Die moontlikheid van ʼn kernoorlog is vandag groter as ooit vantevore in die kernera – of só word daar dikwels aangevoer en wyd aanvaar.
Michael Gorbatsjof, voormalige leier van die Sowjetunie, het onlangs (weer) gewaarsku dat die wêreld op die rand van ʼn onbeperkte kernoorlog staan indien lande soos die VSA en Rusland in besit van kernwapens bly. Vir Gorbatsjof, sowel as verskeie ander waarnemers van kernaangeleenthede, behoort die sowat 13 400 kernwapens waaroor die VSA en Rusland beskik (6 550 en 6 850 onderskeidelik) onmiddellike gevaarligte onder beide beleidsvormers en Jan Alleman te laat afgaan.
Die gebruik van slegs ʼn klein aantal van hierdie wapens kan grootskaalse lewensverlies tot gevolg hê. Almal is egter nie eens dat ʼn onbeperkte kernoorlog die wêreld in die gesig staar nie. Kernoptimiste (dié wat glo dat kernwapens vrede bewerkstellig) is van mening dat die dekades oue strategie van kernafskrikking stééds kernstate beteuel. Met kernafskrikking word bedoel dat staat A vir staat B ontmoedig om ʼn kernaanval te begin deur vir laasgenoemde ʼn hoëkoste- of risikovooruitsig te skep wat enige moontlike winste oortref. Vervolgens, indien ʼn aggressiewe staat dit durf waag om ʼn militêre aanval op ʼn kernwapenstaat te begin, sal eersgenoemde staat gestraf word met ʼn onbepaalde aantal kernwapens.
Kernpessimiste (van wie Gorbatsjof slegs een van baie is) het as uitgangspunt dat die teenwoordigheid van kernwapens op sigself die risiko van ʼn kernoorlog verhoog. Voorts argumenteer hulle dat hoewel kernafskrikking miskien (nét miskien) vrede tussen kernstate gedurende die Koue Oorlog bewerkstellig het, verskeie hedendaagse uitdagings die doeltreffendheid van kernafskrikking kortwiek – én die waarskynlikheid van kernoorlog dramaties verhoog.
Die debat tussen die kernoptimiste en –pessimiste woed reeds ʼn geruime tyd. Vandag wil ek graag na twee van die vernaamste argumente van die kernpessimiste kyk, met die belofte dat die saak van die kernoptimiste op ʼn ander geleentheid gestel sal word.
Kom ons kyk eerstens na die vraag oor die rasionaliteit van die huidige oes van regeringshoofde en, tweedens, na die wyse waarop nuwe tegnologieë kernafskrikking moontlik kan kortwiek.
Hoe rasioneel is Trump, Poetin, Kim Jong-oen en die res?
Kernpessimiste hou vol dat vandag se leiers irrasioneel is. Daar is vandag nege kernwapenstate in die wêreld, te wete, die VSA, Rusland, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Israel, Indië, Pakistan, China en Noord-Korea. Kan ons met oortuiging verklaar dat die leiers van dié state rasioneel is? Miskien twee, hoogstens drie, maar beslis nie almal nie. Die res neig veel eerder in die rigting van die kategorie “irrasioneel”. Met “irrasioneel” bedoel kernpessimiste dat hedendaagse leiers bereid is (of sal wees) om hul eie land en sy mense bloot te stel aan grootskaalse verwoesting ten einde óf ʼn bepaalde beleidsrigting deur te voer óf hul persoonlike agendas te bevorder.
Vergelyk, so argumenteer die kernpessimiste, die leiers van weleer met dié van vandag. Gedurende die Kubaanse Missielkrisis van Oktober 1962 (waartydens die Amerikaners en die Sowjetunie uiters naby aan ʼn kernoorlog gekom het), kon beide die Amerikaanse president John F. Kennedy en die leier van die Sowjetunie, Nikita Khrushchev, hul weg na ʼn vreedsame oplossing vind, hoewel dit aanvanklik moeilik was. Trouens, gedurende dié krisis vermaan Kennedy dat dit nie die eerste (militêre) stap is wat hom bekommer in ʼn konfrontasie met ʼn ander kernwapenstaat nie, maar éérder dat beide state die geskil tot die vierde en vyfde stap eskaleer – en geeneen van die partye bereik die sesde stap nie, omrede albei partye uitgewis is. ʼn Gesonde mate van rasionaliteit het dus hier (en elders gedurende die Koue Oorlog) geseëvier.
