Die lang pad na ware ekonomiese vryheid verg meer as optogte

Die mensdom voer al eeue lank ʼn stryd om bevryding uit armoede en ellende. Sedert die Nywerheidsrewolusie die era van ekonomiese groei ingelei het, kon ʼn groot groep hulself ekonomies bevry, maar baie ander het arm gebly. Dit het gelei tot ʼn groeiende ongelykheid wat al wêreldwyd tot groot polarisasie en ideologies gedrewe konflik soos die Koue Oorlog aanleiding gegee het. Die spanning wat uit hierdie botsende sienings gespruit het, het mense oor die jare laat soek na ʼn formule om almal te laat deel in die goeie lewe wat die voorspoediges geniet.

Hierdie soektog na ʼn resep vir ekonomiese bevryding het twee uiteenlopende en kop-aan-kop botsende antwoorde opgelewer, naamlik die vrye mark en Sosialisme. Die gevolg hiervan is dat ekonomiese vryheid heeltemal verskillende betekenisse vir die twee denkskole het. Dít het die afgelope tyd weer duidelik geblyk uit die teenstellende sienings oor die optog vir “ekonomiese vryheid” van die ANC-jeugliga onder leiding van Julius Malema. Die Chinese wysgeer Confucius het gesê dat mense hulle vryheid sal verloor wanneer woorde hulle betekenis verloor. Daarom is dit belangrik om te kyk na wat die werklike betekenis van “ekonomiese vryheid” vir hierdie twee denkskole is. Daar is bepalende verskille tussen voorstanders van die vrye mark en sosialiste oor die betekenis, inhoud, en padkaart na ekonomiese vryheid.

1. Betekenis
Vir die vryemarkondersteuners begin vryheid by elke persoon se vryheid om sy eie ekonomiese besluite te neem en veral vry te wees van inmenging en onderdrukking deur die staat. Ekonomiese vryheid word gesien as ʼn grondliggende mensereg wat deur die staat beskerm moet word en sluit in eiendomsreg, handelsvryheid en die reg om die vrug van jou arbeid en ondernemerskap onbelemmerd te geniet. Die Ekonomiese Vryheidsnetwerk (EVN), bestaande uit meer as 80 wêreldwye navorsingsinstitute ten gunste van die vrye mark, het Suid-Afrika reeds vanaf 42ste uit 141 lande in 2004 na 82ste in 2008 afgegradeer. Dit is ʼn vryval in die rigting van ekonomiese onvryheid wat in hierdie tyd net deur Venezuela en Zimbabwe oortref word.

Daarteenoor sien sosialiste ekonomiese vryheid as die “vryheid van behoefte”. Hiervolgens is politieke vryheid net die eerste stap om die mag te bekom om deur sosialistiese herverdeling vir almal te gee wat hulle nodig het. Dit is ook waarom die ANC dekades lank al verkondig dat die “kortste pad na Sosialisme deur die demokrasie is”. Ongelyke eiendomsbesit is vir sosialiste die oorsprong van ekonomiese onreg, en die afskaffing van eiendomsreg met behulp van staatsmag die sleutel tot ekonomiese “geregtigheid”. Die Jeugliga se aandrang op nasionalisering en onteiening sonder vergoeding is volgens hierdie logika dus nie grootskaalse diefstal en plundery nie, maar bloot die gelykmaking van ongelykheid. Sonder eiendomsbesit is almal immers gelyk en as die staat alles besit, kan dit gebruik word om vir almal te gee wat hulle nodig het. In die praktyk het hierdie teorie egter net tot ʼn gelykmaking van armoede gelei, waar niemand gekry het wat hulle nodig het nie.

2. Oorsaak en oplossing
Die spanning tussen vryemarkondersteuners en sosialiste spruit veral uit teenstellende sienings van die oorsprong van en oplossings vir armoede. Die twee groepe sien mekaar se stelsels oor en weer as diefstal. Karl Marx se siening dat ongelykheid uit verontregting spruit en dat die oplossing ʼn opstand teen die stelsel is, is vandag nog die hoofstroom siening van sosialiste. ʼn Maatskappy se wins word gesien as diefstal van geld wat die werkers toekom, omdat hulle minder betaal is as wat die produk gekos het om te maak. Onteiening is gevolglik nie diefstal deur die staat nie, maar net die terugvat van gesteelde goedere. Omdat die rykes dus die oorsaak van die armes se armoede is, is die oplossing dat die rykes hulle welvaart met die armes moet deel. Met rykes word bykans almal met ʼn huisverband en ʼn mediese fonds bedoel. In demokratiese state word ʼn herverdelende belastingstelsel gebruik om ʼn welsynstelsel te finansier sodat in almal se basiese behoeftes voorsien word. So ʼn stelsel kan betreklik goed werk in ʼn land met ʼn hoë indiensnemingskoers waar net ʼn klein deeltjie van die bevolking versorg moet word. Die situasie in Suid-Afrika is net mooi die omgekeerde: ons het te min werkers in die werksmag en te min belastingbetalers om vir almal te kan sorg.

