Die kruipende nasionalisering van grond bied nie ʼn antwoord vir armoede nie

grond plaas boer trekker

Argieffoto (Pixabay)

Deur dr. Anthea Jeffery

Die dag voor die minister van finansies, Pravin Gordhan ʼn begrotingsrede gelewer het wat veronderstel was om te wys hoe Suid-Afrika se ekonomie ʼn ommeswaai begin toon het, het die Nasionale Vergadering stilletjies die Wysigingswetsontwerp op Onteiening van 2015 aanvaar, wat sekerlik skade aan beleggings sal doen en ekonomiese groei sal benadeel.

Die kantoor van die ANC se hoofsweep het die aanvaarding van die Wetsontwerp verwelkom, en dit as die “sleutel tot ons transformasie-trajeksie” beskryf en beweer dat dit “die lang-verwagte geregtigheid vir die onteiende meerderheid”sal meebring.

Die implikasie is dat die regering die Wetsontwerp sal gebruik om grond van wit boere te verkry, sodat die eienaarskap daarvan aan swart boere oorgedra kan word, om sodoende regstelling teweeg te bring, vir die gevolge van apartheidswetgewing wat swart mense lank verhoed het om grond in “wit” areas te kon koop.

Dit is egter glad nie wat die ANC in gedagte het nie. Ver van die doel om ʼn klas swart kommersiële boere te skep wat hulle eie grond besit, wil die ANC in werklikheid die onregverdige verdeling van grond onder apartheid gebruik om al hoe meer grond in die staat se besit of onder sy beheer te bring. Dit is ʼn resep vir die kruipende nasionalisering van grond.

Dit beteken ook dat die ANC se grondhervormingsprogram in der waarheid ʼn bedrogspel is. Dit speel op swart werkloosheid en gepaardgaande armoede, oordryf die mate van honger vir grond en streef daarna om woede en rassepolarisasie rondom die grondkwessie te stook. Terselftertyd ontneem dit eienaarskap van herverdeelde grond van swart boere, insluitende diegene wat graag op ʼn kommersiele skaal landbou wil bedryf.

Die regering se weiering om eienaarskap van grond wat vir herverdeling verkry is oor te dra, strek terug na 2010. In Oktober van daardie jaar het die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming die “opsie om te koop” wat voorheen in huurkontrakte met swart boere ingesluit was, eensydig verwyder. In 2011, in die Groenskrif op Grondhervorming, is dit beklemtoon dat grond wat aan die staat behoort, nie langer te koop sal wees nie en dat nuwe swart boere in die toekoms tot huur van grond beperk sal wees.

Ten spyte van die herhaalde besware deur swart boere, herbevestig die staat se Beleid op die Verhuring en Vervreemding van Grond, wat in 2013 aanvaar is, dat grond wat vir herverdeling verkry is, aan swart boere verhuur en nie verkoop sal word nie. Klein swart boere sal nooit eienaarskap ontvang nie, terwyl medium en grootskaalse boere tevrede sal moet wees met ʼn huur tydperk van 50 jaar voordat hulle (dalk) die kans gegun sal word om te koop.

Hierdie aandrang op huurkontrakte vir herverdeelde grond dui op die ANC se ware doelwitte. Die doel is nie om die ongeregtighede van apartheid reg te stel of armoede teen te werk nie, maar eerder om alle ontluikende boere – en uiteindelik alle kommersiële boere ook – in huurders van die staat te omskep. Dit sal die regering aansienlik bemagtig, terwyl dit die landelike ekonomie sal vernietig en ʼn einde sal bring aan die private eienaarskap van 86 miljoen hektaar kommersiële landbougrond.

Twee wetsontwerpe is reeds in die pyplyn om hierdie uitkoms te help verseker. Een is die raamwerk vir die Wetsontwerp op Bewaring en Ontwikkeling van Landbougrond van 2014, wat poog om die “houerskap” van alle landbougrond aan die staat te gee. Alle boere, swart sowel as wit, sal dan onderworpe wees aan ministeriële regulasies in die uitvoering van hul “reg om te boer”. Sulke regulasies kan natuurlik van hulle vereis om huurkontrakte met die staat aan te gaan, onderworpe aan sulke veranderlike voorwaardes as waarop die minister mag besluit.

Die tweede belangrike stap is die sleutel-Wetsontwerp op Onteiening, wat nou soveel nader is daaraan om ʼn landswet te word. Hierdie wetsontwerp poog om “onteiening” op só ʼn manier te definieer dat dit die neem van houerskap (eerder as eienaarskap) deur die staat sal uitsluit. Waar ontneming deur die regering nie as onteiening beskou word nie, is daar geen vergoeding betaalbaar volgens die grondwet nie. As hierdie twee wetsontwerpe in hul huidige vorm aanvaar word, kan die regering houerskap van alle landbougrond verkry, sonder om enige vergoeding te betaal. Die regering sal dan alle landbougrond beheer en dit aan boere uitverhuur, ontluikend of kommersieël, onder voorwaardes soos deur die regering bepaal. Dit is basies wat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) eis: Dat die staat houerskap van landbougrond neem sonder vergoeding en dit dan uitverhuur (of terugneem) volgens die terme waarop dit self besluit. Swart boere sal dan weer verhoed word, al is dit op ander gronde, om hul eie plase te kan koop. Daar sal nie veel effektiewe regstelling onder hierdie omstandighede wees nie.

