Die kulturele revolusie

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

‘n Aktivis se silhoeët word deur ‘n reënboogvlag gesien tydens ‘n Gay Parade in Kiëf op 25 Mei 2013. (Foto: Sergei SUPINSKY / AFP)

Die kulturele revolusie het tydens die sestigerjare vanuit die vorige eeu ontstaan. Dit bestaan uit twee elemente. Enersyds word bestaande gewoontes, gebruike en oortuigings in die vestiging van ʼn nuwe ideologie afgebreek. Andersyds word ʼn nuwe orde vir die samelewing daargestel. Geen aspek word in die kulturele revolusie onaangeraak gelaat nie.

Terwyl musiek, taal en tradisies geteiken is, het die aanslag veral op die Westerse samelewing gekonsentreer. Die Christelike geloof, met sy morele waardes, het die fokus van die sosiale revolusie geword. Sedert 1950 het seksuele gedrag en die beoordeling daarvan begin verander. Dit was die voorbereiding vir die seksuele revolusie van die 1960’s wat homoseksualiteit, voorhuwelikse seks en vryheid van seksuele uitdrukking aangemoedig en bevorder het. Die Free Speech Movement het in 1964 momentum aan die kulturele revolusie gegee, terwyl die sogenaamde Gay Rights Movement wat in 1969 begin het, die aanslag op die seksuele revolusie gefokus het.

Die gebruik van musiek word veral deur die opkoms van die hippiekultuur geprofileer. Sedert 1967 het die subkultuur van jeugverset teen die gevestigde orde in gewildheid toegeneem. Musiek het ʼn belangrike rol gespeel, soos blyk uit die hippiefeeste waar eksperimentele musiek, seksuele vryheid en die gebruik van dwelmmiddels aan die orde van die dag was.

Wikipedia maak die volgende gevolgtrekking:

The sexual revolution of the 1960s grew from a conviction that the erotic should be celebrated as a normal part of life and not repressed by family, industrialized sexual morality, religion and the state.”

Selfs Christelike leiers is deur die seksuele revolusie betower. Die Anglikaanse biskop, JAT Robinson skryf sy revolusionêre boek Honest to God (1963), waarin hy ʼn aantal van die fundamentele geloofswaarhede dekonstrueer. Joseph Fletcher volg in 1966 met sy epogmakende werk, Situation ethics: The New Morality. In hierdie publikasie erken Fletcher geen gevestigde moraliteit nie. Beginsels en vasgestelde norms behoort volgens hom geen rol te speel nie. Die liefde is die enigste morele kompas.

Fletcher skryf:

There is in Christian ethics with its love norm only one thing which is intrinsically good, always and everywhere, regardless of circumstances. That one thing is love itself.”

Dit is betekenisvol dat die liefde ook vandag as enigste kompas vir morele optrede gebruik word. T-hemde met die leuse “Love is Love” word gedra, selfs deur sommige ampsdraers van die kerk en teologiese studente.

Die kulturele revolusie het verskeie fases deurloop. Aanvanklik is op die normalisering van die LGBTQ+-kultuur gefokus. Die tweede fases is deur wettiging ten gunste van die LGBTQ+-beweging gekenmerk. Hieruit het die haatspraakbeweging gegroei. Wetgewing is wêreldwyd ingespan om diskriminasie en veroordeling van seksuele vryheid as ʼn oortreding van die wet strafbaar te maak. Suid-Afrika beleef tans hierdie fase met die beoogde haatspraakwetgewing wat reeds tot bespreking in die parlement gevorder het.

Die innerlike teenstrydigheid van die haatspraakwetgewing is skreiend. Enersyds word haatspraak teen die seksuele revolusie en politieke ideologie met die wet strafbaar gemaak, maar andersyds verleen vryheid van spraak die reg om enigiets wat in die Westerse en Christelike samelewing mooi en waardevol is, met haat, kru-taal en beledigings af te kraak. In ʼn insiggewende boek The Origins of Cultural Marxism and Political Correctness skryf JD Breshea:

American society have never been so rude, so crude, and so lewd.

Dit is byna asof die donker (sondige) aard van die mens se natuur aangewend word om die nuwe orde te bevorder.

Haatspraakwetgewing geld klaarblyklik nie vir politieke aktiviste in Suid-Afrika nie. Wanneer die hof bevind dat “Kill the Boor, kill the farmer” en “Bring my masjiengeweer” nie haatspraak is nie, moet die gevaarligte flikker. Vir gematigdes geld die waarskuwing: wees versigtig wat jy in die openbaar sê, dit kan jou in die tronk laat beland. Die kriminalisering van vryheid van spraak impliseer dat die eis tot politieke korrektheid net vir sommiges geld, terwyl voorstanders van die sosiale revolusie vry is om op die kruuste moontlike wyse hulle mening te lig.

Die openbare media het hierin ʼn belangrike rol gespeel. Elke beskikbare kommunikasiemiddel stel aanhoudend die relevante temas van die seksuele revolusie aan die orde. Seksuele perversiteit en kru-taal word gereeld in produksies aan die samelewing opgedring. Kykers en lesers word oortuig dat seksuele vryheid normaal is. Dit kan nie toevallig wees dat die geweldige toename in verkragting en seksuele misdade in Suid-Afrika met die inherente temas van die kulturele revolusie verband hou nie.

