Die kuns van ordentlikheid

op-soek-na-vriendelikheid

Foto: Matt Collamer/Unsplash.com

Dis nou nie eintlik ’n kuns om deesdae mense te vind wat swartgallig is oor die land nie. Die staatskaping en korrupsie van die Zuma-era gaan ’n massiewe nasionale poging vereis om te oorkom. Daarmee saam voel dit asof diegene wat na nasionale eenheid strewe en omgee vir diegene wat van hulle verskil, tans retireer voor die baldadige en lawaaierige selfversekerdheid van diegene wat eiebelang en die belange van diegene wat soos hulle lyk en klink, voorop stel.

Ja, daardie narratief ken ons goed genoeg – ons hoef nie nou daarop uit te brei nie. Laat ons eerder kyk of daar uit die landsgeskiedenis en die hede rede is om redelikerwys te vermoed dat dinge beter kan gaan.

As mens ’n paar stappe teruggee, moet jy erken daar is min lande ter wêreld wat nege grensoorloë deur is – en dis net die Oosgrensoorloë van die agtiende en negentiende eeu, nie eens die Angola-Bosoorlog nie. Desondanks het Suid-Afrikaners mekaar leer verdra en selfs liefkry, en is ’n vreemde nasie met die ongemaklike leuse “Eenheid in verskeidenheid” hier aan die suidpunt van Afrika gevorm.

Dit was die ou Vrystaatse president Jan Brand wat destyds en, toegegee, in ’n volkome ander konteks, gesê het “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” Die vraag is nou: Wat staan mens te doen?

Wat ons te doen staan, is om welmenend en wellewend te leef, en elkeen in eie kring ons bes te doen. Nie almal van ons is so belangrik of het soveel invloed dat ons die hele land met die gevolge van ons dade kan raak nie, maar ons kan wel invloed uitoefen op ons gesin, ons buurt, ons skool, ons kerk, ons gemeenskap, die mense wat vir en vir wie ons werk, en almal met wie ons in aanraking kom.

In haar onlangs verskene boek Sitting Pretty, oor die sosiologiese posisie van Afrikanervroue in Suid-Afrika sedert 1994, lewer prof. Christi van der Westhuizen van die Universiteit van Pretoria ’n pleidooi om wat sy noem “ordentlikheid”. Dit sou ook met die terme “wellewendheid” of “welmenendheid” verduidelik kon word.

Die frustrerende aspek daarvan om met ordentlikheid, wellewendheid of welmenendheid te probeer leef, is dat dit nie noodwendig wederkerig is nie. Die feit dat jy ordentlik, wellewend of welmenend optree, is absoluut geen waarborg dat die ander party dieselfde gaan doen nie.

Die kuns van ordentlikheid, wellewendheid en welmenendheid is dat dit arbeid om die plesier daarvan is – dat dit glad nie van wederkerigheid afhang nie. Dit is hierin dat die bevrydende aard van ordentlikheid lê – jy verwag niks terug nie.

Dit is uiteraard frustrerend om ordentlik teenoor ander op te tree en dan te sien hoe goed met kwaad vergeld word, en niemand wil ’n slaansak vir narciste wees nie. Maar die enigste manier waarop ons in hierdie tyd van die opstuwing van middelvlietende kragte in ons land en ons wêreld goed kan wees, is om deel van die oplossing, nie die probleem te wees nie.

’n Mens het beheer oor wat jyself doen, nie ander nie, en as elkeen voor sy eie deur vee, is die straat ook weldra skoon.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Paul ·

En alle politici verwag ook niks terug nie? Baie ander ook. As ons hierdie realiteit in die oë kyk, kan ons aanbeweeg, want dis hoe dit is.

