Die klein Groot Trekke van vandag

Pierneef se skildery “Die Groot Trek” (Foto: Wikipedia)

Daar is al ʼn hele paar mense wat oor semigrasie geskryf het, met verwysing na die groot aantal Afrikaners wat van oor die land heen Kaap toe trek. Daar is selfs al spottenderwys daarna verwys as die huidige Groot Trek, wat nou met ossewaens en al ʼn ommekeer maak na die suide van die land. Ek merk egter ʼn klomp kleiner Groot Trekke in elke provinsie, dorp en selfs verskillende woonbuurte van ʼn dorp op.

Wat provinsies betref, kan ons byvoorbeeld na AfriForum se ankergemeenskappe kyk. Ankergemeenskappe is gemeenskappe wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) geïdentifiseer is as gebiede waarheen Afrikaners natuurlik trek. In hierdie gemeenskappe veral fokus AfriForum op die skep van maatskaplike-, sekuriteits- en kulturele infrastruktuur, asook gemeenskapsruimtes. Die SNI het verder bevind dat alle Afrikaners teen 2031 binne 200 km van ʼn ankergemeenskap sal woon. Dít is ʼn klein Groot Trek.

In dorpe kan ʼn mens nie anders as om op te merk dat Afrikaners steeds ʼn trekgees koester nie. ʼn Mens kan dit selfs as koppig beskryf, want wanneer Afrikaners ontevrede is oor die verval van hul woonbuurt, trek hulle weer die “wildernis” in. Hierdie “wildernis” verwys nie net na die nuwe tendens van natuurlandgoedere nie, maar eintlik na die buitewyke van ʼn dorp. Afrikaners is al hoe meer geneig om aan ʼn klein Groot Trek na die buitewyke van die dorp deel te neem, waar hulle soos pioniers ʼn splinternuwe woonbuurt na hul sin kan ontwikkel.

In die verskillende gebiede in en om dorpe is die mees sigbare vorm van ʼn klein Groot Trek egter duidelik in die vorm van sekuriteitskomplekse en -landgoedere wat oornag soos sampioene opskiet. Natuurlik dra Suid-Afrika se misdaadkoers hiertoe by (dit is een van die hoogstes ter wêreld!), maar ek is van mening dat die gewildheid van hierdie komplekse oor baie meer as net veiligheid gaan. Dit benadruk die behoefte aan gemeenskapsfederalisme.

Moenie vir dié groot woord skrik nie. In leketaal som ek dit op as ʼn bestel waar mag gedesentraliseer word (dus van die regering afgewentel word) en in die hande van gemeenskappe geplaas word om selfbestuur toe te pas. Die verskynsel van sekuriteitskomplekse is net nog ʼn bewys dat mense ʼn behoefte het om hul omgewings self te bestuur.

Ek dink dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrikaanse burgers sulke hoë belasting moet betaal vir staatsdienste (wat nie gelewer word nie) en dan wéér moet betaal om hierdie basiese dienste self te voorsien. Ongelukkig is toenemende staatsverval ʼn werklikheid; as ons vir onsself ʼn ander werklikheid wil skep, gaan ons die woord federalisme prakties moet uitleef. Dit hoef nie noodwendig tot sekuriteitskomplekse beperk te wees nie, want dit kan oral neerslag vind waar gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hul omgewings aanvaar.

Ons hoef ook nie te wag totdat die regering moontlik (maar dis onwaarskynlik) eendag toegee dat federalisme die beste opsie vir die bestuur van die land is nie. Ons kan elkeen vandag al begin om federalisme uit te leef, of anders gestel, om selfbestuur toe te pas.

Hoe meer staatsbestand ʼn mens kan word, hoe beter! Die verskeie klein Groot Trekke is reeds ʼn praktiese voorbeeld van gemeenskapsfederalisme en dit is hoogtyd dat ons dit raaksien en aangryp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: René van der Vyver

René van der Vyver is woordvoerder van AfriForum Jeug. René het haar meestersgraad (cum laude) in Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het haar navorsingstema, “Kreatiewe Afrikanerkultuurtoerisme”, ontwerp omdat sy passievol is oor die Afrikanerkultuur. René se passie gee egter die toon aan op verskeie gebiede, soos wanneer sy standpunt inneem oor aktuele kwessies op Twitter en YouTube (@realReneKruger).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

houopkruip ·

Gemeenskapsfederalisme is ongelykkig ons mense se enigste toekoms.
Onafhanklikheid vir ‘n sekere gebied in SA sal nooit deur die meerderheid toegelaat of goedgekeur word nie.
Ons sal ons heil hier in die noorde van die land uitwerk – ons mense hier ssl daarvoir sorg.
Dankie Afriforum.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelukkig is gemeenskapsfederalisme in ‘n moderne wêreld nie volhoubaar nie. Eilande van voorspoed in ‘n oseaan van armoede, siektes en ellende kan nie vir altyd voortduur nie. Die eilande sal steeds uitgelewer wees aan die ANC regime se mislukkings. Glo my, semigrasie na die suide is sigbaar en dit skep nuwe geleenthede. En dis vir inwoners in ‘n streek om self te besluit of hulle wil afstig of nie. Indien die Zoeloes in KZN besluit om af te stig het ons in die suide geen seggenskap nie.

Oom ·

Om aanmekaar jou skoene te versool (die trek na een of ander gewaande oord van veiligheid), is slegs die uitstel van die finale oomblik van waarheid. Die beste raad is om jou sake so op te lyn dat ‘n volledige emigrasie op die horison is. Begin by die jongmense. Stuur hulle na die buiteland om daar te begin werk en te woon. Spaar elke sent sodat die ouers ook eventueel kan verhuis om met die hulp van die kinders hier te kan oorleef. Dit is nie ‘n saak van onmoontlikheid nie. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

annie ·

Is dit nie Republiekdag vandag nie of mag ons dit nie onthou nie eerder net 1 Mei.

Goldy ·

Dis n stap in regte rigting maar moet eie veiligheid en eie ekonomie ook bestuur anders gaan daar geparasiteer word tot als leeggesuig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.