Die Kwien verleen grasie aan elke koninklike okkasie

Koningin Elizabeth II en Prins Phillip (Argieffoto)

My eerste indruk van Koningin Elizabeth dateer terug na 1948 toe ek, my ma en pa opgeruk het Pretoria toe om die jonge prinses Elizabeth te gaan sien wat toe saam met haar pa, Koning George, op besoek aan Suid-Afrika was. Dit moet mooi verstaan word dat my pa, ’n stoere lid van die Ossewabrandwag, al die moeite gedoen het om van Kemptonpark na Pretoria toe te ry om haar te sien. Dit was nog in die tyd toe Pretoria ’n dagreis ver was, en ons eers in Irene moes stop om die spreekwoordelike koue hoender en aartappels vir padkos te geniet.

Bogenoemde het onwillekeurig by my opgekom in hierdie tyd wat die wêreld hom weer gereed maak vir die soveelste koninklike verering … en nog is dit het einde niet. ’n Mens weet nie hoe lank die monarg, koningin Elizabeth, nog die leisels sal vashou nie van wat ek dink die mees geslaagde openbare skakelmaatskappy ter wêreld is. Ander Europese lande, soos Nederland en Monaco, het ook monargieë, maar nie een van hierdie koningshuise is so invloedryk soos die Britse een nie.

Nietemin, vele jare later het my pad weer met die koningshuis gekruis. Daar in die sewentigerjare het koningin Elizabeth ’n landbouskou in Botswana besoek. Soos dit ’n joernalis betaam, het ek en ander verslaggewers geduldig waggehou by ’n spogbul, wat ons verseker was haar edele sou ontmoet. Ons het solank met die boer gesels, wat baie trots op sy teelbul was en vertel het dat hy hom op Naboomspruit gekoop het. Groot was ons verbasing toe hy later met die koningin praat en op dieselfde vraag antwoord dat hy self die bul geteel het. Maar nou ja, ’n wit leuentjie maak seker nie saak wanneer jy met die Kwien praat nie.

Prinses Diana van Wallis trou met prins Charles in 1981 (Foto: The Royal Collection)

My volgende ontmoeting met die koningin was letterlik ’n kennismaking. Ek is in 1988 as diplomaat in Londen na die jaarlikse koninklike bal in Buckinghampaleis uitgenooi. Ons moes lank in ’n ry wag, wat my genoeg kans gegee het om ’n glasie wit wyn te proe. Toe die koningin uiteindelik by die Suid-Afrikaanse kontingent aankom, gevolg deur prins Philip, prins Charles en een of twee hertoë en hertoginne, het Ambassadeur Ray Killen my en my vrou, wat voor moes staan, voorgestel. Sy, met wit handskoene aan, want ’n mens mag nie velkontak met haar maak nie. Ons het soos senuweeagtige skoolkinders gevoel. Hier in Londen kry ’n mens sekerlik ’n wyer blik op die wêreld as uit Pretoria, het sy gesê. Oorbluf het ek saamgestem.

Toe prins Charles verbykom het ek al meer moed gehad … dalk was dit die wyntjie wat gepraat het. Hy het my hand geskud en was eintlik al verby toe ek vir hom sê ek hoor hy is so erg oor die Kalahari. Hy het omgedraai, teruggekom en sekerlik tien minute lank oor die Kalahari gepraat. Dis die oorbeweiding, het hy gesê, wat hom pla.

My vrou, ’n goeie Afrikaanse nooi van Ermelo, het vandag weer gesê sy het soos Aspoester gevoel wat na die bal gegaan het om die prins te ontmoet. Sy het dieselfde middag nog vloere gewas!

Later het ons ook vir prinses Diana op die koninklike tuinparty by die Kensingtonpaleis gesien. Kon nie baie naby aan haar kom nie, want daar was ’n massa fotograwe wat haar gevolg het. Wat ek kan sê, is dat sy in lewende lywe net so mooi, indien nie mooier nie, as op foto’s was.

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Twitter via Kensington-paleis)

En nou gaan prins Harry trou, en hoewel hy sekerlik nooit koning gaan word nie, is al die lawaai wat daarmee gepaard gaan, sekerlik nodig sodat die koninklike skakelmaatskappy wat die monargie is, nog vir lank sal bly voortbestaan. Ek weet daar is ’n groep in Brittanje wat die koningshuis afgeskaf wil hê, maar dit sal nie werk nie. Ek het een keer ’n rygeleentheid vir ’n vrou van Beitbrug na Harare gegee; sy was spesiaal in Johannesburg om die een of ander koninklike troue op televisie te sien. Dit was toe in die nuwe Zimbabwe verbode.

Nietemin, enige geboorte, doop, begrafnis of wat ook al deur enige van die koninklikes, word aan die groot klok gehang. Kyk net Saterdag!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Nels ·

Wanneer ek die woord Ossewabrandwag raak lees dan verlang ek na my pa Jan Brink.

Nico ·

Tienie, net ‘n klein foutjie. George V1 en sy gesin het SA in 1947, op uitnodiging van Genl.Jannie Smuts, besoek en nie in 1948 nie. Seg maar net.

Willem ·

Tienie, jy sê, ” Hoewel hy sekerlik nooit koning sal word nie”. Hy sal verseker nooit koning word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.