Eish ·

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
II KORINTHIËRS 6:14 AFR53
Vriendelikheid kos niks, om egter n verskil te maak in die helhool waar uitkomste tussen groeperings nie dieselfde is nie, is onhaalbaar.
Sommiges sien Moses as n moordenaar aangesien hy die Egiptenaar doodgeslaan het wat die Israeliet aangeval het. Tog, Moses het geen voorbedagte rade gehad om moord te pleeg nie, slegs n broer te hulp gesnel en in die proses die Egiptenaar gedood. Soos om jou huismense te beskerm tydens n huisroof en die aanvaller word in die proses gedood.
Daar gaan sommige boere organisasies ter tafel met die OSV regering ten einde n verskil te maak en skielik kom die ware motiewe na vore met die presidentstelling dat geen grondgrype en plaasmoorde plaasvind nie.
Ek is ongelukkig te oud om enigsins in sulke omstandighede n verskil te maak. Die werklikheid het lankal my glimlag van my bakkies afgeklits. Dit help waaragtig nie dat die badwater uitloop aangesien die prop uitgetrek is nie en n beroep op saligheid word gedoen aangesien al die water nog nie uitgeloop het nie.
Territoriale selfbeskikking is die enigste oplossing.

Jerry ·

Jan-Jan, ek self sou dit nie beter kon gestel het as wat jy gedoen het. Jou skrywe is verrassend vars soos n briesie in die dorre karoo! Leef en laat leef en versoenende optrede het nog altyd vir my gewerk en dit werk nog steeds. Dit vat spreekwoordelik die wind uit die seile van diegene wat skoorsoekend konflikte nastrewe! Mense wat leef en laat leef en deur versoenende optredes hulself laat geld, beweeg onversteurd met die hoed in die hand deur die hele land! Om nie kwaad met kwaad te vergeld nie en nie te veralgemeen en nie alle mense oor dieselfde kam te skeur nie is nogal n bevrydende ervaring. Om eerstens n Suid Afrikaner te wees en tweedens n trotse Afrikaner te wees wat verdraagsaam, geduldig, vriendelik en onbaatsugtig is teenoor mekaar en mede Suid Afrikaners bring soveel hoop dat ek hoop dat AfriForum dit n bietjie wil probeer. Versoenende optrede deur AfriForum sal die appelkar so erg omgooi en vir alle Suid Afrikaners soveel hoop bring dat almal eerder graag sal wil hande vat en saam Suid Afrika n beter tuiste sal wil maak as wat tans die geval is. N Suid Afrika wat vry is van werkloosheid, armoede, misdaad en wanhoop is n langtermyn moontlikheid, mits ons bereid is om versoenend op te tree en nie dieselfde versoenende optrede terug verwag nie! Waar daar n goeie en sterk wil is, sal daar altyd n goeie weg gevind word!

Willem ·

Christi moet die boek opdra aan Julius en die BLF. As ek reg lees is die boek in Engels geskryf, so dit is nie op die Afrikaner van toepassing nie.

Anton van Niekerk ·

Omdat die Ou Testament oorspronklik in Hebreeus en die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf is, is die Bybel dus volgens Willem nie op Afrikaanssprekendes van toepassing nie! Nou verstaan ek ‘n hele paar dinge omtrent “die “Afrikaners” heelwat beter.

Henry ·

Jis Anton

Afrikaans en selfs KaapsAfrikaans is/was mos in algemene gebruik toe ou Christi haar skryfsel nouriedag gepleeg het.

Volgens jou ‘redenasie’ is die arme Spanjaarde, Engelstaliges, Franstaliges en allie ander tale – behalwe Hebreeus en Grieks – diep innie moeilikgeite.
tsk tsk

Gerhard ·

Enige boek word geskryf in die taal van die waarop die boodskap gerig is. Daarom is die Bybel in amper alles tale vertaal.