3. Vryhede en rangordes
Vir ondersteuners van ʼn vrye mark is eiendomsreg die belangrikste vryheid wat deur die staat beskerm moet word, omdat dit die grondslag van die ekonomie vorm. Vir sosialiste is vryheid van behoefte die belangrikste reg wat deur die staat afgedwing moet word, en is die aantasting van eiendomsreg gewoonlik die prys wat betaal moet word om dit te finansier. Daarom het die Nobelprys-ekonoom Friedrich von Hayek al in die 1940’s gewaarsku dat die ingrypende aard van Sosialisme die rede is hoekom demokratiese politieke vryheid een van die eerste slagoffers van sosialiste se strewe na (hulle weergawe van) ekonomiese vryheid is.

4. Verdeling van inkomste
Die twee ideologieë bots ook skerp oor die maatstaf vir die toedeling van inkomste, omdat dit ʼn bepalende invloed op gelykheid het. In ʼn vrye mark word inkomste deur produksie bepaal: hoe meer jy bydra, hoe meer kry jy. Daarteenoor glo sosialiste dat inkomste deur behoefte bepaal moet word. Marx het die grondslag vir hierdie siening gelê met sy stelling: “Werk volgens jou vermoë en verdien volgens jou behoefte”. Hierdie siening van Sosialisme is seker een van die grootste redes vir die wydverspreide armoede in sosialistiese lande, omdat dit produksie ontmoedig en verbruik aanmoedig. Maar gevalle van uitspattige vergoeding aan maatskappyhoofde het die afgelope jare wêreldwyd groot woede uitgelok, juis omdat hulle salarisse en bonusse heeltemal buite verhouding met hulle werklike bydrae was.

5. Historiese gevallestudies
Vyftig jaar gelede was die verskille tussen hierdie twee ideologieë grootliks teoreties, omdat die praktyk nog nie bewys het watter een die beste werk nie. Intussen het die praktyk op ʼn reusagtige skaal gewys dat die vryemarkstelsel die enigste een is wat kan werk, nieteenstaande sy swak punte. Daaroor het die geskiedenis op dramatiese wyse uitspraak gegee in vergelykbare gevallestudies soos Wes- en Oos-Duitsland, Noord- en Suid-Korea, en Taiwan en China voordat laasgenoemde self groter ekonomiese vryheid ingestel het. ʼn Vryemarkekonomie is nie volmaak nie. Ekonomiese vryheid het baie tekortkominge, soos die wêreldkrisis bewys. Maar, soos die vryemarkekonoom Heilbronner gesê het: “Krisisse is die manier hoe die stelsel werk, nie die manier waarop dit misluk nie.”

6. Vryheid of gelykheid
Waar vryemarkondersteuners die klem op persoonlike vryheid lê, gaan dit vir sosialiste oor gelykheid waar die staat die bepalende besluite neem. Vir vryemarkondersteuners is gelykheid gelyke geleenthede, vir sosialiste is dit gelyke uitkomste. Maar waar gelykheid voorrang geniet, eindig dit sonder vryheid of gelykheid.

Padkaart na vryheid
Die geskiedenis het gewys dat die pad na ware ekonomiese vryheid ongelukkig nie so kort en maklik is soos ʼn optog van Johannesburg na Pretoria nie. In die harde werklikheid was Sosialisme eerder ʼn doodloopstraat na knegskap en ellende. Die pad na ware ekonomiese vryheid is lank en opdraande, en loop langs mylpale soos harde werk, ondernemerskap, onderwys en opleiding, wet en orde, ekonomiese groei, eiendomsreg, spaar en belê. Dis die pad waarlangs 500 miljoen Chinese en 250 miljoen Indiërs die afgelope dekade die bestemming van groter ekonomiese vryheid bereik het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Wat ‘n uitmuntende vergelyking van die gelykheidsideaal van sosialisme met die vryheidsideaal van die vrye mark – twee van die sterkste historiese kragte sedert die ontstaan van gemeenskappe – en wat ‘n noukeurige kontrastering daarvan met wat in die praktyk gebeur!

Theo Prinse ·

Die vulgêre kommunistiese begrip materialisme is handlanger van die rente kapitalisme en ondergeskik aan hul adagium van redistributie. Dit staan ​​diametraal in teenstelling met die tweede kant van die kapitalisme: die innoverende entrepreneurskap. Die ANC kommunisme het haar vulgêre opvatting van materialisme neergelê in die klas rascistische Black Economic Empowerment, Affirmative Action en nationalisatie van grondstowwe en privaat eiendom.

Deon Opperman ·

Dankie Flip. Ek stem – the lesser of two evils. En om eerlik te wees, het ek nog nie ‘n mens in Afrika tee” gekom wat instem om sy/haar koei aan ‘n ander te gee omdat die ander nie ‘n koei het nie. En as jy net een koei het om te deel moet jy daardie koei in die middel deurkap, en dan het nie jy of die ander ‘n koei nie, net ‘n karkas, en na jy dit gee”et het, net mooi niks.

Deon

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.