Die krag van my mense

krag-van-mense-hh

’n Foto geneem by die onlangs Helpende Hand nasionale kongres, saam met Kobus Bos, tannie Bettie Smit, Skyler en Rochelle – simbole van die krag van my mense. Foto: Verskaf.

Iemand vra my ’n tydjie gelede of ons by Solidariteit Helpende Hand nie gedaan raak met al die ellende en armoede wat ons heeldag elke dag om ons sien nie.  Maak dit ons nie gedaan om magteloos te staan teenoor armoede wat te groot is vir ons om te hanteer nie?  Verswaktes wat gelaat word en mense wat in hulle ouderdom versaak word nie; studente wat nie gehelp kan word met studielenings nie, honger mense en lui mense, mense wat uitgesak het en mense wat kies om uitgesak te bly – maak al daardie dinge ons nie gedaan nie?

Natuurlik maak dit mens moeg en natuurlik is dit uitdagend.  Natuurlik weet ons by Helpende Hand vir elke ding wat ons kan doen, is daar drie wat ons nie kan doen dit nie.  Dit is swaar om te sien dat jy vir mense kanse gee wat hulle nie gebruik nie, dit is moeilik om die middelklas te sien swaarder kry en die armes nog swaarder te sien kry, om te sien hoe ryk mense ryker word, baie sonder ’n hart vir armes.  Om jou soms te moet verneder om mense wat genoeg het, te vra vir ’n bietjie.  Natuurlik het ’n mens hierdie uitdagings, maar nee, dit maak my nie moeg nie; dit wys vir my die krag van my mense.  Hoe meer ek met armoede en ellende gekonfronteer word, hoe meer verstom ek my aan die krag van my mense.  Sowaar, vir elke ding wat ons doen en vir elke drie wat ons nie kan doen nie, verstom ek my oor hoe ek aan ’n groep mense behoort wat nie sommer gaan lê nie.  Wat krag in swakheid toon, wat kan aanhou en roepingsbewus voortbeur.  Ons kom voorwaar nie uit geslagte wat gaan lê en ophou nie en ons geslag tans word dikwels en hard platgedruk en getrap, maar gaan lê is min en ophou nog minder.

’n Mens kan nogal wonder oor die moed van die Oosgrens boere vroeër, of die oppak en inpak in ’n ossewa, die hantering van Bloukrans en Weenen, Bloedrivier, twee Vryheidsoorloë.  In my eie voorgeslagte is daar die krag van mense wat in Griekwastad die Vrystaatvlag hys of nog aanhou met ’n veldslag ná die vrede van Vereeniging reeds gesluit is.  Tog raak ek meer en meer oortuig die krag van my mense in ons geslag is nie minder nie.  Ons uitdagings is anders, ons leefwêreld is anders, ons politiek is anders, maar ons krag is nie minder nie.  Die planne, hoop, energie en krag wat deurentyd daar is om vorentoe te gaan verdien vermelding en erkenning.  Ons kan maklik kla oor ons geslag en kritiseer, maar soms moet ons ’n oomblik stilstaan en erkenning gee.

Ek sien die krag van my mense

  • in die feit dat hulle nie ophou saai nie;
  • in die nie gaan lê nie in uitdagings, maar die soek na nog oplossings;
  • in die humor onder alle omstandighede;
  • in geloof wat hulle nie versaak nie;
  • in moed wat nie ontbreek nie.

Ek sien die krag van my mense

  • in die lewe van klein Skyler wat vir Helpende Hand ’n gesiggie van honger is. Nie omdat sy self honger is nie, maar wil hê honger kinders gehelp moet word.  Wat bereid is om op te staan voor ’n saal vol mense en te vra om kos vir honger kinders.  Sy wys die krag van môre.
  • in die lewe van tannie Bettie Smit wat woon in Huis Davidtz, wat ’n toonbeeld is van moed en krag van oorwinning en opstaan. Sy wys die krag van gister en vandag.
  • in die lewe van Kobus Bos, wat gestremd is en tog elke dag gaan werk, homself onderhou soos duisende ander soos hy en nie gaan lê nie. Hy wys die krag van in uitdagings oorwin.
  • in die lewe van ’n student soos Rochelle Pieterse wat soveel struikelblokke al moes oorkom en tog haar LL.B. studeer, deeltyds werk en nie gaan lê nie. Sy wys die krag van gedrewe vorentoe gaan.
  • in die lewe van duisende ander soos Skyler, tannie Bettie, Kobus en Rochelle – ’n geslag wat nie gaan lê nie, ongeag ons konteks.

Ja, ek is bekommerd oor geestelike, kulturele en fisiese groeiende armoede onder my mense,  maar ek het ook hoop – my mense het krag en gaan nie sommer lê nie.

Die digter, Totius, het in sy gedig “Die Besembosgeskryf:

“Laat dan mense en diere, droogte en vure,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe;  my doodkry is min!”

Hier aan die einde van nog ’n jaar en die begin van ’n nuwe word daar aan ons mense op allerhande wyses gekap, gebrand, getrap – maar juis daarom is ons hier – om te saai en te oes, om te luister en te werk, om te bou wat hou, om nie te wag nie, maar te doen – ons wag nie, ons saai, ons plant sonder ophou en verwag die oes op die regte tyd.  Die saad is soms min en die arbeiders gering, maar gaan lê sal ons nie en ophou nog minder.  Ons leef en sal lewe.  Suid-Afrika vorentoe!

Ons kan 2018 afsluit en 2019 ingaan met die krag van ons mense.  Ek glo in saam, ek glo in ons. Ek glo in gemeenskapskrag.  Ek glo aan ’n gemeenskap wat saamwerk.  Ek het hierdie jaar die krag van my mense gesien.  Ek sien uit na 2019 om met die krag van my mense te werk.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae