Die kultuur van inflasie

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Deur Gawie Snyman

Hierdie rubriek het oorspronklik op die APK se webwerf verskyn en word met die APK se vergunning op Maroela Media gepubliseer.

In sy artikel The Cultural and Spiritual Legacy of Fiat Inflation, sit professor Jörg Guido Hülsmann breedvoerig uiteen hoe die Staat se vermoë (in samewerking met banke) om geld uit die niet te skep, ons wêreld en daaglikse lewe beïnvloed.

Wat is inflasie?  

Die meeste van ons eien inflasie aan stygende pryse. Hoewel inflasie wel onder meer stygende pryse tot gevolg het, is dit op sigself nie inflasie nie. Inflasie is eintlik die vermeerdering van die geldvoorraad in die samelewing.

Ons kan dit aan die hand van die volgende eenvoudige voorbeeld verduidelik:

Gestel 100 liter melk word elke jaar geproduseer en daar is R100 in omloop, dan sal 1 liter melk R1 kos. Gestel egter ons verdubbel die beskikbare geldvoorraad na R200 en produksie bly dieselfde, dan sal 1 liter melk later R2 kos. Dit sal egter nie dadelik gebeur nie, maar geredeliker. Dit beteken die mense/instansies wat eerste toegang tot die nuwe geld het (voordat pryse begin styg het) word bevoordeel ten koste van diegene wat laaste toegang daartoe kry (nadat pryse begin styg het). Dit is ʼn baie subtiele vorm van sakkerollery, waar die koopkrag van geld gesteel word, eerder as die nominale waarde van die geld. Tipies is die reserwebank, tesourie, ander staatsdepartemente en kommersiële banke van die instansies wat eerste toegang tot die nuwe geld kry.

Alle geldeenhede is sedert 1973 vryswewend, met die Amerikaanse dollar wat as die wêreld se reserwegeldeenheid dien. Die geldvoorraad in die meeste lande word op twee wyses vermeerder: (1) die blote skep van nuwe basisgeld deur die reserwebank en (2) deur die fraksionele reserwebankstelsel word nuwe geld geskep elke keer wat ek en jy ʼn banklening uitneem of iets op ons kredietkaart koop (video).

Inflasie het altyd drie direkte gevolge: (1) dit bevoordeel die oortreders ten koste van al die ander geldgebruikers; (2) dit laat toe dat skuld ophoop bo die normale vlakke wat ʼn vrye mark sal toelaat; en (3) dit verminder die koopkrag van geld tot ʼn laer vlak as wat in die vrye mark sou plaasvind.

Hülsmann gaan egter verder en bespreek ook die volgende eienskappe van inflasie se nalatenskap:

Hipersentralisering van regering

Soos hierbo verduidelik, bevoordeel inflasie die regering wat dit beheer, ten koste van die burgery en ander sekondêre en tersiêre tussen-instellings. Die sentraliseringsproses wat in die 17de en 18de eeu deur Europese konings begin is, is in die 19de en 20ste eeu deur die demokratiese nasiestaat voltrek.

Inflasie stimuleer die groei van die sentrale staat, stel dit in staat om groter te word as wat normaalweg in ʼn vrye samelewing die geval sou wees en bemagtig die staat om meer funksies vir die staat toe te eien as wat normaalweg die geval sou wees, alles ten koste van die gemeenskap en gemeenskapsinstellings soos die gesin.

Die gevolg hiervan is dat die gemiddelde burger meer en meer in ʼn geïsoleerde atoom verander, met al sy sosiale bande en verbintenisse wat deur die sentrale staat beheer of gereguleer word.

Oorlog

Een van die grusaamste gevolge van fiatgeld (enige geld wat deur staatsdekreet tot wettige betaalmiddel verklaar word), en papiergeld (betaalmiddel wat geen intrinsieke waarde het nie) in besonder, is die vermoë om die duur van oorloë te verleng.

Die vernietiging wat met oorloë gepaardgaan, het ʼn positiewe effek om die aanvanklike oorlogswaansin af te koel. Hoe langer uitgerek en vernietigend ʼn oorlog word, hoe minder is die burgery bereid om die oorlog deur belastinggeld of die aankoop van staatseffekte te finansier. Inflasie laat egter die regering toe om die fiskale weerstand van die burgery te ignoreer en die oorlog teen dieselfde vlakke voort te sit, of selfs te eskaleer. Die regering druk/skep bloot die geld wat nodig is om die wapentuig en ammunisie aan te koop.

Dit is presies wat in die twee wêreldoorloë gebeur het. Neem ons ook in ag dat meeste lewens na die einde van die oorlog verloor is, kan ons net dink hoeveel lewens gespaar sou word indien regerings nie die oorlog verleng het deur fiat-finansiering nie. Heelwat mense dink alle middele is geoorloof in oorlog en mag argumenteer dit is geoorloof ten einde ʼn onmiddellike gevaar af te weer, maar só benadering is glad nie moreel regverdigbaar nie. In ons Christelike tradisie het ons die “Regverdige Oorlog Teorie” wat juis só ʼn siening aan bande lê. Ander mense sal argumenteer die regering weet meer en is beter ingelig as die burgery – “hoewel die oningeligte mense fisies en emosioneel tam, moeg en uitgeput is, is die regering deeglik bewus van die situasie en kan rampspoedige gevolge afgeweer word, sou inflasie as middel gebruik word. Alhoewel dit die geval mag wees dat die regering beter ingelig kan wees, is daar niks wat dit verhoed om mense in te lig en te mobiliseer tot hoër belasting nie.

Tirannie

Oorlog is die uiterste geval waar inflasie die regering in staat stel om ʼn doel na te jaag wat nie noodwendig deur die burgery ondersteun word nie. Die groter vraag is egter: Watter tipe regering sal sy eie burgery se eiendom steel? Aristoteles en ander politieke filosowe noem dit ʼn tirannie, terwyl monetêre teoretici, soos Oresme en Mises, telkens uitwys inflasie, as regeringsinstrument, is ʼn finansiële karaktertrek van ʼn tirannie.

Institusionaliseer immoraliteit en onverantwoordelikheid

Ekonome van die Oostenrykse skool argumenteer inflasie is ʼn inherent onstabiele wyse om geld te produseer, aangesien dit morele gevaar en onverantwoordelikheid institusionaliseer en herhalende finansiële krisisse tot gevolg het.

Uit die pogings om hierdie nadelige gevolge van inflasie te bestuur, sonder om met inflasie weg te doen, is ʼn eienaardige poespas van finansiële monetêre instellings ontwikkel en belangrike mylpale in hierdie proses is fraksionele reserwebankdienste, nasionale reserwebanke, internasionale reserwebanke en papiergeld.

Hülsmann beskryf dit as ʼn institusionele “race to the bottom”.

Besigheid

In ʼn natuurlike stelsel van geldproduksie, sal banke slegs as tussengangers tussen spaarders en leners optree. Dit beteken ʼn bank sal net geld kan uitleen wat hulle self gespaar het of wat iemand anders gespaar het en aan die bank uitleen. Met ander woorde, rentekoerse waarteen banke uitleen, sal altyd meer wees as die koerse wat aan beleggers betaal word. Dit sal daarom vir ʼn bank onmoontlik wees om steeds sake te doen en beter terme aan die lener te bied as ʼn spaarder.

Met fraksionele reserwebankdienste kan banke juis dit doen. Aangesien gewone handelsbanke nuwe geld uit die niet kan skep, kan hulle baie laer rentekoerse vir die leen van geld bied as wat in ʼn natuurlike stelsel die geval sou wees. Die afgelope paar jaar was dit nie snaaks om te verneem van lenings teen 0% rente, of soos in die geval van Japan, waar banke jou betaal om by hulle geld te leen nie.

Die direkte gevolg is dat entrepreneurs eerder hul ondernemings deur skuld finansier as ekwiteit (eie kapitaal). Maar kan ʼn entrepreneur wat ʼn onderneming met 10% ekwiteit en 90% skuld begin, steeds ʼn entrepreneur genoem word? Of is hy bloot die bestuurder van ʼn onderneming waar die bankiers die ware entrepreneurs is en ook al die deurslaggewende finansiële besluite neem?

Ons kan daarom oortuigend aanvoer inflasie verminder ook die getal ware entrepreneurs, onafhanklike mense wat met hul eie geld woeker.

As ʼn algemene reël kan ons aanvaar banke belê reeds deur hul lenings in bestaande ondernemings en om hul eie beleggings te beskerm, kies hulle om nie die innoverende entrepreneur se onderneming te finansier nie, of om die nuwe idee aan hulle sakevennote te kommunikeer.

Die toegang tot goedkoop krediet stimuleer verder ook roekelose gedrag, veral by groot gevestigde korporasies met toegang tot die kapitale markte.

Skuldlas

Inflasie bied ook nie net goedkoop krediet aan regerings en ondernemings nie, maar ook aan private individue. Dit beteken meer mense sal skuld maak as wat onder normale omstandighede die geval sou wees.

Weens die feit dat inflasie ook ʼn styging in pryse tot gevolg het, straf dit spaarders baie swaar. Geld wat vandag gespaar word, se waarde word deur stygende pryse uitgewis. Waar die gewone man in die verlede geld oor tyd vir sy/haar oudag kon spaar of kon spaar om eendag ʼn huis kontant te koop, is dit vandag onmoontlik. Vandag kan jy omtrent net ʼn huis koop deur ʼn verband uit te neem en moet enige berekening vir die oudag inflasie inreken, wat beteken ʼn belegging moet gesoek word wat teen dieselfde koers as inflasie sal groei.

Ook wat gewone verbruikerspatrone (van veral die jeug) betref, beteken die stygende pryse verbruikers sal instinktief eerder hul geld vandag uitgee as volgende jaar, wanneer inflasie al sy tol op die waarde daarvan begin eis het. Dit dien as verdere vermenigvuldiger tot al die bestaande aansporings tot ʼn materialistiese verbruikerskultuur, wat ook tot hoër vlakke van persoonlike skuld in die vorm van korttermynlenings en kredietkaartskuld lei.

Dit beteken die huidige finansiële bestel maak skuldgebaseerde finansiële strategieë buitengewoon aantreklik en die burgery in die Weste beweeg só tot ʼn vlak van finansiële afhanklikheid wat ongekend aan enige vorige generasie is.

Hierdie algehele finansiële afhanklikheid verminder selfstandigheid in alle sfere van die samelewing. Die skuldlastige individu tree nie meer soos ʼn selfstandige, verantwoordelike en volwasse persoon op nie en is nie meer ʼn morele anker vir die familie nie, maar wend hom-/haarself voortdurend na ander vir hulp.

“ʼn Opsiener dan moet … een (wees) wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” – 1 Timoteus 3:2-5

Spirituele slagoffers van inflasie

Selfs diegene wat wel verantwoordelik wil wees en hul geld ingelig in die markte wil belê, moet vervolgens buitengewoon baie aan geld dink en onbedoeld word ʼn ongesonde materialisme gestimuleer. Selfs die keuse van ʼn beroep word al hoe meer aan die hand van die finansiële voordele gemaak en die tydperk om aktief geld te maak, word ook verleng ten einde jou vir jou oudag teen die gevolge van inflasie te beskerm.

Dit dwing nou ook vir Ma om geld te begin verdien, vir Pa om werk verder weg van die huis af te neem en die kinders by ʼn dagmoeder of dagsentrum af te laai, wat op sigself ʼn verskriklike letsel op die geestelike welstand van die gesin en groter familie laat. Ouers wat beloof het om hul kinders in die weë van die Here groot te maak, word deur omstandighede gedwing om hierdie verpligting of na te laat, of aan ʼn ander (soos ʼn dagmoeder) uit te kontrakteer.

“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” – Efesiërs 6:4

Blus die vlam

Vriend of vyand van die tradisionele Christelike gesin is dit eens die Christelike gesin is die belangrikste draer van Christelike waardes en só ook ʼn belangrike vestiger van sosiale norme. Binne die Christelike gesin word die realiteit van die Drie-Enige God, gesonde gesag, die heteroseksuele verbintenis tussen man en vrou en liefde en respek vir mekaar vir die kinders geleer. Hierdie ervaring “breinspoel” alle lede van die gesin om dit as die normale te sien en dit dan ook binne hulle onderskeie wyer besigheids-, sosiale- en politieke kringe te bevorder.

“My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is ʼn lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.” – Spreuke 1:8-9

Dit is presies waarom die Kerk se vyande hul aanvalle op Christelike gesinne fokus. Vir die afgelope 45 jaar was die welsynstaat hul wapen van keuse. Vandag lewer die welsynstaat ʼn hele aantal dienste wat voorheen deur die gesin verskaf is, wat onder meer die onderwys van kinders en sorg vir die broses en bejaardes insluit. Die gesin word gereduseer tot klein eenhede van produksie wat rekeninge, motors, yskaste en natuurlik die belastingrekening, deel. Die belastinggefinansierde welsynstaat verskaf dan die nodige onderwys en sorg. Só maak die staat inbreuk op die gesin se gesagsterrein. Dienste wat tradisioneel effektiewer en met meer deernis deur die gesin gelewer is, word nou aan die hand van ʼn duurder “one size fits all” met belastinggeld gefinansier.

“Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ʼn ongelowige.” – 1 Timoteus 5:8

ʼn Oorsigtelike blik op Westerse historiese rekords toon ʼn eksponensiële groei van die welsynstaat sedert die 1970’s (toe alle geldeenhede vryswewend verklaar is), tesame met ʼn eksponensiële groei in staatskuld. Die hedendaagse skaal van staatskuld is alleen moontlik gemaak deur die inflasionêre aard van ons geldstelsel. Bestaande skuldvlakke is heeltemal ondenkbaar binne ʼn eerlike, nie-inflasionêre geldstelsel, wat aan gevestigde rekeningkundige en begrotingspraktyke onderworpe is.

Subtiele aansporings

Wanneer gelowiges dan die leuen in al sy verskillende vorme bestry en ervaar hoe die Kerk in die post-moderne samelewing in ʼn hewige stryd gewikkel is om die sondes van die dag aan die kaak te stel, is dit belangrik dat ons nie net fokus op die openlike ideologiese debat nie, maar ook op die spinnerak van hefbome wat aan die hand van onderliggende kragte en verbande, Godvresende mense onwetend en baie subtiel aanspoor tot die aanvaarding van ʼn goddelose samelewing.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charmaine ·

Hierdie uitstekende artikel behoort die debat vanoggend op RSG monitor tussen die 2 manne wat inflasie betref met ‘n 6 uit te moker.

Charmaine ·

O vir die wat nie weet nie dit was die nimlike Dawie Roodt en Roelof Botha van PWC

Paul ·

Enigiemand wat na Roelof Botha se ekonomiese raad luister, moet maaral die pyn vat wat hulle gaan kry. Tipiese “good news economist”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.