiskring. Veral jongmense het bygedra tot dié tendens van toenemende, gewillige verengelsing.

Klink dit bekend?

Hierdie stand van sake het “Oom Jan wat versies maak” (C P Hoogenhout) raak opgeteken in sy oorbekende gedig:

Engels! Engels! Alles Engels!
Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke,
Word ons moedertaal fermoor.
Ag, hoe word ons folk ferbaster,
Daartoe werk ons leeraars saam.
Hollans nog in sekere skole:
Is bedrog, ʼn blote naam!

Wi hom ni laat anglisere,
Word geskolde en gesmaad.
Tot in Frystaat en Transvaal al,
Oweral dieselfde kwaad.

“Dis fooruitgang!” roep die skreeuwers,
“dis beskawing wat nou kom!
Di wat dit ni wil gelowe,
Di is ouderwets en dom…”

Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)

Uit die behoefte aan ʼn Bybel in Afrikaans, die druk van verengelsing deur die owerheid en die opwelling van weerstand daarteen, die opbruising van nasionalisme en die idealisme van jong Afrikaners het die GRA op 14 Augustus 1875 ontstaan – die Genootskap van Regte Afrikaners.

Die leuse van die GRA was: om te staan vir ons Nasie, ons Taal en ons Land. Hierdie stigting het ʼn rimpeleffek gehad, nie net in die Kaap nie, maar ook in die Vrystaat en Transvaal.

In sy oproep tot die volk om hulle by die GRA te skaar, skryf ds. SJ du Toit, dat daar Afrikaners met Engelse harte is, Afrikaners met Hollandse harte en Afrikaners met Afrikaanse harte. Hierdie laaste groep, het hy gesê, is die WARE AFRIKANERS en dat dit hulle is wat moet saamstaan.

SJ du Toit - stigter van die GRA en "Die Patriot"

Wedersydse invloed

Min mense besef die rol wat die Taalstryders van die Paarl gespeel het in die oorwinning by Majuba en ook daarna.

Ds. SJ du Toit, stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners het in Die Patriot, wat ook in die Vrystaat en Transvaal versprei is, die Boere aangemoedig om die Engelse die stryd aan te sê. Die gewildheid van die blad het grootliks toegeneem weens die onbewimpelde nasionale beleid daarvan, soos veral sedert 1877 geblyk het na die anneksasie van Transvaal deur Brittanje. Die koerant het reeds vroeër die kandidatuur van SJP Kruger gesteun, maar na Shepstone se anneksasie word die blad nou die raadgewer van die Transvaalse Boere. Eers het die redaksie die Transvalers tot leidelike verset gemaan, maar toe alle onderhandelingspogings met Engeland misluk om Transvaal sy vryheid te laat terugkry, was die boodskap van Die Patriot: “Lydelike verset is ydellike verset.” Die Transvaalse leiers het die implikasie verstaan, sodat genl. Nicholaas Smit na die lees daarvan sou gesê het: “Burgers, maak skoon jul roers“, skryf PD van der Walt in sy boekie SJ du Toit.

Die Eerste Vryheidsoorlog het in die guns van die Zuid-Afrikaanse Republiek verloop, en Die Patriot, wat die Boeresaak so getrou gesteun het met versoekskrifte in hul guns, ontmaskering van die Britse beleid, ’n fonds vir die noodlydendes, mediese hulp, ens., het gebaat by die daaropvolgende algemene nasionale oplewing.

Na die oorwinning verskyn dié gedig van ds. SJ du Toit in dié blad:

Die Vierkleur van ons dierbaar land
Die waai weer oor Transvaal,
En wee die Godvergete hand,
Wat dit neer wil haal!

Nie net is die gedig, Dit is Godsvinger deur Du Toit verskryf nie, maar is daar ook ’n oorwinningsfees gereël: die Gimnasiumsaal is versier, die foto’s van Kruger en Joubert het by die ingangsportaal gehang, ’n feesmaal is geniet, en toesprake en koorsang is aangebied.

Paul Kruger

Die Transvaalse Onderwys

Paul Kruger was so ingenome met ds. du Toit se standpunt oor Christelik-gefundeerde moedertaalonderrig dat hy hom aangestel het as Superintendent van Onderwys in Transvaal. Die Patriot van 28 April 1882 het daarop gewys dat Hollands vir die Afrikaanse kind byna net so vreemd was as Engels en dat Afrikaans dus as onderrigtaal gebruik moes word.

In Maart 1882 kom ds. Du Toit in Pretoria aan. Onder sy praktiese en versiende beleid het die onderwys in Transvaal met rasse skrede vooruit gegaan. Tydens die opening van die Opleidingskool vir Onderwysers in Pretoria aan die begin van 1883, kon hy daarop wys dat daar reeds 70 skole vir elementêre onderwys in die land was. Toe hy daar begin het, was daar slegs drie skole.

Onder ds. Du Toit was daar drie elemente in sy onderwysstelsel wat vir ons van belang is:

  • Opleiding van eie onderwysers;
  • Onderrig in Afrikaans; en
  • Vrye Christelike skool, gesubsidieer deur die staat, maar onder die stuur van die ouers.

Dit is geen oordrywing nie om te beweer dat die GRA onder die geniale leiding van ds. SJ du Toit op ’n uiters kritieke tydstip in ons volksbestaan die fondament gelê het vir die herrysenis van die Afrikanernasie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Alkema

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

André ~

EEN MUNTSTUK

1 Ek is seker jy het sommer tong in die kies gesê: “Met die Engelse bewind aan die Kaap (aanvanklike besetting: 1795 – 1803); (tweede besetting: 1806 – 1961)” en dat jy eintlik 1806-1910 bedoel het. Maar andersins het jy ‘n heerlike artikel geskryf – met talle wetenswaardige feite.

2 Wat jy subtiel sê vir ons dwarstrekkers wat soms neig om bevoordoordeeld pro suide of pro noorde te wil wees, suid of noord van die druiwegordyn, is: Ons almal hoort saam. Net soos die Europese renaissance of opwelling van ontwikkeling en kreatiwiteit eeue gelede in verskillende streke tot uiteenlopende skeppings gelei het – in een handel maar in die ander skilderkuns, in die een letterkunde maar in die ander ‘n godsdienstige herlewing – so bloei nasietrots ook verskillend aan verskillende bome.

3 Jy het die sterk band in die tweede helfte van die negentiende eeu gesuggereer tussen die Afrikaner se noordelike militêre nasionalisme en die suidelike kulturele nasionalisme. Dis amper die soort klemverskil wat mens opval tussen die bloed en yster van Otto von Bismarck en die hartstog vir taal en kultuur van die Duitse denker Herder.

4 Tereg is daar talle vorms van nasionalisme, wat pas by waar ‘n gemeenskap hom bevind. Dankie dat jy ons weer op ons volkseenheid gewys het, op die verskillende kante van een en dieselfde muntstuk!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.