Theresa ·

Deesdae is selfs die een aan wie jy soms ietsie gee (wat argeloos binne-in die baan van ‘n besige pad staan/hurk en bedel) arrogant genoeg om jou venster met sy vuis te slaan as jy nie op daardie oomblik iets het nie.
Dit begin voel asof alles ‘n baie donkerkant het deesdae. Of jy gee en of jy nie gee nie – hande staan bak en indien jyself kortkom om te oorleef en nie iets kan gee nie – word jy in elk geval met disrespek en haat behandel (en soms word ook jou eiendom beskadig). Gaan waaragtig baie vat om weer ligvoets oor als te dink en te voel…

Casper Labuschagne ·

Behandel almal met respek en vriendelikheid en jy kan nie verkeerd gaan nie. Maar ek wonder dikwels hoe om op te tree teen die linkses wat net slagspreuke en geen respek vir niks of niemand het nie. In die VSA word Brett Kavenaugh wat beide opreg en die ordentlikste mens denkbaar is se lewe verwoes op die altaar van linkse ideologie en leuens. Hier plaaslik verskree die BFLF groep en die EFF se rooi stormtroepe hul opponente en kom letterlik met moord weg. Hulle weet goed dat hul opponente gemuilband is deur goeie maniere en ordentlikheid en so wen hulle die een na die ander onderonsie deur hulle taktiek wat op terrorisme neerkom. Daar moet sekerlik ‘n meer effektiewe strategie teen daardie groepe te wees as goeie maniere, of is dit aanvaarbaar dat hulle die oorhand kry ter wille van goeie maniere?

Charles ·

Desondanks het Suid-Afrikaners mekaar leer verdra; en selfs liefkry??

Ek weet met respek nie van watter Suid-Afrikaners praat die skrywer nie- MAAR WIL GRAAG WEET:

IS DIT DIESELFDE MENSE WAT DIT NIE KAN VERDRA DAT AFRIKAANSSPREKENDES (WIE SE OUERS [die wat dit; ten duurste; kan bekostig] HULLE NOU BELGIE EN HOLLAND TOE MOET STUUR OM KWALITEIT TERSIERE ONDERRIG IN AFRIKAANS [onderwyl Akademia se ontwikkeling en aanbiedinge versnel EN verbreed word] TE ONTVANG – ‘n basiese reg in ‘n verdraagsame en ontwikkelde samelewing- en wat vir dekades geniet was en aan gewerk is ) IN HUL MOEDERTAAL ONDERRIG IN HUL VADERLAND ONTVANG AAN STAATSUNIVERSITEITE NIE, EN WAT BLANKE BOERE NIE DIE GENOT EN VRUGTE VAN HUL GODGEGEWE REG TOT HUL VERWORWE GROND, WAT MET TRANE, BLOED EN SWEET BEKOM EN BEWERK IS; GUN NIE?

Gehasi ·

Ek weet nie wie die skrywer is nie en wat die motivering of verwysingsraamwerk is nie, maar ek lees baie beginsels raak wat voorheen inherent van ons mense was. Ongelukkig beskou sekere kulture ordentlikheid as n swakheid en dit stel jou bloot om as n vloerlap misbruik te word. Daar kom ook n tyd dat elke mens wat misbruik word moet sê: “Ek is klaar met jou want jy vertrap die Here se genade onder jou voete!”. Om die balans tussen ordentlikheid en selfverwesenliking te kry en te handhaaf is een van die moeilikste dele van menswees. Ek self is op die punt waar ek nie n vinger sal verroer om die land te laat werk nie, ek sal net na myself en my mense se belange omsien.

Bernie ·

As mens uit die geskiedenis kom en die antwoorde weet, mag mens dit nie bekend maak nie.

Sarie ·

Jy is reg dit is amper soos ‘n vrou wat mishandel word. Gee en gee en bly stil, maar die boelie gaan voort. Iewers moet jy jou voet neersit en sê so kan dit nie aangaan nie. Paaipoltiek is nou verby.