ʼn Kultuur is immers geskep waarin daar geen grense aan onbeperkte seksuele gedrag mag wees nie en morele waardes, wat teen seksuele losbandigheid waarsku, nie geduld word nie. Word die ooreenkoms tussen hoë verkragtingsyfers en die kulturele revolusie nie bevestig deur die feit dat  jaarlikse veldtogte teen geweld teen vroue en kinders geen verskil maak nie? Die werklikheid is dat seksuele losbandigheid in elke vorm deel van ons kultuur geword het!

Die invloed van psigiatriese studies het eweneens ʼn belangrike rol gespeel. Soms word daarna as “Marxistiese Freudianisme” verwys. Die oogmerk van die nuwe moraliteit is om die ander persoon meer mens te laat wees. Mense moet uit vasgeloopte moraliteit “emerge”. “Ontdek jouself” is die mantra wat tot selfrealisering lei. Vanuit ʼn postmoderne epistemologie het elke individu ʼn eie narratief wat in die terapeutiese konteks verdiskonteer word.

Die ooreenkomste met Carl Rogers se non-direktiewe benadering tot terapie is ooglopend. In die bekendstelling van sy boek On becomming a person, wat oorspronklik tydens die begin van die kulturele revolusie in 1961 gepubliseer is, word Rogers bekendgestel as “The founder of the humanistic psychology movement”. Non-direktiewe metodes van psigoterapie ondersteun kliënte in besluitnemingsprosesse sonder om veroordelend te wees of bedenkinge te opper.

Is dit te laat om die stukrag van die kulturele revolusie te stuit? Gematigdes sal hande moet vat en standpunt moet inneem om wal te gooi. Dit moet by die ouerhuis begin, waar kinders deur middel van seksuele oriëntasie vanaf die regte ouderdom ingelig word. By skole mag immers niks meer aangebied word wat teen die sosiale revolusie gemik is nie. Om kinders van jongs af aan behoudende beginsels bloot te stel, sal ouers egter met verantwoordelikheid te werk moet gaan, aangesien politieke korrektheid, haatspraakwetgewing en die werklikhede van die sosiale revolusie dit deesdae ʼn gevaarlike uitdaging maak om standpunt in te neem.

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jakes ·

Konsewatiewes bekommer hulself hoe elke nuwe generasie, godsdiens meer en meer verlaat. Hieride artikel wys juis hoe “out of touch” die dinosaurs dink.

Ontspan, die komende nones (mense wat identifiseer as nie-godsdienstig) sal nie so wreed wees soos julle nie.

De Bok ·

Jy is reg, die “nones” sal ver bo die Christene uitstyg in wreedheid. Dit was bewys deur Stalin, die Franse rewolusie, Pol Pot, ens.

Dit maak ook heeltemal sin dat dit so sal wees: geen God = geen objektiewe morele standaard

Jakes ·

Konsewatiewes bekommer hulself hoe elke nuwe generasie, godsdiens meer en meer verlaat. Hieride artikel wys juis hoe “out of touch” die dinosaurs dink.

Ontspan, die komende nones (mense wat identifiseer as nie-godsdienstig) se algemene kennis oor wetenskap is baie breër. Hulle weet ook dat seskualiteit nie biologies binêr is nie. Gelukkig sal hulle nie so wreed wees soos julle nie.

Pieter9 ·

Dankie Prof Johan, stem 100% saam met u.
‘Nones kennis oor die wetenskap baie breer’ en ‘seksualiteit nie biologiese biner’ opmerkings tipies die vrug van depraved mind.

Piet ·

Ek WAS ‘n verkrampte NG lidmaat, totdat ‘n sekere NG predikant baie duidelik gemaak het dat ek verkramp is, omdat ek nie wil aanvaar dat al hierdie verkeerde keuses, reg is. Nou is ek net ‘n verkrampte mens met geen kerkverband.

melaney ·

Jy is nie alleen nie Piet. Daar is baie van ons wat presies voel soos jy.

De Bok ·

Piet, kry jouself by ‘n verkrampte kerk waar die “verkrampte” Woord in sy geheel verkondig word. As jy dit nie doen nie, sal jy vinnig in jou eie verkramptheid verval. Wees dan eerder verkramp met ‘n goeie basis, as verkramp op jou eie.

Jakkie ·

Navorsing is onder verdenking as n Prof Wikipedia begin aanhaal………God haat sonde, maar groter as dit is dat God sondaars onvoorwaardelik lief het.

annie ·

Die heftige reaksies op prof Van Rensburg se skrywe dui aan hoe ver heen baie Afrikaners is. Die Bybel as riglyn word verwerp. Ons ou volkie is die kluts kwyt en daarmee saam ons geboorteland en hul skynbaar niks gepla nie. Ons is nou wêreldburgers en terug in die dae toe die mense saam-saam Babel gebou het. Net te lekker. Alles is toelaatbaar. Alles. Die Vader is ‘n gentleman. ‘n Mens kan glo en doen wat jy wil. Maar Hy is nie ‘n mens nie en die dag dat Hy sê genoeg is genoeg, kom vir seker. Doen maar so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.