Dié gedrag verskil dramaties, meen kernpessimiste, met die gedrag van hedendaagse leiers: Trump is meer wispelturig as die Iere of Skotte gedurende die onlangse Wêreldbeker-kompetisie (dink, byvoorbeeld, aan sy benadering tot Sirië); Kim Jong-oen toets missiele links en regs ondanks vernietigende sanksies (en dít ten koste van sy eie mense); Poetin lyk slaggereed om enige oomblik die bevel vir ʼn kernaanval te gee indien die Amerikaners hom te ver druk; en is daar iemand wie werklik glo dat Hassan Rouhani en Narendra Modi (leiers van Iran en Indië onderskeidelik) rasionele leiers is?
Vir kernpessimiste is die gevolgtrekking dus voor die hand liggend: vandag se leiers is anders as dié van weleer, is irrasioneel en sal bereid wees om als op die spel te plaas (selfs hul eie oorlewing en dié van hul staat) om hul doelwitte te bereik.
Hoe veilig is kernstate se tweede slaanaanvalsmagte?
Een van die kernargumente van kernoptimiste is dat ’n kernafskrikkingstrategie goedkoop, dog maklik uitvoerbaar is.
“Goedkoop”, want slegs ʼn paar kernwapens word benodig om ʼn moontlike aanvaller te ontmoedig; “maklik uitvoerbaar”, want sodra ʼn staat oor ʼn tweede slaanaanval beskik (dit is, die vermoë van ʼn kernwapenstaat om ʼn eerste slaanaanval met genoegsaam kernwapens te oorleef om sodoende die aanvaller met ʼn kernaanval te vergeld), sal kernafskrikking werk.
Kernpessimiste noem egter dat verskeie tegnologiese ontwikkelinge – onder meer, kunsmatige intelligensie, robotika, hipersoniese vaart, en kuberoorlogvoering – die grondbeginsels van die strategie van kernafskrikking ondermyn. Ek wil graag hiér kortliks na kunsmatige intelligensie kyk en volstaan by drie wyses waarop dit kernafskrikking (kan) ondermyn.
Allereers, wat is kunsmatige intelligensie? Volgens Michael Klare, emeritusprofessor in vrede- en wêreldveiligheidstudies by Hampshire College in die VSA, is kunsmatige intelligensie ʼn “generiese term wat gebruik word om ʼn verskeidenheid tegnieke te beskryf wat gebruik word om masjiene met die vermoë toe te rus om hul omgewing (in beide die fisieke wêreld en die kuberruimte) te monitor en, op grond van dié waarnemings, selfstandig op te tree”.
Met dít in gedagte, hoe ondermyn kunsmatige intelligensie die grondbeginsels van ʼn strategie van kernafskrikking?
Eerstens, die gebruik van kunsmatige intelligensie in hommeltuie, onbemande bowatervaartuie en onbemande duikbote verskaf kernwapenstate met “oë” en “ore” byna orals. Wat bedoel ek hiermee en waarom is dit belangrik?
Dit is vandag toenemend moeilik vir kernwapenstate (en dit gaan selfs nog moeiliker word) om hul tweede slaanaanvalsmagte te verberg vir die intelligensievermoëns van ʼn aggressiewe kernwapenstaat – en, indien ʼn kernwapenstaat se tweede aanvalsmagte toenemend sigbaar word, verlaag dit ʼn aggressiewe staat se koste of risiko om ʼn eerste slaanaanval te loods.
Tweedens, daar word toenemend gevrees dat kunsmatige intelligensie die spoed van oorlogvoering sodanig sal verhoog dat state hulself noodgedwonge tot selfstandige (of outonome) wapenstelsels wend. Ons is reeds sterk op pad hierheen. Die Amerikaanse Vloot se Aegis-lugverdedigingstelsel is slegs een van baie voorbeelde van wapenstelsels wat in staat is om selfstandig ʼn teiken op te spoor en te verwoes. Dié en ander sisteme is weliswaar nog afhanklik van menslike besluitnemers.
Selfstandige wapenstelsels – dié wat geheel en al selfstandig is – sal in staat wees om ʼn teiken op te spoor en te verwoes, sonder enige besluitnemingsrol vir die mens. ʼn Kernafskrikkingstrategie kan egter slegs werk as daar ʼn mens (nie ʼn masjien nie!) is om af te skrik!
Die implikasies vir kernoorlog is dus duidelik. Die toenemende spoed van oorlogvoering enersyds, en die verkleining (selfs verdwyning) van die rol van die mens in besluitneming oor oorlogvoering andersyds, impliseer dat toekomstige besluite om kernwapens te lanseer in die hande van masjiene – en nie mense nie – kan wees. Laasgenoemde prentjie word selfs nóg donkerder indien ons oorweging skenk aan die vraag na die betroubaarheid van dié masjiene.
Vervolgens, en met dít my derde en laaste punt, hoe maklik kan dié masjiene gemanipuleer word?
Kenners op die gebied van kunsmatige intelligensie is dit eens dat dit nie besonders uitdagend is om kunsmatige-intelligensiemasjiene om die bos te lei nie. Die gehalte van die besluite wat deur dié masjiene geneem word, is afhanklik van die gehalte van die data wat dit “gevoer” word. Die beginsel hiér is eenvoudig: rommel in, rommel uit. As kunsmatige-intelligensiemasjiene onderworpe is aan manipulasie (en sabotasie), hoeveel vertroue kan ons in sodanige masjiene plaas om die regte (lees: rasionele) besluite oor die gebruik van kernwapens te maak?
Geen, waarsku kernpessimiste.
Ek het hierdie skrywe met beide ʼn stelling en ʼn vraag begin: enersyds, dat die bedreiging van ʼn kernoorlog heelwat nader is as wat ons dalk besef; andersyds, dat daar goeie redes is waarom ons moet vrees. Hoewel dié prentjie uiters donker is, moet ek wéér noem dat ek vandag slegs een kant van ʼn ingewikkelde debat gestel het, naamlik dié van die kernpessimiste. Vir nou sal ek hierby volstaan.
As hulle die kernwapens verwyder en vernietig, is Openbaring, Daniël en Siener van Rensburg se boeke verniet geskryf. Dan het Nostradamus sy tyd gemors en nog ‘n paar profetiese boeke verniet ge-publiseer.
“Siener” van Rensburg is geen profeet nie. Die Bybel is duidelik dat Jesus Christus die laaste profeet was. Alles wat ons wil weet is in die Bybel. As dit in die Bybel is het ons dit nie van erens anders af nodig nie, en as dit nie in die Bybel is nie is dit vals. So maklik soos dit.
…en na die kernoorlog sal die Terminators hul verskeining maak – kyk die movies as julle wil weet hoe dit eindig.
Die terminators is reeds hier. Hulle voltooi hulle missies in die hospitale as die eerste aanslag nie gewerk het nie. Sekuriteit kan hulle ook nie stop nie.
… Trump word gediskrediteer en Putin verag, maar beide sal nie kernkrag as oplossings gebruik nie. Die vraag wanneer ‘n ongeluk gaan gebeur is dalk meer van belang met soveel kernwapens orals en talle onverantwoordelike mense. Dan is daar terroriste wat nie sal skroom om hulself te vernietig om ‘n vyand by te kom nie.
Die wereld is siek verby..Soveel boosheid..
Wat goed kan al die kernbomme die Mensdom inhou? Net haat en kwaad, dit sal die einde van ons as spesie en so ook die res van die planeet beteken. En al die skrikwekkende mag in volwassenes met kindertjes se denkwyse se hande..Ek dink nie eens die Here gaan n kans kry om die planeet te verwoes nie ons mensdom sal die aarde skroei en so ook ons eie voortbestaan as spesie nog voor die Here kan intree..Maar net miskien is dit wel hoe die mensdom soos die bybel se tot einde kom…VUUR sal dit weesof dit nou kom dmv Solar flairs of n komeet impak of Kern oorlog maar een ding is verseker die planeet Aarde gaan brand !!!!Geseende kersfees amal…
Dit is nie iets waaroor ek my ooit bekommer nie. In hierdie hool is daar elke dag soveel meer dinge wat n mens bedreig as die uiters klein moontlikheid van n kernoorlog.
Stem 100% saam jou KaterinaKat…
En toe julle wakker word is die koffie koud
En aan die einde van dae is daar niks wat iemand aan iets kan doen……slegs God is in beheer van alles wat op aarde gebeur…kernoorlog of te not!