Veritas ·

Ordentlikheid is niks anders as goeie maniere nie. Dit is uitsluitlik ouers en onderwysers se plig om toe te sien dat kinders dit van kindsbeen aangeleer word. Die beste metode om dit aan ‘n kind oor te dra is deur voorbeeld. Dank God, dat ek die beste ouers gehad het wat enigeen kan begeer.

ZAR ·

Moenie vriendelikheid wys aan die man/kind wat bedel in die pad nie. Dis my motto. Oordat ons as Christene gewoonlik sagte plekkies het vir die man wat daar bedel maak ons ons beursies gou oop, maar dis die mense wat al een keer hul tyd vir die mense gegee het wat weet dat elke sent bewerkstellig net sy ondergang en dat daar al ‘n stroom trane agter hierdie man/kind is van die familielede wat hulle probeer help het. Gee liewer jou geld aan ‘n instansie wat hierdie mense probeer help om van die straat af te kom, daar kan jy verseker weet jou geld word op die beste manier gebruik. En as jy steeds skuldig voel wanneer die man/kind jou met hartseer oë aankyk by die robot, dan vertel jy net vir hom/haar van die plek wat hulle kan help waar jy ook geld gee.

Gerhard ·

Ek dink die werklike probleem is dat daar van jou verwag word om te kruip, anders is jy nie ordentlik nie.

Jerry ·

Casper, die ANC is ons opponente, wie deur hulle politieke mag diskriminerende NDR programme teen ons uitrol. Vir die EFF en BLF is ons n teiken en slegs die middele tot hulle politieke doel om eers wit en swart teen mekaar op te sweep en as hulle in die doel geslaag het, dan swart teen swart op te sweep ten einde totale anargie te skep vir politieke oorname! Die mees effektiefste strategie teen die EFF en BLF is om hulle ordentlik te vermy of as jy hulle nie kan vermy nie, hulle ordentlik te ignoreer en n ordentlike video opname te maak en sou daar gronde bestaan vir vervolging dan oorhandig jy die video opname aan jou organisasie wat dan namens jou n klag by die SAPS le. Indien die SAPS of staatsaanklaer versuim om op te tree le jou organisasie ook n klag teen die SAPS of staatsaanklaer. So speel jy die EFF, BLF en ook die ANC af teen hulle eie wetstoepassers en teen wetstoepassing. Die rede hoekom ons met die ANC praat is om hulle ordentlik te beinvloed om as n party wat kwansuis vir wit en swart is, dit te laat bewys deur diskriminerende programme teen witmense af te skaal en dit uiteindelik heeltemal te laat vaar. Sou ons dit begin regkry, dan speel ons die ANC, EFF en BLF teen mekaar af! Ons situasie verg dus tans dat ons die kuns van ordentlikheid en wetsgehoorsaamheid toepas in gesprekvoering en in die weerstand wat ons bied!

Jerry ·

ZAR, die bedelaar is n medemens vir wie jy nie geld gee nie, maar kos en n Cappacino en daarmee ook hoop dat daar tog nog mense is wat omgee, wat onbaatsugtig is. In die winter gee jy sop, brood en n kombers en dan se jy wie en waar die organisasie is vir wie jy geld gee en by wie hy kan gaan aanklop vir verdere hulp! Ons moet ons medemenslikheid opskerp en verskerp anders gaan die boosheid ons net nog verder verswelg!

ZAR ·

Jerry, hoe graag wil ek saam jou stem, maar die nuutste is dat hulle vra vir kos en dan verkoop hulle dit, want hulle soek die geld om dwelms mee te koop. As jy al een keer gewerk het by ‘n rehabilitasie sentrum dan sal jy verstaan. Meeste wil rehabiliteer, maar kan nie, die drang na dwelms is te sterk en dan is hul liefde vir hul ma nie eers sterk genoeg om te keer om ook haar te beroof nie.

apie ·

Alles het goed gegaan tot ek en my familie vieslik onder misdaad deurgeloop het. Dit verander mens. Jy bly ordentlik, maar dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.