Die konflik oor Nagorno-Karabach

(Foto: Armenian Defense Ministry via AP)

Die konflik oor Nagorno-Karabach is een van talle sogenaamde gevriesde konflikte in die wêreld, met ander woorde ’n konflik waar daar geen militêre of diplomatieke oplossing is nie weens té uiteenlopende standpunte van die konflikpartye en wat dus onbeslis voortduur.

Ander sulke sogenaamde gevriesde konflikte is byvoorbeeld die konflik oor Noord-Siprus tussen Turkye en die Republiek Siprus asook Griekeland; oor Abchasië en Suid-Ossetië tussen Rusland en Georgië; oor die Krim tussen Rusland en die Oekraïne en oor die Wes-Sahara tussen Marokko en die Sahrawis oftewel Algerië, om maar enkeles te noem.

Ná ’n lang wapenstilstand sedert die voorlopige einde van die konflik in 1994 – onderbreek deur enkele skermutselings – het die konflik oor Nagorno-Karabach onlangs weer uitgebreek, met Azerbeidjan wat poog om Nagorno-Karabach (voortaan Karabach genoem ter wille van vereenvoudiging) te herower.

(Foto: AP Photo/Aziz Karimov)

Karabach se mense veg vir hul oorlewing en het alles om te verloor indien Azerbeidjan hul grondgebied verower en hulle verdryf. Vir hulle sou die beste wees as groot moondhede sorg dat daar so gou as moontlik ’n wapenstilstand intree en die gevriesde konflik voortduur met hul de facto-onafhanklikheid.

Die twee lande wat oor Karabach (met sy 150 000 inwoners en sowat 4 400 m² groot) baklei, is die Christelike Armenië (drie miljoen inwoners) en die Moslemse Azerbeidjan (10 miljoen inwoners). Volkeregtelik behoort Karabach aan Azerbeidjan, maar etnies en feitelik behoort dit aan Armenië, of eerder, is ’n de facto- eie staat met sterk bande met sy etniese moederland Armenië, maar sonder diplomatieke erkenning. Soos met talle konflikte, is dit uiters moeilik om vas te stel wie reg en wie verkeerd is. Dit hang in elk geval baie van ’n mens se standpunte en simpatie af en of die beginsel van etniese selfbeskikking of van territoriale integriteit swaarder weeg.

Die twee lande is opvolgstate wat uit die ontbondeling van die Sowjetunie in 1991 omstaan het en die konflik dateer reeds voor daardie tyd. Die Sowjetse diktator Josef Stalin het etniese republieke in die Sowjetunie geskep, maar het seker gemaak dat nie een van hulle etnies homogeen is nie, om die strewe na selfbeskikking moeilik te maak. Karabach, tradisionele woongebied van die Armeniërs buite die deelrepubliek Armenië, moes eintlik deel van Armenië gewees het, maar is as outonome enklawe binne-in Azerbeidjan geplaas. Reeds in die 1980’s, toe saam met die politieke hervormings van Michail Gorbatsjof die ystergreep van die Sowjetunie verslap het, het sowel Armeense as Azerbaidjanse nasionalisme herontwaak.

(Foto: AP Photo/Aziz Karimov)

Die Armeniërs van Karabach het betoog vir die aansluiting by Armenië. Toe Azerbeidjan in 1991 onafhanklik geword het, is Karabach se outonome status deur die nuwe regering weggevat, tot groot ontevredenheid van die Armeense bevolking daar. Hulle het in reaksie ’n referendum oor onafhanklikheid uitgeroep en is daarna deur Azerbeidjan aangeval. Armenië het hul volksgenote te hulp gesnel en ’n volskaalse oorlog het uitgebreek, met deelname van buitelandse troepe aan beide kante (Turke en ander Moslem-volke aan die kant van Azerbeidjan, en Russe aan Armenië se kant).

Al was Armenië verreweg kleiner en swakker as Azerbeidjan, kon die Armeniërs dit regkry om beheer oor Karabach te kry en het selfs grondgebied tussen Karabach en Armenië verower. Die oorlog was ’n groot oorwinning vir Armenië en Karabach.  Azerbeidjan het die wapenstilstandooreenkoms van 1994 aanvaar, maar gewag vir ’n geleentheid om wraak te neem.