Die ANC beklemtoon nou ook, “’n grondhonger” as die hoofrede vir wyd verspreide armoede en werkloosheid. Dit maak min ekonomiese sin. Die landbousektor dra slegs sowat 2,4% by tot die BBP en sowat 5% tot werkverskaffing. Dit is veel kleiner as ander sektore en is ʼn besonderse uitdagende area om in te floreer, soos uitegwys deur die huidige droogte. Boonop is Suid Afrika reeds 65% verstedelik en die meeste mense verkies om te werk en te woon in dorpe en stede, bó grondbesit vir boerdery.

Die ANC probeer Suid-Afrikaners bedrieg met valse beloftes van die belangrikheid van “toegang” tot landbougrond (die ANC is versigtig om nie eienaarskap te belowe nie). Wat die ANC eintlik probeer doen, deur die Onteieningswetsontwerp en ander maatreëls, is om die eiendomsregte wat ekonomiese voorspoedigheid sowel as politieke outonomiteit onderskraag, te beperk. Die onderliggende doelwitte is om afhanklikheid van die staat te bevorder, die markgedrewe ekonomie te kniehalter en die nasionale demokratiese revolusie met sy uiteindelike sosialistiese doelwitte, te bevorder. Geen wonder Gordhan het so min te sê gehad in sy begrotingsrede omtrent die fundamentele hervormings wat so broodnodig is om die land uit die ekonomiese gat te grawe wat deur huidige wette geskep is nie – en wat nuwe wette soos die Onteieningswetsontwerp sekerlik net sal vererger.

  • Dr. Anthea Jeffery is die hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge en skrywer van, onder meer, ʼn omvattende verslag oor SEB – “BEE: Helping or Hurting?”  Die artikel het op BizNews.com verskyn op 1 Maart 2016 en is vir Maroela Media vertaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Frans ·

Dit klink nogal baie soos die kommuniste se grond en vyfjaar planne ,waar die staat voorskryf
wat die grondgebruik sal wees. As dit die geval is wag dieselfde rampspoedige gevolge op Suid Afrika.

Dr P E van der Dussen ·

Ek het twe-drie jaar gelede ‘n artikel oor die Kommunistiese aanslag opgestel. Dit het wel oor onderwys gegaan, maar die beginsel bly dieselde. Ek het die artikel ook aan Maroela aangebied. Dit was egter nie vir hulle aanvaarbaar nie. Wieookal belangstel kan dit gratis aanvra by [email protected].

m ·

Die grootste kommer is wat gaan met al die grond gebeur wat nou gevat gaan word deur hierdie mense. Die uiteinde gaan wees 1000de hektaar grond wat onbewerk gaan le en geen boerdery gaan daarop plaasvind nie, want dit word net gevat omdat dit aan wittes behoord, geen ander rede om plan daarmee nie. Hierdie mense sal moet baie mooi dink wat hulle doen en beplan om te doen.

Johann Marx ·

As grond die enigste ding is wat oorbly om af te vat en weg te gee….net ter wille van NOG drie jaar in die soustrein stoel….dan is dit wat aangewend gaan word. Hierdie mense gee nie om oor voedselsekuriteit, of produktiwiteit, of werkloosheid, of armoede of werkskepping nie. Hulle’s net behep met hoeveel kan ek vat en in my eie sak druk voordat my kanse verby is.

John ·

Miskien is ander planne in die pyplyn. Ryk ‘vriende’ wil dalk hierdie gronde bekom om op groot skaal te boer met beloftes van groot werkskepping en belastinginkomste vir die staat ens. Ons sien reeds hoe myne sommer so base kry en orals is daar vreemde hande in die tender-prutpot met nefies en niggies en sussies en seuns wat op meevallertjies wag. Van skaliegasskagte tot kilometers vol sonkragpanele, ruimtebespieders en diamantgrawers span hul nette oor ons velde, alles met uitheemse base. Planne om die see ook om te dolwe word kort-kort gehoor. Wat nog? O ja, amper vergeet ek atoomkragstasies deur ander lande gebou, om alles foema te gee of … of te kaboem!

Anoniem ·

Die grond gaan net omgedolwe word vir plakkershuisies want dan het elkeen mos sy eie huisie op gratis grond. ….!!

peter ·

Nee, dit gaan oor die huurinkomste uit die plase. Die inkomste gaan skreiend hoog wees en die boere wat nie kan betaal nie, se plase gaan gevat word. Dit sal die staatskas vir ewig aanvul.
Dan het die ANC sy doel bereik en duisende boere sit op straat want hulle ken geen ander werk nie …of jy moet ‘n aantal swart minderbevoorregtes inneem om jou plaas te behou. sodoende moet die boere vir hulle sorg en hoef die staat geen verantwoordelikheid te neem nie. Probleem opgelos! Hulle doel is bereik om die blanke te verkneg!
Ek weet, ek hoor wat in die gange gepraat word.

nelma jacobs ·

Heeltemal buite orde ! Kan nIe verstaan oral is my e-mail adres korrek, presIes nes ek dit elke keer in n kommentaar aan julle deurgee maar by julle moet ek elke keer lees dis n foutiewe e-pos adres ! Hoe werk dit

Suné van Heerden ·

Dagsê Nelma

Ek is jammer dat jy moes sukkel!
Stuur asseblief vir ons ‘n skermskoot na [email protected] wanneer dit weer gebeur sodat ons kan ondersoek instel.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.