Die keuse van onderrigtaal bepaal wie jou kind sal wees

moedertaaldag

Argieffoto.

Die afgelope tyd word baie oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika geskryf. Instellings soos AfriForum, Helpende Hand, Afrikaans.com en die Afrikaanse Taalraad lig die publiek op allerlei verbeeldingryke maniere in oor die opvoedkundige en selfs ekonomiese voordele van moedertaalonderrig. Gevolglik weet baie Afrikaanssprekendes nou dat jy abstrakte begrippe in wiskunde en wetenskap beter en makliker bemeester as jy dit in jou moedertaal leer.

’n Afrikaanse ouer wat dus hoop dat klein Kobus of Marietjie die volgende Albert Einstein, Bill Gates of Elon Musk gaan wees, sal dus slim wees om die spruitjie van kleuterskool tot tersiêre vlak in Afrikaans te laat studeer. Mense wat nog twyfel, kan die uitstekende UNESCO-publikasie van Dörthe Bühmann en Barbara Trudell, Mother tongue matters: Local language as a key to effective learning (2008), lees.

Wanneer hierdie keuse oor onderrigtaal gemaak word, sal die ouer gewoonlik die kind se toekomstige ekonomiese sukses in ag neem, maar selde aan die kind se persoonlikheidsontwikkeling dink. Dit is jammer, want die taal van onderrig sal ’n groot invloed uitoefen op die soort volwassene wat die kind uiteindelik sal word.

Tydens AfriForum se blitskonferensie oor Afrikaans se plek in tersiêre onderrig wat op 16 Februarie 2018 in Centurion plaasgevind het, het prof. Elirea Bornman in haar referaat onderskei tussen drie persoonlikheidstipes wat met taalkeuses te make het. Die etnolinguistiese persona is die persoon wat passievol oor sy taal is en dit as onlosmaaklike deel van sy identiteit beskou. Die kosmopolitiese persona is iemand wat enige plek tuis is en tevrede is om hom in enige taal te handhaaf – ’n wêreldburger sonder vaste wortels. Die akkommoderende persona is die persoon wat bereid is om eie taal en kultuur prys te gee ten einde niemand aanstoot te gee nie. Ons het na die onlangse hofuitsprake in die Kovsies-taalbeleidsaak en Hoërskool Overvaal-skoolplasingsaak artikels van sulke persone in die media gesien wat gepleit het vir die afskaf van Afrikaanse onderrig ten einde konflik of vermeende uitsluiting te vermy.

Wanneer die ouer besluit in watter taal ’n kind onderrig moet word, word ’n tree op die vormingspad van een van die drie personas gegee.

Deur die jare het ons by AfriForum al met baie mense te make gehad wat sterk opinies oor taal uitspreek. Nog net een keer in al die tyd was daar ’n Afrikaanse ouer wat beweer het sy kinders sou beter gevaar het as hulle in Engels studeer het. Of sy kinders sou saamstem en of sy opinie geldig was, kan ons nie sê nie, maar die gesprek was in die teenwoordigheid van sy werkgewer wat vir die verengelsing van ’n onderwysinstelling kom voorspraak maak het, wat ’n mens laat wonder.

Meer hartseer was verskeie gesprekke met mense wat deur hulle Afrikaanse ouers gedwing is om in Engels skool te gaan. Van die jonger mense het hulle in hulle beroepslewe dan skielik in ’n Afrikaanse werksomgewing bevind (een byvoorbeeld in ’n media-instelling, ander in onderwys) waar hulle gespook het om hulle kennis in Afrikaans toe te pas en om hulle vlot en verstaanbaar in Afrikaans uit te druk. Hulle het kultureel baie tuis in die werksomgewing gevoel, maar taal was beslis ’n struikelblok. Beide die jonger en ouer garde (een van die persone was in haar laat sewentigs) het getuig dat hulle op skool gesukkel het om “in te pas”. Sommige is gespot, ander het oorkompenseer deur ontsettend hard te werk en te presteer op talle terreine, maar sonder veel persoonlike bevrediging. Van hulle het selfs genoem dat hulle hul ouers lewenslank sal verkwalik. Dit sal interessant wees as ’n studie onderneem kan word om wetenskaplik te bepaal of ons waarnemings algemeen geld.