In die hernude gewapende konflik is Armenië en Karabach beslis die Dawid teen die Goliat, veral as Turkye, wat sy partydigheid vir sy Azerbaidjanse broedervolk uitbasuin, nog bygereken word.

(Foto: AP Photo/Aziz Karimov)

Azerbeidjan het, danksy die inkomste uit sy oliebronne, sy weermag ná 1994 behoorlik opgeknap.  Rusland, wat in die 1990’s Armenië se bondgenoot was en ook ’n militêre basis in Armenië het, probeer nou om as arbiter op te tree en wil direkte konflik met Turkye vermy. Ook Turkye, ten spyte van die grootmanspraatjies van sy leier Recep Tayyip Erdoğan, kan nie direkte konflik met die veel groter Rusland bekostig nie. Al is die twee lande histories ou vyande, is hulle vandag deur ekonomiese bande sterk met mekaar verbind en sal direkte konfrontasie wil vermy. Turkye en Erdoğan sal dalk ’n oorlog teen die tradisionele vyand Armenië soek om daardeur Turkse nasionalisme aan te vuur en sy eie mag te vergroot. Azerbeidjan verwag om deur die oorlog grondgebied te verower en te behou. Rusland en Armenië sal die status quo wil behou.

Die konflik is deel van die groter konflik oor die Kaukasus-gebergte as die waterskeiding tussen die Christelike en die Moslemse sfeer van invloed. Wat dinge verder bemoeilik, is dat Turkye deel van Navo (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) is. Sou Rusland en Turkye aanmekaar spring, sou dit eintlik beteken dat Navo tot Turkye se hulp moet kom. Dit is egter meer waarskynlik dat alles gedoen word om die konflik te ontlont, want niemand soek ’n nog groter streekskonflik in die lig van die oorlog in Sirië waar Rusland, Turkye, Iran en ander reeds betrokke is nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Die Armeniërs dink nie veel van hul buurman Turkye nie. In 303 n.C. het Armenië die eerste land geword om Christendom as staatsgodsdiens aan te neem, en in die vroeë 5de eeu is die Bybel in Armeens vertaal. Alhoewel die land tussen 642 en 1046 onder Moslem-beheer was, het hulle fanaties Christen gebly. In 1813 is Armenië verdeel tussen Rusland en Turkye, en tussen 1894 en 1915 is die Armeniërs in Turkse gebied, in hul stryd om onafhanklikheid, in n volksmoord amper totaal uitgewis. (Syfers wissel tussen 80 000 en 300 000 vir die periode 1894-1896. Vanaf April 1915 gedurende die Eerste Wêreldoorlog, is n verdere 800 000 tot 1,5 miljoen deur die Turke vermoor.)
Vóór kommunisme kon hulle met reg kon spog oor “hulle” Berg Ararat. Weens die grensooreenkoms tussen die USSR en aangrensende Iran en Turkye in 1921 en 1932, val Ararat vandag nie meer in Armenië nie, maar in Turkye, 32 km van Armenië se grens af, tot hulle groot frustrasie.

Josef du Toit ·

Insiggewende artikel, baie dankie! Mens wonder soms hoe diep die hardkoppigheid moet le^ by sulke grondstryery. Per slot van rekening, het Armeensgesindes in Nagorno-Karabach die ganse Armenie” om na te verhuis. Aan die ander kant, as daar enige Turkstalige Moslems in Nagorno-Karabach is wat onder druk kan voel as die streek deel van Christelike Armenie” word, is die maklike alternatief gewoon die oorloop na Azerbaidjan. Dieselfde kan gese^ word tot ‘n mindere of meerdere mate met die nodige plaalike aanpassings oor die situasies in Noord-Ierland, Noord-Siprus en Vlaandere. Hier ter plaatse was ons eie Boere-Afrikaner volkie oor en oor al bereid om eie grond op te gee, en ‘n kleiner plekkie in te trek ter wille van vrede, nie dat dit ons juis gegun is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.