Die korona-hulpfonds en die breuklyne binne die Europese Unie

Angela Merkel en Emmanuel Macron. (Foto: John Thys, Pool Photo via AP)

Op die onlangse spitsberaad van die leiers van die Europese Unie (EU) is hewig gedebatteer oor geld: dit het gegaan oor die koronavirus-hulpfonds, maar ook die EU-begroting vir die volgende sewe jaar.

Die aanvanklike voorstel van Duitsland en Frankryk, om €500 miljard as nie-terugbetaalbare skenking te gee en net €250 miljard as terugbetaalbare lening vir lande wat ekonomies weens die koronavirus-pandemie sukkel, is hewig beveg deur die netto-betalers, die groep van die sogenaamde “suinige vier” (wat eintlik vyf is, met Finland wat hom ook by die groep geskaar het). Veral die Nederlandse eerste minister Mark Rutte het soos ʼn leeu geveg teen die spandabelrigheid van die groot lande en kon belangrike toegewings bereik.

Na lang uitgerekte onderhandelings kon ʼn kompromis gevind word: “Slegs” €390 miljard word nou as skenking gegee, en €360 miljard as lening, en die lande wat die fondse voorsien, het ʼn kontrolefunksie. Daardeur is Duitsland en Frankryk as die twee grootste lande in die EU se leierskaprol uitgedaag. Ten spyte van die toegewings, en selfs met die koronavirus-hulpfonds buite rekening gelaat, het die EU se begroting enorm verhoog en dit is veral op skuld gedoen. Die volgende generasies moet dit eendag afbetaal, indien die EU nie voor die tyd uitmekaarskeur nie. Die terugbetaling van die lening is gerek tot in 2058 (!) wanneer meeste van die huidige leiers lankal dood is en nie meer tot rekenskap geroep kan word nie.

Die taai onderhandelinge oor die koronavirus-hulpfonds het eintlik net weer gewys watter illusie die idee van een verenigde Europa is en hoe sterk die breuklyne loop tussen verskillende streke wat uiteenlopende idees het: Duitsland en Frankryk (ondersteun deur onder andere België en Luxemburg) speel die rol van die dryfas wat die EU al hoe meer wil sentraliseer en hulle links-liberale paradigma op almal wil afdwing.

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Veral Duitsland onder Angela Merkel is bereid om groot finansiële opofferings te maak ter wille van solidariteit, oftewel die verdere uitbou van die EU tot ʼn al hoe groter, al hoe magtiger instansie. Anders as verwag het hulle egter met taai weerstand te doen gekry en hulle moes kompromieë aangaan. Dit is immers nie net Duitsland wat vir almal betaal nie, maar alle lande wat ekonomies sterk is. In die verlede kon krake met geld toegepleister word, maar die krake het nou breuklyne geword.

Behalwe vir die Duits-Franse dryfas, is daar die sogenaamde “Club Med” (Italië, Spanje, Portugal, Griekeland), die ekonomies swakker lande rondom die Middellandse See wat bevolkingsgewys saam ʼn groot magsblok vorm en wat die EU veral as herverdelingsmasjien sien.

Sedert die instel van die euro het hulle handelsbalans al hoe meer negatief geword en hoop die skuld op, omdat hulle te min produseer en uitvoer en te veel invoer. Hulle enigste sterkpunt is toerisme, maar weens die Covid-19-pandemie het dit feitlik volledig weggeval. Hulle argumenteer, seker te reg, dat dit nie hulle skuld is dat Covid-19 en ook die gevolge soos die afname in toerisme hulle besonder hard getref het nie.

Die spaarsame lande wys egter daarop dat die arm suide reeds voor die pandemie miljarde se fondse deur die EU ontvang en nie veel gedoen het om hulle ekonomieë meer kompeterend en vaartbelyn te maak nie. Afgesien van ontbrekende ekonomiese hervormings is dié lande se ingesteldheid, of noem dit maar mentaliteit, ook ʼn faktor. Belastingontduiking speel byvoorbeeld in Griekeland ʼn baie groter rol as in Duitsland.

Mark Rutte. (Foto: Stephanie Lecocq, Pool Photo via AP)

Dan is daar die nuwe blok van die meesal noordelike en spaarsame lande: Nederland, Swede, Denemarke, Oostenryk en Finland. Hulle is ekonomies kompeterend en fiskaal konserwatief en is nie meer geneë om hulle winste na die suide te stuur sonder ʼn teenprestasie nie. Al is hulle klein lande, het hulle saam ook gewig en het met die onlangse konferensie hulle hefboomkrag gewys.

Verder is daar Oos-Europa, wat egter nog nie uit een mond praat nie. Pole, Hongarye, Tsjeggië en Slowakye is sedert 2015 deur die Visegrad-groep verbind en koördineer hulle optrede binne die EU. Hulle voel sterk oor hulle kulturele identiteit en die behoud van hulle soewereiniteit, veral as dit kom by grensbeheer en die afkeur van massa-immigrasie. Hulle baat by die ekonomiese herverdeling, maar wil graag beheer oor hulle huishoudelike sake behou en keur die inmenging deur die EU en die se links-liberale agenda af. Die meer onlangse lede van die Balkan (Kroasië, Bulgarye, Roemenië) het nog nie hulle plek gevind nie. Hulle is almal eerder arm en afhanklik van die herverdeling en kan dus nie te veel golwe maak nie.

Die EU se koers is om uiteindelik die hele Europa sinoniem met die EU te maak. Die oorblywende lande van Europa, veral state wat uit die voormalige Joegoslawië ontstaan het, is almal aspirant-lede en sal die gewig verder na die arm suide skuif. Daar mag ʼn punt kom waar die noordelike lande, soos Brittanje met Brexit, besluit dat die kool nie meer die sous werd is nie en dat hulle liewers gesamentlik hulle eie pad moet gaan. ʼn Herlewing van die Europese Vryhandelsassosiasie onder leiding van Brittanje is denkbaar: ʼn losser unie wat veral oor handel gaan en wie se lede vergelykbare uitgangspunte, ekonomiese krag en ingesteldhede het. Of Duitsland dan as enigste oorblywende betaler in die res-EU nog bereid en in die posisie sal wees om almal te onderhou, is te betwyfel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Dankie vir die interessante artikel.

Josef du Toit

Europese verenigingsdruk in weerwil van volkstate is niks nuuts nie. Karel die Grote met sy vestiging op die huidige Duits-Belgiese grensstad van Aachen, Napoleon Bonaparte van Frankryk, en Adolf Hitler van Duitsland, staan in die ry. In ons eie tyd, moet daar vir geen oomblik aan getwyfel word dat Duitsland haar pond vleis oor die jare ge-eis het vir die feitlike opkoop van Europa nie. Juis vir hierdie rede is daar ook groeiende bewegings weg van die EU in die suidelike state. Aan die ander kant, moet die skandalig-teenstrydige voorgee-nasionalisme in Noord-Ierland, Skotland, Vlaandere en Katalonië, erken word vir wat… Lees meer »