Wetenskaplike studies wat wel onderneem is en word, ontleed die verhouding tussen immigrante ouers, grootouers en kinders wanneer na ’n land met ’n ander taal as die moedertaal geëmigreer word. Daar is byvoorbeeld interessante studies oor die groot Poolse gemeenskap in Skotland. ’n Kenmerk is dat kinders ’n tweede taal vinniger as volwassenes aanleer. Deur taal ontstaan daar dan ’n generasiegaping tussen kinders en ouers of grootouers. Kinders sal dikwels selfs getuig dat hulle skaam is vir ouers en grootouers omdat hulle die nuwe taal swakker praat en dus dom of ouderwets voorkom. Die vervreemding kan soms ’n onoorkombare kloof tussen die generasies word en beide kante vereensaam laat voel. Dit gebeur ook in Suid-Afrika waar kinders tuis in ’n inheemse taal funksioneer, maar in ’n ander taal skoolgaan. Die onderrigtaal word met sukses en geletterdheid geassosieer, terwyl die moedertaal as verouderd en ’n verleentheid beskou word.

Uit opvoedkundige en sosiolinguistiese studies (wat onder meer ook tydens AfriForum se bogenoemde blitskonferensie aangehaal is), weet ons hoe diegene wat in hulle moedertaal studeer, oor die algemeen lyk:

  • Hulle hou gewoonlik langer aan studeer en behaal meer sukses met hulle studies as studente wat in ʼn tweede taal studeer;
  • Hulle beskik oor ’n sterk identiteitsbesef, met ’n positiewe selfbeeld en gesonde selfvertroue;
  • Weens die selfvertroue neem hulle meer geredelik in klasverband deel, wat weer akademiese prestasie bevorder;
  • Hulle handhaaf positiewe sosiale kontak met ander moedertaalsprekers, insluitend gesinslede en familie – gevolglik is hulle ook meer gefokus op gemeenskapsdiens;
  • Hulle is meer geneig om ander tale suksesvol aan te leer en te gebruik;
  • Hulle intellektuele ontwikkelingspeil is hoër en hulle redenasie- en uitdrukkingsvermoë beter;
  • Hulle het ’n hoë kognitiewe ontwikkelingsvlak en luister en begryp beter, wat weer hulle probleemoplossingsvaardighede versterk;
  • Hulle beskik oor ’n groter, meer gesofistikeerde woordeskat as ander studente.

Navorsing wat deur prof. Elirea Bornman en kollegas onder studente by Unisa onderneem is, asook ’n onlangse peiling onder leiding van Annelise de Vries van AfriForum onder regslui, bewys dat diegene wat in hulle moedertaal studeer en werk, en voel dat hulle taal op daardie terrein veilig is en gerespekteer word, meer verdraagsaam teenoor die sprekers van ander tale is en ook meer lojaal aan instellings waaraan hulle verbonde is. Dit sluit onder meer hulle universiteit, werkgewer en land in. Moedertaal en die beskerming daarvan is dus nie soos politici beweer, verdelend nie, maar juis ’n noodsaaklike werktuig om nasionale samehorigheid te bevorder.

Wanneer ’n ouer derhalwe vir of teen moedertaal as sy kind se onderrigtaal besluit, is dit die begin van ’n proses wat op alle gebiede die kind se toekoms gaan bepaal. Ons mag daarom nie vassteek by die argumente van globaliste dat Engels die taal van die toekoms is nie, maar moet ook dink wie die kind in die toekoms moet wees en waar sy of haar wortels moet lê.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Gerhard ·

Verder moet ons ook noem dat Engels nie die wereldtaal sal bly nie en deur Sjinees vervang sal word in die toekoms. So dink maar daaraan as jy voel jy moet jou kind in ‘n ander taal opvoed.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Alana, mens vertrou dat ons ouers tot die besef sal kom dat moeder taal onderrig een van die boustene is in die vorming van ‘n kind. Ons kinders staan in die spervuur tussen politiek gedrewe besluite van die regering. Ons kan ons situasie vergelyk met die tyd van die twee Vryheidsoorloe toe Afrikaans deur die Engelse owerheid tot kombuistaal verklaar is.

Jerry ·

Daar is talle voorbeelde van Suid Afrikaners hier en oorsee wat nie n keuse gehad het mbt taalonderrig. Hulle het uitgestyg uit hulle omstandighede tot prominente lede in hulle gemeenskappe. Ons lewe in n globale veranderende omgewing wat vereis dat ons aanpasbaar moet wees. Vernuwende denke is nodig om te verseker dat die jeug nie in sak en as gaan sit in Suid Afrika! Raak ontslae van ou en geykte denke wat die jeug isoleer.

Piet Snot ·

Jerry, ek stem 100% met jou saam. Ons moet onmiddelik ontslae raak van die ou en geykte idee dat kinders verder kom met Engelse onderrig.
Die nuwe denke is dat moedertaal die beste is, soos Alana skryf – ons kan nie vasval in die verstikkende, stowwerige, stokou idee dat Afrikaanse kinders beter doen mbv Engels nie.

Joe Hall ·

Piet Snot jy kon kwalik al die mites en sopstories oor soutie taalonderrig beter gestel het!!!
Vir wat dit werd is, stem ek ook 100% saam met jou en ou Jerry.
hehehe

JC ·

Baie dankie Alana, eenvan’n eindelose hoeveelheid bewyse vandie onweerlegbare voordeel van moedertaalonderrig.Ons vertrou dat die Afrikaanse-ouer deur die bewusmakingswerk van julself en andere, die regte ding saldoen vir haar ofsy kind.’n Besluit tot die teendeel ismet respek onregverdigbaar. Die politiekeredenasies is drogredenasies,die arme onskuldige kind isop skool en/of universiteit,en sy/haar karakter en identiteit word nog gevorm, waar ‘n koesterende, akkommoderende atmosfeer moet geld.Hoe op aarde het ons op die punt gekom dat onderwys en meer spesiek skoolonderwys verpolitiseer is?Deur jou nie daaraan te steur nie,en nieaandie verwronge gedagtestrominge erkenning te gee nie,is alreeds ‘n oorwinning want politieke oorwegings moet EERS NIE ter spake kom nie.’n Sotho kind wat in sy moedertaal leer tot en met tersiere vlak is ‘n beter aangepaste en ontwikkelde kind, net so vir ‘n Afrikaanse kind, en het dit hoegenaamd NIKS te doen met drogredenasies van “kohesie” of op die ekstreme kant,Sosiale Marxisme nie, WEEREENS, die kind is op skool of kollege,en moet die geleentheid gegee word om tot sy hoogste potensiaal te ontwikkel, wat ons weet gefasiliteer word deur moedertaal onderrig.Dwang, en spesifiek vals marxisties-geinspireerde hoofstroommedia (OPINIE)gedrewe dwang,ten einde Afrikaanse kinders;deur druk op hul ouers te plaas; te dwing om in iets anders as Afrikaans te swot;gedoem is tot mislukking. DIE MENSE IS WAKKER, dit wat in die VSA aan’t gebeur is,is besig om oor te spoel na ander lande.

JC ·

Deur die Franse taal Gerhard, en teen ongeveer die jaar 2050. Waar gaan jou “Ingels” jou dan bring mense? In elk geval-veel eerder Frans as Ingels-tong in die kies- ;)

Eish ·

Bewys op bewys op bewys stroom in oor die voordeel van moedertaalonderrig.
Alhoewel ek ernstig betwyfel of die kapasiteitsgestremde meerderheidsregering enigsins die feite verdiskonteer het in hul radikale beleidsrigtings, óf selfs enigsins bewus is van die wetenskaplike onderleg, is dit duidelik dat hul, hul nie daaraan steur nie. Ons sal eenvoudig moet veg soos in baklei daarvoor om ons kinders die maksimum voordeel daarvan te kan gee.

Joey J ·

Ons bly nou al jaaare nie in SA nie, my kids word Spaans, Engels groot, afrikaans net so nou en dan vir ouma en oupa, maar glad nie n praat taal in ons huis nie.

chrisp ·

Joey J.
Ek is so bly mense van die buiteland sien dit ook so in.
Dink jouself nou in, jou Spaans/Engelse kinders in ‘n Afrikaanse skool waar Afrikaans nie hul moedertaal is nie.

JC ·

Hulle sal beslis Boerseun, vorentoe CVO, en sterkte! (wanneer gaan “die Vryburger” nou die details bekend maak t.o.v. waar mens skenkings kan maak aan BCVO vir 2018 ?)

Casper Labuschagne ·

Dit is absoluut waar dat jou onderrigtaal sal bepaal wie jy is. Dit is nie juis die taal nie, maar die filosofie, godsdiens en wêreldbeskouing van die skrywers van dit wat kinders in daardie taal sal lees en leer, wat die lense vorm van die bril waarmee hulle die wêreld sal beskou. Dit het ek eerstehands aanvaar toe my “baie slim” suster wat geen toekoms in Afrikaans gesien het nie, al drie haar kinders in Engelse skole ingeskryf het nie. Toe daardie kinders hoor dat hul voorgeslagte in die Boere Oorlog geveg het, in Milner se konsentrasiekampe was en selfs by Bloedrivier was, het hulle vir my gevra, “Kry oom dan nie skaam nie?”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.